Monday 8 September 2014

Dis te goed om waar te wees - deur Anton Brink

Daar is 'n Engelse gesegde waar mense sê, “If something is to good to be true, it usually is...”



Al wat dit natuurlik beteken is dat wanneer iets vir jou te goed (klink) om waar te wees dan ís dit gewoonlik ook die geval en word ons dus met hierdie sê ding aangemoedig om dit (wat dít ook al is) liefs nie te glo nie.

Dit is presies wat gisteroggend met my gebeur het toe ons op pad kerk toe was. Terwyl ons in die motor ry sit en dink ek so stil-stil by my self aan die feit dat Jesus vir mý (Anton) óók vrygekoop het, dat Hy ook vir my sondes gesterf het en omdat ek dit met my hele hart glo het ek rééds die ewige lewe in die hemel saam met Hom beërwe en is ek klaar Syne en hoef ek my nooit weer daaroor te bekommer nie.

Saggies sê ek so in my binneste, “Here, dit klink te goed om waar te wees. Dat 'n sondige ou soos ek óók mag hemel toe gaan nét omdat ek Jesus as my verlosser bely en ek Sy wil probeer doen, kan dit dan wees?!” Die Here moes seker geluister het na my gedagtes of iets want die volgende oomblik “hoor” ek die woorde, “Glo dit net, hou op om te probeer (voel) dat jy gered is, glo dit met jou hart en nie met jou verstand nie.”

Miskien is jy ook soos ek? Jy probeer alewig geestelike dinge met jou kop verstaan terwyl jy dit eintlik net eenvoudig met jou hart moet doen. As jy wel ook so 'n tipe mense is nooi ek jou om vandag, op hierdie oomblik, op te hou redeneer, op te hou probeer verstaan en op te hou om redes te gee oor waarom jy dink die Here jou nie kán of behoort lief te hê nie, want jy sien, Sý liefde vir jou hang in die eerste plek nie van jou self af nie maar van Hóm en Hy is beslis meer as in staat.

Hou op dink (soos ek) aan hoe sleg jy eintlik is en aan hoeveel sonde jy doen en aan hoe jy nie werklik Sy genade verdien nie en kom ons maak liewer soos die woord vir ons in Hebreërs 4: 16 sê, “Kom ons gaan dan met (vrymoedigheid) na die (genadetroon), sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.”

In die boodskap vertaling sê dit in vers 15 en 16, “Hy is nie iemand wat niks van ons weet en daarom nie simpatie met ons swakhede sal hê nie. Nee, Hy het al dieselfde pad as ons geloop en is deur dieselfde versoekings as ons, met dié verskil dat Hy nie een maal 'n fout gemaak het nie. Ons hoef dus nie bang te wees of te wonder of ons na God toe mag gaan nie. Ons kan maar gaan, want God sal baie goed wees vir ons. Wanneer ons dit nodig het, sal God vir ons meer gee as wat ons verdien en ons met Sy liefde omvou.

As jy dus wél iemand is wat sukkel met (self) veroordeling, kies dan vandag om skuldgevoelens van jou af te werp en aanvaar met jou hart dat God jou lief het nét soos wat jy is, al het jy ook hoeveel foute, Hy gee nie om daaroor nie, want Hy het klaar die prys vir al jou en my foute en tekortkominge betaal.

Onthou net, soos ek gesê het, Hy ís lief vir jou nét soos wat jy is máár Hy is té lief vir jou om vir jou te los soos wat jy is... dink 'n bietjie daaraan.

En laastens, is jy iemand wat nog nooit die geleentheid gehad het om die Here Jesus as persoonlike verlosser en Saligmaker te aanvaar nie. Indien wel, wil jy nie dalk net miskien vandag daardie besluit neem en die onderstaande gebed hardop saam bid en Jesus Christus as verlosser aanvaar nie. As jy kies om dit wel te doen maak dan (groot asb.) seker dat jy met ons beraders en gebedsvriende by Tygerberg 104FM kontak maak by 0861 104 104 sodat hulle saam met jou kan bid en jou leiding kan gee oor wat jou nou te doen staan.

Sterkte!

Kom ons bid. Hemelse Vader, vandag weet ek dat ek, soos alle mense wat gebore word op hierdie aarde, op pad is hel toe. Al lewe ek hoe goed, tensy ek by ’n punt kom waar ek besef dat ek ’n Verlosser nodig het, kan ek nooit uit my eie goeie dade of lewe die Ewigheid in U teenwoordigheid deurbring nie.

Dankie dat U Jesus, vir my sondes gesterf het, begrawe is en op die derde dag weer opgestaan het en opgevaar het na die hemel waar U aan die regterhand van God sit en my Voorspraak is. Ek bely vandag dat U die Seun van God is en dat U my verlossing duur gekoop het.

Dankie Heilige Gees dat U daagliks my metgesel is en dat U my leer en lei in die waarheid. Vandag aanvaar ek Jesus Christus as my Verlosser en Saligmaker en weet ek dat ek in U alles het wat ek nodig het om die Ewige Lewe te kry, volgens Joh17:3

Ek dank U dat ek nou in ’n lewende verhouding met U kan wees en dat ek in U ’n Vriend en daaglikse Trooster en metgesel het. Amen

No comments:

Post a Comment