Tuesday 16 September 2014

Bitter Barend - deur Anton Brink

Vir jou eie beswil moet jy seker maak dat onvergewensgesindheid nooit in jou hart posvat nie. As jy dit gaan toelaat om te gebeur loop jy die baie werklike risiko om mettertyd in 'n haatdraende en bitter wreedaard te ontaard en dit sal nie net vir jou nie maar ook jou verhoudings met die mense naaste aan jou vernietig.


 
Ek het 'n paar jaar gelede van so man te hore gekom.

Net so om die draai van waar my ouers woon het ek eendag opgelet dat daar 'n nuwe huis gebou word. Die huis was nie baie groot nie en ek het gedink dat dit dalk 'n pasgetroude paartjie was wat gelukkig genoeg was en kon bekostig om daar huis te kon opsit.

Dit was nie lank nie toe is die huis klaar en ek hoor toe by my ouers dat dit 'n man met die naam Barend was wat daar ingetrek het. Hy was al so in sy vyftigs. Toe ek uitvra na of hy 'n vrou en kinders het, het my ouers my meegedeel dat hulle (soos dit 'n klein dorpie betaam) gehoor het dat hy van sy vrou geskei is en dat dié en die kinders wat hulle saam gehad het niks met hom te doen wou hê nie omdat hy blykbaar maar 'n baie moeilike mens was om mee oor die weg te kom.

Sy vrou kon dit glo net nie meer met hom uithou nie en het hom toe na baie jare van probeer uiteindelik gedagvaar vir 'n egskeiding waarna hy toe dié huis laat bou het en alleen daar ingetrek het.

A.g.v. van sy bitter en haardraende persoonlikheid was Barend nou nie juis iemand wat baie sosiaal was nie en was sy bure ook nie eens aldag bewus van sy doen en late nie.

So het 'n paar jaar verbygegaan maar op 'n dag kom Barend se buurman van oorkant die straat toe tóg eendag agter dat alles nie pluis is by Barend se huis nie en dat sy (Barend) se kapok hoendertjies wat hy altyd buite in sy erf laat rondloop het, is toe al vir dae lank sonder kos en water.

Toe die buurman uiteindelik aan Barend se voordeur gaan klop kry hy toe ook geen antwoord nie en het hy onraad vermoed en het die polisie daarvan in kennis gestel.

Om 'n lang storie kort te maak, Barend was toe alreeds agt dae dood. Hulle het hom in sy bed in die hoofslaapkamer gekry. Hy was heeltemal alleen en vir meer as 'n week het niemand eens geweet dat hy gesterf het nie.

Barend was die slagoffer van haat en bitterheid (wat hy self toegelaat het) en ek dink dit het hom op die ou einde veel meer gekos as wat hy ooit gedink het dit sou. Sy eie kinders wou niks eens met hom te doen hê nie en hy het ook nooit eens sy klein kinders leer ken nie.

In Efesiërs 4: 31 in die boodskap vertaling staan daar geskryf, “Moenie toelaat dat julle bitter word nie. Beteuel jou humeur en as jy dalk jou humeur verloor, moet jy nie kwaad bly nie. Moenie mekaar vloek of lelike dinge vir mekaar sê nie. Moet ook nie iets doen wat vir 'n ander een sleg is nie. Behandel mekaar mooi en goed. Laat dit vir ander lekker wees om by julle te wees. Sien mekaar se foute oor net soos God julle foute oorgesien het omdat julle Jesus s’n is.”

In die 1983 vertaling sê dit, “Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie. Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.”

Moenie 'n “Bitter Barend” wees nie, al kry jy niks anders in hierdie lewe reg behalwe om vry te wees van bitterheid en haat nie dan het jy regtig al baie vermag. Dit is nie die moeite en die pyn werd om dag en nag te loop en dink aan hoe mense jou seergemaak of te nagekom het nie, want op die ou einde is dit nét jy en nét jy alleen wat die prys daarvoor gaan betaal.

Vir jou eie beswil, nie vir die mense wat jou seergemaak het sin nie maar vir jóú eie beswil móét jy mense hulle foute oorsien en hulle vergewe voordat jy die wêreld vir jou en vir dié rondom jou ondraaglik begin maak.

Sterkte!

Kom ons bid. Vader dit is vir my baie moeilik om mense te vergewe en ek sien moeilik mense se foute oor. Ek weet dat ek self ook skuldig is aan baie dinge maar steeds sukkel ek daarmee om mense te vergewe wat teen my oortree het of my op een of ander manier seergemaak het. Ek wil regtig nie so wees nie Vader. Ek wil nie 'n “Bitter Barend” wees nie Here en ek wil hê dat U my daar van moet red. Help my om 'n beter mens te wees wat vinnig en opreg vergewe. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.



No comments:

Post a Comment