Monday 29 September 2014

Die oes is groot - deur Anton Brink

Jy ken seker die skrifgedeelte in Mattheus 9: 37 waar daar geskryf staan, “Hy sê toe vir sy dissipels: “Die oes is groot, maar die arbeiders min.”

In die Boodskap vertaling lees ons vanaf vers 35 tot 38 sê dit, “Jesus het by al die dorpies en klein plekkies langs gegaan. By hulle byeenkomste het Hy lank met die mense gesels oor hoe hulle die Joodse Bybel moes verstaan. Hy het veral vir hulle die goeie nuus van God se nuwe wêreld vertel. Met Jesus se koms kon die mense ook al hoe meer agterkom hoe God se nuwe wêreld lyk. Daarom het Hy mense met allerhande siektes en kwale gesond gemaak. Jesus het na al hierdie mense om Hom gekyk. Hulle het vir Hom gelyk soos skape wat sonder 'n herder ronddwaal. Dit was of hulle nie meer krag oorgehad het om aan te gaan nie en sommer net daar wou bly lê. Daarom wou Jesus hulle regtig graag help. Hy sê toe vir Sy dissipels: “Die lande staan ryp met 'n groot oes, maar daar is so min mense om die oes in te samel. Vra God, die Boer wie se oes dit is, om nog ekstra arbeiders te stuur. Daarvoor moet julle ernstig bid.”

Vandag, tweeduisend jaar later is daar gelukkig al baie arbeiders wat wel aangemeld het vir diens en wie by die Evangelie van Jesus Christus betrokke geraak het en dit daagliks verkondig om hierdie wêreld van Christus en die Kruis te vertel.

'n Paar van daardie arbeiders sit hier by Tygerberg 104fm se kantore in die vorm van ons gebed vriende en beraders en net 'n paar maande gelede was hulle bereidheid om die Evangelie te deel so wonderlik beloon.

Dit was 'n doodgewone agtermiddag toe daar 'n hele huisgesin met die Pa, die Ma en al drie hulle kinders by ons voordeur instap. Dit was duidelik aan hulle kleredrag dat hulle nie Christene was nie maar dat hulle 'n ander bekende geloof beoefen het.

Die man het by ons ontvangstoonbank gevra of hulle asb. met iemand kan gesels. Die ontvangs dame het dadelik baie hoflik en vriendelik vir hulle beduie om gerus solank te sit sodat sy een van ons beraders kan vra om hulle te sien.

Om 'n lang storie kort te maak, een van ons beraders het toe die gesin in sy kantoor ingenooi en hulle van Jesus vertel. 'n Paar ure later het hy uitgekom en gevra of daar dalk van die personeel is wat asb. gou vir die man, vrou en kinders iewers ander klere kan gaan koop omdat dié gesin nie meer die klere wou dra wat hulle aangehad het nie omdat dit deel was van die geloof waarby hulle tot op daardie dag by betrokke was.

Daardie man en sy gesin kon die Here Jesus aanvaar as verlosser omdat daar mense of arbeiders was wat bereid was om die werk te doen. Die oes is egter steeds baie groot en moet ons nog altyd daagliks vir God in gebed vra om nog meer mense by te voeg om te help met die verkondiging van die Evangelie en om aan te hou om hierdie oes in te bring.

Wil jy nie asb. vandag een van hulle wees nie, een wat 'n besluit maak om nie net te luister na die boodskap van verlossing nie maar om dit te aanvaar en jou eie te maak deur Jesus Christus nou as jou verlosser te bely?

Doen asb. hierdie onderstaande gebed hardop saam en neem die Here Jesus as jou Saligmaker aan. As jy wel kies om dit te doen, kom dan met ons gebed vriende by Tygerberg 104fm in kontak op 0861 104 104 of SMS die woord “OES” na 32716 sodat hulle met jou kan kontak maak.

Kom ons bid. Hemelse Vader, vandag weet ek dat ek, soos alle mense wat gebore word op hierdie aarde, op pad is hel toe. Al lewe ek hoe goed, tensy ek by ’n punt kom waar ek besef dat ek ’n Verlosser nodig het, kan ek nooit uit my eie goeie dade of lewe die Ewigheid in U teenwoordigheid deurbring nie.

Dankie dat U Jesus, vir my sondes gesterf het, begrawe is en op die derde dag weer opgestaan het en opgevaar het na die hemel waar U aan die regterhand van God sit en my Voorspraak is. Ek bely vandag dat U die Seun van God is en dat U my verlossing duur gekoop het.

Dankie Heilige Gees dat U daagliks my metgesel is en dat U my leer en lei in die waarheid. Vandag aanvaar ek Jesus Christus as my Verlosser en Saligmaker en weet ek dat ek in U alles het wat ek nodig het om die Ewige Lewe te kry, volgens Joh17:3

Ek dank U dat ek nou in ’n lewende verhouding met U kan wees en dat ek in U ’n Vriend en daaglikse Trooster en metgesel het. Amen


No comments:

Post a Comment