Monday 22 September 2014

By jou Kruispad - deur Anton Brink

Elkeen van ons kry die geleentheid om op een of ander stadium 'n besluit te maak vir of teen God.


Die Here dring Hom aan geen mens op nie en Hy sal ook niemand forseer om Hom as Verlosser en Saligmaker te aanvaar nie. Hy wil hê dat ons Hom uit eie vrye wil moet kies. As Hy ons sou forseer sal ons tog eintlik op die ou einde niks meer as net pionne wees nie en dít is nie wat die Here wil hê nie, Hy soek nie pionne nie, Hy soek kinders.

Ek weet dit klink dalk kras as ek dit so stel maar onthou God het ons nie nodig nie. Hy is in Hom self absoluut alles wat Hy wil wees en Hy is reeds 100 % volmaak, tog het hy besluit om die mens te maak en dan wonder 'n mens soms hoekom het Hy dit gedoen.

Ek gebruik graag die voorbeeld van my en my vrou en die twee woelwaters in ons huis. Ek en my vrou het toe ons getrou het ook nie ons kinders nodig gehad nie maar tog wou ons baie graag 'n gesin wees. Ons wou kinders hê sodat ons vrylik en onvoorwaardelik ons liefde met hulle kon deel en oor hulle uitstort, ons wou hulle sien grootword en 'n lewe, verhouding en kosbare oomblikke met hulle deel.

Ek dink op 'n manier is dit presies hoe die Here oor ons voel. God het ons nie nodig nie, máár ek dink Hy wou ook graag Sy oneindige liefde met iemand deel en daarom het Hy vir my en jou gemaak.

Ons moet dit regtig mooi verstaan. God wil Sy liefde met ons deel, nie Sy oordeel nie. Tog het 'n groot klomp gelowiges daardie aanhoudende vrees dat God 'n “fire and brimstone” houding teenoor ons het en dit is hoegenaamd nie die geval nie. Hy het 'n liefdevolle, aanvaardende en vergewensgesinde houding teenoor ons elkeen, nie een van wreedheid nie.

As jy nog nie 'n besluit geneem het om God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees as verlosser en Saligmaker te aanvaar nie wil ek jou nou die geleentheid gee om dit te doen.

In Efesiërs 2: 8 – 9 staan daar geskryf, “Vra julle waarom julle nou juis gered is? Wel, dit is omdat God so goed is en julle Jesus so vertrou. Dit is nie iets wat ons self reggekry het of kon doen nie: God het dit vir ons verniet gegee. Dit is nie iets waaroor enigeen van julle kan loop en spog nie, want dit is nie asof julle self daarvoor gewerk of dit verdien het nie.”

Lees asb. die onderstaande gebed hardop saam en kies vandag om die Here Jesus Christus as verlosser te aanvaar sodat jy ook gered en verlos kan word en die ewige lewe saam met God in die hemel kan hê.

As jy kies om dit te doen kom dan asb. met ons gebed vriende en beraders by Tygerberg 104 fm in kontak sodat hulle jou kan help en leiding gee oor wat jou nou te doen staan.

Sterkte!

Kom ons bid. Hemelse Vader, vandag weet ek dat ek, soos alle mense wat gebore word op hierdie aarde, oppad is hel toe. Al lewe ek hoe goed, tensy ek by ’n punt kom waar ek besef dat ek ’n Verlosser nodig het, kan ek nooit uit my eie goeie dade of lewe die Ewigheid in U teenwoordigheid deurbring nie.

Dankie dat U Jesus, vir my sondes gesterf het, begrawe is en op die derde dag weer opgestaan het en opgevaar het na die hemel waar U aan die regterhand van God sit en my Voorspraak is. Ek bely vandag dat U die Seun van God is en dat U my verlossing duur gekoop het.

Dankie Heilige Gees dat U daagliks my metgesel is en dat U my leer en lei in die waarheid. Vandag aanvaar ek Jesus Christus as my Verlosser en Saligmaker en weet ek dat ek in U alles het wat ek nodig het om die Ewige Lewe te kry, volgens Joh17:3

Ek dank U dat ek nou in ’n lewende verhouding met U kan wees en dat ek in U ’n Vriend en daaglikse Trooster en metgesel het. Amen


No comments:

Post a Comment