Wednesday 17 September 2014

Anderkant die klankgrens - deur Anton Brink

Ek weet nie of jy al ooit die voorreg gehad het om 'n “sonic boom” te beleef nie maar dit is nogal iets opwindend om te sien en te hoor, veral vir die van ons wat so bietjie van 'n vegvliegtuig entoesias is, naamlik ek... : )



As jy nie weet wat 'n “sonic boom” is nie, dit is wat dit genoem word wanneer 'n vliegtuig teen baie hoë spoed deur die klankgrens breek. Om dit te kan regkry, moet die vlieënier vinniger as 1 238 km/h vlieg omdat dít die spoed is waarteen klank beweeg.

Wanneer die vliegtuig daardie klankgrens suksesvol oorskry hoor mense op die grond dan die baie duidelike geluid van iets wat klink soos 'n donderslag. Hierdie donderslag geluid of klank word dan oor die algemeen 'n “sonic boom” genoem.

Op 14 Oktober 1947 is hierdie “sonic boom” die eerste keer in Florida, Amerika gehoor toe Kaptein Charles “Chuck” Yeager die eerste mens ooit geword het wat vinniger as die spoed van klank gevlieg het. Hy het die vliegtuig waarin hy dit gedoen het “Glamorous Glennis” gedoop.

Die oorskryding van die klankgrens was glad nie 'n maklike ding om te doen nie en dit het selfs die dood van een van die vorige toets vlieëniers veroorsaak wat dit probeer bereik het.

Dié eksperimentele vliegtuig waarin hy dit probeer regkry het, het in stukke opgebreek kort voor hy vinniger as die spoed van klank kon vlieg a.g.v. al die stres op die struktuur daarvan.

Wetenskaplikes en ingenieurs het baie vinnig ná hierdie tragedie besef dat 'n vliegtuig word geweldig onstabiel teen daardie hoë spoed en omdat die struktuur daarvan aan geweldige vibrasie en ander vreemde dinamika onderwerp word hoe nader dit aan die spoed van klank kom, moet hulle dringende en drastiese aanpassings maak.

Die uitdagings was groot máár die beloning was nog soveel groter en vandag, 67 jaar later pluk ons steeds die vrugte van die toewyding en opofferings wat voor en op 14 Oktober 1947 gemaak is.

Soms moet ons ook ander mense raadpleeg om aanpassings in ons lewens te maak net soos daardie mense met Chuck Yeager se vliegtuig moes doen sodat ons ook suksesvol kan wees.

In daardie oomblikke nét voordat jy die grootste deurbrake in jou lewe beleef ervaar 'n mens ook baie keer van die mees onstabiele en uitdagende tye van jou lewe. Dit is in hierdie tye dat dit meer belangrik as ooit is dat jy die regte besluite moet maak en goeie keuses moet uitoefen om seker te maak dat jy nie misluk nie.

Hoe doen jy dit?

Onthou Chuck Yeager het nie die klankgrens alleen en op sy eie krag en insig oorgesteek nie. Hy sou dit in alle ewigheid nooit reggekry het sonder die hulp van daardie bekwame ingenieurs en wetenskaplikes, wat (tussen hulle) jare se ondervinding gehad het nie.

Vra mense wat weet waarvan hulle praat.

Wie is die wetenskaplikes en ingenieurs in jóú lewe, wie is dit wat jy toelaat om vir jou inspraak te gee en wat jy toelaat om te help bou aan jóú lewe. Onthou dat dit nie veronderstel is om sommer net enige iemand te wees nie. Maak seker dat die mense wat jou help met besluite in jou lewe mense is met insig.

Volg die raad van goeie en Goddelike raadgewers.

Uit die Boodskap Bybel lees ons in Spreuke 24 vanaf vers 5 tot 7 die volgende, “Wysheid is bo 'n dom mens se vuurmaakplek. Jy tref 'n domme ook nie aan tussen mense wat die lewe ken nie. Natuurlik omdat hy bang is hulle hoor sy domheid.”

Ons lees ook uit die Boodskap vertaling vanaf hoofstuk 15 vers 22: “Sonder goeie beplanning loop alle planne skeef. Goeie raad verseker sukses.”

Kry vir jou goeie raadgewers, mense wat jy vertrou en wat jy voor jou siel weet het jou beste belange op die hart. Wanneer jy weet dat jy weet dat jy so 'n persoon of persone in jou lewe het en dat jy hulle met jou lewe kán vertrou, vertrou dan ook hulle raad, insig en leiding.

Onthou God gebruik mense so daar is niks fout daarmee om ander gelowiges se raad te vra nie maar die eerste en beste raadgewer van almal is natuurlik God self wat deur die Heilige Gees en die verlossings krag van Jesus Christus vir ons daagliks daardie insig en raad vrylik gee wat ons nodig het, so begin asb. daar.

Kom ons bid. Here God ek wil so vreeslik graag 'n sukses van my lewe maak maar ek wil dit nie sonder U doen nie. Ek het U raad en leiding nodig Here. Stuur asb. vir my ook Goddelike raadgewers om my by te staan wanneer ek besluite moet maak. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


No comments:

Post a Comment