Tuesday 9 September 2014

Wanneer jy die wind van voor kry - deur Anton Brink

Ek weet nie of jy hiervan kennis dra nie en of jy enigsins daarin belangstel nie, maar die grootste en duurste passasiers vliegtuig op aarde is op die oomblik die nuwe Airbus A380 – 800.

Ek het die voorreg gehad om eenkeer een met my eie twee oë te sien en glo my, dis indrukwekkend om die minste te sê.

Hierdie vliegtuig kan tot soveel as 853 passasiers aan boord hê, dit weeg derduisende ton en kan tot 15 700 km vêr onophoudelik vlieg as hy regtig moet met ’n spoed van ongeveer 900 km/h en een so 'n vliegtuig kos in die omgewing van so min of meer R4. 454 Biljoen om aan te skaf.

Hierdie 'n vliegtuig wat beslis die wenkbroue laat lig en met reg.

Maar, ten spyte van die feit dat hierdie enorme vliegtuig al hierdie en nog vele ander wonderlike eienskappe het, is daar een vreeslik eenvoudige ou dingetjie (nogal van buite) wat hy nodig het om vinnig en maklik in die lug te kan kom en dit is, die wind van voor!

Jy sien, enige vlieënier van 'n groot óf selfs 'n klein vliegtuig staan liewer met sy vliegtuig se neus ín die wind terwyl hy teen die aanloopbaan af probeer spoed optel om sodoende opwaartse druk onder die vliegtuig se vlerke te genereer wat dan die swaar gewig van die vliegtuig in die lug in op druk of stoot.

Om dus iets so eenvoudig soos die wind van voor te hê help dat 'n vliegtuig die doel bereik waarvoor hy in die eerste plek gemaak is en dit is natuurlik om hoog en vêr te vlieg totdat sy passasiers of vrag by hulle eindbestemming aankom.

Net so het persoonlike uitdagings ook die potensiaal om soos daardie “wind van voor” vir ons elkeen te wees en ons as’t ware te help om “op te styg” sodat ons ook (soos die vliegtuig) die doel en die hoogtes kan bereik waarvoor God ons geroep en gemaak het.

Moenie in sak en as gaan sit net omdat jy teenspoed beleef nie, vertrou liewer die Here om vir jou binne-in daardie moeilike omstandighede geleenthede te wys sodat jy daarbo kan uitstyg. Ek het al soveel wonderlike getuienisse gehoor van mense wat bv. net op 'n dag gehoor het dat hulle afgelê word by die werk ens. en hoe hulle aan die begin so vreeslik bang en verward was net om dan te sien hoe 'n iets fantasties daaruit vloei nét omdat hulle God se aangesig gesoek het en Hom gevra het om vir hulle te wys wat om nou te doen.

Hulle het dus toegelaat dat die Here Jesus daardie “wind van voor” gebruik sodat hulle kan opstyg en begin vlieg.

Onthou dat God het hierdie wêreld klaar oorwin.

Ons lees uit die Boodskap Bybel in Johannes 16: 33 dat Jesus sê, “Ek vertel hierdie dinge vir julle met 'n goeie rede. As my vriende kan julle maar rustig wees oor alles. Die ongelowiges sal alles wel vir julle probeer moeilik maak. Moenie dat hulle julle ontstel nie. Troos julle daaraan. Ek het bewys dat ek sterker is as enige iets of enigiemand in hierdie wêreld. Ek en niemand anders nie is die regte wenner.”

In die 1983 vertaling sê dit, “Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê, maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”

As jy iemand is wat op die oomblik voel asof die lewe druk en jy sukkel om sin te maak van alles, vra dan nou die Here om ook vir jou te help om die geleenthede binne-in jou omstandighede raak te sien sodat jy en Hy saam dinge vir jou kan verander.

Kom ons bid. Here help my om anders na my situasie te kyk. Wys my wat om te doen sodat ek ook hierdie wind wat ek op die oomblik van voor beleef kan gebruik om op te styg en uit te styg bo my omstandighede sodat ek my doel kan bereik. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.




No comments:

Post a Comment