Tuesday 23 September 2014

Daai aanhoudende skuldgevoelens - deur Anton Brink

Voel jy gereeld asof jy nie goed genoeg is om God se genade en liefde te ontvang nie, voel jy asof jy nie waardig is om Sy kind genoem te word nie en voel jy soms selfs te skaam om te bid omdat jy dink jy net té veel sonde het?
Jy is nie alleen nie, daar is baie ander mense wat met presies dieselfde probleem sukkel. Ons voel ons is nie goed genoeg nie en daarom skram ons weg van die Here af en wil ons ook nie tyd met Hom spandeer nie omdat daardie skuldgevoel ons oorweldig en ons dink soms selfs dat God is nie tevrede met ons nie.

Die waarheid is dat die Here is lief vir jou nes jy is máár Hy is (gelukkig) té lief vir jou om vir jou te los soos wat jy is.

Jy moet onderskei tussen aanhoudende skuldgevoel aan die eenkant en aan die ander kant om van jou sonde oortuig te wees. Ek glo persoonlik nie dat aanhoudende en talmende skuldgevoelens van God af kom nie maar dat dit is of van die duiwel óf uit ons self.

Ons moet 'n sonde oortuiging hê eerder as langdurige skuldgevoelens.

God het nie nodig om op jou gevoel te speel nie. 'n Aanhoudende en talmende skuldgevoel het die potensiaal om jou geestelik en emosioneel te verlam en kan jou selfs sodanig kniehalter dat jy op die ou einde nie kan aanbeweeg en groei in jou verhouding met die Here nie. Om 'n oortuiging oor iets (sonde) te hê gaan aan die ander kant gewoonlik gepaard met 'n daadwerklike aksie wat met daardie oortuiging strook.

Aanhoudende skuldgevoelens gaan dikwels gepaard met 'n mens se onvermoë om ons self te vergewe. Jy het dalk lankal jou fout of oortreding voor die Here en die ander persoon erken én die Here asook die persoon het jou ook al lankal vergewe maar jy haak nog altyd vas by die feit dat jy nie kan glo dat jy so 'n fout in die eerste plek kon maak nie.

Onthou dat jy is nie perfek nie en jy gaan ook nooit ooit perfek wees terwyl jy op hierdie aarde is nie. Kies dus net om te glo en te aanvaar dat jy vrygespreek is ongeag wat jou oortreding was en beweeg aan.

Moenie die Here probeer vermy omdat jy sleg, skuldig of skaam voel nie. Daar is niks wat jy vir hom kan wegsteek nie. Dit help in elk geval nie jy probeer die Here vermy nie, jy kan nie omdat Hy is oral en Hy weet van absoluut alles so jy vlug dus verniet.

In 1 Johannes 1: 6 – 9 staan daar geskrywe: “Hou dit nou in gedagte vir die volgende vraag. As ons rondvertel dat ons deel van God se intieme familie is, maar ons dade verklap die teenoorgestelde, wat maak dit van ons? Dit maak van ons skaamtelose leuenaars! Dit is soos mense wat sê hulle hou net van die lig, maar as jy hulle soek, sit hulle in die donker. So weerspieël ons mos nie die waarheid en egtheid wat eie aan 'n kind van God die Almagtige is nie. Ons is alleen deel van hierdie hegte familie van God as ons optrede presies is soos God dit van ons verwag, maar wat nou daarvan as ons iets doen waarvan God nie hou nie mag jy vra? Wel, dit is juis God se Seun Jesus se offerbloed wat ons geestelik silwerskoon was, daar bly nie een sonde oor nie! Dit beteken dat ons rein voor God kan staan. Ja – nee, moet my nie verkeerd verstaan nie: as ons wil voorgee dat ons nooit sonde doen nie, slaan ons die bal heeltemal mis. Wie dit sê, praat nie die waarheid nie. As ons egter voor God erken dat ons foute gemaak het en nooit weer dieselfde foute wil maak nie, sal God van sy kant af heeltemal van ons sondes vergeet. Hy sal ons ook geestelik skoon was van alles waarvan Hy nie hou nie. Glo dit maar, want God bly getrou aan sy beloftes en doen wat reg is."

Ons wat die Here se kinders is moet vrymoedigheid by God hê.

Vrymoedigheid beteken die volgende. Om 'n “ervaring of 'n oortuiging van geloof in iets of iemand te hê en dat jy daardie iets of iemand volkome kan vertrou. Om private sake (geheime) met mekaar te deel terwyl daar volkome (wedersydse) vertroue tussen die betrokke partye heers.”

Vertrou die Here dus wanneer Hy vir jou sê dat Sy genade is vir jou genoeg en aanvaar Sy uitnodiging wanneer Hy sê dat ek en jy kan met vrymoedigheid na Sy genadetroon toe hardloop.

Kom ons bid. Vader help my asb. om nou op hierdie oomblik van my valse en aanhoudende skuldgevoelens ontslae te raak en dit eens en vir altyd van my af te skud. Maak my vry Here van dinge wat my vashou en bind en wat my keer om met daardie vrymoedigheid na U genade troon toe te hardloop. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


No comments:

Post a Comment