'n Paar jaar gelede het ek 'n ondervinding gehad wat ek sekerlik vir die res van my lewe sal onthou.
Dit was net voor vyf op ‘n koue en nat Vrydagmiddag toe sy (amper
versigtig) deur die voordeur van waar Radio Tygerberg se kantore en
ateljees was ingestap kom.
Meeste van die personeel was alreeds
huis toe, daar was net ‘n paar van ons oor. Naomi Engelbrecht het by
die ontvangs toonbank gesit waar sy gou vir oulaas ‘n paar
administratiewe takies afgehandel het en gewag het vir haar man (Ashley)
om haar te kom haal.
Ek was in die ateljee waar ek die middag
“drive” program “Padlangs” van 4 nm tot 6 nm aan gebied het en aan die
oorkant van waar ons (ek en Naomi) gesit het was ons berading en
bedienings afdeling se kantore. Pieter Coetzee was daar, ook nog laat
besig om sy werk van die dag af te handel voordat hy ook vir die naweek
kon huis toe gaan.
Toe ek opkyk en die lang skraal vrou in ons
ontvangs area sien staan, het sy my aandag dadelik getrek. Ek het ‘n
vreemde dringendheid in my hart vir haar ervaar en boonop het ek haar
nie eens geken nie.
Haar wollerige wit trui en wit langbroek
het soos ‘n sak aan haar gehang en ek kon sien dat sy baie siek was. Ek
onthou hoe ek gewonder het of sy nie verskriklik koud moes gekry het op
hierdie donker grys winter agtermiddag nie omdat sy boonop net ‘n paar
plakkies aan haar voete gehad het.
Ek het uit die ateljee
gestap na waar sy besig was om met Naomi te praat. Die stank het my vir
‘n oomblik in my spore laat vassteek. “Ek weet ek sal binne die volgende
paar dae doodgaan. Ek is hier want ek wil seker maak dat my saak met
die Here reg is. Ek het baie dinge verkeerd gedoen, ek is siek, ek het
VIGS.”
Die reuk aan haar lyf was soos iets wat ek nog nooit in
my lewe geruik het nie. Ek sou dit jare later weer ruik net voordat
iemand wat gereeld by my kom aanklop het vir hulp ook aan dié virus dood
is. Dit gebeur wanneer ‘n geïnfekteerde persoon in ‘n baie gevorderde
stadium van die siekte is en daardie persoon nie behoorlike behandeling
daarvoor kry nie. Dis was verskriklik erg.
Haar lang maer en
uitgeteerde lyf het onophoudelik geruk soos sy gebewe het. Ek het haar
innig jammer gekry en het (net soos sy) geweet dat sy waarskynlik net ‘n
paar dae oor het voor sy sou sterf.
Ons het haar dadelik na Pieter toe geneem.
Ek is toe terug ateljee toe om die middag program verder aan te bied
maar het kort kort stip na die berading afdeling se kantoor deur gestaar
om te sien wanneer sy sou uitkom. Daar het ongeveer ‘n uur verby gegaan
voordat sy weer te voorskyn sou kom.
Ek kon sién dat iets
fantasties het in daardie uur met haar gebeur. Sy het glad nie meer
gebewe nie en ek kon ‘n vrede, ‘n wete by haar raaksien wat ek nie vir
jou in woorde kan beskryf of sal kan verduidelik nie.
Sy het
die Here Jesus daardie dag binne-in daardie kantoor ontmoet en Hy het
haar vrygemaak, haar verlos en haar gered. Dit was kosbaar om te sien en
‘n voorreg om deel van daardie vrou se redding en haar laaste paar dae
op hierdie aarde te kon wees.
Ons het haar nooit weer gesien
nie, ek glo sy is kort daarna dood, maar eintlik het sy op daardie dag
in Pieter se kantoor alreeds gesterf want dit was ‘n nuwe mens wat daar
uitgestap gekom het.
Ek en sy sal nog eendag weer lekker oor daardie dag gesels.
In 1 Johannes 3: 18 staan daar geskryf, “Liewe kinders, ons liefde
moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys
word, en dan in opregtheid.”
Ons wie die Here ken en dien kan
nie net praat oor God se liefde en genade maar dit dan nie prakties aan
mekaar en andere bewys en uitleef nie. As ek, Naomi en Pieter ons nie
daardie dag in Goddelike liefde oor daardie vrou ontferm het nie en ons
het dalk meer belang gestel daarin om huis toe te gaan en te gaan naweek
hou, kan jy dink wat sou gebeur het? Daardie vrou sou gesterf het
sonder dat sy dalk ooit die geleentheid kon hê om by die Here om
vergifnis te pleit vir haar sondes en Jesus as verlosser te aanvaar nie.
Kom ons bid. Vader daar is baie behoeftige mense, ek is een van hulle.
Here ek weet dat dit nie vir my moontlik is om almal te help nie maar ek
wil hê dat U my sal wys waar ek wél 'n verskil kán maak in iemand se
lewe al lyk dit ook hoe klein. Heilige Gees maak my asb. sensitief en
help my onderskei ten bate van die ware en opregte behoeftes van mense
vir wie ek moontlik 'n antwoord op gebed kan wees en dat hulle dan die
moeite sal doen om hulle te help. Ek vra dit in die naam van Jesus
Christus. Amen.
No comments:
Post a Comment