Wednesday 3 September 2014

Sê ’n slag dankie - deur Anton Brink

So elke nou en dan moet ons gaan kyk na wat ons wél alles het, sodat ons net vir 'n slag weer herinner kan word en besef hoe baie ons éintlik het om voor dankbaar te wees.


Die dinge wat ons het om voor dankbaar te wees lyk net nie altyd soos wat óns dink dit veronderstel is om te lyk nie.

Hier is 'n paar voorbeelde...

1. Ek is dankbaar vir al die vuil wasgoed wat ek het om te was want dit beteken dat ek en my huisgesin klere het om aan te trek.

2. Ek is dankbaar vir die vuil skottelgoed wat ek moet was want dit beteken dat ek en my gesin het kos gehad om te eet.

3. Ek is dankbaar vir die water en elektrisiteit rekening wat ek van die stadsraad af kry want dit beteken dat ek met redelike gemak al daardie klere en skottelgoed kán skoon kry.

4. Ek is dankbaar vir die beddens wat moet skoon oorgetrek word met nuwe lakens en komberse want dit beteken ek het 'n warm bed om in te slaap.

5. Ek is dankbaar vir my motor wat dringend gewas en gediens moet word want dit beteken ek hoef nie kilometers te stap tot waar ek moet wees nie.

6. Ek is dankbaar vir klein kindertjies wat heeldag rondhardloop, lawaai en skree terwyl hulle speel en dat ek moet sukkel om hulle klaar te kry vir skool in die oggend want dit beteken hulle is gesond en normaal en hulle kry 'n goeie opvoeding.

7. Ek is dankbaar vir die parkeerplek wat ek gekry het daar doer vêr in die agterste ry vêr van die winkel se deur af want dit beteken ek is nog gesond genoeg om so vêr te stap.

8. Ek is dankbaar vir vloere om te was, gras om te sny en geute om skoon te maak want dit beteken ek het 'n huis om in te bly.

9. Ek is dankbaar vir die Kersfees ete wat ek moet voorberei en kers inkopies wat gedoen moet word want dit beteken ek het mense vir wie ek lief is en wie lief is vir my wat graag daardie tyd saam met my wil deurbring.

Daar is seker nog baie dinge wat ons elkeen hier kan byvoeg maar hierdie is net solank vir jou 'n illustrasie van al die bedekte seëninge wat ons so vinnig elke dag miskyk.

Luister na wat sê Dawid in Psalm 118: 1 – 8 uit die Boodskap Bybel oor hoe dankbaar hy is. Daar staan geskryf, “Sê vir die Here baie dankie, want Hy is goed, ja, Sy liefde sal nooit ophou nie. Al die Here se kinders moet sê: Sy liefde sal nooit ophou nie. Ja, almal wat Hom dien en aanbid, moet dit sê. Toe ek in die moeilikheid was, het ek ernstig tot die Here gebid. Die Here het na my geluister. Hy het my gehelp. Die Here is by my . Daarom is ek vir niks bang nie. Niemand kan iets aan my doen nie. Die Here help my. Mense wat nie van my hou nie, sal my nooit onderkry nie. Ek sal hulle wen. Dit is beter om die Here te vra om jou te beskerm, as om te hoop mense doen dit, al is hulle hoe belangrik.”

Onthou om vandag vir die Here dankie te sê vir al Sy goedheid in jóú lewe.

Kom ons bid. Here God baie dankie dat U altyd vir my goed is. Dankie, dat U liefde vir my geen einde ken nie. Dankie, vir alles wat U vir my doen en gee en dankie Here dat U my vergewe het en die prys vir my sondes namens my betaal het. In die naam van Jesus Christus. Amen.

No comments:

Post a Comment