Wednesday 10 September 2014

Net so nul punt vyf grade, dis al wat nodig is - deur Anton Brink

Die afgelope paar dae het ons 'n paar van die allermooiste volmaan aande beleef en 'n mens sal vergewe word as jy iemand in die middel van 'n gesprek wou onderbreek om net gou eers almal se aandag daarop te fokus, om daarna te staan en kyk en om eers die wonder en die skoonheid daarvan in te neem en te waardeer.


Elke keer wanneer dit volmaan is dan lyk die maan ook sommer asof dit so ekstra naby is aan die aarde, amper asof jy behoorlik net jou hand kan uitsteek en daaraan kan vat.

Die maan is so ongeveer 27 % die grootte van die aarde, m.a.w. waar die aarde se deursnee by die ewenaar 12 756 km is, is die maan se deursnee 3 474 km. Makliker gestel kan jy dus sê dat die maan is so min of meer 'n kwart die grootte van die aarde.

Sou jy daarna mik, is dit dus 'n baie lekker groot teiken wat tog sekerlik maklik is om te tref, of hoe? Die manne en vroue by NASA het tog sekerlik géén probleem om pendeltuie te lanseer en die ruimte in te skiet en op ruimte reise te stuur na die maan toe nie, jy kan dit dan nie mis nie, die maan is dan tog só yslik groot...

Jy weet darem seker net so goed soos ek dat dit nie regtig die waarheid is nie?

Die roete (soos enige ander) word noukeurig bereken en in die nodige navigasie toerusting ingevoer en gevolg sodat die nodig koersaanpassings (tydig) gemaak kan word soos en indien nodig voordat die teiken of bestemming gemis word.

'n Koersafwyking van tot so klein as nul punt vyf grade sal veroorsaak dat jy jou teiken of bestemming op die einde met etlike kilometers mis, om die gradiënt presies en akkuraat te volg soos dit aangedui word, is dus nie eens 'n opsie nie, dit is hoe dit gedoen móét word.

So is dit ook in ons geestelike lewens. 'n Spreekwoordelike “koersafwyking” van tot so min as nul punt vyf grade sal veroorsaak dat jy jou eindbestemming vêr mis.

Die duiwel sal jou nooit probeer mislei met iets wat ooglopend verkeerd is nie, hy sal nie iets doen of sê wat heeltemal die teenoorgestelde is van wat die Bybel en God sê nie. Nee, hy sal op 'n baie slinkse manier vir jou net so 'n effense ou klein leuentjie vertel wat darem so amper amper na die waarheid lyk.

As hy jou eers daarmee hét, dan trek hy vir jou al hoe vêrder en dieper in totdat jy later so deurmekaar is dat jy nie meer regtig kan onderskei tussen wat die waarheid is en wat nie.

Wees versigtig vir valse profete.

Onthou, daar staan in die Bybel (Boodskap vertaling) geskryf in Matteus 24: 10 – 11, “Dit sal al hoe meer uit die mode raak om kerk toe te gaan en 'n Christen te wees. Wat egter hoog in die mode sal wees, is om mekaar om elke hoek en draai te bedrieg en niks vir mekaar oor te hê nie. Daar sal ook baie mense kom wat hoog en laag sal sweer dat hulle boodskappers van God is. Hulle is natuurlik skaamtelose bedrieërs. Die ergste is dat daar mense sal wees wat hulle gaan glo.”

Dis seker maar net jou verbeelding.

Onthou dat daardie klein koersafwyking van “nulpunt vyf grade” lyk aanvanklik vir jou na niks, so aan die begin pla dit jou ook nie eintlik nie en wanneer iets gedoen of gesê word wat nie vir jou so lekker heeltemal strook met die Bybel nie en dit jou wél so bietjie begin krap, ignoreer jy dit en vertel jy vir jou self dat dit seker maar net jou verbeelding is, alles lýk dan so reg met hierdie groepie, kerk of predikant waarby jy nou so betrokke is en wie jy nou so ernstig begin volg het, jy is seker daarvan dat die fout lê eintlik maar eerder by jou en nie by dié groepie of kerk nie.

So ignoreer jy al die gevaartekens en kort voor lank wanneer jy weer jou oë uitvee is jy besig om daardie teiken, m.a.w. God se Waarheid met kilometers te mis.

Daar is 'n paar kenmerke van valse profete waarvoor ons op die uitkyk moet wees sodat ons hulle kan raaksien voordat ons na hulle leuens luister.

1. Valse profete is baie persoonlikheid gedrewe. Hulle fokus is m.a.w. nie Jesus nie maar eerder húlle self.

2. Valse profete maak stellings wat baie keer nie 100 % strook met God se woord nie. Die oomblik as iets teenstrydig is (al is dit net 'n bietjie) met die Bybel kan jy maar weet dat dit nie van God af kom nie.

3. Valse profete sal jou graag probeer beheer en manipuleer en sal van jou verwag om te maak soos hy of sy jou beveel om te doen.

4. Valse profete sal lieg as die waarheid te ongemaklik of selfs net onpopulêr is.

5. Valse profete sal vir jou laat verstaan dat alles met jou en in jou lewe in orde is selfs al leef jy in doelbewuste sonde.

Bly op koers en baie belangrik, maak tydige aanpassings as dit moet sodat jy nie op die ou einde jou teiken met baie kilometers mis nie.

Kom ons bid. Vader ek het die pad byster geraak. Ek het begin afdwaal en na verkeerde mense en vriende begin luister. Vergewe my asb. Here en help my om nou daardie koersaanpassing te maak sodat ek my eindbestemming kan bereik. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


No comments:

Post a Comment