Thursday 11 September 2014

Moenie net praat daaroor nie, doen dit - deur Anton Brink

In Johannes 8: 31 – 32 staan daar “Toe sê Jesus vir die Jode wat in Hom glo: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels, en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.”



Wat beteken dit om die waarheid te ken? Die woord “ken” beteken om “begrip” te hê. Die woord “begrip” kom eintlik herhaaldelik voor wanneer jy oplees oor hierdie stelling “om waarheid te ken”. Die woord kennis beteken om 'n bewustheid of bewussyn oor iets te hê, om iets te besef en dit te erken, om 'n persepsie en 'n waardering daarvoor te hê.

Interessant om op te let dat die woord “vrees” word ook genoem. Dit is nie 'n vrees wat bang maak nie maar 'n eerder 'n betekenis van agting of respek.

Dit is belangrik dat elkeen van ons 'n punt daarvan sal maak om nie net God se waarheid te hoor nie maar dat dit prakties deel van ons sal word. Soos ons in Jakobus 1: 22 – 25 geskryf staan , “Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself. Iemand wat altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is soos een wat na sy gesig in 'n spieël kyk: hy bekyk homself, gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat 'n mens vry maak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen.”

Dit is hartseer dat mense nie meer (soos in die ou dae) 'n waardering vir die waardheid het nie. God se waarheid maak vry (maar) dit vereis baie keer 'n offer van ons kant af. Dít is wat veroorsaak dat mense (Christene) liewer daarvan wil probeer wegskram, ons hou nie daarvan om offers te bring nie.

Ek moes 'n paar dae gelede so 'n “offer” bring toe ek my trots moes sluk en vóór ander mense vir iemand om verskoning gaan vra. Dit was nie vir my maklik om te doen nie maar ek het geweet dat ek nie net 'n “hoorder” van God se woord kon wees nie maar dat ek dit self moes gaan doen toe die geleentheid hom self voordoen.

Maak die besluit om van nou af nie net 'n hoorder van God se waarheid te wees nie maar om dit deel te maak van jou hele wese, daarin lê baie groot geestelike beloning.

Sterkte!

Kom ons bid. Here God, help my om U waarheid deel van my hele lewe te maak, dat ek dit nie net sal hoor nie maar ook sal doen. Vader gee my die moed om te dóén en nie net te praat nie. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.

No comments:

Post a Comment