Thursday 18 September 2014

Bewerk jou grond - deur Anton Brink

As daar nou één ding in hierdie ou lewe is wat my bitter baie omkrap, dan is dit wanneer 'n persoon of persone op iemand anders se rug ry!


Moet my nie verkeerd verstaan nie, baie van ons het al op een of ander stadium in ons lewe 'n “hupstoot” van ons ouers, familie of vriende af nodig gehad en daarmee het geen ordentlike en goeie mens 'n probleem nie.

Maar, wanneer mense egter jaarin en jaaruit met 'n “af vlerk” houding rondloop en (verwag) dat jy hulle alewig móét help met geld, kos en om hulle rekeninge vír hulle te betaal, raak dit 'n bietjie erg en is dit dan eintlik al lankal nie meer 'n “hupstoot” gee nie maar word dit maar eintlik net 'n blatante rug ryery.

Boonop het hierdie “af vlerk” gevalle (tot groot frustrasie van andere) gewoonlik ook geen hoop in sig dat hulle op een of ander stadium darem (ten minste) gaan probeer om iets aan hulle self of hulle situasie te doen nie en hoekom moet hulle in elk geval, hulle word dan net die hele tyd ingeprop so hulle het nie nodig om iets aan hulle self te probeer doen nie.

In Spreuke 12: 11 staan daar geskryf, “Wie sy grond bewerk, het volop om te eet, wie hom besig hou met nuttelose dinge, het nie verstand nie.”

In die Boodskap vertaling staan dit so geskryf, "Hy wat hard werk, sal genoeg kos hê om te eet. Hy wat rondstaan en gesels of met ander dinge besig is, is dom. Hy sal finansieel sukkel.”

Is jy iemand wat alewig in ander mense se oë kyk en bakhand staan, of is jý dalk daardie persoon in wie se oë daar gekyk word om net aanmekaar te moet uit deel? Moenie dat valse verantwoordelikheidsin jou laat skuldig voel om mense die hele tyd net in te prop nie.

Sit jou voet 'n slag neer en sê nee.

Ek weet van iemand met wie dit al jare lank gebeur. Kort-kort word daar aan haar deur geklop deur 'n lid van haar familie en verwag dié familielid dan elke keer dat daar móét skynbaar net die hele tyd uitgedeel word, so amper asof hy die reg het om by haar daarop aan te dring.

Dit los 'n wrang smaak in 'n mens se mond en 'n mens begin later so 'n (lastige) persoon verag.

Ek sê weer. Om te help en 'n hupstoot te gee is nie die probleem nie. Dit is wanneer die ontvanger van die hulp en die hup stote 'n lewenswyse daarvan begin maak en dit as vanselfsprekend begin verwag.

Jy moet wéét wanneer om te help en wanneer om nee te sê. Jy kan iemand dalk van die walle af in die sloot ook help as jy nie goeie onderskeiding toepas nie.

Ek onthou nog hoe kosbaar dit vir my en my vrou was om net nadat ons getrou het sulke onvoorwaardelike en onselfsugtige hulp, hup stote en ondersteuning van ons vriende en (veral) familie gekry het.

Nou nog as ons terugdink kan ons met groot nederigheid en opregte dank getuig van alles wat veral my skoonma al vir ons gedoen en beteken het en net watter groot klippe sy al vir ons uit die pad (help) rol het. Mag die Here vir haar 'n magtige oes inbring en ek bid dat sy die vrug daarop nog tot in haar nageslagte sal sien.

Let wel, sy het ons (gehelp), sy het dit nie namens ons gedoen en met die spreekwoordelike lepel gevoer nie. Dit is baie belangrik vir (veral) 'n jong getroude paartjie om sélf hulle pad deur die lewe te vind, maar hulle kan beslis doen met die nodige leiding van dié mense wat vir hulle omgee.

Uiteindelik kon ons op ons eie twee voete staan en is ons opreg en baie dankbaar vir alles wat vir ons gedoen is.

Miskien is jy iemand wat 'n gewoonte daarvan gemaak het om op ander mense se rug te ry, of miskien is jy iemand op wie se rug daar gery word.

As jý die eersgenoemde is, besluit dan vandag om uit daardie nessie te spring, jou vlerke te sprei en self te begin vlieg. Vra die Here om jou te help om daardie eerste onseker stap van geloof te neem en vra Hom om jou eerste en enigste voorsiener te wees.

As jy egter die laasgenoemde is, besluit dan om jou rug ryer met krag en oortuiging te konfronteer daaroor en 'n einde daaraan te maak. Hier ook moet jy die Here vra vir daardie krag, geleentheid en wysheid om dit te doen.

Onthou dat wanneer jy heeltyd iemand help en inprop, al is dit ook jou eie kind, doen jy dalk meer kwaad as goed. Mense móét leer om op hulle eie twee voete te staan.

Kom ons bid. Vader ek wil op my eie voete staan. Ek wil my Godgegewe doel in hierdie lewe bereik en ek wil nét in U oë kyk om alles vir my te voorsien wat ek nodig het. Ek weet U gebruik mense en werk deur hulle. Stuur die regte mense op my pad om my daardie Goddelike hup stote te gee wat ek nodig het sodat ek ook uiteindelik soos 'n waardige mens op my eie twee bene kan staan. Ek wil nie 'n rugryer wees nie. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.

No comments:

Post a Comment