Friday 19 September 2014

Die tannie wat 'n kar wou koop - deur Anton Brink

Om in geloof te leef vra baie keer dat ons dinge doen en goed aanpak wat nie altyd vir “die wêreld” sal sin maak nie.

Ons weet wat sê die skrif oor geloof in Hebreërs 11: 1 en ook vers 6 “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” Dan vers 6 “As 'n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.”

My broer was jare gelede 'n motor verkoopsman. Hy ken die Here en hy het 'n persoonlike verhouding met Hom.

Die eienaar van dié motorhawe was nie gered nie en hy wou ook nooit van God weet nie. Ek onthou, iemand het eendag vir hom gevra of hy aan God glo, sy geïrriteerde antwoord was 'n baie kortaf “Man, ek glo net aan die karre wat ek verkoop”.

Moenie die verkeerde indruk kry nie, hy was eintlik oor die algemeen 'n baie aangename mens, hy het 'n goeie sin vir humor gehad en het graag met enigiemand gesels wat sy padlangs gekom het.

Hy het net glad nie van die kerk of die Here gehou nie en het ook nie daarvan gehou as mense met hom daaroor praat nie. Die hartseer is dat hierdie man nou al dood is. Hy was omtrent 36 jaar oud. Hy het verkluim en tot sy dood toe het hy God verwerp, dis baie tragies.

Nietemin, terug na die storie. Eendag stap daar by die motorhawe 'n gawe middeljarige vrou by my broer se kantoor in en sê vir hom dat sy wil graag 'n motor koop.

My broer wou vir haar die verskillende modelle wys wat beskikbaar is maar sy wou niks weet nie. Sy het reeds voor die tyd haar keuse gedoen oor watter voertuig sy wou hê. Hulle begin toe praat oor hoe sy die motor gaan betaal en sy vra dat my broer vir haar finansiering moet reël.

Toe hy vir haar help om die aansoekvorms in te vul stap dié einste eienaar by die kantoor in en groet die dame vriendelik. Hy begin toe ook gesels oor die voertuig wat sy wil koop en bevestig toe dat hulle haar finansiering vir haar sal reël. Hy let toe op wat sy ingevul het op die finansiering aansoekvorm en wat haar maandelikse inkomste is wat sy daarop aangedui het.

Die eienaar kyk toe met empatie na haar en sê dat hy is jammer maar hy wéét hoe die banke werk en wat hulle vereistes is en dat hy op grond daarvan vir haar nóú al reeds kan sê dat hulle haar waarskynlik nie sal goedkeur vir 'n lening om die motor te koop nie.

Haar antwoord het my broer (wat die Here ken) 'n lekker laggie van plesier gegee (omdat hy weet hoe God werk) en die eienaar (aan die ander kant) se wind heeltemal uit sy seile geneem.

Haar woorde was die volgende. Sy het haar hand opgelig en ferm vir die eienaar beduie om stil te bly en gesê, “God het vir my gesê om te gaan eksamen skryf om my rybewys te kry. Ek was gehoorsaam en ek het my leerlinglisensie gekry en toe uiteindelik my bestuurstoets geslaag. Die Here sou nie vir my gesê om dit te doen as Hy nie ook van plan was om vir my 'n kar te gee nie. Ek sál daardie finansiering kry want God sal dit vir my gee.”

Soos ek sê, my broer het met lekkerkry geglimlag terwyl die eienaar letterlik nie geweet het wat om op daardie stelling te antwoord nie. Ek dink dit moes eintlik nogal 'n baie snaakse oomblik gewees het as 'n mens dit soos 'n “vlieg teen die muur” kon beleef het. Die eienaar het omgedraai en met die woorde “Ons kyk maar wat sê die bank” weggestap.

Dit was toe inderdaad op die ou einde nie die bank nie, maar God wat die laaste sê in dié saak het. Sy het haar finansiering gekry dat selfs my gelowige broer gesê het dit kan net 'n wonderwerk gewees het. Die eienaar het net gesug en sy kop geskud vir hierdie “mal” mense.

Wanneer God met ons praat en vir ons vra om iets te doen al maak dit nie vir ons logies sin nie, is dit verskriklik belangrik dat ons in gehoorsaamheid daaraan gehoor sal gee en dit dan doen, anders mis ons dalk uit op die “blessings” wat hy vir ons in stoor het.

God se volgorde is nie altyd ons volgorde nie. Hy verwag menigte male van ons om eers daardie eerste tree in geloof te gee voor Hy die res vir ons kom doen.

Kan jy dink as hierdie vrou nie geluister het na God se opdrag om vir haar lisensie te gaan nie. Wat sou gebeur het as sy dalk iets gesê het soos, “Nee, dit kan nie van die Here af wees nie. Ek het dan nie eens geld om 'n motor te koop nie?” As sy dit sou gedoen het, sou sy en my broer nooit hierdie wonderwerk sien gebeur het nie en sou jy nooit daarvan hier gelees het nie.

Ek hoop jou geloof is versterk, myne was beslis! Gaan luister jy ook vandag aandagtig na wat God wil hê jy moet doen en dóén dit dan al lyk dit vir jou onmoontlik.

Sterkte!

Kom ons bid. Vader ek is bang om die eerste tree te gee. Sal U my asb. help? Hou my hande vas sodat ek kan leer om in geloof te begin stap sodat ek dit uiteindelik met ook met oorgawe kan doen. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


No comments:

Post a Comment