Ons is almal baie vinnig om vir die Here vir iets te vra maar dan is
ons ook net so vinnig om te twyfel dat Hy dit wat ons vra werklik vir
ons sal doen of gee.
Dink ’n
bietjie aan hoeveel keer op ’n dag of in ’n week elkeen van ons
(partykeer baie angstig) die Here Jesus vra om ons te help maar dan in
dieselfde asem nie regtig oortuig is dat wat ons ook al vra so sál
gebeur nie, óf ons glo nie werklik dat wat ook al wél gebeur tog die
beste vir ons sal wees nie.
Met betrekking tot laasgenoemde,
onthou die woord sê vir ons dat (alles) werk ten goede mee vir die wat
die Here lief het, daardie “lief het” beteken in die ware sin van die
stelling, vir almal wat aan die Here gehoorsaam is.
Jy kan nie
met elke uitdaging in die lewe wat jou pad langs kom “in duie stort” en
dan met ’n huilerige stem en 'n bewerige lippie vertel hoe "niks ooit
vir jou wil uitwerk" nie. Die rede waarom jy voel dat niks ooit vir jou
wil uitwerk nie is omdat jy nie kan of wíl verstaan hoe om God te glo en
te vertrou nie.
Geloof impliseer die (afwesigheid) van twyfel, nié die gepamperlang daarvan nie...
Die Bybel leer vir ons in Jakobus 1: 5 – 8 die volgende, “Maar ’n mens
moet gelowig bid en nie (twyfel) nie, want iemand wat (twyfel), is soos
’n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf
word. So ’n mens wat altyd aan die (twyfel) is en onbestendig is in al
sy doen en late, moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang
nie.”
In die Boodskap vertaling sê dit, “As julle egter in 'n
situasie kom waar julle twyfel oor wat die regte ding is om te doen,
gaan vra vir God. Hy sal nie snaaks van julle dink of julle verwyt
omdat julle onseker is hoe om vir Hom te leef nie. Hy sal julle eerder
help met alles wat julle nodig het. Gaan vra, Hy sal gee, maar een ding
moet julle dan nie doen nie. Moenie twyfel dat God julle regtig sal
help nie. Verwag en weet vir seker dat Hy sal help. Mense wat twyfel
of God regtig na hulle sal luister, is soos golwe op die see. Die wind
waai daardie golf heen-en-weer-. Die een oomblik sien jy dit en die
volgende oomblik is dit weg. Dit is 'n goeie voorbeeld van iets wat g’n
koers of sekerheid het nie. Dié voorbeeld pas by iemand wat gedurig
twyfel of die Here hom regtig gaan help. Vir so iemand sal die Here nie
veel beteken nie, want nes hy gebid het dat die Here hom moet help,
swaai hy om en sê dat dit nie kan of sal gebeur nie. En wat help dit?
Sonder geloof is dit (onmoontlik) om God te behaag. Let wel, dit sê
onmoontlik, dit sê nie dat dit is ’n bietjie moontlik of dalk miskien
moontlik is nie, dit is (onmoontlik) om God sonder geloof te behaag.
Ons lees dit in Hebreërs 6: 11. Ek sê weer, geloof impliseer die
(afwesigheid) van enige twyfel en nié die gepamperlang daarvan nie!
Ek dink die probleem ons onvermoë om God te vertrou en te glo dat Hy
sal doen wat Hy sê het sy ontstaan by ons sintuie. Ons oë oor wat ons
sien en ons ore oor wat ons hoor ens. Omdat hierdie sintuie vir ons meer
werklik is, is dit vir ons makliker om hulle eerder te glo as dit wat
God sê. Gevolglik, wanneer onseker dinge gebeur raak ons angstig en word
ons gevul met vrees oor situasies wat vir ons buite beheer lyk en ons
vergeet vinnig dat God beloof het om ons nooit te begeef of te verlaat
nie.
God laat Hom nie voorskryf deur die situasies of storms in
ons lewens nie en Hy skrik ook nie daarvoor nie, hoekom doen ons dan?
Kies nou om op te hou twyfel. Gaan hoor by die Here wat is Sy wil en
plan vir jou in jou unieke situasie, kies dan om Hom en dit wat Hy sê te
glo... en basta met die res want met jóú God spring jy oor ’n muur!
Sterkte!
Kom ons bid. Vader ek kies nou om verby my omstandighede te kyk en om
tot U eer bo dit uit te styg. Vader ek bely en erken dat ek ’n gewoonte
het om eerder te twyfel nog voordat ek selfs probeer het om te glo. Ek
bely my selfbejammering voor U en ek wil hê dat U nou my swak hande en
lam knieë sal sterk maak om soos ’n Dawid van ouds hierdie Goliat in my
lewe tussen die oë te skiet sodat ek met Goddelike oorwinning na die tyd
ook oor mý verhaal sal kan getuig. Ek vra dit in die naam van Jesus
Christus. Amen.
No comments:
Post a Comment