Tuesday 30 September 2014

Jou banier - deur Anton Brink

'n Hele paar jaar gelede het ek 'n gesprek met iemand gehad oor die feit dat mense altyd wil weet waarvoor jy staan. Dis met meeste dinge in die lewe so, mense wil weet wie jy is, wat jou oortuigings is en wat jou dryf in die lewe is.
Wanneer jy iemand is met sterk persoonlike oortuigings én jy leef dit uit dan is mense geneig om jou daarvoor te respekteer selfs al sou hulle nie noodwendig met jou saamstem nie, hulle respekteer jou standpunt en die feit dat jy sterk oortuig is daarvan.

Iemand wat nié graag standpunt wil inneem nie en dalk meer van 'n draadsitter is kry weer nie sommer die agting van andere nie en word ook nie altyd so baie vertrou deur mense nie omdat hulle nie weet wat hulle in so iemand het of nie het nie.

Mense moet kan sien waarvan jy oortuig is en waarin jy glo amper nog voordat jy jou mond oopmaak. 'n Jong predikant het 'n paar jaar gelede die volgende geskryf:

“I am part of the fellowship of the unashamed. I have Holy Spirit power, my die has been cast. I have stepped over the line. The decision has been made. I'm a disciple of Jesus. I won't look back, let up, slow down, back away, or be still.

My past is redeemed, my present makes sense, my future is secure. I'm finished and done with low living, sight walking, small planning, smooth knees, colorless dreams, tamed visions, worldly talking, cheap giving, and dwarfed goals.

I no longer need pre-eminence, prosperity, position, promotions, plaudits, or popularity. I don't have to be right, first, tops, recognized, or rewarded. I now live by faith, lean on His presence, walk by patience, am uplifted by prayer, and labor by power.

My face is set, my gait is fast, my goal is heaven, my road is narrow, my way is rough, my companions are few, my Guide is reliable, and my mission is clear. I cannot be bought, compromised, detoured, lured away, turned back, deluded, or delayed. I will not flinch in the face of sacrifice, hesitate in the presence of the adversary, negotiate at the table of the enemy, ponder at the pool of popularity, or meander in the maze of mediocrity. I won't give up, shut up, let up, until I have stayed up, stored up, prayed up, preached up for the cause of Christ.

I am a disciple of Jesus. I must go till He comes, give till I drop, preach till all know, and work till He stops me. And when He comes for His own, He will have no problem recognizing me-my banner will be clear.”

As mense na jou kyk, sal hulle weet wie en wat jy is? Sal jou banier duidelik genoeg wees om dit te sien of probeer jy daardie lig binne-in jou met 'n maatemmer bedek sodat niemand dit sal oplet nie?

In Matteus 5 vanaf vers 14 – 16 staan daar geskryf, “Julle is 'n lig vir die donker wêreld rondom julle. Almal moet kan sien dat julle glo. Julle geloof moet net so sigbaar wees soos 'n stad wat hoog bo-op 'n berg gebou is. Geen mens sit 'n lig aan en gaan steek dit dan onder 'n bed weg nie. Nee, 'n lig word in die middel van 'n vertrek neergesit sodat almal kan sien wat om hulle aangaan. Dit is presies wat julle ook moet doen. Moenie iewers in die donker gaan wegkruip nie. Julle moet soos 'n lig in hierdie pikdonker wêreld skyn. Ander mense moet uit julle woorde en dade sien dat julle God van harte dien. Dan sal hulle sê dat God regtig 'n groot en goeie God is. So word julle Hemelse Vader se Naam regtig grootgemaak.”

Moenie jou geloof in Jesus Christus wegsteek nie, wys dit en laat dit skyn vir al die mense om te sien selfs al kritiseer hulle jou vir jou oortuigings. Op die einde is dit in elk geval net wat God van jou dink wat werklik saak maak.

Sterkte!

Kom ons bid. Vader help my om asb. my lig duidelik in hierdie wêreld te laat skyn. Help my Here om 'n duidelike boodskap aan alle mense te stuur deur my dade en ook wat ek sê sodat hulle sal sien en hoor dat ek U ken en dien en dat hulle ook dan oortuig sal raak van U liefde en genade. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.



Monday 29 September 2014

Die oes is groot - deur Anton Brink

Jy ken seker die skrifgedeelte in Mattheus 9: 37 waar daar geskryf staan, “Hy sê toe vir sy dissipels: “Die oes is groot, maar die arbeiders min.”

In die Boodskap vertaling lees ons vanaf vers 35 tot 38 sê dit, “Jesus het by al die dorpies en klein plekkies langs gegaan. By hulle byeenkomste het Hy lank met die mense gesels oor hoe hulle die Joodse Bybel moes verstaan. Hy het veral vir hulle die goeie nuus van God se nuwe wêreld vertel. Met Jesus se koms kon die mense ook al hoe meer agterkom hoe God se nuwe wêreld lyk. Daarom het Hy mense met allerhande siektes en kwale gesond gemaak. Jesus het na al hierdie mense om Hom gekyk. Hulle het vir Hom gelyk soos skape wat sonder 'n herder ronddwaal. Dit was of hulle nie meer krag oorgehad het om aan te gaan nie en sommer net daar wou bly lê. Daarom wou Jesus hulle regtig graag help. Hy sê toe vir Sy dissipels: “Die lande staan ryp met 'n groot oes, maar daar is so min mense om die oes in te samel. Vra God, die Boer wie se oes dit is, om nog ekstra arbeiders te stuur. Daarvoor moet julle ernstig bid.”

Vandag, tweeduisend jaar later is daar gelukkig al baie arbeiders wat wel aangemeld het vir diens en wie by die Evangelie van Jesus Christus betrokke geraak het en dit daagliks verkondig om hierdie wêreld van Christus en die Kruis te vertel.

'n Paar van daardie arbeiders sit hier by Tygerberg 104fm se kantore in die vorm van ons gebed vriende en beraders en net 'n paar maande gelede was hulle bereidheid om die Evangelie te deel so wonderlik beloon.

Dit was 'n doodgewone agtermiddag toe daar 'n hele huisgesin met die Pa, die Ma en al drie hulle kinders by ons voordeur instap. Dit was duidelik aan hulle kleredrag dat hulle nie Christene was nie maar dat hulle 'n ander bekende geloof beoefen het.

Die man het by ons ontvangstoonbank gevra of hulle asb. met iemand kan gesels. Die ontvangs dame het dadelik baie hoflik en vriendelik vir hulle beduie om gerus solank te sit sodat sy een van ons beraders kan vra om hulle te sien.

Om 'n lang storie kort te maak, een van ons beraders het toe die gesin in sy kantoor ingenooi en hulle van Jesus vertel. 'n Paar ure later het hy uitgekom en gevra of daar dalk van die personeel is wat asb. gou vir die man, vrou en kinders iewers ander klere kan gaan koop omdat dié gesin nie meer die klere wou dra wat hulle aangehad het nie omdat dit deel was van die geloof waarby hulle tot op daardie dag by betrokke was.

Daardie man en sy gesin kon die Here Jesus aanvaar as verlosser omdat daar mense of arbeiders was wat bereid was om die werk te doen. Die oes is egter steeds baie groot en moet ons nog altyd daagliks vir God in gebed vra om nog meer mense by te voeg om te help met die verkondiging van die Evangelie en om aan te hou om hierdie oes in te bring.

Wil jy nie asb. vandag een van hulle wees nie, een wat 'n besluit maak om nie net te luister na die boodskap van verlossing nie maar om dit te aanvaar en jou eie te maak deur Jesus Christus nou as jou verlosser te bely?

Doen asb. hierdie onderstaande gebed hardop saam en neem die Here Jesus as jou Saligmaker aan. As jy wel kies om dit te doen, kom dan met ons gebed vriende by Tygerberg 104fm in kontak op 0861 104 104 of SMS die woord “OES” na 32716 sodat hulle met jou kan kontak maak.

Kom ons bid. Hemelse Vader, vandag weet ek dat ek, soos alle mense wat gebore word op hierdie aarde, op pad is hel toe. Al lewe ek hoe goed, tensy ek by ’n punt kom waar ek besef dat ek ’n Verlosser nodig het, kan ek nooit uit my eie goeie dade of lewe die Ewigheid in U teenwoordigheid deurbring nie.

Dankie dat U Jesus, vir my sondes gesterf het, begrawe is en op die derde dag weer opgestaan het en opgevaar het na die hemel waar U aan die regterhand van God sit en my Voorspraak is. Ek bely vandag dat U die Seun van God is en dat U my verlossing duur gekoop het.

Dankie Heilige Gees dat U daagliks my metgesel is en dat U my leer en lei in die waarheid. Vandag aanvaar ek Jesus Christus as my Verlosser en Saligmaker en weet ek dat ek in U alles het wat ek nodig het om die Ewige Lewe te kry, volgens Joh17:3

Ek dank U dat ek nou in ’n lewende verhouding met U kan wees en dat ek in U ’n Vriend en daaglikse Trooster en metgesel het. Amen


Friday 26 September 2014

God skrik nie vir die storms in jou lewe nie - deur Anton Brink

Ons is almal baie vinnig om vir die Here vir iets te vra maar dan is ons ook net so vinnig om te twyfel dat Hy dit wat ons vra werklik vir ons sal doen of gee.

Dink ’n bietjie aan hoeveel keer op ’n dag of in ’n week elkeen van ons (partykeer baie angstig) die Here Jesus vra om ons te help maar dan in dieselfde asem nie regtig oortuig is dat wat ons ook al vra so sál gebeur nie, óf ons glo nie werklik dat wat ook al wél gebeur tog die beste vir ons sal wees nie.

Met betrekking tot laasgenoemde, onthou die woord sê vir ons dat (alles) werk ten goede mee vir die wat die Here lief het, daardie “lief het” beteken in die ware sin van die stelling, vir almal wat aan die Here gehoorsaam is.

Jy kan nie met elke uitdaging in die lewe wat jou pad langs kom “in duie stort” en dan met ’n huilerige stem en 'n bewerige lippie vertel hoe "niks ooit vir jou wil uitwerk" nie. Die rede waarom jy voel dat niks ooit vir jou wil uitwerk nie is omdat jy nie kan of wíl verstaan hoe om God te glo en te vertrou nie.

Geloof impliseer die (afwesigheid) van twyfel, nié die gepamperlang daarvan nie...

Die Bybel leer vir ons in Jakobus 1: 5 – 8 die volgende, “Maar ’n mens moet gelowig bid en nie (twyfel) nie, want iemand wat (twyfel), is soos ’n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So ’n mens wat altyd aan die (twyfel) is en onbestendig is in al sy doen en late, moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.”

In die Boodskap vertaling sê dit, “As julle egter in 'n situasie kom waar julle twyfel oor wat die regte ding is om te doen, gaan vra vir God. Hy sal nie snaaks van julle dink of julle verwyt omdat julle onseker is hoe om vir Hom te leef nie. Hy sal julle eerder help met alles wat julle nodig het. Gaan vra, Hy sal gee, maar een ding moet julle dan nie doen nie. Moenie twyfel dat God julle regtig sal help nie. Verwag en weet vir seker dat Hy sal help. Mense wat twyfel of God regtig na hulle sal luister, is soos golwe op die see. Die wind waai daardie golf heen-en-weer-. Die een oomblik sien jy dit en die volgende oomblik is dit weg. Dit is 'n goeie voorbeeld van iets wat g’n koers of sekerheid het nie. Dié voorbeeld pas by iemand wat gedurig twyfel of die Here hom regtig gaan help. Vir so iemand sal die Here nie veel beteken nie, want nes hy gebid het dat die Here hom moet help, swaai hy om en sê dat dit nie kan of sal gebeur nie. En wat help dit?

Sonder geloof is dit (onmoontlik) om God te behaag. Let wel, dit sê onmoontlik, dit sê nie dat dit is ’n bietjie moontlik of dalk miskien moontlik is nie, dit is (onmoontlik) om God sonder geloof te behaag.

Ons lees dit in Hebreërs 6: 11. Ek sê weer, geloof impliseer die (afwesigheid) van enige twyfel en nié die gepamperlang daarvan nie!

Ek dink die probleem ons onvermoë om God te vertrou en te glo dat Hy sal doen wat Hy sê het sy ontstaan by ons sintuie. Ons oë oor wat ons sien en ons ore oor wat ons hoor ens. Omdat hierdie sintuie vir ons meer werklik is, is dit vir ons makliker om hulle eerder te glo as dit wat God sê. Gevolglik, wanneer onseker dinge gebeur raak ons angstig en word ons gevul met vrees oor situasies wat vir ons buite beheer lyk en ons vergeet vinnig dat God beloof het om ons nooit te begeef of te verlaat nie.

God laat Hom nie voorskryf deur die situasies of storms in ons lewens nie en Hy skrik ook nie daarvoor nie, hoekom doen ons dan?

Kies nou om op te hou twyfel. Gaan hoor by die Here wat is Sy wil en plan vir jou in jou unieke situasie, kies dan om Hom en dit wat Hy sê te glo... en basta met die res want met jóú God spring jy oor ’n muur!

Sterkte!

Kom ons bid. Vader ek kies nou om verby my omstandighede te kyk en om tot U eer bo dit uit te styg. Vader ek bely en erken dat ek ’n gewoonte het om eerder te twyfel nog voordat ek selfs probeer het om te glo. Ek bely my selfbejammering voor U en ek wil hê dat U nou my swak hande en lam knieë sal sterk maak om soos ’n Dawid van ouds hierdie Goliat in my lewe tussen die oë te skiet sodat ek met Goddelike oorwinning na die tyd ook oor mý verhaal sal kan getuig. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.



Thursday 25 September 2014

Waarheid sonder liefde is wreed - deur Anton Brink

Jy ken die skrif gedeelte in 1 Korintiërs 13: 2 waar dit sê, “Al het ek die gawe van profesie en ken ek al die geheimenisse en besit ek al die kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks.”
In die Boodskap vertaling sê dit: “Sê nou ek kan uitstekend preek, is hooggeleerd in die dinge van die Here en verstaan dinge van God wat ander mense nie eens weet nie en boonop het ek nog die grootste geloof wat jy jou kan voorstel, maar ek het nie ander mense lief nie, is ek vir die Here 'n nul op 'n kontrak.”

Ek het lank terug ’n sê ding gehoor wat baie mooi by hierdie skrifgedeelte aansluit en dit is, “Waarheid sonder liefde, is wreed.”

As jy mooi daaroor nadink dan is dit presies hoe dit is. As iemand eerlik met jou is maar daardie persoon tree soos 'n bullebak op en hy of sy is glad nie sensitief vir jou gevoelens nie, dan kom dit wat hulle vir jou sê as wreed oor en maak hulle jou met hulle woorde seer.

Ek kan van 'n baie goeie voorbeeld onthou waarby ek persoonlike by betrokke was.

Ek het destyds saam met twee ouers dames by 'n bekende Christelike organisasie gewerk. Kom ons noem hulle sommer Esther en Lettie. Hulle (die twee dames) het presies dieselfde tipe werk daar gedoen. In die uitvoer van ons onderskeie pligte moes ek van tyd tot tyd saam met een of partykeer hulle albei werk.

Ek het baie vinnig agtergekom dat al praat hulle albei oor presies dieselfde onderwerp, is hulle albei van presies dieselfde dinge oortuig, gebruik hulle selfs dieselfde tipe woorde, haal hulle dieselfde skrifgedeeltes aan en voel hulle albei baie sterk oor die onderwerp van sending waarmee hulle gemoeid was, was daar tog 'n reuse-groot verskil tussen hierdie twee vrouens.

Esther aan die een kant was altyd die liefde haarself. Sy was vriendelik, hoflik en aangenaam en dit was lekker om haar te sien, tyd saam met haar te spandeer en om sommer net oor die algemeen in haar geselskap te wees. Sy laat jou altyd voel asof jy die enigste persoon in die vertrek is en jy kan gou agterkom dat sy regtig vir mense omgee.

Wanneer sy gepraat het, kon jy God se liefde in haar woorde hoor en selfs wanneer sy die eerlike waarheid met mense gedeel het, was dit ook altyd met daardie Goddelike liefde wat sy in haar gehad het en het sy selfs in daardie sensitiewe oomblikke mense net nog nader aan haar getrek. Esther het God met haar hart geken.

Lettie aan die ander kant was weer presies die teenoorgestelde. Sy het altyd koud, wreed en liefdeloos voorgekom en 'n mens het behoorlik gevoel asof jy die heeltyd op eiers moet loop wanneer jy rondom haar was. Dit was baie uitputtend om in haar geselskap te wees.

Die twee vrouens was presies dieselfde maar tog heeltemal verskillend van mekaar en dít net omdat die een alles in liefde doen en die ander een nie.

Kom dat ons elkeen van vandag af daarna oplet om nie sonder liefde op te tree en sonder liefde te praat nie sodat ons nie as wreed en ongenaakbaar sal voorkom vir die mense saam met wie ons woon of werk nie.

Kom ons bid. Vader help my om in krag op te tree en met alles in my lewe met persoonlike oortuiging aan te pak maar dit altyd met liefde gepaard sal gaan. Gee asb. Here dat ek nooit mense met 'n liefdelose houding of gedrag van my af sal wegdryf nie maar dat mense eerder nader getrek sal word aan U waarheid omdat U liefde vir hulle deur my vloei. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.



Wednesday 24 September 2014

Die lang maer vrou met die wollerige wit trui - deur Anton Brink

'n Paar jaar gelede het ek 'n ondervinding gehad wat ek sekerlik vir die res van my lewe sal onthou.
Dit was net voor vyf op ‘n koue en nat Vrydagmiddag toe sy (amper versigtig) deur die voordeur van waar Radio Tygerberg se kantore en ateljees was ingestap kom.

Meeste van die personeel was alreeds huis toe, daar was net ‘n paar van ons oor. Naomi Engelbrecht het by die ontvangs toonbank gesit waar sy gou vir oulaas ‘n paar administratiewe takies afgehandel het en gewag het vir haar man (Ashley) om haar te kom haal.

Ek was in die ateljee waar ek die middag “drive” program “Padlangs” van 4 nm tot 6 nm aan gebied het en aan die oorkant van waar ons (ek en Naomi) gesit het was ons berading en bedienings afdeling se kantore. Pieter Coetzee was daar, ook nog laat besig om sy werk van die dag af te handel voordat hy ook vir die naweek kon huis toe gaan.

Toe ek opkyk en die lang skraal vrou in ons ontvangs area sien staan, het sy my aandag dadelik getrek. Ek het ‘n vreemde dringendheid in my hart vir haar ervaar en boonop het ek haar nie eens geken nie.

Haar wollerige wit trui en wit langbroek het soos ‘n sak aan haar gehang en ek kon sien dat sy baie siek was. Ek onthou hoe ek gewonder het of sy nie verskriklik koud moes gekry het op hierdie donker grys winter agtermiddag nie omdat sy boonop net ‘n paar plakkies aan haar voete gehad het.

Ek het uit die ateljee gestap na waar sy besig was om met Naomi te praat. Die stank het my vir ‘n oomblik in my spore laat vassteek. “Ek weet ek sal binne die volgende paar dae doodgaan. Ek is hier want ek wil seker maak dat my saak met die Here reg is. Ek het baie dinge verkeerd gedoen, ek is siek, ek het VIGS.”

Die reuk aan haar lyf was soos iets wat ek nog nooit in my lewe geruik het nie. Ek sou dit jare later weer ruik net voordat iemand wat gereeld by my kom aanklop het vir hulp ook aan dié virus dood is. Dit gebeur wanneer ‘n geïnfekteerde persoon in ‘n baie gevorderde stadium van die siekte is en daardie persoon nie behoorlike behandeling daarvoor kry nie. Dis was verskriklik erg.

Haar lang maer en uitgeteerde lyf het onophoudelik geruk soos sy gebewe het. Ek het haar innig jammer gekry en het (net soos sy) geweet dat sy waarskynlik net ‘n paar dae oor het voor sy sou sterf.

Ons het haar dadelik na Pieter toe geneem.

Ek is toe terug ateljee toe om die middag program verder aan te bied maar het kort kort stip na die berading afdeling se kantoor deur gestaar om te sien wanneer sy sou uitkom. Daar het ongeveer ‘n uur verby gegaan voordat sy weer te voorskyn sou kom.

Ek kon sién dat iets fantasties het in daardie uur met haar gebeur. Sy het glad nie meer gebewe nie en ek kon ‘n vrede, ‘n wete by haar raaksien wat ek nie vir jou in woorde kan beskryf of sal kan verduidelik nie.

Sy het die Here Jesus daardie dag binne-in daardie kantoor ontmoet en Hy het haar vrygemaak, haar verlos en haar gered. Dit was kosbaar om te sien en ‘n voorreg om deel van daardie vrou se redding en haar laaste paar dae op hierdie aarde te kon wees.

Ons het haar nooit weer gesien nie, ek glo sy is kort daarna dood, maar eintlik het sy op daardie dag in Pieter se kantoor alreeds gesterf want dit was ‘n nuwe mens wat daar uitgestap gekom het.

Ek en sy sal nog eendag weer lekker oor daardie dag gesels.

In 1 Johannes 3: 18 staan daar geskryf, “Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid.”

Ons wie die Here ken en dien kan nie net praat oor God se liefde en genade maar dit dan nie prakties aan mekaar en andere bewys en uitleef nie. As ek, Naomi en Pieter ons nie daardie dag in Goddelike liefde oor daardie vrou ontferm het nie en ons het dalk meer belang gestel daarin om huis toe te gaan en te gaan naweek hou, kan jy dink wat sou gebeur het? Daardie vrou sou gesterf het sonder dat sy dalk ooit die geleentheid kon hê om by die Here om vergifnis te pleit vir haar sondes en Jesus as verlosser te aanvaar nie.

Kom ons bid. Vader daar is baie behoeftige mense, ek is een van hulle. Here ek weet dat dit nie vir my moontlik is om almal te help nie maar ek wil hê dat U my sal wys waar ek wél 'n verskil kán maak in iemand se lewe al lyk dit ook hoe klein. Heilige Gees maak my asb. sensitief en help my onderskei ten bate van die ware en opregte behoeftes van mense vir wie ek moontlik 'n antwoord op gebed kan wees en dat hulle dan die moeite sal doen om hulle te help. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.



Tuesday 23 September 2014

Daai aanhoudende skuldgevoelens - deur Anton Brink

Voel jy gereeld asof jy nie goed genoeg is om God se genade en liefde te ontvang nie, voel jy asof jy nie waardig is om Sy kind genoem te word nie en voel jy soms selfs te skaam om te bid omdat jy dink jy net té veel sonde het?
Jy is nie alleen nie, daar is baie ander mense wat met presies dieselfde probleem sukkel. Ons voel ons is nie goed genoeg nie en daarom skram ons weg van die Here af en wil ons ook nie tyd met Hom spandeer nie omdat daardie skuldgevoel ons oorweldig en ons dink soms selfs dat God is nie tevrede met ons nie.

Die waarheid is dat die Here is lief vir jou nes jy is máár Hy is (gelukkig) té lief vir jou om vir jou te los soos wat jy is.

Jy moet onderskei tussen aanhoudende skuldgevoel aan die eenkant en aan die ander kant om van jou sonde oortuig te wees. Ek glo persoonlik nie dat aanhoudende en talmende skuldgevoelens van God af kom nie maar dat dit is of van die duiwel óf uit ons self.

Ons moet 'n sonde oortuiging hê eerder as langdurige skuldgevoelens.

God het nie nodig om op jou gevoel te speel nie. 'n Aanhoudende en talmende skuldgevoel het die potensiaal om jou geestelik en emosioneel te verlam en kan jou selfs sodanig kniehalter dat jy op die ou einde nie kan aanbeweeg en groei in jou verhouding met die Here nie. Om 'n oortuiging oor iets (sonde) te hê gaan aan die ander kant gewoonlik gepaard met 'n daadwerklike aksie wat met daardie oortuiging strook.

Aanhoudende skuldgevoelens gaan dikwels gepaard met 'n mens se onvermoë om ons self te vergewe. Jy het dalk lankal jou fout of oortreding voor die Here en die ander persoon erken én die Here asook die persoon het jou ook al lankal vergewe maar jy haak nog altyd vas by die feit dat jy nie kan glo dat jy so 'n fout in die eerste plek kon maak nie.

Onthou dat jy is nie perfek nie en jy gaan ook nooit ooit perfek wees terwyl jy op hierdie aarde is nie. Kies dus net om te glo en te aanvaar dat jy vrygespreek is ongeag wat jou oortreding was en beweeg aan.

Moenie die Here probeer vermy omdat jy sleg, skuldig of skaam voel nie. Daar is niks wat jy vir hom kan wegsteek nie. Dit help in elk geval nie jy probeer die Here vermy nie, jy kan nie omdat Hy is oral en Hy weet van absoluut alles so jy vlug dus verniet.

In 1 Johannes 1: 6 – 9 staan daar geskrywe: “Hou dit nou in gedagte vir die volgende vraag. As ons rondvertel dat ons deel van God se intieme familie is, maar ons dade verklap die teenoorgestelde, wat maak dit van ons? Dit maak van ons skaamtelose leuenaars! Dit is soos mense wat sê hulle hou net van die lig, maar as jy hulle soek, sit hulle in die donker. So weerspieël ons mos nie die waarheid en egtheid wat eie aan 'n kind van God die Almagtige is nie. Ons is alleen deel van hierdie hegte familie van God as ons optrede presies is soos God dit van ons verwag, maar wat nou daarvan as ons iets doen waarvan God nie hou nie mag jy vra? Wel, dit is juis God se Seun Jesus se offerbloed wat ons geestelik silwerskoon was, daar bly nie een sonde oor nie! Dit beteken dat ons rein voor God kan staan. Ja – nee, moet my nie verkeerd verstaan nie: as ons wil voorgee dat ons nooit sonde doen nie, slaan ons die bal heeltemal mis. Wie dit sê, praat nie die waarheid nie. As ons egter voor God erken dat ons foute gemaak het en nooit weer dieselfde foute wil maak nie, sal God van sy kant af heeltemal van ons sondes vergeet. Hy sal ons ook geestelik skoon was van alles waarvan Hy nie hou nie. Glo dit maar, want God bly getrou aan sy beloftes en doen wat reg is."

Ons wat die Here se kinders is moet vrymoedigheid by God hê.

Vrymoedigheid beteken die volgende. Om 'n “ervaring of 'n oortuiging van geloof in iets of iemand te hê en dat jy daardie iets of iemand volkome kan vertrou. Om private sake (geheime) met mekaar te deel terwyl daar volkome (wedersydse) vertroue tussen die betrokke partye heers.”

Vertrou die Here dus wanneer Hy vir jou sê dat Sy genade is vir jou genoeg en aanvaar Sy uitnodiging wanneer Hy sê dat ek en jy kan met vrymoedigheid na Sy genadetroon toe hardloop.

Kom ons bid. Vader help my asb. om nou op hierdie oomblik van my valse en aanhoudende skuldgevoelens ontslae te raak en dit eens en vir altyd van my af te skud. Maak my vry Here van dinge wat my vashou en bind en wat my keer om met daardie vrymoedigheid na U genade troon toe te hardloop. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


Monday 22 September 2014

By jou Kruispad - deur Anton Brink

Elkeen van ons kry die geleentheid om op een of ander stadium 'n besluit te maak vir of teen God.


Die Here dring Hom aan geen mens op nie en Hy sal ook niemand forseer om Hom as Verlosser en Saligmaker te aanvaar nie. Hy wil hê dat ons Hom uit eie vrye wil moet kies. As Hy ons sou forseer sal ons tog eintlik op die ou einde niks meer as net pionne wees nie en dít is nie wat die Here wil hê nie, Hy soek nie pionne nie, Hy soek kinders.

Ek weet dit klink dalk kras as ek dit so stel maar onthou God het ons nie nodig nie. Hy is in Hom self absoluut alles wat Hy wil wees en Hy is reeds 100 % volmaak, tog het hy besluit om die mens te maak en dan wonder 'n mens soms hoekom het Hy dit gedoen.

Ek gebruik graag die voorbeeld van my en my vrou en die twee woelwaters in ons huis. Ek en my vrou het toe ons getrou het ook nie ons kinders nodig gehad nie maar tog wou ons baie graag 'n gesin wees. Ons wou kinders hê sodat ons vrylik en onvoorwaardelik ons liefde met hulle kon deel en oor hulle uitstort, ons wou hulle sien grootword en 'n lewe, verhouding en kosbare oomblikke met hulle deel.

Ek dink op 'n manier is dit presies hoe die Here oor ons voel. God het ons nie nodig nie, máár ek dink Hy wou ook graag Sy oneindige liefde met iemand deel en daarom het Hy vir my en jou gemaak.

Ons moet dit regtig mooi verstaan. God wil Sy liefde met ons deel, nie Sy oordeel nie. Tog het 'n groot klomp gelowiges daardie aanhoudende vrees dat God 'n “fire and brimstone” houding teenoor ons het en dit is hoegenaamd nie die geval nie. Hy het 'n liefdevolle, aanvaardende en vergewensgesinde houding teenoor ons elkeen, nie een van wreedheid nie.

As jy nog nie 'n besluit geneem het om God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees as verlosser en Saligmaker te aanvaar nie wil ek jou nou die geleentheid gee om dit te doen.

In Efesiërs 2: 8 – 9 staan daar geskryf, “Vra julle waarom julle nou juis gered is? Wel, dit is omdat God so goed is en julle Jesus so vertrou. Dit is nie iets wat ons self reggekry het of kon doen nie: God het dit vir ons verniet gegee. Dit is nie iets waaroor enigeen van julle kan loop en spog nie, want dit is nie asof julle self daarvoor gewerk of dit verdien het nie.”

Lees asb. die onderstaande gebed hardop saam en kies vandag om die Here Jesus Christus as verlosser te aanvaar sodat jy ook gered en verlos kan word en die ewige lewe saam met God in die hemel kan hê.

As jy kies om dit te doen kom dan asb. met ons gebed vriende en beraders by Tygerberg 104 fm in kontak sodat hulle jou kan help en leiding gee oor wat jou nou te doen staan.

Sterkte!

Kom ons bid. Hemelse Vader, vandag weet ek dat ek, soos alle mense wat gebore word op hierdie aarde, oppad is hel toe. Al lewe ek hoe goed, tensy ek by ’n punt kom waar ek besef dat ek ’n Verlosser nodig het, kan ek nooit uit my eie goeie dade of lewe die Ewigheid in U teenwoordigheid deurbring nie.

Dankie dat U Jesus, vir my sondes gesterf het, begrawe is en op die derde dag weer opgestaan het en opgevaar het na die hemel waar U aan die regterhand van God sit en my Voorspraak is. Ek bely vandag dat U die Seun van God is en dat U my verlossing duur gekoop het.

Dankie Heilige Gees dat U daagliks my metgesel is en dat U my leer en lei in die waarheid. Vandag aanvaar ek Jesus Christus as my Verlosser en Saligmaker en weet ek dat ek in U alles het wat ek nodig het om die Ewige Lewe te kry, volgens Joh17:3

Ek dank U dat ek nou in ’n lewende verhouding met U kan wees en dat ek in U ’n Vriend en daaglikse Trooster en metgesel het. Amen


Friday 19 September 2014

Die tannie wat 'n kar wou koop - deur Anton Brink

Om in geloof te leef vra baie keer dat ons dinge doen en goed aanpak wat nie altyd vir “die wêreld” sal sin maak nie.

Ons weet wat sê die skrif oor geloof in Hebreërs 11: 1 en ook vers 6 “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” Dan vers 6 “As 'n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.”

My broer was jare gelede 'n motor verkoopsman. Hy ken die Here en hy het 'n persoonlike verhouding met Hom.

Die eienaar van dié motorhawe was nie gered nie en hy wou ook nooit van God weet nie. Ek onthou, iemand het eendag vir hom gevra of hy aan God glo, sy geïrriteerde antwoord was 'n baie kortaf “Man, ek glo net aan die karre wat ek verkoop”.

Moenie die verkeerde indruk kry nie, hy was eintlik oor die algemeen 'n baie aangename mens, hy het 'n goeie sin vir humor gehad en het graag met enigiemand gesels wat sy padlangs gekom het.

Hy het net glad nie van die kerk of die Here gehou nie en het ook nie daarvan gehou as mense met hom daaroor praat nie. Die hartseer is dat hierdie man nou al dood is. Hy was omtrent 36 jaar oud. Hy het verkluim en tot sy dood toe het hy God verwerp, dis baie tragies.

Nietemin, terug na die storie. Eendag stap daar by die motorhawe 'n gawe middeljarige vrou by my broer se kantoor in en sê vir hom dat sy wil graag 'n motor koop.

My broer wou vir haar die verskillende modelle wys wat beskikbaar is maar sy wou niks weet nie. Sy het reeds voor die tyd haar keuse gedoen oor watter voertuig sy wou hê. Hulle begin toe praat oor hoe sy die motor gaan betaal en sy vra dat my broer vir haar finansiering moet reël.

Toe hy vir haar help om die aansoekvorms in te vul stap dié einste eienaar by die kantoor in en groet die dame vriendelik. Hy begin toe ook gesels oor die voertuig wat sy wil koop en bevestig toe dat hulle haar finansiering vir haar sal reël. Hy let toe op wat sy ingevul het op die finansiering aansoekvorm en wat haar maandelikse inkomste is wat sy daarop aangedui het.

Die eienaar kyk toe met empatie na haar en sê dat hy is jammer maar hy wéét hoe die banke werk en wat hulle vereistes is en dat hy op grond daarvan vir haar nóú al reeds kan sê dat hulle haar waarskynlik nie sal goedkeur vir 'n lening om die motor te koop nie.

Haar antwoord het my broer (wat die Here ken) 'n lekker laggie van plesier gegee (omdat hy weet hoe God werk) en die eienaar (aan die ander kant) se wind heeltemal uit sy seile geneem.

Haar woorde was die volgende. Sy het haar hand opgelig en ferm vir die eienaar beduie om stil te bly en gesê, “God het vir my gesê om te gaan eksamen skryf om my rybewys te kry. Ek was gehoorsaam en ek het my leerlinglisensie gekry en toe uiteindelik my bestuurstoets geslaag. Die Here sou nie vir my gesê om dit te doen as Hy nie ook van plan was om vir my 'n kar te gee nie. Ek sál daardie finansiering kry want God sal dit vir my gee.”

Soos ek sê, my broer het met lekkerkry geglimlag terwyl die eienaar letterlik nie geweet het wat om op daardie stelling te antwoord nie. Ek dink dit moes eintlik nogal 'n baie snaakse oomblik gewees het as 'n mens dit soos 'n “vlieg teen die muur” kon beleef het. Die eienaar het omgedraai en met die woorde “Ons kyk maar wat sê die bank” weggestap.

Dit was toe inderdaad op die ou einde nie die bank nie, maar God wat die laaste sê in dié saak het. Sy het haar finansiering gekry dat selfs my gelowige broer gesê het dit kan net 'n wonderwerk gewees het. Die eienaar het net gesug en sy kop geskud vir hierdie “mal” mense.

Wanneer God met ons praat en vir ons vra om iets te doen al maak dit nie vir ons logies sin nie, is dit verskriklik belangrik dat ons in gehoorsaamheid daaraan gehoor sal gee en dit dan doen, anders mis ons dalk uit op die “blessings” wat hy vir ons in stoor het.

God se volgorde is nie altyd ons volgorde nie. Hy verwag menigte male van ons om eers daardie eerste tree in geloof te gee voor Hy die res vir ons kom doen.

Kan jy dink as hierdie vrou nie geluister het na God se opdrag om vir haar lisensie te gaan nie. Wat sou gebeur het as sy dalk iets gesê het soos, “Nee, dit kan nie van die Here af wees nie. Ek het dan nie eens geld om 'n motor te koop nie?” As sy dit sou gedoen het, sou sy en my broer nooit hierdie wonderwerk sien gebeur het nie en sou jy nooit daarvan hier gelees het nie.

Ek hoop jou geloof is versterk, myne was beslis! Gaan luister jy ook vandag aandagtig na wat God wil hê jy moet doen en dóén dit dan al lyk dit vir jou onmoontlik.

Sterkte!

Kom ons bid. Vader ek is bang om die eerste tree te gee. Sal U my asb. help? Hou my hande vas sodat ek kan leer om in geloof te begin stap sodat ek dit uiteindelik met ook met oorgawe kan doen. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


Thursday 18 September 2014

Bewerk jou grond - deur Anton Brink

As daar nou één ding in hierdie ou lewe is wat my bitter baie omkrap, dan is dit wanneer 'n persoon of persone op iemand anders se rug ry!


Moet my nie verkeerd verstaan nie, baie van ons het al op een of ander stadium in ons lewe 'n “hupstoot” van ons ouers, familie of vriende af nodig gehad en daarmee het geen ordentlike en goeie mens 'n probleem nie.

Maar, wanneer mense egter jaarin en jaaruit met 'n “af vlerk” houding rondloop en (verwag) dat jy hulle alewig móét help met geld, kos en om hulle rekeninge vír hulle te betaal, raak dit 'n bietjie erg en is dit dan eintlik al lankal nie meer 'n “hupstoot” gee nie maar word dit maar eintlik net 'n blatante rug ryery.

Boonop het hierdie “af vlerk” gevalle (tot groot frustrasie van andere) gewoonlik ook geen hoop in sig dat hulle op een of ander stadium darem (ten minste) gaan probeer om iets aan hulle self of hulle situasie te doen nie en hoekom moet hulle in elk geval, hulle word dan net die hele tyd ingeprop so hulle het nie nodig om iets aan hulle self te probeer doen nie.

In Spreuke 12: 11 staan daar geskryf, “Wie sy grond bewerk, het volop om te eet, wie hom besig hou met nuttelose dinge, het nie verstand nie.”

In die Boodskap vertaling staan dit so geskryf, "Hy wat hard werk, sal genoeg kos hê om te eet. Hy wat rondstaan en gesels of met ander dinge besig is, is dom. Hy sal finansieel sukkel.”

Is jy iemand wat alewig in ander mense se oë kyk en bakhand staan, of is jý dalk daardie persoon in wie se oë daar gekyk word om net aanmekaar te moet uit deel? Moenie dat valse verantwoordelikheidsin jou laat skuldig voel om mense die hele tyd net in te prop nie.

Sit jou voet 'n slag neer en sê nee.

Ek weet van iemand met wie dit al jare lank gebeur. Kort-kort word daar aan haar deur geklop deur 'n lid van haar familie en verwag dié familielid dan elke keer dat daar móét skynbaar net die hele tyd uitgedeel word, so amper asof hy die reg het om by haar daarop aan te dring.

Dit los 'n wrang smaak in 'n mens se mond en 'n mens begin later so 'n (lastige) persoon verag.

Ek sê weer. Om te help en 'n hupstoot te gee is nie die probleem nie. Dit is wanneer die ontvanger van die hulp en die hup stote 'n lewenswyse daarvan begin maak en dit as vanselfsprekend begin verwag.

Jy moet wéét wanneer om te help en wanneer om nee te sê. Jy kan iemand dalk van die walle af in die sloot ook help as jy nie goeie onderskeiding toepas nie.

Ek onthou nog hoe kosbaar dit vir my en my vrou was om net nadat ons getrou het sulke onvoorwaardelike en onselfsugtige hulp, hup stote en ondersteuning van ons vriende en (veral) familie gekry het.

Nou nog as ons terugdink kan ons met groot nederigheid en opregte dank getuig van alles wat veral my skoonma al vir ons gedoen en beteken het en net watter groot klippe sy al vir ons uit die pad (help) rol het. Mag die Here vir haar 'n magtige oes inbring en ek bid dat sy die vrug daarop nog tot in haar nageslagte sal sien.

Let wel, sy het ons (gehelp), sy het dit nie namens ons gedoen en met die spreekwoordelike lepel gevoer nie. Dit is baie belangrik vir (veral) 'n jong getroude paartjie om sélf hulle pad deur die lewe te vind, maar hulle kan beslis doen met die nodige leiding van dié mense wat vir hulle omgee.

Uiteindelik kon ons op ons eie twee voete staan en is ons opreg en baie dankbaar vir alles wat vir ons gedoen is.

Miskien is jy iemand wat 'n gewoonte daarvan gemaak het om op ander mense se rug te ry, of miskien is jy iemand op wie se rug daar gery word.

As jý die eersgenoemde is, besluit dan vandag om uit daardie nessie te spring, jou vlerke te sprei en self te begin vlieg. Vra die Here om jou te help om daardie eerste onseker stap van geloof te neem en vra Hom om jou eerste en enigste voorsiener te wees.

As jy egter die laasgenoemde is, besluit dan om jou rug ryer met krag en oortuiging te konfronteer daaroor en 'n einde daaraan te maak. Hier ook moet jy die Here vra vir daardie krag, geleentheid en wysheid om dit te doen.

Onthou dat wanneer jy heeltyd iemand help en inprop, al is dit ook jou eie kind, doen jy dalk meer kwaad as goed. Mense móét leer om op hulle eie twee voete te staan.

Kom ons bid. Vader ek wil op my eie voete staan. Ek wil my Godgegewe doel in hierdie lewe bereik en ek wil nét in U oë kyk om alles vir my te voorsien wat ek nodig het. Ek weet U gebruik mense en werk deur hulle. Stuur die regte mense op my pad om my daardie Goddelike hup stote te gee wat ek nodig het sodat ek ook uiteindelik soos 'n waardige mens op my eie twee bene kan staan. Ek wil nie 'n rugryer wees nie. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.

Wednesday 17 September 2014

Anderkant die klankgrens - deur Anton Brink

Ek weet nie of jy al ooit die voorreg gehad het om 'n “sonic boom” te beleef nie maar dit is nogal iets opwindend om te sien en te hoor, veral vir die van ons wat so bietjie van 'n vegvliegtuig entoesias is, naamlik ek... : )



As jy nie weet wat 'n “sonic boom” is nie, dit is wat dit genoem word wanneer 'n vliegtuig teen baie hoë spoed deur die klankgrens breek. Om dit te kan regkry, moet die vlieënier vinniger as 1 238 km/h vlieg omdat dít die spoed is waarteen klank beweeg.

Wanneer die vliegtuig daardie klankgrens suksesvol oorskry hoor mense op die grond dan die baie duidelike geluid van iets wat klink soos 'n donderslag. Hierdie donderslag geluid of klank word dan oor die algemeen 'n “sonic boom” genoem.

Op 14 Oktober 1947 is hierdie “sonic boom” die eerste keer in Florida, Amerika gehoor toe Kaptein Charles “Chuck” Yeager die eerste mens ooit geword het wat vinniger as die spoed van klank gevlieg het. Hy het die vliegtuig waarin hy dit gedoen het “Glamorous Glennis” gedoop.

Die oorskryding van die klankgrens was glad nie 'n maklike ding om te doen nie en dit het selfs die dood van een van die vorige toets vlieëniers veroorsaak wat dit probeer bereik het.

Dié eksperimentele vliegtuig waarin hy dit probeer regkry het, het in stukke opgebreek kort voor hy vinniger as die spoed van klank kon vlieg a.g.v. al die stres op die struktuur daarvan.

Wetenskaplikes en ingenieurs het baie vinnig ná hierdie tragedie besef dat 'n vliegtuig word geweldig onstabiel teen daardie hoë spoed en omdat die struktuur daarvan aan geweldige vibrasie en ander vreemde dinamika onderwerp word hoe nader dit aan die spoed van klank kom, moet hulle dringende en drastiese aanpassings maak.

Die uitdagings was groot máár die beloning was nog soveel groter en vandag, 67 jaar later pluk ons steeds die vrugte van die toewyding en opofferings wat voor en op 14 Oktober 1947 gemaak is.

Soms moet ons ook ander mense raadpleeg om aanpassings in ons lewens te maak net soos daardie mense met Chuck Yeager se vliegtuig moes doen sodat ons ook suksesvol kan wees.

In daardie oomblikke nét voordat jy die grootste deurbrake in jou lewe beleef ervaar 'n mens ook baie keer van die mees onstabiele en uitdagende tye van jou lewe. Dit is in hierdie tye dat dit meer belangrik as ooit is dat jy die regte besluite moet maak en goeie keuses moet uitoefen om seker te maak dat jy nie misluk nie.

Hoe doen jy dit?

Onthou Chuck Yeager het nie die klankgrens alleen en op sy eie krag en insig oorgesteek nie. Hy sou dit in alle ewigheid nooit reggekry het sonder die hulp van daardie bekwame ingenieurs en wetenskaplikes, wat (tussen hulle) jare se ondervinding gehad het nie.

Vra mense wat weet waarvan hulle praat.

Wie is die wetenskaplikes en ingenieurs in jóú lewe, wie is dit wat jy toelaat om vir jou inspraak te gee en wat jy toelaat om te help bou aan jóú lewe. Onthou dat dit nie veronderstel is om sommer net enige iemand te wees nie. Maak seker dat die mense wat jou help met besluite in jou lewe mense is met insig.

Volg die raad van goeie en Goddelike raadgewers.

Uit die Boodskap Bybel lees ons in Spreuke 24 vanaf vers 5 tot 7 die volgende, “Wysheid is bo 'n dom mens se vuurmaakplek. Jy tref 'n domme ook nie aan tussen mense wat die lewe ken nie. Natuurlik omdat hy bang is hulle hoor sy domheid.”

Ons lees ook uit die Boodskap vertaling vanaf hoofstuk 15 vers 22: “Sonder goeie beplanning loop alle planne skeef. Goeie raad verseker sukses.”

Kry vir jou goeie raadgewers, mense wat jy vertrou en wat jy voor jou siel weet het jou beste belange op die hart. Wanneer jy weet dat jy weet dat jy so 'n persoon of persone in jou lewe het en dat jy hulle met jou lewe kán vertrou, vertrou dan ook hulle raad, insig en leiding.

Onthou God gebruik mense so daar is niks fout daarmee om ander gelowiges se raad te vra nie maar die eerste en beste raadgewer van almal is natuurlik God self wat deur die Heilige Gees en die verlossings krag van Jesus Christus vir ons daagliks daardie insig en raad vrylik gee wat ons nodig het, so begin asb. daar.

Kom ons bid. Here God ek wil so vreeslik graag 'n sukses van my lewe maak maar ek wil dit nie sonder U doen nie. Ek het U raad en leiding nodig Here. Stuur asb. vir my ook Goddelike raadgewers om my by te staan wanneer ek besluite moet maak. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


Tuesday 16 September 2014

Bitter Barend - deur Anton Brink

Vir jou eie beswil moet jy seker maak dat onvergewensgesindheid nooit in jou hart posvat nie. As jy dit gaan toelaat om te gebeur loop jy die baie werklike risiko om mettertyd in 'n haatdraende en bitter wreedaard te ontaard en dit sal nie net vir jou nie maar ook jou verhoudings met die mense naaste aan jou vernietig.


 
Ek het 'n paar jaar gelede van so man te hore gekom.

Net so om die draai van waar my ouers woon het ek eendag opgelet dat daar 'n nuwe huis gebou word. Die huis was nie baie groot nie en ek het gedink dat dit dalk 'n pasgetroude paartjie was wat gelukkig genoeg was en kon bekostig om daar huis te kon opsit.

Dit was nie lank nie toe is die huis klaar en ek hoor toe by my ouers dat dit 'n man met die naam Barend was wat daar ingetrek het. Hy was al so in sy vyftigs. Toe ek uitvra na of hy 'n vrou en kinders het, het my ouers my meegedeel dat hulle (soos dit 'n klein dorpie betaam) gehoor het dat hy van sy vrou geskei is en dat dié en die kinders wat hulle saam gehad het niks met hom te doen wou hê nie omdat hy blykbaar maar 'n baie moeilike mens was om mee oor die weg te kom.

Sy vrou kon dit glo net nie meer met hom uithou nie en het hom toe na baie jare van probeer uiteindelik gedagvaar vir 'n egskeiding waarna hy toe dié huis laat bou het en alleen daar ingetrek het.

A.g.v. van sy bitter en haardraende persoonlikheid was Barend nou nie juis iemand wat baie sosiaal was nie en was sy bure ook nie eens aldag bewus van sy doen en late nie.

So het 'n paar jaar verbygegaan maar op 'n dag kom Barend se buurman van oorkant die straat toe tóg eendag agter dat alles nie pluis is by Barend se huis nie en dat sy (Barend) se kapok hoendertjies wat hy altyd buite in sy erf laat rondloop het, is toe al vir dae lank sonder kos en water.

Toe die buurman uiteindelik aan Barend se voordeur gaan klop kry hy toe ook geen antwoord nie en het hy onraad vermoed en het die polisie daarvan in kennis gestel.

Om 'n lang storie kort te maak, Barend was toe alreeds agt dae dood. Hulle het hom in sy bed in die hoofslaapkamer gekry. Hy was heeltemal alleen en vir meer as 'n week het niemand eens geweet dat hy gesterf het nie.

Barend was die slagoffer van haat en bitterheid (wat hy self toegelaat het) en ek dink dit het hom op die ou einde veel meer gekos as wat hy ooit gedink het dit sou. Sy eie kinders wou niks eens met hom te doen hê nie en hy het ook nooit eens sy klein kinders leer ken nie.

In Efesiërs 4: 31 in die boodskap vertaling staan daar geskryf, “Moenie toelaat dat julle bitter word nie. Beteuel jou humeur en as jy dalk jou humeur verloor, moet jy nie kwaad bly nie. Moenie mekaar vloek of lelike dinge vir mekaar sê nie. Moet ook nie iets doen wat vir 'n ander een sleg is nie. Behandel mekaar mooi en goed. Laat dit vir ander lekker wees om by julle te wees. Sien mekaar se foute oor net soos God julle foute oorgesien het omdat julle Jesus s’n is.”

In die 1983 vertaling sê dit, “Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie. Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.”

Moenie 'n “Bitter Barend” wees nie, al kry jy niks anders in hierdie lewe reg behalwe om vry te wees van bitterheid en haat nie dan het jy regtig al baie vermag. Dit is nie die moeite en die pyn werd om dag en nag te loop en dink aan hoe mense jou seergemaak of te nagekom het nie, want op die ou einde is dit nét jy en nét jy alleen wat die prys daarvoor gaan betaal.

Vir jou eie beswil, nie vir die mense wat jou seergemaak het sin nie maar vir jóú eie beswil móét jy mense hulle foute oorsien en hulle vergewe voordat jy die wêreld vir jou en vir dié rondom jou ondraaglik begin maak.

Sterkte!

Kom ons bid. Vader dit is vir my baie moeilik om mense te vergewe en ek sien moeilik mense se foute oor. Ek weet dat ek self ook skuldig is aan baie dinge maar steeds sukkel ek daarmee om mense te vergewe wat teen my oortree het of my op een of ander manier seergemaak het. Ek wil regtig nie so wees nie Vader. Ek wil nie 'n “Bitter Barend” wees nie Here en ek wil hê dat U my daar van moet red. Help my om 'n beter mens te wees wat vinnig en opreg vergewe. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.



Monday 15 September 2014

Al was jy ook die enigste een - deur Anton Brink

Elke liewe mens, elkeen van ons is vir God baie spesiaal en Hy het elke liewe een van ons ook hartstogtelik lief en jy moet besluit om nooit maar nooit aan hierdie waarheid te twyfel nie!



Al was jý ook die enigste mens op hierdie aarde, dan sou Hy steeds nét vir jou aan die Kruis gesterf het. Is dit nie 'n wonderlike gedagte nie, God het jou só lief dat Hy bereid sou wees om nét vir jou aan die Kruis te hang as dit moes?

Sekerlik ken ons almal die Bybel goed genoeg om te weet wat staan in Johannes 3: 16 – 18 geskryf?

Dit sê in die Boodskap vertaling, “God het bewys hoe lief Hy die wêreld het. Hy het Sy unieke Seun na die wêreld toe gestuur sodat elkeen wat in hierdie Seun glo, nie verlore sal gaan nie, maar vir altyd saam met God kan leef. God het nie die Seun na hierdie wêreld toe gestuur om net vir almal te kom sê hoe sleg hulle is nie. Nee, Hy het Hom gestuur sodat mense wat sleg was weer by God kon uitkom. Dit is soos 'n hofsaak. Elkeen wat dus in geloof vir Hom “ja” sê, is deur God vrygespreek. Aan die ander kant weerklink die oordeel woorde nou reeds oor dié wat die Seun nie gelowig aanvaar nie: “Julle is skuldig, want julle draai julle rug vir die unieke Seun van God!”

Wil jy nie ook vandag vrygespreek word nie?

Al wat jy hoef te doen, is om die Here Jesus Christus as jou persoonlike verlosser en Saligmaker te aanvaar en om Hom met jou mond as sodanig te bely. God belowe dan dat wanneer jy besluit om dit te doen was Hy jou sondes weg.

In Jesaja 1: 18 in die Boodskap vertaling staan daar geskryf, “Kom ons handel dié saak nou af, sê die Here. Dit maak nie saak hoe diep die vlekke van julle sonde is nie, Ek kan dit skoonmaak. Al was julle bloedrooi gevlek van die sonde, kan Ek dit wegwas en julle so wit laat word soos sneeu wat nou net geval het. Selfs al is die vlekke van julle sonde purperrooi, sal Ek julle skoonmaak sodat julle so wit soos splinternuwe wol sal lyk.”

Kom nou, sal jy asb. die onderstaande gebed hardop lees en saam bid. Neem vandag die Here Jesus Christus aan as jou persoonlike Saligmaker aan en word soos baie ander mense in die wêreld ook vrygespreek van jou sondes.

Kom ons bid. Hemelse Vader, vandag weet ek dat ek, soos alle mense wat gebore word op hierdie aarde, oppad is hel toe. Al lewe ek hoe goed, tensy ek by ’n punt kom waar ek besef dat ek ’n Verlosser nodig het, kan ek nooit uit my eie goeie dade of lewe die Ewigheid in U teenwoordigheid deurbring nie.

Dankie dat U Jesus, vir my sondes gesterf het, begrawe is en op die derde dag weer opgestaan het en opgevaar het na die hemel waar U aan die regterhand van God sit en my Voorspraak is. Ek bely vandag dat U die Seun van God is en dat U my verlossing duur gekoop het.

Dankie Heilige Gees dat U daagliks my metgesel is en dat U my leer en lei in die waarheid. Vandag aanvaar ek Jesus Christus as my Verlosser en Saligmaker en weet ek dat ek in U alles het wat ek nodig het om die Ewige Lewe te kry, volgens Joh17:3

Ek dank U dat ek nou in ’n lewende verhouding met U kan wees en dat ek in U ’n Vriend en daaglikse Trooster en metgesel het. Amen


Friday 12 September 2014

Oscar Pistorius - deur Anton Brink

Soos baie ander Suid-Afrikaners het ek ook die Oscar Pistorius moord verhoor gevolg omdat ek ook graag op hoogte wil bly van wat gebeur met die saak, die uitspraak ens.




Oor die afgelope ses maande kon ons almal daagliks op televisie na die hofverrigtinge kyk en ek dink daar is heelwat mense wie se lewens omtrent tot stilstand gekom het soos hulle daagliks voor die kassie vasgenael gesit en kyk het na wat alles gebeur.

So het ek ook 'n paar maande eendag na die hofverrigtinge gesit en kyk en ek kon nie help om op te let hoe Oscar se Advokaat (Barry Roux) sy kliënt (Oscar) altyd so vurig en met passie verdedig nie. Om elke hoek en draai en en met alles wat teen Oscar gesê word, het Barry 'n paar goed geplaasde opmerkings van sy eie om Oscar se onskuld te probeer bewys.

Of jý dink Oscar is skuldig of nie is nie nou hier ter sprake nie. Wat ek graag vandag by ons elkeen wil tuisbring is dat net soos met hierdie hofsaak van Oscar waar hy iemand het wat hom verteenwoordig, het ek en jy ook 'n Advokaat wat namens ons optree en daagliks ons saak voor die grootste regter van almal, God, stel.

1 Johannes 2: 1 sê, “Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie. En as een van ons sondig – ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader.”

Jesus is elke dag besig om namens my en jou voor God in die hofsaal van die hemele te verskyn om ons saak daar te stel. Nét so is die vyand óók daar om my en jou weer daagliks voor die Here aan te kla. Die goeie nuus is egter dat in hierdie geval weet almal betrokke reeds vóór die tyd wat die regter se uitspraak op die ou einde gaan wees...

“Onskuldig, omdat die boete reeds deur Jesus Christus betaal is! Die hof kan verdaag.”

Het jy enige idee en kan jy jouself hoegenaamd indink aan daardie groot dag wanneer ons elkeen voor God se troon gaan staan en Hy daardie woorde met 'n harde stem uiter ten gunste van dié wie vir Hom lief was. “Onskuldig, Jesus het klaar betaal. Die hof kan verdaag.” Ek kry skoon hoendervleis.

So, volgende keer wanneer jy weer so bietjie angstig raak en wonder oor wat jy gaan sê oor al jou vreeslike manewales wanneer jy voor God staan onthou dan, jy het 'n Advokaat wat namens jou praat en ek verseker jou, Hy is selfs nóg beter as Barry Roux.

Moenie bekommerd wees nie.

Kom ons bid. Here God ek is 'n sondige mens en ek weet ek verdien eintlik om gestraf te word. Dankie, dat ek kan weet dat U my nogsteeds lief het al doen ek verkeerd en dankie dat Jesus daagliks namens my inspraak maak en my ook vurig verdedig wanneer Hy my saak daar voor U stel. Ek is jammer vir my foute en tekortkominge en ek vra dat U my asb. sal vergewe en help om nie sonde te doen nie. Ek bid dit in die naam van Jesus Christus. Amen.

 

Thursday 11 September 2014

Moenie net praat daaroor nie, doen dit - deur Anton Brink

In Johannes 8: 31 – 32 staan daar “Toe sê Jesus vir die Jode wat in Hom glo: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels, en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.”



Wat beteken dit om die waarheid te ken? Die woord “ken” beteken om “begrip” te hê. Die woord “begrip” kom eintlik herhaaldelik voor wanneer jy oplees oor hierdie stelling “om waarheid te ken”. Die woord kennis beteken om 'n bewustheid of bewussyn oor iets te hê, om iets te besef en dit te erken, om 'n persepsie en 'n waardering daarvoor te hê.

Interessant om op te let dat die woord “vrees” word ook genoem. Dit is nie 'n vrees wat bang maak nie maar 'n eerder 'n betekenis van agting of respek.

Dit is belangrik dat elkeen van ons 'n punt daarvan sal maak om nie net God se waarheid te hoor nie maar dat dit prakties deel van ons sal word. Soos ons in Jakobus 1: 22 – 25 geskryf staan , “Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself. Iemand wat altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is soos een wat na sy gesig in 'n spieël kyk: hy bekyk homself, gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat 'n mens vry maak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen.”

Dit is hartseer dat mense nie meer (soos in die ou dae) 'n waardering vir die waardheid het nie. God se waarheid maak vry (maar) dit vereis baie keer 'n offer van ons kant af. Dít is wat veroorsaak dat mense (Christene) liewer daarvan wil probeer wegskram, ons hou nie daarvan om offers te bring nie.

Ek moes 'n paar dae gelede so 'n “offer” bring toe ek my trots moes sluk en vóór ander mense vir iemand om verskoning gaan vra. Dit was nie vir my maklik om te doen nie maar ek het geweet dat ek nie net 'n “hoorder” van God se woord kon wees nie maar dat ek dit self moes gaan doen toe die geleentheid hom self voordoen.

Maak die besluit om van nou af nie net 'n hoorder van God se waarheid te wees nie maar om dit deel te maak van jou hele wese, daarin lê baie groot geestelike beloning.

Sterkte!

Kom ons bid. Here God, help my om U waarheid deel van my hele lewe te maak, dat ek dit nie net sal hoor nie maar ook sal doen. Vader gee my die moed om te dóén en nie net te praat nie. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.

Wednesday 10 September 2014

Net so nul punt vyf grade, dis al wat nodig is - deur Anton Brink

Die afgelope paar dae het ons 'n paar van die allermooiste volmaan aande beleef en 'n mens sal vergewe word as jy iemand in die middel van 'n gesprek wou onderbreek om net gou eers almal se aandag daarop te fokus, om daarna te staan en kyk en om eers die wonder en die skoonheid daarvan in te neem en te waardeer.


Elke keer wanneer dit volmaan is dan lyk die maan ook sommer asof dit so ekstra naby is aan die aarde, amper asof jy behoorlik net jou hand kan uitsteek en daaraan kan vat.

Die maan is so ongeveer 27 % die grootte van die aarde, m.a.w. waar die aarde se deursnee by die ewenaar 12 756 km is, is die maan se deursnee 3 474 km. Makliker gestel kan jy dus sê dat die maan is so min of meer 'n kwart die grootte van die aarde.

Sou jy daarna mik, is dit dus 'n baie lekker groot teiken wat tog sekerlik maklik is om te tref, of hoe? Die manne en vroue by NASA het tog sekerlik géén probleem om pendeltuie te lanseer en die ruimte in te skiet en op ruimte reise te stuur na die maan toe nie, jy kan dit dan nie mis nie, die maan is dan tog só yslik groot...

Jy weet darem seker net so goed soos ek dat dit nie regtig die waarheid is nie?

Die roete (soos enige ander) word noukeurig bereken en in die nodige navigasie toerusting ingevoer en gevolg sodat die nodig koersaanpassings (tydig) gemaak kan word soos en indien nodig voordat die teiken of bestemming gemis word.

'n Koersafwyking van tot so klein as nul punt vyf grade sal veroorsaak dat jy jou teiken of bestemming op die einde met etlike kilometers mis, om die gradiënt presies en akkuraat te volg soos dit aangedui word, is dus nie eens 'n opsie nie, dit is hoe dit gedoen móét word.

So is dit ook in ons geestelike lewens. 'n Spreekwoordelike “koersafwyking” van tot so min as nul punt vyf grade sal veroorsaak dat jy jou eindbestemming vêr mis.

Die duiwel sal jou nooit probeer mislei met iets wat ooglopend verkeerd is nie, hy sal nie iets doen of sê wat heeltemal die teenoorgestelde is van wat die Bybel en God sê nie. Nee, hy sal op 'n baie slinkse manier vir jou net so 'n effense ou klein leuentjie vertel wat darem so amper amper na die waarheid lyk.

As hy jou eers daarmee hét, dan trek hy vir jou al hoe vêrder en dieper in totdat jy later so deurmekaar is dat jy nie meer regtig kan onderskei tussen wat die waarheid is en wat nie.

Wees versigtig vir valse profete.

Onthou, daar staan in die Bybel (Boodskap vertaling) geskryf in Matteus 24: 10 – 11, “Dit sal al hoe meer uit die mode raak om kerk toe te gaan en 'n Christen te wees. Wat egter hoog in die mode sal wees, is om mekaar om elke hoek en draai te bedrieg en niks vir mekaar oor te hê nie. Daar sal ook baie mense kom wat hoog en laag sal sweer dat hulle boodskappers van God is. Hulle is natuurlik skaamtelose bedrieërs. Die ergste is dat daar mense sal wees wat hulle gaan glo.”

Dis seker maar net jou verbeelding.

Onthou dat daardie klein koersafwyking van “nulpunt vyf grade” lyk aanvanklik vir jou na niks, so aan die begin pla dit jou ook nie eintlik nie en wanneer iets gedoen of gesê word wat nie vir jou so lekker heeltemal strook met die Bybel nie en dit jou wél so bietjie begin krap, ignoreer jy dit en vertel jy vir jou self dat dit seker maar net jou verbeelding is, alles lýk dan so reg met hierdie groepie, kerk of predikant waarby jy nou so betrokke is en wie jy nou so ernstig begin volg het, jy is seker daarvan dat die fout lê eintlik maar eerder by jou en nie by dié groepie of kerk nie.

So ignoreer jy al die gevaartekens en kort voor lank wanneer jy weer jou oë uitvee is jy besig om daardie teiken, m.a.w. God se Waarheid met kilometers te mis.

Daar is 'n paar kenmerke van valse profete waarvoor ons op die uitkyk moet wees sodat ons hulle kan raaksien voordat ons na hulle leuens luister.

1. Valse profete is baie persoonlikheid gedrewe. Hulle fokus is m.a.w. nie Jesus nie maar eerder húlle self.

2. Valse profete maak stellings wat baie keer nie 100 % strook met God se woord nie. Die oomblik as iets teenstrydig is (al is dit net 'n bietjie) met die Bybel kan jy maar weet dat dit nie van God af kom nie.

3. Valse profete sal jou graag probeer beheer en manipuleer en sal van jou verwag om te maak soos hy of sy jou beveel om te doen.

4. Valse profete sal lieg as die waarheid te ongemaklik of selfs net onpopulêr is.

5. Valse profete sal vir jou laat verstaan dat alles met jou en in jou lewe in orde is selfs al leef jy in doelbewuste sonde.

Bly op koers en baie belangrik, maak tydige aanpassings as dit moet sodat jy nie op die ou einde jou teiken met baie kilometers mis nie.

Kom ons bid. Vader ek het die pad byster geraak. Ek het begin afdwaal en na verkeerde mense en vriende begin luister. Vergewe my asb. Here en help my om nou daardie koersaanpassing te maak sodat ek my eindbestemming kan bereik. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


Tuesday 9 September 2014

Wanneer jy die wind van voor kry - deur Anton Brink

Ek weet nie of jy hiervan kennis dra nie en of jy enigsins daarin belangstel nie, maar die grootste en duurste passasiers vliegtuig op aarde is op die oomblik die nuwe Airbus A380 – 800.

Ek het die voorreg gehad om eenkeer een met my eie twee oë te sien en glo my, dis indrukwekkend om die minste te sê.

Hierdie vliegtuig kan tot soveel as 853 passasiers aan boord hê, dit weeg derduisende ton en kan tot 15 700 km vêr onophoudelik vlieg as hy regtig moet met ’n spoed van ongeveer 900 km/h en een so 'n vliegtuig kos in die omgewing van so min of meer R4. 454 Biljoen om aan te skaf.

Hierdie 'n vliegtuig wat beslis die wenkbroue laat lig en met reg.

Maar, ten spyte van die feit dat hierdie enorme vliegtuig al hierdie en nog vele ander wonderlike eienskappe het, is daar een vreeslik eenvoudige ou dingetjie (nogal van buite) wat hy nodig het om vinnig en maklik in die lug te kan kom en dit is, die wind van voor!

Jy sien, enige vlieënier van 'n groot óf selfs 'n klein vliegtuig staan liewer met sy vliegtuig se neus ín die wind terwyl hy teen die aanloopbaan af probeer spoed optel om sodoende opwaartse druk onder die vliegtuig se vlerke te genereer wat dan die swaar gewig van die vliegtuig in die lug in op druk of stoot.

Om dus iets so eenvoudig soos die wind van voor te hê help dat 'n vliegtuig die doel bereik waarvoor hy in die eerste plek gemaak is en dit is natuurlik om hoog en vêr te vlieg totdat sy passasiers of vrag by hulle eindbestemming aankom.

Net so het persoonlike uitdagings ook die potensiaal om soos daardie “wind van voor” vir ons elkeen te wees en ons as’t ware te help om “op te styg” sodat ons ook (soos die vliegtuig) die doel en die hoogtes kan bereik waarvoor God ons geroep en gemaak het.

Moenie in sak en as gaan sit net omdat jy teenspoed beleef nie, vertrou liewer die Here om vir jou binne-in daardie moeilike omstandighede geleenthede te wys sodat jy daarbo kan uitstyg. Ek het al soveel wonderlike getuienisse gehoor van mense wat bv. net op 'n dag gehoor het dat hulle afgelê word by die werk ens. en hoe hulle aan die begin so vreeslik bang en verward was net om dan te sien hoe 'n iets fantasties daaruit vloei nét omdat hulle God se aangesig gesoek het en Hom gevra het om vir hulle te wys wat om nou te doen.

Hulle het dus toegelaat dat die Here Jesus daardie “wind van voor” gebruik sodat hulle kan opstyg en begin vlieg.

Onthou dat God het hierdie wêreld klaar oorwin.

Ons lees uit die Boodskap Bybel in Johannes 16: 33 dat Jesus sê, “Ek vertel hierdie dinge vir julle met 'n goeie rede. As my vriende kan julle maar rustig wees oor alles. Die ongelowiges sal alles wel vir julle probeer moeilik maak. Moenie dat hulle julle ontstel nie. Troos julle daaraan. Ek het bewys dat ek sterker is as enige iets of enigiemand in hierdie wêreld. Ek en niemand anders nie is die regte wenner.”

In die 1983 vertaling sê dit, “Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê, maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”

As jy iemand is wat op die oomblik voel asof die lewe druk en jy sukkel om sin te maak van alles, vra dan nou die Here om ook vir jou te help om die geleenthede binne-in jou omstandighede raak te sien sodat jy en Hy saam dinge vir jou kan verander.

Kom ons bid. Here help my om anders na my situasie te kyk. Wys my wat om te doen sodat ek ook hierdie wind wat ek op die oomblik van voor beleef kan gebruik om op te styg en uit te styg bo my omstandighede sodat ek my doel kan bereik. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.




Monday 8 September 2014

Dis te goed om waar te wees - deur Anton Brink

Daar is 'n Engelse gesegde waar mense sê, “If something is to good to be true, it usually is...”



Al wat dit natuurlik beteken is dat wanneer iets vir jou te goed (klink) om waar te wees dan ís dit gewoonlik ook die geval en word ons dus met hierdie sê ding aangemoedig om dit (wat dít ook al is) liefs nie te glo nie.

Dit is presies wat gisteroggend met my gebeur het toe ons op pad kerk toe was. Terwyl ons in die motor ry sit en dink ek so stil-stil by my self aan die feit dat Jesus vir mý (Anton) óók vrygekoop het, dat Hy ook vir my sondes gesterf het en omdat ek dit met my hele hart glo het ek rééds die ewige lewe in die hemel saam met Hom beërwe en is ek klaar Syne en hoef ek my nooit weer daaroor te bekommer nie.

Saggies sê ek so in my binneste, “Here, dit klink te goed om waar te wees. Dat 'n sondige ou soos ek óók mag hemel toe gaan nét omdat ek Jesus as my verlosser bely en ek Sy wil probeer doen, kan dit dan wees?!” Die Here moes seker geluister het na my gedagtes of iets want die volgende oomblik “hoor” ek die woorde, “Glo dit net, hou op om te probeer (voel) dat jy gered is, glo dit met jou hart en nie met jou verstand nie.”

Miskien is jy ook soos ek? Jy probeer alewig geestelike dinge met jou kop verstaan terwyl jy dit eintlik net eenvoudig met jou hart moet doen. As jy wel ook so 'n tipe mense is nooi ek jou om vandag, op hierdie oomblik, op te hou redeneer, op te hou probeer verstaan en op te hou om redes te gee oor waarom jy dink die Here jou nie kán of behoort lief te hê nie, want jy sien, Sý liefde vir jou hang in die eerste plek nie van jou self af nie maar van Hóm en Hy is beslis meer as in staat.

Hou op dink (soos ek) aan hoe sleg jy eintlik is en aan hoeveel sonde jy doen en aan hoe jy nie werklik Sy genade verdien nie en kom ons maak liewer soos die woord vir ons in Hebreërs 4: 16 sê, “Kom ons gaan dan met (vrymoedigheid) na die (genadetroon), sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.”

In die boodskap vertaling sê dit in vers 15 en 16, “Hy is nie iemand wat niks van ons weet en daarom nie simpatie met ons swakhede sal hê nie. Nee, Hy het al dieselfde pad as ons geloop en is deur dieselfde versoekings as ons, met dié verskil dat Hy nie een maal 'n fout gemaak het nie. Ons hoef dus nie bang te wees of te wonder of ons na God toe mag gaan nie. Ons kan maar gaan, want God sal baie goed wees vir ons. Wanneer ons dit nodig het, sal God vir ons meer gee as wat ons verdien en ons met Sy liefde omvou.

As jy dus wél iemand is wat sukkel met (self) veroordeling, kies dan vandag om skuldgevoelens van jou af te werp en aanvaar met jou hart dat God jou lief het nét soos wat jy is, al het jy ook hoeveel foute, Hy gee nie om daaroor nie, want Hy het klaar die prys vir al jou en my foute en tekortkominge betaal.

Onthou net, soos ek gesê het, Hy ís lief vir jou nét soos wat jy is máár Hy is té lief vir jou om vir jou te los soos wat jy is... dink 'n bietjie daaraan.

En laastens, is jy iemand wat nog nooit die geleentheid gehad het om die Here Jesus as persoonlike verlosser en Saligmaker te aanvaar nie. Indien wel, wil jy nie dalk net miskien vandag daardie besluit neem en die onderstaande gebed hardop saam bid en Jesus Christus as verlosser aanvaar nie. As jy kies om dit wel te doen maak dan (groot asb.) seker dat jy met ons beraders en gebedsvriende by Tygerberg 104FM kontak maak by 0861 104 104 sodat hulle saam met jou kan bid en jou leiding kan gee oor wat jou nou te doen staan.

Sterkte!

Kom ons bid. Hemelse Vader, vandag weet ek dat ek, soos alle mense wat gebore word op hierdie aarde, op pad is hel toe. Al lewe ek hoe goed, tensy ek by ’n punt kom waar ek besef dat ek ’n Verlosser nodig het, kan ek nooit uit my eie goeie dade of lewe die Ewigheid in U teenwoordigheid deurbring nie.

Dankie dat U Jesus, vir my sondes gesterf het, begrawe is en op die derde dag weer opgestaan het en opgevaar het na die hemel waar U aan die regterhand van God sit en my Voorspraak is. Ek bely vandag dat U die Seun van God is en dat U my verlossing duur gekoop het.

Dankie Heilige Gees dat U daagliks my metgesel is en dat U my leer en lei in die waarheid. Vandag aanvaar ek Jesus Christus as my Verlosser en Saligmaker en weet ek dat ek in U alles het wat ek nodig het om die Ewige Lewe te kry, volgens Joh17:3

Ek dank U dat ek nou in ’n lewende verhouding met U kan wees en dat ek in U ’n Vriend en daaglikse Trooster en metgesel het. Amen

Friday 5 September 2014

Daar sal 'n dag wees - deur Anton Brink

Ek het die afgelope tyd 'n liedjie in Oggendrooi begin speel wat ek verskriklik geniet en ek luister dit ook graag na afloop van die program by my lessenaar (oor en oor) op die internet. Dit is Jeremy Camp se, “There will be a day”.



Ek weet nie hoekom nie maar daar is iets in daardie liedjie wat my baie amper tot trane dryf en dit is vir my so asof hy (Jeremy Camp) die woorde van daardie liedjie nét vir my sing.

Hier is die woorde van die liedjie...

"There Will Be A Day"

I try to hold on to this world with everything I have
But I feel the weight of what it brings, and the hurt that tries to grab
The many trials that seem to never end, His word declares this truth,
that we will enter in this rest with wonders anew

But I hold on to this hope and the promise that He brings
That there will be a place with no more suffering

[Chorus]

There will be a day with no more tears, no more pain, and no more fears
There will be a day when the burdens of this place, will be no more, we'll see Jesus face to face
But until that day, we'll hold on to you always

I know the journey seems so long
You feel you're walking on your own
But there has never been a step
Where you've walked out all alone

[Chorus]

Troubled soul don't lose your heart
Cause joy and peace he brings
And the beauty that's in store
Outweighs the hurt of life's sting

I can't wait until that day where the very one I've lived for always will wipe away the sorrow that I've faced
To touch the scars that rescued me from a life of shame and misery this is why this is why I sing

Daar sal 'n dag wees.

Ons praat daaroor, ons sing daaroor en ons dink baie daaroor maar besef ons dit werklik? Daar sál 'n dag wees (dalk gouer eerder as later) dat ons al die dinge van hierdie wêreld sal agterlaat. 'n Dag dat ons in die wolke opgeneem en weggevoer sal word om saam met Christus vir ewig en vir altyd in die hemel te wees op 'n plek waar daar nooit weer moeite, pyn of harsteer is nie. Maak seker jy is gereed en berei jou hart voor vir die koms van die Here.

Voel dit vir jou ook asof jou hart soms oorweldig word met 'n gevoel van swaarmoedigheid, angs en bekommernis? Onthou dan, daar sal 'n dag wees.

Is jy hartseer oor 'n geliefde wat al gesterf het? Onthou dan, daar sal 'n dag wees.

Voel jy hopeloos, eensaam, bang en alleen? Onthou dan, daar sal 'n dag wees.

Wil jy tou opgooi, omdraai en wegstap van dít waarvoor die Here jou geroep het? Onthou dan, daar sal 'n dag wees.

Ons gaan nie vir ewig op hierdie aarde wees nie en beslis ook nie soos wat dinge nóú gaan nie. Daar sal 'n dag wees dat ek en jy hierdie wêreld sal verlaat, dalk deur die dood of (hopelik) die wegraping, hoe ook al, ons elkeen wat die Here Jesus ken en aanvaar as Verlosser is op pad na 'n plek véél beter as hierdie.

Die lewe ís nie al dag maklik nie, die uitdagings is groot en die bekommernisse raak soms te veel om te hanteer maar luister wat sê die Here Jesus in Johannes 14: 1 – 3, daar staan geskryf (Boodskap vertaling) “Moenie dat hierdie dinge julle te veel ontstel nie. Julle vertrou mos op God. Vertrou My ook. Skep moed! My Vader het 'n huis. Daar is meer as genoeg plek vir julle almal. Ek gaan om vir julle daar plek reg te maak. Dink julle een oomblik Ek sou dit gesê het as dit nie so was nie? As Ek alles vir julle reggekry het, kom Ek julle haal om by My te wees. Waar Ek is, sal julle dan ook wees."

Mag die Here se genade oor ons elkeen groot wees sodat ons sal aanhou om hierdie wedloop met Sy krag tot aan die einde te hardloop.

Kom ons bid. Here God, daar sal 'n dag wees, 'n dag waar ek die dinge van hierdie lewe agter my sal laat en waar ek U van aangesig tot aangesig sal sien en ek kan amper nie meer wag nie. Vader, gee my asb. die krag en inspirasie om tot daardie dag aanbreek hierdie wedloop te hardloop en dit klaar te maak sodat ek ook eendag die woorde sal hoor wat sê, “Welgedaan, goeie en getroue dienskneg.” Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.

Thursday 4 September 2014

As die Here die huis nie bou nie - deur Anton Brink

Té veel kere gebeur dit dat gelowiges allerhande dinge in hulle lewe aanpak (ook báie gereeld in die naam van Christenskap) net om na 'n rukkie dan met 'n groot skok agter te kom dat hulle planne glad nie wil uitwerk nie.



Die heel eerste ding wat dan gebeur is dat ons vies is vir die Here omdat Hý ons mos nou teleurgestel het en ons nie wou help nie...

As ek terugdink aan my eie lewe en al die dinge wat ék al aangepak het om darem net iéts van my lewe te probeer maak dan het ek seker vandag nog voor die hekke van munisipaliteite gestaan besig om lewensverskering en spaarplanne aan munisipale arbeiders te probeer smous.

Dit het net glád nie gewerk nie.

Ek kon nooit verstaan waarom God my nie seën nie. Dag na dag wanneer ek opstaan en kantoor toe gegaan het, het ek die een teleurstelling na die ander beleef en kon ek net nooit dieselfde sukses as die ander versekerings agente bereik of smaak nie. Dit het net glád nie gewerk nie, al het ek ook hoe hard probeer, my verkope was net altyd vrot. Ek was só kwaad vir die Here en ek kon nie verstaan hoekom Hy toelaat dat ek soveel teleurstelling, frustrasie en vernedering in die gesig moet staar nie.

Dit was nie Sy plan vir my nie.

Op 'n dag kon ek net nie meer nie en ek het soos hulle sê “rock bottom” geslaan. Ek het so vreeslik hopeloos en waardeloos gevoel ek wou doodgaan. Ek het baie gehuil en by die Here gesmeek om vir my besigheid te stuur, ek het by Hom gepleit en Hom gesoebat om vir my deure oop te maak sodat ek ook suksesvol kan wees soos die ander mense, want dit ís tog immers wat God vir ons elkeen van ons wat Sy kinders is wíl hê, maar niks.

Moeg en amper uitasem het ek uiteindelik moed opgegee en het ek in 'n stil hartseer oomblik in my kamer op die bed gaan sit en saggies gefluister, “Here, U wil en nie myne nie. Ek gee alles vir U, maak met my soos U wil en gee dat die eer daarvoor altyd na U toe sal gaan.”

Alles het spontaan gebeur.

Van daardie dag af het my lewe 'n dramatiese ommekeer begin maak en die allerbeste is dat dit was glád nie ek wat dit bewerkstellig het nie. Alles, elke liewe ding van daardie oomblik af het net spontaan begin gebeur en die Here het die een deur na die ander een vir my begin oopmaak.

Dit is nou sestien jaar later en die enigste kere wanneer ek terugkyk is wanneer ek (soos nou) vir ander mense met entoesiasme en van uit persoonlike ondervinding en oortuiging van God se goedheid en getrouheid wil vertel.

In Psalm 127: 1 – 2 uit die Boodskap Bybel staan daar geskryf, “As die Here die huis nie bou nie, bou die bouers 'n bouval wat enige oomblik inmekaar kan stort. As die Here die stad nie oppas nie, help dit net mooi niks dat die polisie die strate patrolleer nie. (Luister nou mooi na hierdie volgende deel in vers 2) Dit is 'n mors van tyd om vroeg op te staan en tot laatnag wakker te bly en jou morsdood te werk. Die Here gee vir almal wat Hy lief het al hierdie goeie dinge in hulle slaap.

Moet asb. nou nie die fout maak en dink dat daardie skrifgedeelte is jou “liksens” om maar op jou louere te mag sit en niks doen nie. Wat daardie skrifgedeelte wél vir ons sê is dat wanneer jy besig is met dit wat die Here jou voor geroep het gaan daar nie méér sukses uitvloei net omdat jý harder werk nie, nee, daar sal meer sukses uitvloei omdat God besluit het om jou werk te seën en vir geen ander rede nie. Jóú moeitevolle arbeid gaan nie 'n vreeslik groot verskil daaraan maak nie.

Ek hoop werklikwaar dat as jy nog nie weet wat God se plan vir jou lewe is nie, en as jy nog nie daarmee besig is nie dat jy spoedig daarvan werk sal maak om uit te vind en dat jy ook later sal kan getuig van God se goedheid en Sy getrouheid.

Kom ons bid. Vader ek wéét dat U my gemaak het om ’n rede, ek ís nie maar sommer net hier nie, U het 'n plan met my en wil so bitter graag weet wat dit is. Here laat U wil asb. in my lewe geskied tot U eer. Gee my lewe betekenis Vader en daardie betekenis en vervulling sal ek net kry wanneer ek U skeppingsdoel vir my kan uitleef. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


Wednesday 3 September 2014

Sê ’n slag dankie - deur Anton Brink

So elke nou en dan moet ons gaan kyk na wat ons wél alles het, sodat ons net vir 'n slag weer herinner kan word en besef hoe baie ons éintlik het om voor dankbaar te wees.


Die dinge wat ons het om voor dankbaar te wees lyk net nie altyd soos wat óns dink dit veronderstel is om te lyk nie.

Hier is 'n paar voorbeelde...

1. Ek is dankbaar vir al die vuil wasgoed wat ek het om te was want dit beteken dat ek en my huisgesin klere het om aan te trek.

2. Ek is dankbaar vir die vuil skottelgoed wat ek moet was want dit beteken dat ek en my gesin het kos gehad om te eet.

3. Ek is dankbaar vir die water en elektrisiteit rekening wat ek van die stadsraad af kry want dit beteken dat ek met redelike gemak al daardie klere en skottelgoed kán skoon kry.

4. Ek is dankbaar vir die beddens wat moet skoon oorgetrek word met nuwe lakens en komberse want dit beteken ek het 'n warm bed om in te slaap.

5. Ek is dankbaar vir my motor wat dringend gewas en gediens moet word want dit beteken ek hoef nie kilometers te stap tot waar ek moet wees nie.

6. Ek is dankbaar vir klein kindertjies wat heeldag rondhardloop, lawaai en skree terwyl hulle speel en dat ek moet sukkel om hulle klaar te kry vir skool in die oggend want dit beteken hulle is gesond en normaal en hulle kry 'n goeie opvoeding.

7. Ek is dankbaar vir die parkeerplek wat ek gekry het daar doer vêr in die agterste ry vêr van die winkel se deur af want dit beteken ek is nog gesond genoeg om so vêr te stap.

8. Ek is dankbaar vir vloere om te was, gras om te sny en geute om skoon te maak want dit beteken ek het 'n huis om in te bly.

9. Ek is dankbaar vir die Kersfees ete wat ek moet voorberei en kers inkopies wat gedoen moet word want dit beteken ek het mense vir wie ek lief is en wie lief is vir my wat graag daardie tyd saam met my wil deurbring.

Daar is seker nog baie dinge wat ons elkeen hier kan byvoeg maar hierdie is net solank vir jou 'n illustrasie van al die bedekte seëninge wat ons so vinnig elke dag miskyk.

Luister na wat sê Dawid in Psalm 118: 1 – 8 uit die Boodskap Bybel oor hoe dankbaar hy is. Daar staan geskryf, “Sê vir die Here baie dankie, want Hy is goed, ja, Sy liefde sal nooit ophou nie. Al die Here se kinders moet sê: Sy liefde sal nooit ophou nie. Ja, almal wat Hom dien en aanbid, moet dit sê. Toe ek in die moeilikheid was, het ek ernstig tot die Here gebid. Die Here het na my geluister. Hy het my gehelp. Die Here is by my . Daarom is ek vir niks bang nie. Niemand kan iets aan my doen nie. Die Here help my. Mense wat nie van my hou nie, sal my nooit onderkry nie. Ek sal hulle wen. Dit is beter om die Here te vra om jou te beskerm, as om te hoop mense doen dit, al is hulle hoe belangrik.”

Onthou om vandag vir die Here dankie te sê vir al Sy goedheid in jóú lewe.

Kom ons bid. Here God baie dankie dat U altyd vir my goed is. Dankie, dat U liefde vir my geen einde ken nie. Dankie, vir alles wat U vir my doen en gee en dankie Here dat U my vergewe het en die prys vir my sondes namens my betaal het. In die naam van Jesus Christus. Amen.

Tuesday 2 September 2014

“Your attitude wil determine your altitude” - deur Anton Brink

Dit is nou maar eenmaal 'n feit, as jy 'n mislike houding het, sal jy in amper alle areas van jou lewe (werk, sosiaal en selfs familie) stadig maar seker begin agter uit gaan en ongelukkig uiteindelik net wegkwyn.


So kyk ek nét nou die dag na 'n man wat ek agtergekom het die afgelope tyd so bietjie van 'n “attitude” begin ontwikkel het en kon ek ook nie help om op te let na net hoe hy (met sy houding) besig is om vir hom self die lewe eintlik baie moeilik te maak en ook baie “brûe” tussen hom en ander mense te verbrand nie.

Ek is beslis nie 'n kenner van menslike gedrag nie en ek gee ook nie voor om te wees nie maar ek moet sê dat ek kán nogal partykeer mense en situasies vinnig en akkuraat opsom en ek het 'n vermoede dat ek weet hoekom hierdie man die afgelope jaar of twee so anders begin optree het.

Spreuke 18: 12, “Op selfverheffing volg ineenstorting, op nederigheid eer.”

Ek dink hierdie man het op 'n punt in sy lewe gekom waar hy (op 'n manier) aanstoot geneem het en het hy hom self oortuig dat hy veronderstel is om meer of hoër geag behoort te word deur ander mense. Hy het as’t ware 'n “chip” op sy skouer begin ontwikkel en dit het stelselmatig sy hele manier van optree begin beïnvloed en het dit soos 'n kanker sy hele persoonlikheid ten slegte begin verander en verteer.

Daar is ook 'n ander skrifgedeelte in Spreuke wat sê, “ 'n Man wat aanstoot geneem het is meer onwrikbare as 'n sterk stad en sy twis is soos die grendel van 'n paleis.”

Ek kan dit nie genoeg beklemtoon nie! Dit is verskriklik en ongelooflik belangrik dat jy nie sal toelaat dat 'n gevoel van aanstoot in jou hart posvat nie. Op die ou einde sál dit jou verteer en verander en jou in 'n ongeskikte, selfsugtige en genadelose wreedaard verander.

As jy nie sélf iets daaraan doen nie sal dit ook ongelukkig al hoe erger raak soos die jare aanstap en wanneer jy uiteindelik eendag terugkyk sal jy sien hoedat jy 'n klomp séér gemaakte mense in jou spoor agterlaat en sal jy waarskynlik eensaam en alleen op eindig.

Is dit wie jy wil wees, wil jy iemand wees wat mettertyd alleen, hartseer en ongelukkig op eindig, of wil jy liewer vergewe, restoureer en in Goddelike nederigheid die pad sáám met jou vriende, familie en kollegas stap tot aan die einde?

Kom ons bid. Vader God ek is so vreeslik jammer dat ek aanstoot en selfverheffing in my hart toegelaat het, sal U my asb. daarvoor vergewe. Ek wil ook hê dat U my nou sal help en ook nou vir my die geleenthede sal gee dat ek kan gaan regmaak waar ek verkeerd gedoen het en ander mense dalk seergemaak het. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.