Monday 1 September 2014

Maak soos ek sê, moenie maak soos ek maak nie! - deur Anton Brink

Dit is nou een en twintig jaar sedert Radio Tygerberg sy ontstaan gehad het en wat 'n asemrowende voorreg was dit nie vir my om persoonlik vir vyftien van daai een en twintig jaar betrokke en deel daarvan te kon wees nie.



Die opgewondenheid oor dié groot dag op 30 Augustus 2014 het al sedert die begin van die jaar behoorlik hoog geloop en ons almal wat by die radiostasie betrokke is het letterlik die dae afgetel.

Soos wat ons beplan het en uitgesien het na die groot dag van ons 21ste verjaarsdagpartytjie het ons onder mekaar begin praat oor veranderinge en aanpassings wat gemaak kan word om die radiostasie moontlik nóg beter te maak.

'n Klomp idees is op die tafel gesit, onder andere idees oor ons leuse én ons naam... die een wat sê, “Radio Tygerberg, ons verkondig Christus”. Na baie gepraat en bespiegel is die besluit toe geneem om dit heeltemal te verander.

Die nuwe kenteken en leuse is nou, “Tygerberg 104fm, Ons lééf Christus”.

Dit lyk en klink dalk op die oog (en oor) af nie so vreeslik anders as wat dit in die verlede was nie, maar let op, die “Ons verkondig Christus” het nou “Ons lééf Christus” geword. As jy mooi daaroor gaan dink is dié twee stellings heeltemal verskillende standpunte op te hê. Net omdat jy iets verkondig is dit nie te sê dat jy dit ook so gaan dóén nie.

Maak soos ek sê, moenie maak soos ek maak nie!

Ek onthou as kind hoe ek glad nie kon verstaan dat die grootmense vir my kan kom vertel wát en hóé ek veronderstel is om iets te doen nie maar hulle doen dit nie self so nie. Wanneer ek hulle dan daaroor uitvra word daar dan net ferm vir my gesê, “Luister hier meneertjie, maak jy maar net soos ek sê, moenie maak soos ek maak nie.”

Iemand wat een ding sê en 'n ander ding doen word 'n huigelaar genoem, in Engels noem jy so 'n persoon 'n “hypocrite”.

Ons wat gelowiges is word eintlik elkeen daagliks uitgedaag om presiés dit te doen, om nie net te praat oor die Here Jesus nie maar om Hom te lééf. Ons, ek en jy, moet die hande en die voete van die Here Jesus op hierdie aarde wees. Dit is ons wat die verskil moet maak, óns moet die sout wees, óns moet die lig wees.

In Matteus 23: 1 – 5 uit Die Boodskap vertaling lees ons die verhaal waar Jesus praat van mense wat eerder aandag soek as wat hulle vir God soek. Daar staan geskryf, “Jesus draai toe na die groep mense wat naby Hom gesit het. Sy getrouste volgelinge was ook onder hulle. “Glo My” sê hy, “die Joodse teoloë en Fariseërs weet presies wat daar in die wet van Moses geskryf staan. Al wat hulle heeldag doen, is om die wet te lees. Julle kan gerus maar luister na wat hulle oor die wet van Moses sê en dan ook so leef, maar oppas! Moet net nie doen wat hulle doen nie. Wat hulle sê en wat hulle doen, is twee verskillende dinge. Hulle woorde en hulle dade verskil soos dag en nag. Hulle skryf boeke vol streng godsdienstige reëls en stop dit dan in julle hande met die woorde: Doen dit! In hulle eie lewe doen hulle egter nie eens wat op die eerste bladsy staan nie. Al wat vir hulle tel, is wat mense van hulle dink. Dit maak nie saak wat God van hulle dink nie, net solank die mense vir hulle hand klap.”

Sal jy asb. saam met Tygerberg 104fm van vandag af ook Jesus lééf en nie net oor Hom praat nie?

Kom ons bid. Vader, vandag is die eerste dag van die res van my lewe. Help my van vandag af, en elke dag te lééf wat ek glo en om nie net daaroor te praat by die huis, by die kerk of by die selgroep nie. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.



No comments:

Post a Comment