Jy ken die skrif gedeelte in 1 Korintiërs 13: 2 waar dit sê, “Al het ek
die gawe van profesie en ken ek al die geheimenisse en besit ek al die
kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen
liefde nie, dan is ek niks.”
In
die Boodskap vertaling sê dit: “Sê nou ek kan uitstekend preek, is
hooggeleerd in die dinge van die Here en verstaan dinge van God wat
ander mense nie eens weet nie en boonop het ek nog die grootste geloof
wat jy jou kan voorstel, maar ek het nie ander mense lief nie, is ek vir
die Here 'n nul op 'n kontrak.”
Ek het lank terug ’n sê ding
gehoor wat baie mooi by hierdie skrifgedeelte aansluit en dit is,
“Waarheid sonder liefde, is wreed.”
As jy mooi daaroor nadink
dan is dit presies hoe dit is. As iemand eerlik met jou is maar daardie
persoon tree soos 'n bullebak op en hy of sy is glad nie sensitief vir
jou gevoelens nie, dan kom dit wat hulle vir jou sê as wreed oor en maak
hulle jou met hulle woorde seer.
Ek kan van 'n baie goeie voorbeeld onthou waarby ek persoonlike by betrokke was.
Ek het destyds saam met twee ouers dames by 'n bekende Christelike
organisasie gewerk. Kom ons noem hulle sommer Esther en Lettie. Hulle
(die twee dames) het presies dieselfde tipe werk daar gedoen. In die
uitvoer van ons onderskeie pligte moes ek van tyd tot tyd saam met een
of partykeer hulle albei werk.
Ek het baie vinnig agtergekom
dat al praat hulle albei oor presies dieselfde onderwerp, is hulle albei
van presies dieselfde dinge oortuig, gebruik hulle selfs dieselfde tipe
woorde, haal hulle dieselfde skrifgedeeltes aan en voel hulle albei
baie sterk oor die onderwerp van sending waarmee hulle gemoeid was, was
daar tog 'n reuse-groot verskil tussen hierdie twee vrouens.
Esther aan die een kant was altyd die liefde haarself. Sy was
vriendelik, hoflik en aangenaam en dit was lekker om haar te sien, tyd
saam met haar te spandeer en om sommer net oor die algemeen in haar
geselskap te wees. Sy laat jou altyd voel asof jy die enigste persoon
in die vertrek is en jy kan gou agterkom dat sy regtig vir mense omgee.
Wanneer sy gepraat het, kon jy God se liefde in haar woorde
hoor en selfs wanneer sy die eerlike waarheid met mense gedeel het, was
dit ook altyd met daardie Goddelike liefde wat sy in haar gehad het en
het sy selfs in daardie sensitiewe oomblikke mense net nog nader aan
haar getrek. Esther het God met haar hart geken.
Lettie aan
die ander kant was weer presies die teenoorgestelde. Sy het altyd
koud, wreed en liefdeloos voorgekom en 'n mens het behoorlik gevoel asof
jy die heeltyd op eiers moet loop wanneer jy rondom haar was. Dit was
baie uitputtend om in haar geselskap te wees.
Die twee vrouens
was presies dieselfde maar tog heeltemal verskillend van mekaar en dít
net omdat die een alles in liefde doen en die ander een nie.
Kom dat ons elkeen van vandag af daarna oplet om nie sonder liefde op te
tree en sonder liefde te praat nie sodat ons nie as wreed en
ongenaakbaar sal voorkom vir die mense saam met wie ons woon of werk
nie.
Kom ons bid. Vader help my om in krag op te tree en met
alles in my lewe met persoonlike oortuiging aan te pak maar dit altyd
met liefde gepaard sal gaan. Gee asb. Here dat ek nooit mense met 'n
liefdelose houding of gedrag van my af sal wegdryf nie maar dat mense
eerder nader getrek sal word aan U waarheid omdat U liefde vir hulle
deur my vloei. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.
No comments:
Post a Comment