Thursday 4 September 2014

As die Here die huis nie bou nie - deur Anton Brink

Té veel kere gebeur dit dat gelowiges allerhande dinge in hulle lewe aanpak (ook báie gereeld in die naam van Christenskap) net om na 'n rukkie dan met 'n groot skok agter te kom dat hulle planne glad nie wil uitwerk nie.



Die heel eerste ding wat dan gebeur is dat ons vies is vir die Here omdat Hý ons mos nou teleurgestel het en ons nie wou help nie...

As ek terugdink aan my eie lewe en al die dinge wat ék al aangepak het om darem net iéts van my lewe te probeer maak dan het ek seker vandag nog voor die hekke van munisipaliteite gestaan besig om lewensverskering en spaarplanne aan munisipale arbeiders te probeer smous.

Dit het net glád nie gewerk nie.

Ek kon nooit verstaan waarom God my nie seën nie. Dag na dag wanneer ek opstaan en kantoor toe gegaan het, het ek die een teleurstelling na die ander beleef en kon ek net nooit dieselfde sukses as die ander versekerings agente bereik of smaak nie. Dit het net glád nie gewerk nie, al het ek ook hoe hard probeer, my verkope was net altyd vrot. Ek was só kwaad vir die Here en ek kon nie verstaan hoekom Hy toelaat dat ek soveel teleurstelling, frustrasie en vernedering in die gesig moet staar nie.

Dit was nie Sy plan vir my nie.

Op 'n dag kon ek net nie meer nie en ek het soos hulle sê “rock bottom” geslaan. Ek het so vreeslik hopeloos en waardeloos gevoel ek wou doodgaan. Ek het baie gehuil en by die Here gesmeek om vir my besigheid te stuur, ek het by Hom gepleit en Hom gesoebat om vir my deure oop te maak sodat ek ook suksesvol kan wees soos die ander mense, want dit ís tog immers wat God vir ons elkeen van ons wat Sy kinders is wíl hê, maar niks.

Moeg en amper uitasem het ek uiteindelik moed opgegee en het ek in 'n stil hartseer oomblik in my kamer op die bed gaan sit en saggies gefluister, “Here, U wil en nie myne nie. Ek gee alles vir U, maak met my soos U wil en gee dat die eer daarvoor altyd na U toe sal gaan.”

Alles het spontaan gebeur.

Van daardie dag af het my lewe 'n dramatiese ommekeer begin maak en die allerbeste is dat dit was glád nie ek wat dit bewerkstellig het nie. Alles, elke liewe ding van daardie oomblik af het net spontaan begin gebeur en die Here het die een deur na die ander een vir my begin oopmaak.

Dit is nou sestien jaar later en die enigste kere wanneer ek terugkyk is wanneer ek (soos nou) vir ander mense met entoesiasme en van uit persoonlike ondervinding en oortuiging van God se goedheid en getrouheid wil vertel.

In Psalm 127: 1 – 2 uit die Boodskap Bybel staan daar geskryf, “As die Here die huis nie bou nie, bou die bouers 'n bouval wat enige oomblik inmekaar kan stort. As die Here die stad nie oppas nie, help dit net mooi niks dat die polisie die strate patrolleer nie. (Luister nou mooi na hierdie volgende deel in vers 2) Dit is 'n mors van tyd om vroeg op te staan en tot laatnag wakker te bly en jou morsdood te werk. Die Here gee vir almal wat Hy lief het al hierdie goeie dinge in hulle slaap.

Moet asb. nou nie die fout maak en dink dat daardie skrifgedeelte is jou “liksens” om maar op jou louere te mag sit en niks doen nie. Wat daardie skrifgedeelte wél vir ons sê is dat wanneer jy besig is met dit wat die Here jou voor geroep het gaan daar nie méér sukses uitvloei net omdat jý harder werk nie, nee, daar sal meer sukses uitvloei omdat God besluit het om jou werk te seën en vir geen ander rede nie. Jóú moeitevolle arbeid gaan nie 'n vreeslik groot verskil daaraan maak nie.

Ek hoop werklikwaar dat as jy nog nie weet wat God se plan vir jou lewe is nie, en as jy nog nie daarmee besig is nie dat jy spoedig daarvan werk sal maak om uit te vind en dat jy ook later sal kan getuig van God se goedheid en Sy getrouheid.

Kom ons bid. Vader ek wéét dat U my gemaak het om ’n rede, ek ís nie maar sommer net hier nie, U het 'n plan met my en wil so bitter graag weet wat dit is. Here laat U wil asb. in my lewe geskied tot U eer. Gee my lewe betekenis Vader en daardie betekenis en vervulling sal ek net kry wanneer ek U skeppingsdoel vir my kan uitleef. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


No comments:

Post a Comment