Friday 28 November 2014

Eerste liefde - deur Anton Brink

Onthou jy nog die eerste keer toe jy jou hart op iemand verloor het? Onthou jy daardie opwinding wat gemaak het dat jy amper aan niks anders kan dink behalwe aan dié wat jou hart gesteel het.











Onthou jy nog hoeveel ure julle net bymekaar gesit het, dalk sonder om eens te praat en hoedat net om bymekaar te wees meer as genoeg was vir julle? Dit voel mos asof jy vir die res van jou lewe met net brood, water en liefde oor die weg sal kan kom.

Om niks terug te hou nie.

Wanneer jy iemand só hartstogtelik lief het, is 'n mens ook baie keer bereid om absoluut álles vir daardie spesiale persoon op te offer, maak nie saak wat dit is of hoe duur dit jou kos nie.

Hierdie is wonderlike oomblikke wat 'n mens graag vir die res van jou lewe wil hê en as 'n mens die voorreg het om so 'n liefde in jou lewe te hê is dit werklikwaar iets fantasties. So 'n liefde moet gekoester en gevoed word dat dit kan groei en later in iets nóg beter sal verander.

Ons liefdesverhouding met die Here is op 'n manier ook so. Aan die begin kan ons behoorlik nie wag om in Sy teenwoordigheid te wees nie en is die opwinding wat daarmee gepaardgaan amper onuithoudbaar. Ons lees graag Sy woord en wil graag tyd by Hom spandeer.

Net soos in die geval van 'n liefdesverhouding met 'n mens moet hierdie verhouding met die Here Jesus óók so gekoester word sodat dit sal groei tot iets nóg mooier en nóg beter en nóg sterker as wat ons aan die begin het.

Soos die tyd aanstap kom daar ook in ons verhouding met die Here sommige uitdagings net soos in 'n gewone menslike verhouding, dinge wat gebeur wat ons ontstel of teleurstel en wat ons dalk glad nie verstaan nie, al probeer ons ook hoe hard. Dit word dan soms vir ons moeilik om aan te gaan en begin ons partykeer erg in God se getrouheid, Sy liefde of ons begin selfs later in Sy vermoë te twyfel.

Wees gerus, jy is nie alleen nie. Daar is baie mense wat al deur presies dieselfde is as jy en die Bybel is ook vol van voorbeelde daarvan.

Kyk maar net na Job. Hy het God werklik geken en liefgehad maar hy sit daar op die ashoop nadat hy alles verloor het besig om te krap aan die sere op sy lyf met 'n stukkende potskerf. Selfs sy vriende het hom aangemoedig om God te vloek en dan te sterf, maar hy het nie. Hy het geweier om sy eerste liefde prys te gee en dit is nét daar waar die verskil in kom.

God wil nie net jou eerste liefde wees aan die begin, Hy wil jou eerste bly nou en vir altyd en wanneer dit met ons moeilik gaan moet ons kies dat Hy steeds ons eerste liefde is, maak nie saak wat nie.

Ons gee gou moed op en ons vergeet dat Jesus self en andere soos Job, Moses, Paulus, Stephanus, Dawid en nog vele meer het ook deur vreeslike persoonlike uitdagings en teleurstellings gegaan wat hulle in die gesig moes staar maar dat hulle ten spyte daarvan (op die moeilikste oomblikke van hulle lewens) gekies het om by God te staan en nie van hulle eerste liefde vir Hom afstand te doen nie.

Net soos in ons eerste liefdes verhouding met 'n man of vrou waar ons bereid is om alles vir daardie een te gee net so verwag God dit van ons. Onthou wat staan in Lukas 14: 33 – 35 geskryf, “Weet julle, so gaan dit ook met elkeen van julle wat agter My wil aankom. As julle nie bereid is om julle geld en julle besittings weg te gee aan ander mense wat swaarkry nie, kan julle nie my volgelinge wees nie. Julle wat my volgelinge is, is soos sout. Julle moet smaak gee aan hierdie smaaklose wêreld, maar wat help dit as julle self smaakloos is? Dan beteken julle niks meer vir My nie. Dan moet julle weggegooi word, presies net soos 'n mens maak met sout wat sy smaak verloor het. Julle moet mooi luister na wat Ek vir julle sê en dit ook gaan doen.”

As jy miskien iemand is wie se eerste liefde vir God vervaag en verflou het, dink dan aan die feit dat ten spyte daarvan nooi God jou steeds om tot Hom te nader en dat wanneer jy dit doen sal Hy dan weer op Sy beurt tot jou sal nader.

In Jakobus 4: 8 – 10 staan daar geskryf, “Gee net vir God plek in julle lewe. Wees hartseer oor alles wat julle verkeerd gedoen het. Moenie dink julle verkeerde lewe is sommer niks nie. Dit is iets waaroor julle baie sleg moet voel. Julle behoort daaroor te huil. Vee die glimlag van selftevredenheid van julle gesig af en wys hoe jammer julle oor julle sondes is. Inplaas van die lag van vrolikheid moet daar die traan van skuld en rou wees. Buig baie laag voor die Here. Sê dat jy jou hele lewe net vir Hom wil leef. God sal jou optel, daar waar jy in oorgawe voor Hom buig en jou op 'n ereplek regop, kop omhoog, langs Hom laat staan.”

Doen dit vandag. Erken voor God dat jou liefde vir Hom is nie meer eerste nie en dat al die ou nare dinge van die wêreld het die plek daarvan kom inneem. Hy sál jou vergewe, optel en herstel.

Kom ons bid. Vader ek verklaar vandag weer dat U wel my eerste liefde is. Ek is jammer dat ek vir 'n tyd daardie opregte liefde vir U laat verflou het maar ek wil hê dat my verhouding met U weer sterk moet wees en warm moet brand. Kom neem asb. weer vandag opnuut beheer oor my lewe, oor my siel, gees en liggaam en nader asb. tot my omdat ek van dag tot U nader. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.



Thursday 27 November 2014

Die vrugteslaai - deur Anton Brink

Nou Dinsdag wat verby is, is ek genooi om 'n jaareindfunksie by te woon by 'n pragtige en welbekende “up market” restaurant in Kaapstad.


Ons was nie vreeslik baie mense bymekaar nie, net agt om die waarheid te sê en een tafel was genoeg vir ons om almal gemaklik by te sit. Dit was só 'n lekker aand dat ons besluit het om te vra dat ons sommer by die tafels buite dié eetplek met aandete bedien word.

Gesellig.

Ons het vreeslik lekker gekuier. Om die waarheid te sê ons het só gelag dat ek op 'n stadium grappenderwys gesê het dat ons sal moet rustiger raak anders gaan die mense by die ander tafels ons dalk kom stilmaak.

Verskeie soorte.

Ons was 'n lekker groepie bymekaar uit verskillende ras en kulturele agtergronde soos Engels, Afrikaans, Xhosa, wit, bruin, swart. Ten spyte daarvan dat ons so wyd uiteenlopend was en eintlik baie rede gehad het om nié vriendelik en gesellig te wees nie, het ons steeds lekker gekuier.

Wat kies jy?

Hoe ervaar jy die mense saam met wie jy woon of die gemeenskap waarin jy bly, is dit vir jou soos daardie kookpot of soos 'n vrugteslaai? Dit is presies waaraan ek gesit en dink het terwyl ek daar aan tafel was saam met hierdie sewe ander mense waarvan net een my taal en kultuur deel.

'n Kookpot bestaan meestal uit verskillende bestanddele of voedselsoorte maar so ook 'n vrugteslaai en tussen ons het ons beslis die potensiaal gehad om soos daardie kookpot te wees. Tóg, omdat daar wedersydse agting en respek onder mekaar was, was dit vir elkeen van ons eerder soos om deel te wees van 'n vrugteslaai, vars en lekker.

Besluit self.

Hoe jy die wêreld om jou en die mense daarin ervaar hang in 'n baie groot mate maar net van jou self af. As jy kies om ongeduldig en ongeskik teenoor hulle te wees dan sál die wêreld vir jou soos daardie kookpot raak. As jy egter kies om onvoorwaardelike liefde en respek aan andere te betoon sal jy sien dat daardie selfde mense jóú ook heel waarskynlik op dienooreenkomstige wyse sal behandel.

Jou ingesteldheid of gesindheid bepaal dus in 'n groot mate jou eie persoonlike ervaring op die ou einde van die dag. Daar is 'n Engelse spreekwoord wat lui: “Your attitude will determine jou altitude.” Ek verseker jou hierdie sêding is baie waar.

In Filippense 1: 27 staan daar geskryf: “Gedra julle altyd so dat julle 'n advertensie vir Christus is. Daarmee moet julle regtig moeite doen. Ek wil net goeie dinge van julle hoor, of ek nou ja julle toe kom of nie. Ek wil hoor dat julle soos een man saamstaan en alles doen om ander mense te oortuig dat die goeie boodskap regtig goed is.”

Besluit dus om van vandag af nie mense op hulle baadjie te takseer en hulle dan daarvolgens te hanteer nie. Ek moes toevallig presies dít doen met een van die dames wat saam met my by daardie tafel gesit het.

Ek het haar in die destyds altyd ervaar as iemand wat nors, saaklik en eintlik bietjie onvriendelik is. Toe ek haar egter met tyd beter leer ken het ek agtergekom dat dit glad nie is soos wat sy is nie en dat dit maar net haar manier is hoe sy mense hanteer wie sy nie goed ken nie.

Sy doen dit nie aspris nie, dis maar net haar manier en as ek haar op haar baadjie takseer het, sou ons nie Dinsdagaand so lekker saam kon lag en gesels nie.

Wees jy ook vandag deel van daai vrugteslaai en kies teen 'n kookpot mentaliteit.

Sterkte!

Kom ons bid. Here help my om asb. my houding teenoor mense te verander en om hulle eerder lief te hê en te respekteer voor ek hulle wil beoordeel sodat hulle my dan ook so sal behandel. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


Wednesday 26 November 2014

Hiervan kan jy seker wees - deur Anton Brink

Daar is 'n baie ou Engelse gesegde wat die sê: “There are only two things certain in life, death and taxes.”



Ek wil egter 'n derde een hierby voeg en dit is die feit dat behalwe dood en belasting sál jy ook van dag tot dag allerlei probleme of uitdagings hê. Net omdat jy 'n gelowige is beteken dit nie dat jy van lewens storms gevrywaar is nie.

Die Here Jesus maak egter 'n baie belangrike stelling in die Bybel rakende hierdie kwessie wanneer Hy in Johannes 6: 33 die volgende punt aanraak: “Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê, maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”

God wil hê dat ek en jy rustig moet wees wanneer onvermydelike probleme, frustrasies en uitdagings opduik en dat ons eintlik maar op 'n manier moet aanvaar dat dit gáán kom of ons dit soek of nie.

Wanneer moeilikheid dan wel ons padlangs kom, moet ons nie angstig raak en verward rondkyk nie maar liewer ons self herinner dat Jesus dié stelling gemaak het en dat ons maar gerus vrede in Hom kan hê a.g.v. daarvan want Hy is in beheer en daar is niks wat Hom onkant kan betrap nie.

Ek weet dit is moeilik en 'n mens voel meeste van die tyd nie asof jy daardie vrede van God ervaar nie maar probeer ten minste begin met 'n keuse. 'n Keuse wat jy maak om te kies en te glo dat jy is in veilige hande.

Hoe bery jy jou self voor op moeilikheid en teenkanting? Deur naby aan die Here te bly in jou verhouding met Hom en in jou hart werklik te glo dat Sy beloftes waar is wanneer Hy sê dat Hy jou nooit sal begewe of verlaat nie, al gebeur wat ook al.

As jy dus iemand is wat vandag so bietjie sukkel met 'n probleem wat jou moedeloos of angstig maak onthou dan dat as jy 'n gelowige is dan ís God naby aan jou en Hy sal jou veilig deurdra tot aan die ander kant.

Onthou dat die Here sê ons kan moed hou want Hy het hierdie wêreld klaar oorwin. Ek hoop dat jy vandag daardie moed sal kan skep soos Hy van jou vra.

Sterkte!

Kom ons bid. Vader help my om anders na situasies te kyk. Help my om te sien soos U sien en om nie net in my probleme en teenkanting vas te kyk nie maar om te onthou dat U het dit klaar oorwin. Help my om deur te druk en om met 'n verwagting te kyk na die deurbrake wat U gaan bring. Ek vra dit in Jesus se naam. Amen.


Tuesday 25 November 2014

Glo is sien! - deur Anton Brink

Toe ons kinders was, het ons altyd vir mekaar gesê, “tóé, wys... sien is glo”.



Dit laat my eintlik lekker lag as ek nou weer daaraan terugdink. Min het ons geweet dat die teenoorgestelde eintlik die waarheid is, om te gló is om te sien.

In Hebreërs 11: 6 lees ons, “As 'n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.”

Let op dat die bogenoemde skrifgedeelte sê dit is onmoontlik om te doen wat God wil as jy nie glo nie. Daar is dus geen ruimte wat vir twyfel gelaat word nie.

Gelowiges moet begryp hoe belangrik dit is om waarlik te glo, om waarlik in jou hart oortuig te wees dat God sál doen wat Hy gesê het Hy sal, selfs al is presies die teenoorgestelde besig om te gebeur of al lyk iets ook vir jou hóé onmoontlik. As die Here gesê het dit sal wees dan sál dit wees kom wat wou.

Ek kan aan 'n keer of twee dink waar ek in geloof amper hardkoppig voet by stuk moes hou oor wat ek geglo het die Here vir my belowe het. Een keer spesifiek staan vir my uit. Dit was toe ek vir 'n werk aansoek gedoen het. Ek het geglo dat die Here het vir my belowe dat die posisie myne sou wees en ek het verwag dat die enigste korrespondensie van dié betrokke maatskappy sou 'n brief of telefoonoproep wees wat sê dat ek aangestel is.

Groot was my verbasing.

Toe ek my oë uitvee kry iemand anders die werk. Kan jy glo, dié einste posisie waarvoor ek aansoek gedoen het en wat ek geglo het die Here gesê het myne sal wees gaan staan en gee hulle toe vir iemand anders?! Ek het vir 'n paar oomblikke erg verward gestaan en wonder of ek dalk verkeerd gehoor het.

Wat gaan aan?

Ek het so bietjie angstig geraak en vir die Here gevra om vir my te verduidelik wat besig was om te gebeur en om seker te maak dat ek wel reg gehoor het. Sag en getrou soos altyd antwoord Hy toe en sê dat ek maar rustig kan wees, dit ís my werk, selfs al het iemand anders dit gekry.

Ek verstaan nie maar ons gaan maar aan.

Ek het gekies om dit wat God vir my sê onvoorwaardelik te glo en het ek besluit om my by Sy antwoord vir my te berus. Ek het nog 'n stappie verder gegaan en het as bewys van my geloof in God en my vertroue in Sy belofte aan my het ek glad nie vir enige ander poste aansoek gedoen nie. Ek het net rustig op Hom gewag.

Is jy nog beskikbaar?

Daar het seker so drie weke verbygegaan en toe, een oggend vroeg, kry ek 'n telefoonoproep. Ek antwoord en hoor ek toe die bekende stem van dieselfde man wat vantevore die onderhoud met my gevoer het tydens my aansoek by die betrokke maatskappy. “Stel jy nog belang in die werk?” vra hy my, “Ja, beslis” antwoord ek en, “Wanneer kan jy begin?” is sy volgende vraag.

God het gedoen wat Hy gesê het Hy sal selfs toe dit onmoontlik lyk en selfs toe presies die teenoorgestelde gebeur van ek geglo het Hy gesê het, sal.

Ek sou later uitvind dat hulle my eintlik reg van die begin af wóú aanstel máár dat daar het 'n ander man vir dieselfde pos aansoek gedoen en sy omstandighede was van so 'n aard dat hulle hom jammer gekry het en gevoel het dat hy het die werk meer nodig as ek. Na drie weke het hulle egter besef dat hulle 'n groot fout gemaak het.

As ek nie vas bly staan en bly glo het aan God se belofte vir my nie sou ek heel moontlik Sy plan en belofte vir my lewe gemis het. Gelukkig hét ek toe nie getwyfel nie en kon ek 'n fantastiese wonderwerk sien gebeur. Dis 'n baie lekker gevoel van versekering wat 'n mens kry wanneer jy God se hand so in jou lewe sien beweeg.

Dit stel 'n mens gerus dat al Sy ander beloftes in die Bybel óók waar is.

Is daar iets wat God aan jou beloof het en omdat jy dit nie gesien gebeur het, het jy kwaad of gefrustreerd geword en jou rug op Hom gedraai en toe op die ou einde net eenvoudig jou eie ding begin doen?

Moontlik is vandag jou geleentheid om dit voor die Here te erken en te vra dat Hy jou vir jou ongehoorsaamheid sal vergewe. Vertrou God se beloftes vir jou met jou hele hart en jy sal sien dat Hy hy jou nie sal teleurstel nie.

Kom ons bid. Vader ek is jammer dat ek begin twyfel het. Ek is jammer dat ek kwaad geword het en opgehou glo het. Vergewe my asb. Here en herstel my om weer 100 % binne U wil te leef. Help my om met my geestelike oë en ore te sien en daarmee te hoor eerder as met my fisiese oë en ore. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.



Monday 24 November 2014

Die polisieman, die handsak en die Pa - deur Anton Brink

'n Paar weke gelede moes ek en my vrou 'n saak van diefstal by die Polisie gaan aanmeld.

Dit was niks vreeslik ernstigs nie, ons het net ons motor by 'n plek laat was en een van die personeellede daar het toe gevoel dat die pak vol kinder DVD’s wat agter onder die sitplek gelê het eintlik aan haar behoort en toe vat sy dit.

Versekering.

Vir ons om 'n eis in te sit om te probeer om die waarde van die DVD’s terug te kry met 'n versekering uitbetaling moes ons noodgedwonge 'n klag by die polisie gaan lê sodat ons 'n saak nommer kon kry. Op die ou einde het die versekering toe ook nie eens uitbetaal nie maar dit is nie nou die onderwerp hier ter sprake nie.

Versigtig met haar woorde.

Terwyl ek en my vrou by die polisiebeampte sit en 'n verklaring gee van wat presies gebeur het sien ek hoe beantwoord 'n ander beampte 'n telefoonoproep. Ek kon duidelik hoor wat sy alles sê omdat sy net 'n klein entjie weg van my gesit het. Ek kon agterkom dat sy oomblikke later met hierdie telefoniese gesprek haar woorde behoorlik begin tel en dat sy nie té veel wou sê nie.

Na 'n rukkie het sy vir die persoon wat gebel het verduidelik dat sy nie oor die telefoon verder kón praat nie en dat hy maar liewer moet inkom na die polisiekantoor sodat hulle daar van aangesig tot aangesig dinge kan bespreek.

'n Groterige vaal handsak.

Toe die polisiebeampte die telefoon neersit draai sy na haar kollega en sê vir haar dat dié man wat nou gebel het, wou 'n jong vrou as vermis aangee. Toe sy egter mooi na die beskrywing van die meisie, die klere wat sy aangehad het asook die groot vaal kleurige handsak wat sy saam met haar gedra het luister, het sy besef dat dit presiés dieselfde beskrywing is van 'n jong vrou wat net die vorige aand van 'n brug afgespring het tot op die snelweg en sodoende haar eie lewe geneem het.

Dit was haar Pa.

Protokol by SAPS vereis dat sulke tragiese nuus nie sommer oor 'n telefoon met 'n naasbestaande gedeel moet word nie en dit is waarom sy die man wat gebel het (die meisie se Pa) toe gevra het om liefs na die polisiekantoor toe te kom sodat hulle in persoon die nuus kon oordra.

Na 'n rukkie.

Nie vreeslik lank daarna nie het 'n man en vrou, beide seker in hulle vyftigs, amper versigtig by die polisiekantoor ingestap. Ek kon sien dat hulle verwag die ergste en dit was ook so.

Die polisiebeampte het die handsak wat hulle in die kluis gehad het uitgehaal en aan die man en vrou gewys. Hulle het bevestig dat dit wel hulle dogter sin was waarna die diens offisier hulle toe na 'n kantoor iewers anders in die gebou vergesel het om die nuus met hulle te deel dat hulle dogter dood is.

Dis erg.

Ek kon my nie en wóú my eintlik nie indink hoe vreeslik erg dit vir daardie Pa en Ma moes wees om sulke nuus te moes hoor nie. Ek het hulle jammer gekry en sag by my self gebid dat die Here vir hulle sal onderneem.

Op pad huis toe.

Ek het daardie man en vrou nie weer gesien nie. Later toe ek en my vrou huis toe ry het ons weer daaroor gepraat en kon ek nie help om hardop te dink en te sê dat ek wonder of hierdie jong meisie wat selfmoord gepleeg het, en maar nét 19 jaar oud was, se saak met die Here reg was nie. Die feit is dat as sy die Here Jesus nie as verlosser en Saligmaker geken het nie sal sy nie die ewige lewe saam met Hom beërwe nie.

Ek weet daar is mense wat negatiewe kommentaar sal lewer en sal sê dat 'n gelowige sou in die eerste plek nie selfmoord gepleeg het nie en dat daardie meisie dus nie een kón wees nie maar dit is ongelukkig nie die realiteit nie. Daar is baie gelowiges wat so 'n drastiese stap oorweeg of selfs al probeer het. Die antwoord en reaksie daarop is dus nie so eenvoudig nie.

Dit eers daargelaat.

Of gelowiges so iets sou doen of nie maak nie nou saak nie. Wat ek wel by jou wil weet is of ken jy die Here Jesus Christus as verlosser en het die verlossing en vryspraak by die Kuis al aanvaar? Indien nie, moedig ek jou aan om vandag jou besluit te maak en sekerheid te kry oor waarheen jy op pad is.

Lees asb. die onderstaande gebed hardop saam en gee jou hart en lewe aan Jesus. Asb. wanneer jy dit dan gedoen het maak met ons kontak by Tygerberg 104fm en praat met ons beraders en gebed vriende sodat hulle jou kan help en raad gee. Ons nommer is 0861 104 104.

Kom ons bid. Hemelse Vader, vandag weet ek dat ek, soos alle mense wat gebore word op hierdie aarde, oppad is hel toe. Al lewe ek hoe goed, tensy ek by ’n punt kom waar ek besef dat ek ’n Verlosser nodig het, kan ek nooit uit my eie goeie dade of lewe die Ewigheid in U teenwoordigheid deurbring nie.

Dankie dat U Jesus, vir my sondes gesterf het, begrawe is en op die derde dag weer opgestaan het en opgevaar het na die hemel waar U aan die regterhand van God sit en my Voorspraak is. Ek bely vandag dat U die Seun van God is en dat U my verlossing duur gekoop het.

Dankie Heilige Gees dat U daagliks my metgesel is en dat U my leer en lei in die waarheid. Vandag aanvaar ek Jesus Christus as my Verlosser en Saligmaker en weet ek dat ek in U alles het wat ek nodig het om die Ewige Lewe te kry, volgens Joh. 17: 3

Ek dank U dat ek nou in ’n lewende verhouding met U kan wees en dat ek in U ’n Vriend en daaglikse Trooster en metgesel het. Amen


Friday 21 November 2014

Mnr. Smit - deur Anton Brink

Ek het 'n tyd gelede 'n baie mooi beskrywende verhaal gelees wat handel oor 'n silwer Smit, miskien ken jy dit?

Dit gaan oor 'n man wat 'n stuk silwer oor en oor in 'n baie warm oond druk. Die uniekheid van hierdie verhaal is die feit dat, vir die doeleindes van hierdie storie en die beginsel daar agter, kan hierdie stuk silwer praat asof dit lewe.

Meeste van ons weet seker dat om 'n edel metaal soos silwer 100 % skoon en suiwer te kry, moet jy dit smelt in 'n vreeslike warm oond. Om silwer ordentlik te smelt het jy 'n temperatuur van so net 'n rapsie onder 1 000 grade Celsius nodig.

Wanneer die silwer Smit dan aanhoudend dié pratende edelmetaal weer en weer in die warm oond druk, roep dit (die silwer) uit en vra die man hoekom hy dit doen. Die oond is tog so vreeslik warm en dit is glad nie lekker om daar in te wees nie.

Hoe lank nog?

Op 'n stadium roep die silwer uit in pure frustrasie en moedeloosheid en vra vir die Smit hoe lank die warm oond en smelt proses dan nog gaan aanhou waarop die man dan antwoord en sê: “Tot ek my eie refleksie in jou kan sien.”

Hoe werk dit?

Dit is regtig so, die beste manier om te sien of silwer, goud ens. heeltemal skoon en suiwer is en of al die vuiligheid daar uit gebrand is, is wanneer die een wat die smeltwerk doen sy eie beeld of refleksie daar in kan sien. Slegs dán is dié edel metaal gereed om gebruik te word en in 'n pragtige juwelier stuk soos 'n ring of 'n halssnoer gegiet te word.

Benoud en angstig.

Die vraag is, is jy iemand wat kan getuig daarvan dat dit op die oomblik vir jou voel asof jý in daardie oond is. Ervaar jy die benoudheid, angs en spanning van 'n situasie wat vir jou só moeilik is dat jy twyfel of jy dit sal kan hanteer en wonder jy ook en wil jy ook vir die silwer Smit vra hoekom, waarom en wanneer hou dit op?

Hou goeie moed. Die silwer Smit, die Here is besig met jou. Hy sal jou nie vernietig nie. Hy is net besig om al daardie onsuiwerhede uit jou te haal sodat Hy en die wêreld vir Hom binne-in jou kan sien.

In Jakobus 1: 2 – 4 staan daar geskryf: “My liewe mede Christene, wees opgewonde as julle geloof by elke geleentheid getoets word. Julle weet mos hoe goed dit vir julle geestelike lewe kan wees. Die slegte dinge wat met julle gebeur, toets of julle werklik die Here vertrou. As dit met julle sleg gaan, leer julle juis om nader aan die Here te leef. Julle moet die Here toelaat om julle deur hierdie dinge te leer wat dit beteken om altyd net op Hom te vertrou, kom wat wil. So sal julle geestelike grootmense word wat weet hoe om in elke situasie re op te tree.”

Sterkte!

Kom ons bid. Hemelse Vader gee my asb. die krag en wysheid om die beproewinge in my lewe deur te staan. Beskerm my asb. in hierdie tyd Here dat ek sal aanhou en uithou totdat U en die mense rondom my vir U binne-in my kan sien en sodat U my sal kan gebruik tot U eer. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen



Thursday 20 November 2014

Deur dik en dun - deur Anton Brink

God is nie 'n mens nie en dus redeneer Hy ook nie soos ene nie, gelukkig tog dáárvoor!


Die Here maak nie besluite wat op wispelturige emosies gebaseer is nie. As dit so was, sou ek en jy regtig groot probleme gehad het. Kan jy jou indink hoe dit sou wees as God die een oomblik van plan is om jou by te staan om dan die volgende oomblik skielik van plan te verander net omdat Hy kwaad is vir jou?

Nee, God se manier van dink en besluite neem hang nie af van hoe Hy op enige gegewe oomblik voel nie maar eerder van wat Hy gekies het om te doen of nie te doen nie.

God ervaar emosie.

Moenie dink dat God nie emosie ervaar nie, dit is nie die waarheid nie. Hy ervaar gevoel of emosie net soos ons. Ons lees in Genesis 1: 27 dat ons is na Sy beeld geskape. Ons kan dus aanvaar dat ons emosies ervaar omdat Hy dit ervaar, die verskil is dat anders as ons, Hy nie deur Sy emosies gelei word nie.

God kan kwaad word.

Kwaad word, dis is 'n emosie, en as daar nou een iemand vir wie jy nié wil kwaad maak nie dan is dit nou God. Ons lees van God se toorn in die Bybel en ons weet ook dat daar sal 'n dag kom wanneer Sy genadetyd oor hierdie wêreld en elke mens wat Hom verwerp gaan uitloop.

Wanneer daardie dag kom, sal Sy oordeel of toorn op elke mens val wat Hom nie wou ken nie. Om maar net één gedeelte uit die Bybel te sien wat praat oor God wat kwaad word gaan lees Romeine 1: 18.

God kan hartseer word.

Ons lees in Efesiërs 4: 30 dat ons aangemoedig word om nie die Heilige Gees te bedroef nie, m.a.w. om Hom nie hartseer te maak nie. Ons kán deur ons sonde en ongehoorsaamheid vir God, die skepper van die hemel en die aarde hartseer maak. Sy hart breek oor my en jou ongeregtigheid.

God hou van lag en blydskap.

Jy kan net iets vir iemand gee as jy dit self het. In Job 8: 21 staan daar geskryf: “Job, Hy sal jou weer laat lag en uitroep van blydskap.” Dit is God wat lag en blydskap vir Job sal gee.

Ons kan vir ure aangaan.

Emosies is volop en ons kan nog heeldag daaroor gesels en vir ure aaneen daaroor praat. Die feit is God ervaar emosie net soos ons máár met dié verskil, dit bepaal nie sy doen en late nie. Dit bepaal nie of Hy by jou gaan bly of nie, of Hy aan jou getrou gaan wees of nie.

As jy aan Hom behoort bly Hy by jou deur dik en dun, maak nie saak wat nie. Sy emosies bepaal nie Sy getrouheid nie, Hy kies om dit te doen, daarom doen Hy dit wat Hy gesê het Hy sal.

In Eksodus 20: 6 staan daar geskryf: “Ek bly getrou en my liefde bly altyd staan vir duisende geslagte lank vir almal wat lief is vir My en aan My gehoorsaam is.”

Jy sal oplet dat daardie skrifgedeelte nié lees: “Ek bly getrou wanneer ek 'n lekker dag het, goed voel en Ek lus is daarvoor en My liefde bly altyd staan vir solank Ek so voel vir duisende geslagte lank vir almal wat lief is vir My en aan My gehoorsaam is.” Hy bly getrou al voel Hy hartseer, kwaad of teleurgesteld. Dankie tog!

Vir gelowiges.

Onthou dat hierdie voorreg waar God belowe om jou nooit te begewe en nooit te verlaat nie is op gelowiges van toepassing. God bly aan my en jou getrou omdat ons aan Hom behoort, dit geld nié vir ongelowiges nie. Om die waarheid te sê God beloof in Sy woord dat Hy met hulle (ongelowiges) gaan afreken en dit klink vir mý maar baie onaangenaam.

So, as jy iemand is wat die Here Jesus ken as verlosser wees dan vandag gerus en weet verseker dat God jou nooit maar nooit sal los, vergeet, verstoot of alleen los om self aan te sukkel of uit die moeilikheid uit te kom nie.

Hy sal by jou bly staan, deur dik en dun.

Kom ons bid. Here ek is so ongelooflik dankbaar dat U aan my getrou bly selfs al is ek nie. Dankie, Vader dat ek vandag kan wéét staan by my deur dik en dun al gebeur wat ook al. Sal U my asb. altyd herinner dat U by en saam met my is elke dag en in elke situasie. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.



Wednesday 19 November 2014

Huis Paleis - deur Anton Brink

Jou grootste terugslag, teleurstelling en verlies het die baie werklike potensiaal om ook te verander in jou grootste verhaal van oorwinning.


Ek het lank gelede met 'n gesin kennis gemaak met wie presies dit, verlies en teleurstelling, gebeur het en wie ook later só 'n oorwinning behaal het. Hulle kan nou nog getuig van God se getrouheid midde-in hulle storm.

Terug in tyd.

Kom ek neem jou eers terug in tyd, een en twintig jaar terug om die waarheid te sê na 'n tyd toe dit met hierdie gesin goed gegaan het. Dit was 1993 en dit was vir hulle 'n jaar soos enige ander. Die Pa, Ma en twee kinders het 'n normale goeie Christen lewe gelei, hulle was betrokke by die kerk en het graag (en met oorgawe) gehelp en bygedra om die kerk en sy sendelinge te ondersteun. Sendelinge het ook gereeld by hulle aan huis gekom en oorgebly wanneer hulle in die Kaap was vir konferensies ens.

Die Pa was 'n bouer, 'n goeie een, en het sy lewe lank met sy eie twee hande hard gewerk om te kom waar hy is. Dit het goed gegaan en hy kon vir sy gesin 'n reusagtige groot huis teen die heuwel bou met 'n uitsig oor die hele stad, berg en hawe. Hierdie huis was indrukwekkend om die minste te sê en hulle as gesin kon met reg trots wees daarop. Mense het (en staan steeds) in verwondering na hierdie paleis en kyk wanneer hulle daar kom.

Toe gebeur die ondenkbare.

Op 'n dag kry dié Pa, kom ons noem hom sommer Petrus, 'n groot kontrak om vir 'n baie welgestelde Sweedse burger bouwerk te doen. Dié Sweedse man en sy vrou het gehou van die klimaat in Suid-Afrika en wou 'n groot en mooi huis hê waarin hulle vir 'n paar maande elke jaar kon kom bly as hulle wou.

So gesê, so gedaan en kort voor lank, na baie harde werk en 'n klomp geld is die huis toe klaar en wou Petrus sy rekening van dié Sweedse man en sy vrou vorder vir die werk wat hy gedoen het.

Geen betaling.

Niemand het dit sien kom nie. Die Sweedse man en sy vrou was skelms en was van die begin af nie van plan om vir Petrus al sy geld te gee nie. Hulle het hom ingeloop sonder om één aand se slaap daaroor te verloor. Petrus het alles gedoen wat hy kon maar na baie praat, dreig en prokureurs onkostes moes hy moed opgee of hy wou of nie en hy was op die einde sy geld kwyt.

Die maer jare.

Die gevolg van hierdie verlies was groot. Petrus en sy vrou het nie geweet wat om te doen nie en moes stelselmatig so stuk vir stuk van hulle besittings begin verkoop om darem net te probeer om hulle uitgawes te dek. Vir 'n tyd lank was hulle regtig met hulle hande in hulle hare.

Toe gebeur dit.

Eendag maak Petrus se vrou 'n voorstel. Sy sê vir hom dat hulle tog nie regtig so 'n vreeslik groot huis nodig het nie en dat hulle net sowel 'n gedeelte daarvan kon gebruik om vir hulle 'n inkomste te genereer. In 'n japtrap verander hulle toe 'n deel van dié paleis en begin hulle dit toe soos 'n gastehuis verhuur.

Een en twintig jaar later.

Vandag, 21 jaar later sal jy verstom staan as jy sien waar hulle nou is. God het daardie nare situasie omgedraai. A.g.v. die besluit om 'n tipe van 'n gastehuis aan die een kant van hulle huis te begin het hulle nou vandag (na al hierdie jare) altesaam ongeveer vyftien mense wat permanent vir hulle werk en Petrus se vrou se besigheid staan nou as Smithland Gaste Woonstelle bekend. Die suksesvolle besigheid wat hulle vandag besit is m.a.w uit hulle storm gebore.

Hulle kyk nie een dag terug nie.

God het gekom en hulle grootste verlies en teleurstelling in hulle grootste oorwinning verander. Hy kan en sal dieselfde vir jou ook doen. Toe dit sleg gaan en die teenspoed hierdie gesin tref was hulle nie vir God kwaad daaroor nie, inteendeel, hulle het nader aan Hom beweeg as ooit tevore en Hy het hulle gered.

In Psalm 91: 14 – 15 (Boodskap vertaling) staan daar geskryf: “Die Here se self: “Iemand wat My lief het, sal Ek uit enige gevaar bevry. Ek sal hom beskerm omdat hy My vertrou. Wanneer hy My om hulp vra, sal Ek hom help, Ek sal hom in enige krisis bystaan. In Sy nood sal Ek hom help. So sal Ek eer aan hom bewys.

Kyk ook wat staan in Psalm 50: 23 waar daar geskryf staan: “Weet julle watter geskenk maak my hart bly? As julle vir My dankie se deur julle optrede. Die mense wat so leef, sal Ek altyd help.”

Vra die Here om ook jou verlies en teleurstelling in 'n oorwinning te verander. Onthou, dit is ná die reën en stormweer dat jy 'n reënboog sien, nie voor die tyd nie.

Sterkte!

Kom ons bid. Here ek is angstig. U weet wat met my gebeur het en ek is bang. Vat my asb. deur hierdie storm en bring my veilig anderkant uit sodat ek ook kan getuig van U goedheid en hoe U my deur gedrag en gered het op die regte tyd. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


Tuesday 18 November 2014

Jy met jou bolwange - deur Anton Brink

Kyk, het ek darem nou die dag lekker gelag.

Ek sit so en gesels met 'n goeie vriendin van my en my vrou en ons begin toe te praat oor iets in haar lewe wat onlangs net heeltemal skeef geloop het. Dit was gelukkig nie iets vreeslik ernstig nie maar dit was nog altyd genoeg vir haar om sommer lekker oor vies te wees en om met sulke bol wangetjies en hande op die heupe by die Here daaroor te kla.

Ek kan om die waarheid te sê nie eens onthou wat dit was waaroor sy so omgekrap was nie maar die beginsel daaragter steek nog altyd in my kop vas.

In elk geval, sy het my vertel dat net níks wou uitwerk soos wat sy dit beplan het nie en op die ou einde was alles sommer net 'n groot flop. Ek moet erken dat aanvanklik hét ek nogal simpatie met haar gehad maar hoe meer ek na haar geluister het hoe meer het ek agtergekom dat dié suster se probleme het ontstaan a.g.v. haar eie simpel besluite wat sý gemaak het en nou wil sy vir die Here kwaad wees daaroor?!

Eers toe ek haar grappende wys op hierdie paar feite wys wat sy so gerieflikheidshalwe van vergeet het, het ek én sy albei kliphard begin skater van die lag omdat sy moes toe maar so skaam skaam erken dat die gemors hét sy ontstaan gehad omdat sy nie gedoen het wat sy moes nie.

Ek kon toe nie anders as om haar te vertel van 'n ander persoon wat lank terug ook vir my 'n soortgelyke storie vertel het nie. Dit was toevallig ook 'n vrou gewees en die situasie was nou nie presies dieselfde nie maar dieselfde beginsel het daar ook gegeld.

Dié vrou, kom ons noem haar sommer Venescke, het eendag vroegaand seker so sewe of agt jaar gelede in Durban weg opgery op pad na 'n baie belangrike afspraak. Net duskant Tygervallei rigting Durbanville gebeur dit toe, haar motor gaan staan nét daar anderkant die verkeerslig sonder brandstof en haar eerste reaksie is om met 'n gebalde vuisie op die stuurwiel te slaan en te sê: “Nee, Here nie nóú nie, hoe kan U dit toelaat om te gebeur...”

Moenie vir God die skuld gee nie.

Wie is die een wat veronderstel was om te sorg dat daar brandstof in daai voertuig is, sy of God? Ons kan nie die blaam vir God gee wanneer ons self simpel keuses en besluite maak nie.

In Deuteronomium 30: 19 staan daar geskryf: “Vandag gee ek vir julle die keuse: kies tussen lewe en dood. Kies of julle wil hê dat dit voorspoedig met julle moet gaan en of julle wil hê teëspoed moet al agter julle aantrek. God In die hemel en al die mense op aarde sien wat julle vandag kies. Ag, mag julle tog maar die lewe kies! Dan wag daar 'n wonderlike toekoms vir julle en vir julle kinders en vir julle kleinkinders.”

Ons kan in baie gevalle self besluit of teenspoed of gaan tref of nie bloot net deur die regte besluite te neem en te doen wat ons weet ons moet. Kies jy ook vandag die lewe soos wat ons in Deuteronomium lees en maak so seker dat jy uit teenspoed se pad bly.

Kom ons bid. Vader God ek kies vandag die lewe. Ek kies om te doen wat ek weet reg is al voel dit nie vir my lekker nie. Ek weet dat U my regte besluite sal eer en dat U my daarvoor sal seën. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.



Monday 17 November 2014

Kry die regte adres - deur Anton Brink

Dis nou net so klein bietjie meer as twee weke sedert my Pa oorlede is en dit voel steeds vir my baie onwerklik.



Ek staan nou nog partykeer onbewustelik en wonder waarmee hy en my Ma dalk alles besig is daar op hulle tuisdorp en dan val dit my skielik by dat hy weg is, dan voel dit weer van vooraf vir my so onwerklik, maar die lewe gaan seker maar aan of ons nou wil of nie.

Elkeen van ons is eintlik besig om dood te gaan. Mensdom, maar dís darem nou vir jou 'n negatiewe en morbiede stelling so vroeg op 'n nugter maag of hoe? Ja, dit is nie so vreeslik lekker om daaraan te dink nie maar elkeen van ons ís besig om dood te gaan. Dit is die klipharde, eerlike en rou waarheid en nie een van ons gaan dit ontsnap nie.

Elke liewe mens op hierdie aarde, al word hy ook nóú op hierdie oomblik gebore, sal in alle waarskynlik oor 100 jaar van vandag af nie meer hier wees nie. Een van twee dinge gaan gebeur. Hy gaan of te sterwe kom óf die Here Jesus sal terugkeer met Sy wederkoms.

In beide gevalle beter jy seker wees dat jy jou besluit reeds betyds gemaak het en dat jy aan die regte kant van die spreekwoordelike draad staan voordat dit te laat is.

Ek draai nie doekies om nie.

Toe die predikant by my Pa se roudiens vir my gevra het om vorentoe te kom en die bedankings te doen het ek besluit om meer as net dit te doen. Nadat ek vir elkeen erkenning gegee het vir die rol wat hulle in ons as huisgesin se lewens en spesifiek my Pa se lewe gespeel het, het ek begin praat oor die realiteit van die dood en wat daarna op ons wag. Ek het nie doekies omgedraai nie.

Ek het voor al daardie mense gaan staan en hulle aangemoedig om hulle tot God te bekeer voor die tyd vir hulle ook aanbreek soos dit vir my Pa het. Meeste van die mense daar ken my al van kindsbeen af en het hulle my letterlik voor hulle sien grootword en dit was effens intimiderend.

As jy regtig omgee.

Terwyl ek na hulle staan en kyk en ek praat oor die Evangelie van Jesus Christus, die Kruis en die ewige lewe in God se teenwoordigheid het ek besef dat om vir iemand lief te wees en om vir mense om te gee beteken dat jy bereid sal wees om soms met hulle 'n ongemaklike of selfs die harde waarheid te deel.

Ek is nie seker nie.

Ek kon nie anders as om die waarheid met hulle te deel en te sê dat al ís dit my eie Pa en hulle geliefde vriend wat daar buite in die lykswa dood in 'n kis lê kan ek nie met sekerheid sê dat hy hemel toe is nie en dat ek net kan hoop dat hy sy saak met die Here reggemaak het toe ek 'n tyd gelede so ernstig met hom daaroor gepraat het nie.

Daar is net een pad.

In Johannes 14: 6 (Boodskap vertaling) staan daar geskryf: “Jesus sê toe: “Laat Ek dit so stel: Ek is die ‘pad’ en my Vader die ‘adres’. Wie hierdie pad loop, kom by die ware lewe uit. As iemand 'n ander pad loop, sal hy nooit by my Vader uitkom nie.”

In die ’83 vertaling sê dit: “Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.”

In die Amplified staan dit só daar geskryf: “Jesus said to him, I am the Way and the Truth and the Life; no one comes to the Father except by (through) Me.”

Ek hoop dat jy die erns van vandag se boodskap raaksien en waardeer en dat jy nou 'n besluit sal maak oor die Here Jesus en die Kruisdood. As jy vandag die Here Jesus as verlosser wil aanvaar lees dan asb. die onderstaande gebed hardop saam en gee jou hart en lewe vir Hom.

As jy dit klaar gedoen het tel dan dadelik die telefoon op en bel ons gebed vriende by Tygerberg 104fm en vertel hulle van jou besluit en laat toe dat hulle vir jou verder help. Die telefoonnommer is 0861 104 104.

Sterkte!

Kom ons bid. Hemelse Vader, vandag weet ek dat ek, soos alle mense wat gebore word op hierdie aarde, oppad is hel toe. Al lewe ek hoe goed, tensy ek by ’n punt kom waar ek besef dat ek ’n Verlosser nodig het, kan ek nooit uit my eie goeie dade of lewe die Ewigheid in U teenwoordigheid deurbring nie.

Dankie dat U Jesus, vir my sondes gesterf het, begrawe is en op die derde dag weer opgestaan het en opgevaar het na die hemel waar U aan die regterhand van God sit en my Voorspraak is. Ek bely vandag dat U die Seun van God is en dat U my verlossing duur gekoop het.

Dankie Heilige Gees dat U daagliks my metgesel is en dat U my leer en lei in die waarheid. Vandag aanvaar ek Jesus Christus as my Verlosser en Saligmaker en weet ek dat ek in U alles het wat ek nodig het om die Ewige Lewe te kry, volgens Joh. 17: 3

Ek dank U dat ek nou in ’n lewende verhouding met U kan wees en dat ek in U ’n Vriend en daaglikse Trooster en metgesel het. Amen


Friday 14 November 2014

Wanneer God jou oornooi vir ete - deur Anton Brink

Het jy al foto’s gesien van kindertjies wat ondervoed is?


As jy al ooit beeldmateriaal oor die tweede wêreldoorlog gesien het van volwassenes en kinders in konsentrasiekampe of dalk meer onlangse nuusberigte oor hongersnood iewers in die wêreld dan sal jy presies weet waarvan ek praat.

Dit is glad nie mooi om te sien nie.

Daardie kinders se koppe en oë lyk so groot en hulle lyfies is lank, maer en totaal uitgeteer met sulke vet pensies. Hulle kry nie ordentlike voedingstowwe nie en kan dus nie ordentlik groei en ontwikkel om uiteindelik gesonde volwassenes te word nie.

Daar is té veel gelowiges wat geestelik ook so lyk.

God se woord leer vir ons dat ons gees gevoed moet word sodat ons geestelik sterk en volwasse kan word.

Ongelukkig is daar 'n groot hoeveelheid gelowiges wat hulle net glad nie veel steur aan hierdie geestelike eet program nie. Ons kou hier 'n bietjie en kou daar 'n bietjie, stop so nou en dan by 'n geestelike “drive thru” restaurant om darem net gou weer ietsie in te kry maar op die ou einde is daardie “happies” nie regtig genoeg om vir ons volhoubare geestelike groei en stamina te verseker nie.

Om wasdom in jou gees te bereik verg 'n ordentlike toepassing van 'n porsie dissipline in jou lewe waar jy gereeld tyd by die Here spandeer sodat Hy jou van binne af kan voed, leer en lei.

Iemand het eenkeer gesê “a disciple without discipline becomes a disgrace” of in Afrikaans “'n dissipel sonder dissipline word 'n verleentheid”. Maak seker dat jy vir jou self die (gewoonte) aanleer om op 'n gedissiplineerde wyse tyd in te ruim om saam met God aan tafel te gaan sit.

In Romeine 12: 2 (Boodskap vertaling) staan daar geskryf: “Moenie tuis raak in hierdie wêreld met al sy boosheid nie. Nee, laat God julle van binne af nuut maak. Laat Hy julle manier van dink verander sodat julle kan weet wat Hy van julle verwag. Dan sal julle ook weet wat Sy wil is en hoe julle julle lewe elke dag aan Hom moet oorgee.”

Dit wat daar in Romeine 12: 2 geskryf staan kan net gebeur wanneer jy aan die Here behoort en met Hom tyd bestee.

Paulus verwys na ons lewe hier op aarde as 'n wedloop wat ons moet voltooi.

Hoe wil jy jou wedloop ordentlik hardloop as as jy nie goed en reg geëet het nie? As jou gees honger is, gaan jy begin uitsak.

Wanneer jy die Here se geestelike spys en drank inkry sal jy sien en ervaar hoedat jy al hoe meer begin leef, dink en praat soos wat Hy wil hê dat jy moet en jy sal ook baie makliker kan onderskei tussen reg en verkeerd.

Later sal jý selfs die een word wat die pas kan begin aangee vir ander gelowiges wat raad en ondersteuning nodig het.

Sterkte!

Kom ons bid. Here God voed my asb. elke dag met U spys en drank sodat ek kan groei en sterk word in hierdie wedloop van die lewe. Herinner my Vader om gereeld by U tyd te spandeer en ontmoet my asb. daar waar ons twee saam aan tafel gaan sit.


Thursday 13 November 2014

Die dag toe die vis nie wou byt nie - deur Anton Brink

In Mattheus 4: 19 staan daar geskryf, “Hy sê toe vir hulle: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.”


Ek het 'n paar maande gelede tydens die skoolvakansie vir my seun (8) belowe dat ek en hy 'n bietjie kan probeer visvang. Ek self weet eintlik maar bitter min as dit kom by hierdie stokperdjie en het ek dit ook baie jare laas enigsins probeer doen.

Maar, so gesê so gedaan en ek, hy, my vrou en ons dogtertjie (6) sit toe af see toe om te gaan “lyn natmaak”. By die hawe gekom kry ons vir ons 'n sitplekkie en met baie opgewondenheid en 'n groot verwagting gooi ons die sinker en hoek in die water.

Meer as twee ure gaan verby maar niks gebeur nie. My vrou en (veral) die kinders raak later verveeld en sy (my vrou) besluit om die kinders liefs na 'n nabygeleë speelplek te neem om hulle besig te hou.

Ek aan die ander kant weier volstrek om moed op te gee en ek bly sit. My eer is immers op die spel! Ek het dan my seun belowe ons gaan 'n vis vang en ek kan mos nou nie loop voor dit nie so is nie al het ek eintlik begin oortuig raak daarvan dat daar beslis geen vis daar was óm te vang nie.

Nie lank na my vrou en kinders weg is nie kom 'n jong man na my toe aangestap en vra of ek al iets uit die water getrek het. Met 'n verleë glimlag moes ek toe erken dat daar nog niks selfs probeer byt het nie. Hy wou toe by my weet watter soort aas ek aan die hoek gesit het.

Ek vertel hom toe dat ek het sommer 'n stukkie vals (rubber) aas op die hoek gesit omdat die visse mos nie die verskil ken tussen regte en vals aas nie en dat hulle dit sekerlik nie sal agterkom nie. Wat weet 'n vis tog in elk geval?

Hoe verkeerd was ek nie! Toe ek die lyn inkatrol om vir die jong man (sy naam is Sebastian) die rubber aas op my hoek te wys het hy amper van sy stoel afgeval soos hy lag en my die versekering gegee dat ek niks op aarde daarmee sal vang nie, al sit ek ook hoe lank daar.

Hy (Sebastian) gaan haal toe vir my die ware jakob in die vorm van modder prawn of kappers soos hulle dit noem en sit dit toe vir my op die hoek. Sekondes na ek die hoek weer terug in die water laat sak het, kon ek voel hoe die visse (wat maar nog die hele tyd daar was) aan die aas begin byt.

Ek en Sebastian het op die ou einde vir seker nóg twee ure daar bly sit en ek kon nie glo hoe baie keer ek kon voel hoe die visse aan my aas kom knaag het nie en boonop aanmekaar my aas afvreet nie. Uiteindelik na 'n lang tyd (en toe my seun terug is) het ek 'n ou klein Steenbrassie gevang wat ek toe maar van die hoek afgehaal en weer terug gegooi het.

Die Here Jesus het vir ons belowe dat Hy maak van ons “vissers van mense” maar net soos ek daardie dag by die hawe op Knysna ervaar baie van ons dat ons maar vrot “vissermanne en vroue” is.

Ons is vreeslik gretig om die evangelie met 'n ongeredde wêreld te deel maar ons “aas” is verkeerd. Ons begin mense vertel van 'n klomp reëls, van 'n klomp dinge wat hulle moet en nie moet doen nie nie eerder as om hulle te vertel net hoe baie ons en (veral) God vir hulle omgee en lief is. Daar is 'n ou sê ding, “people don’t care how much you know until they know how much you care.”

Ek glo die “aas” wat ons moet gebruik staan vir ons duidelik in in God se woord geskryf. Galasiërs 5: 22 – 23 “Die vrug van die Gees daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.” Wanneer ons hierdie dinge in ons lewens (prakties) begin toepas, en nie net praat daaroor nie, sal die wêreld en almal daarin sien dat ons vir hulle omgee.

Mense (gered of ongered) kan gou die verskil agterkom tussen 'n stuk rubber (vals) aas en die ware jakob. Wanneer jy opreg is en ware liefde uitleef sal alle mense outomaties na jou toe aangetrokke voel en sal hulle jou toelaat om jou boodskap van hoop en verlossing met hulle te deel.

Kom ons bid. Vader, dankie dat U my red en vir my lief is al maak ek nog baie baie foute. Ek vra U Here in die naam van my verlosser Jesus Christus om my te help en te transformeer in iemand wat elke dag die vrug van die Gees uitleef sodat ek ander van U kan vertel. Ek vra dit in Jesus se naam. Amen.



Wednesday 12 November 2014

Kragonderbreking - deur Anton Brink

Vir ons om geestelik te groei en om daardie “oop kanaal” vir die Here te wees moet ons sorg dat ons verhouding met God op die regte plek is. Wanneer dit nié is nie sal jy dit baie vinnig agterkom.



Jy hoor partykeer dat gelowiges kla hulle sukkel om God se stem te hoor of dat hulle nie 'n antwoord van die Here kry oor een of ander saak nie. Ek ken die gevoel persoonlik al te goed en ek weet dat dit is baie frustrerend.

As jou verhouding met die Here vir jou belangrik is dan sál jy moeite doen om te probeer agterkom wat fout is. Wanneer jy dan by God se voete stil raak sal Hy ook getrou wees om vir jou te sê wat fout is.

Onthou, dit is jóú verantwoordelikheid om eerste by die Here te hoor, die Bybel leer vir ons om eers te nader tot God en dán sal Hy tot ons nader.

Waar lê die probleem?

Ek onthou so goed hoedat ek 'n paar jaar gelede een warm someraand in die middel van die nag amper benoud wakker geword het van die verskriklike hitte. Die sweet het my behoorlik afgetap. Ek kon nie verstaan hoekom ek so warm kry nie want ek hét tog die waaier aangeskakel voor ek gaan slaap het.

Kort voor lank besef ek toe dat die krag gedurende die nag afgegaan het en dat dit nét in ons huis af was en niemand anders nie omdat ek deur ons kamer venster die buite ligte van die bure se huis kon sien brand.

My eerste reaksie was om in die stik nag donker en val-val oor die kinders se speelgoed na die koopkrag meter toe te stap om te sien of daar nog genoeg elektrisiteit eenhede beskikbaar was en of dit nie dalk op geraak het nie. Na deeglike inspeksie kon ek aflei dat dít nie was waar die probleem lê nie.

Die skakelaars op die distribusie bord.

Ek neem toe die flits en een vir een begin ek toe die skakelaars op die elektrisiteit distribusie bord in ons kombuis van 'n kant af aanskakel om te sien watter een dit is wat die krag laat afskop.

In 'n japtrap sien ek toe dat die oomblik wanneer ek die warmwatersilinder aanskakel skiet die hoofskakelaar outomaties af. Dit móét toe daar wees waar die probleem lê. Iewers op die warmwater silinder is daar 'n kortsluiting wat die kragtoevoer na die huis onderbreek.

Eers die volgende oggend toe die son opkom en ek buite na die warm silinder (wat teen die muur by die agterdeur vas was) gaan kyk, het ek op die ou einde gesien dat daar water op die elektrisiteit kabels wat krag na dié silinder toe voer gekom het en dat water aanhoudend op hierdie kabels bly drup.

Waar is jóú kortsluiting?

Iets soortgelyk gebeur ook met my en jou in ons geestelike lewens. Ons beleef 'n “krag onderbreking” wanneer ons skielik sukkel om die Here se stem te hoor of ons ervaar dat iets net nie reg is nie. Wanneer ons dan ordentlik gaan ondersoek instel sal ons waarskynlik vinnig agterkom waar die probleem lê omdat die Heilige Gees dit vir ons sal wys.

Meeste van die tyd is hierdie “kortsluiting” wat ons beleef a.g.v. die feit dat ons iewers die Heilige Gees bedroef het. Hoe bedroef ons die Heilige Gees, deur aan hom ongehoorsaam te wees en dit is belangrik dat ons moet uitvind waar.

Ek vermoed dat ons in meeste gevalle eintlik alreeds weet maar ons probeer dit ignoreer want dit beteken dat ons moet gaan regmaak en dis nie altyd so lekker nie. Hou net ingedagte, as jy nié gaan regmaak nie sal die Heilige Gees se krag nie verder deur jou vloei.

Sorteer dit (jou oortreding) liewer vinnig uit en doen dit gouer eerder as later.

Dit is régtig die moeite werd. Onthou wat staan in 2 Timotheus 1: 7 dat God gee vir jou 'n Gees van krag, liefde en selfbeheersing. Hy wil nie kragteloosheid by jou hê nie. Dit is nie Sy wil of plan vir jou nie.

Kom ons bid. Vader ek is geestelik kragteloos omdat ek ongehoorsaam was. Ek is jammer daaroor en ek vra dat U my asb. sal vergewe. Help my om nou op hierdie oomblik reg te maak en te doen wat ek weet ek sodat ek weer daardie gees van krag, liefde en selfbeheersing in my lewe kan ervaar. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


Tuesday 11 November 2014

Moenie worry nie, watch net! - deur Anton Brink

God kan jou bietjie in baie verander!



As jy my nie wil glo nie gaan lees dan gerus Johannes 6: 5 – 13. Dit sê die volgende: “Toe Jesus rondkyk en sien dat 'n groot klomp mense na Hom toe aankom, sê Hy vir Filippus: “Waar kan ons brood gaan koop sodat die mense kan eet?”

Dit het Hy net gesê om hom op die proef te stel, want Hy het self goed geweet wat Hy gaan doen.

Filippus antwoord Hom toe: “Twee honderd mense se dagloon is nie eers genoeg om elkeen van hulle 'n stukkie brood te laat kry nie.”

'n Ander dissipel, Andreas, die broer van Simon Petrus, sê toe vir Hom:

“Hier is 'n seuntjie met vyf garsbrode en twee vissies, maar wat is dit vir so baie mense?”

Toe sê Jesus: “Laat die mense gaan sit.” Daar was baie gras op daardie plek en die mense het gaan sit. Die mans alleen was omtrent vyf duisend.
Daarna het Jesus die brood geneem, God daarvoor gedank en dit uitgedeel aan die mense wat daar gesit het, en net so ook soveel van die vis as wat hulle wou hê. Nadat die mense versadig was, sê Hy vir sy dissipels: “Maak die stukke bymekaar wat oorgebly het sodat daar niks verlore gaan nie.”

Hulle het dit toe bymekaargemaak. Daar was twaalf mandjies vol met die stukke wat van die vyf garsbrode oorgebly het nadat die mense klaar geëet het.

Net om dit by jou tuis te bring, vers 10 sê dat nét die mans (alleen) daardie dag was omtrent 5 000, m.a.w. hulle het nie eens die vrouens en kinders getel nie. Ons kan dus aanvaar dat daar in alle waarskynlik enigiets tussen vyf en tien duisend mense altesaam daardie dag daar bymekaar was.

Die onmoontlike word moontlik.

Wanneer ek hierdie verhaal lees en ek dink oor wat alles daardie dag daar gebeur het toe Jesus die broodjies en vissies meer gemaak het dan kan ek nie help om te dink aan die feit dat dieselfde beginsel geld nogsteeds vandag nie. Al lyk 'n situasie vir jou hóé onwaarskynlik of selfs totaal onmoontlik God kan dit in jou guns laat draai en dit (wat dit ook al is) vir jou totaal moontlik maak, jy moet net gehoorsaam wees.

Bring vir God jou bietjie.

Meeste van ons is maar skuldig daaraan dat ons na ons omstandighede kyk en na net hoe min ons het om te gee en dan dink ons dat God sal dit nie kan gebruik nie, die klein seuntjie met die broodjies en die vissies het seker ook so gedink en kyk wat het daar gebeur.

Miskien is jy iemand wat al lank die Here volg, jy dien Hom, jy is lief vir Hom en jy wil graag ook iets vir Hom doen maar al waarin jy vaskyk is jou bietjie en jy dink dat dit nie genoeg is nie. Dit is (juis) in sulke tye waar God die wonderlikste dinge vir ons kom doen, wanneer ons dink dit is onmoontlik.

Onthou dat die wonderwerk hang nie van jou af nie so jy is verniet bekommerd. Gee dit wat jy het en jy sal sien hoe God dit meer maak.

Die seuntjie het die broodjies en vissies reeds by hom gehad.

Die kanse is baie goed dat jy reeds dít wat God vir jou wil of kan meer maak klaar in jou besit het. Jesus het dit wat die seuntjie in sy besit gehad het vermeerder, die seuntjie het mos klaar die broodjies en vissies by hom in sy sak gehad.

Wat het jy by jou wat jy bereid is om beskikbaar te stel vir God om te gebruik? Moontlik het die Here al lankal met jou daaroor gepraat maar jy twyfel. Kies net vandag om gehoorsaam te wees en neem 'n stap in geloof en sien wat God vir jou daarmee doen.

Sterkte!

Kom ons bid. Hemelse God en Vader ek kom vandag en ek staan voor U groot genade troon en ek bring nou my bietjie na U toe. Seën dit asb. Vader en maak dit meer sodat U ook deur my die massas sal kan kos gee. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


Monday 10 November 2014

Aanbod geldig terwyl voorraad hou - deur Anton Brink

Met al die nuwe verbruikers wette wat deesdae in plek is, is ek nie seker of hierdie term nog bestaan of enigsins van toepassing is nie, maar in die verlede wanneer iets op TV geadverteer word óf jy hoor daarvan op die radio of sien dit miskien op ’n “billboard” iewers langs die pad, dan het die adverteerders baie keer hierdie woorde in die advertensie gebruik wat sê: “Aanbod geldig terwyl voorraad hou.”


Dié stelling is natuurlik om vir my en jou mooi te laat verstaan dat as ons nie gou spring nie gaan ons die verskaffer se winskoop aanbod misloop en as dit eers verby is, dan is dit verby.

Ek is seker daarvan daar is baie mense wat kan getuig van só ’n geleentheid wat hulle om een of ander rede deur hulle vingers laat glip het.

Hoekom het ek nie maar vroeër ’n plan gemaak nie?

Wanneer jy eers besef dat jy is te laat dan dink ’n mens mos altyd: “Ai, hoekom het ek nie maar net ’n bietjie vroeër opgestaan nie?” of “Hoekom hét ek nie dan maar sommer nog daardie selfde dag gesorg dat ek by die winkel uitkom nie?”

Dis mos maar hoe dit werk, ’n mens dink altyd daar is nog tyd, môre is mos nog ’n dag so ek sal later ’n plan maak en as jy weer sien dan is dit te laat en mis jy uit.

Nie voorraad nie maar tyd.

Ek weet van ’n ander “billboard” met ’n aanbod op wat lank gelede al op ’n ander plek langs ’n groot pad bo op ’n hoogte staan gemaak is.

Hierdie “billboard” se boodskap was toe en is nogsteeds baie duidelik maar in hierdie geval sê die onderskrif nie “terwyl voorraad hou” nie, maar liewer “vir solank daar nog tyd is.”

Golgota.

Hierdie plek se naam is Golgota en dit is waar God se “advertensie bord” diep in die grond geplant is vir jou en my om van Sy aanbod kennis te neem én om vrylik daarvan gebruik te maak voor dit dit te laat is.

God se aanbod van genade.

Sy aanbod is eenvoudig. Aanvaar My offer aan die Kruis as die prys wat vir jou sondes betaal is en jy sal My genade en barmhartigheid ontvang sonder voorwaarde.

As daar ooit ’n aanbod is wat jy nie moet misloop nie dan is dit hierdie een, boonop is dit heeltemal verniet. Onthou net, dit is wel verniet maar dit beteken nie dat dit is goedkoop nie.

Maak asb. vandag jou besluit voor dit te laat is.

Daar is gelukkig geen voorraad wat in hierdie geval sal kan opraak nie, maar ongelukkig is daar wel ’n beperkte tyd op hierdie aanbod. God sê vir ons in Sy woord dat ons lewe tans in Sy genade tyd maar dat hierdie tyd eendag tot ’n einde sal kom. Dié wat Hom daarna nie as verlosser aanvaar het nie, sal ongelukkig nie die ewige lewe saam met Hom in die Hemel beërwe nie.

Lees asb. die onderstaande gebed hard op saam en gee dan jou hart en lewe vir die Here Jesus. Wanneer jy dit klaar gedoen het, sorg asb. dat jy so spoedig moontlik met ons gebed vriende by Tygerberg 104fm op telefoonnommer 0861 104 104 sodat hulle vir jou kan raad gee oor wat jou dan te doen staan.

Kom ons bid. Hemelse Vader, vandag weet ek dat ek, soos alle mense wat gebore word op hierdie aarde, oppad is hel toe. Al lewe ek hoe goed, tensy ek by ’n punt kom waar ek besef dat ek ’n Verlosser nodig het, kan ek nooit uit my eie goeie dade of lewe die Ewigheid in U teenwoordigheid deurbring nie.

Dankie dat U Jesus, vir my sondes gesterf het, begrawe is, en op die derde dag weer opgestaan het en opgevaar het na die hemel waar U aan die regterhand van God sit en my Voorspraak is. Ek bely vandag dat U die Seun van God is, en dat U my verlossing duur gekoop het.

Dankie Heilige Gees dat U daagliks my metgesel is, en dat U my leer en lei in die waarheid. Vandag aanvaar ek Jesus Christus as my Verlosser en Saligmaker en weet ek dat ek in U alles het wat ek nodig het om die Ewige Lewe te kry, volgens Joh. 3:17

Ek dank U dat ek nou in ’n lewende verhouding met U kan wees en dat ek in U ’n Vriend en daaglikse Trooster en metgesel het. Amen



Friday 7 November 2014

DIE KRAG VAN GOD - deur Anton Brink

Hoekom sien ons nie daagliks hoe God met krag in ons lewens en in hierdie wêreld beweeg nie, wat is die rede daarvoor?


Veral in 'n tyd soos waarin ons nou leef. Is dit dan nie juis nou nodig om te sien hoedat God radikaal in mense se lewens en situasies ingryp nie?

Tog lyk dit nie asof dit gebeur nie.

Dit wil eerder voorkom asof die mensdom en selfs ook die Christene al hoe dieper in sak en as verval met min of geen hoop vir die toekoms nie.

Ons kan lank hieroor praat en nog steeds nie al die antwoorde hê nie maar miskien kan ons darem ten minste probeer.

Ek vermoed dat 'n groot rede waarom ons God nie in krag sien beweeg nie is omdat ons so maklik twyfel, ons sit as’t ware nie ons “voet op die water nie”.

Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag. Hou op dink dat wonderwerke van jou afhang.

God is die enigste een wat besit het oor die mag om iets bonatuurlik vir Sy kinders te kom doen, nie jy nie.

Wees net beskikbaar en gehoorsaam wanneer jy ervaar dat die Here jou wil gebruik en hou op twyfel aan Sy vermoë om iets groot te doen.

Ek verwys baie keer in my eie lewe na die skrif gedeelte waar die Here ons nooi en sê “Wanneer julle wysheid kortkom vra dit van my en Ek sal dit vir julle gee”.

Hierin ervaar ek daagliks God se wonderwerkende krag vir my. Daar is al honderde situasies gewees waar ek net vir 'n oomblik in my binneste stil geraak het en gevra het dat die Here vir my wysheid sal gee net om dan oomblikke later bonatuurlik te ervaar hoe die Here my lei om probleme op te los of om dalk die regte woorde op 'n gegewe tyd te spreek ens. ens.

Ek nooi jou dus vandag uit om vir God te vra om ook vir jou Sy wysheid te gee (veral in situasies waar jy regtig nie weet wat om te doen nie) en dan te sien net hoe getrou die Here is wanneer Hy deur jou in daardie situasies begin werk.

Kom ons bid. Vader ek kom elke dag wysheid kort. Gee asb. vir my U wysheid sodat ek die situasies in my lewe kan hanteer en U wonderwerkende krag kan sien. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


Thursday 6 November 2014

Watter kleur is jy? - deur Anton Brink


Die verskil tussen 'n mooi persoonlikheid en 'n goeie karakter is hemels groot. 
 

 
 
 
 
 
 
 
 
Jou persoonlikheid is dit wat mense van jou sien en beleef in die tye wanneer dit met jou goed gaan. M.a.w. hoe jy optree, of jy vriendelik en geselserig en jy net oor die algemeen “happy go lucky” is ens.

Jou karakter aan die ander kant is weer nie noodwendig ooglopend sigbaar nie en kom gewoonlik eers te voor skyn wanneer dinge so bietjie warm raak óf wanneer jy dink niemand jou sien nie...

Jou ware kleure.

Dit is dié belangrikste deel van jou en ook dié deel wat mense eers van bewus raak wanneer dit regtig saak maak. 'n Persoon se karakter is dus wie en wat jy régtig is, jou ware kleure met ander woorde.

Voeg steeds daad by jou woord.

Iemand met 'n goeie en sterk karakter is gewoonlik iemand met baie integriteit. Dit is die tipe persoon op wie se “knoppie” jy altyd kan druk, 'n staatmaker. Iemand wie doen wat hy gesê het hy sal, hy sal jou nie in die steek laat nie selfs al verander sy omstandighede en raak dit dalk vir hom moeilik om daad by die woord te voeg.

In Matheus 5:37 staan daar geskryf, “Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee’.”

Moenie (veral nie as jy verklaar dat jy die Here ken en dien) 'n persoon wees op wie daar nie staatgemaak kan word nie. As jy gesê het dat jy iets sal doen, doen dit dan so goed as wat jy moontlik kan.

Hoeveel keer in jou lewe het jy al vir mense beloftes gemaak net om dit op die ou einde glad nie na te kom nie bloot omdat dit jou nou nie meer pas nie?

Ek onthou 'n geval wat 'n paar jaar gelede gebeur het. Ek het met 'n pastoor gestaan en gesels oor die werk wat hy en sy vrou in die gemeenskap doen. Hy noem toe vir my dat hy en sy vrou maar sukkel om oor die weg te kom omdat hulle nie meer 'n motor het nie. Die voertuig waarmee hulle altyd gery het se enjin het totaal ingegee en die motor was oor die algemeen in elk geval ook nie meer in 'n vreeslike goeie toestand nie.

Twee jaar later en nog niks.

Ek kon die hartseer en teleurstelling in sy oë sien toe hy my vertel van 'n man in hulle gemeente wat vir hulle (die pastoor en sy vrou) hand en mond belowe het dat hy vir hulle 'n ander motor present sal gee vir hulle persoonlike en bedienings gebruik sodat hulle net oor die weg kon kom. Dit was op daardie stadium al meer as twee jaar later maar nog niks.

Die man wat die belofte gemaak het, het duidelik in ’n stadium besluit dat dit hom nie meer pas nie en dat hy nou nie meer van plan was om daad by die woord te voeg nie. 'n Mens kan dus aanvaar dat hy nie iemand van goeie karakter is nie.

Iemand met 'n goeie karakter is 'n persoon wat vertrou kan word om altyd die regte ding te doen selfs wanneer niemand kyk nie. So 'n persoon het 'n sterk verantwoordelikheid sin en aanvaar ook (sonder om te skroom) aanspreeklikheid vir sy eie dade en besluite asook dié van die mense wat dalk onder hom werk.

Dit is so jammer dat ons in 'n tyd lewe waar mense hulle nie meer hieraan (om goeie karakter hê) steur nie. Van politieke leiers reg deur tot die man op straat.

Die meeste mense steur hulle doodeenvoudig net nie meer daaraan om inbors (karakter) te hê nie. Hulle wil eerder met 'n vernuftige mooi persoonlikheid populêr wees onder hulle kiesers, vriende en kollegas en pla dit hulle ook nie wanneer hulle nie dit meer kan (of wil) doen wat hulle aan iemand belowe het nie.

Laat ons as dissipels die voorbeeld stel van mense met 'n goeie en sterk karakter wat opstaan vir wat reg is al is dit nie noodwendig populêr nie.

Kom ons bid. Vader dit is nie altyd maklik om die regte ding te doen nie. Partykeer kos dit baie van ons en partykeer voel dit asof die prys net te hoog is om te betaal, maar ek weet Vader dat U my nooit sal begewe en my nooit sal verlaat nie al is ek ook hoe swak. Help my dus Here en maak my sterk genoeg om daardie keuse te maak om iemand te wees wat beginsel vas en met goeie karakter is te wees. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.
 
 
 

Wednesday 5 November 2014

Watter “Kannie” is jy? - deur Anton Brink

In die lewe kry jy twee Kannie’s. Aan die eenkant het jy vir Kannie wat lankal dood is van kruiwa stoot en aan die ander kant het jy weer Kannie doders!

Hoekom is dit so dat party mense hulle gestremdhede (of allerlei ander tekortkominge) gebruik om alewig verskoning te maak vir waarom hulle nié iets kan doen nie en iemand anders (wat met presies dieselfde gestemdheid of tekortkoming sit) bereik weer vreeslik baie in die lewe en doen in baie gevalle selfs beter en meer as mense met geen gestremdheid of tekortkoming nie?

In Johannes 14:12 sê Jesus die volgende, “Dít verseker Ek julle, wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan.”

Dit is vir my opvallend dat Jesus in hierdie gedeelte géén melding maak van jou stand in die samelewing, jou persoonlike rykdom of armoede, fiksheid of gestemdheid, tewens enige vorm van fisiese tekortkoming of selfs jou opleiding en opvoeding nie. Hy sê bloot net “wie in My glo”.

Jou eerste “kwalifikasie” wat jy dus nodig het om deur God gebruik te word en wonderlike dinge in mense se lewens en in die gemeenskap oor die algemeen te doen is om 'n vaste geloof en vertroue in Jesus Christus as jou verlosser te hê.

Ons kan seker almal aan iemand dink wat óf in sak en as sit a.g.v. van hulle gestemdheid of tekortkominge óf wat uitstyg bo die res juis as gevolg daarvan.

Ek besef daar is baie mense wat seker nie eens sy naam wil hoor nie, maar kyk na iemand soos Oscar Pistorius. Hy is sonder bene gebore maar tog het hy die hoogste sport en sukses bereik ten spyte van sy gestremdheid.

Ons grootste uitdaging of struikelblok sit tussen ons ore.

Ons vertel aanhoudend vir ons self (en vir God) net hoe groot ons probleme is terwyl ons eintlik vir ons self en vir ons probleme moet vertel net hoe groot ons God is.

Hou op om vir jou self te sê dat jy nié kan nie en begin liewer na die geleenthede soek wat hulle binne-in daardie omstandighede of situasie te voorskyn kom. Kies om 'n gesindheid te hê dat die glas halfvol water is eerder as halfleeg.

Met die Here se genade en jou geloof in Hom sal jy hoër hoogtes bereik as wat jy ooit kon droom.

Kom ons bid. Vader ek wéét U het my met oneindige potensiaal geskape. Gee my die krag, moed en oortuiging om van hierdie oomblik af 'n stap in geloof te neem en dít te begin doen wat al solank in my hart brand. Ek glo in U Jesus daarom weet ek dat ek ís gekwalifiseerd vir hierdie werk. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.



Monday 3 November 2014

Daar ís nog tyd - deur Anton Brink

God se genade tyd is nog nie verby nie en jy het vandag steeds die geleentheid om ’n keuse uit te oefen en jou saak met jou skepper reg te maak deur die Here Jesus Christus as jou persoonlike verlosser en Saligmaker te aanvaar.


Doen dit nou.

Dit gaan nie vir altyd die geval wees nie. Een of ander tyd gaan daardie genade tyd waarvan ek gepraat het ongelukkig wél tot ’n einde kom en ás jy dan sonder Jesus as jou verlosser voor God se regter troon moet gaan staan sal jy ongelukkig van Sy aangesig af weggeneem word en sal jy nie die voorreg hê om die ewigheid saam met Hom te spandeer nie. Doen dit nou. Maak jou besluit voor dit te laat is.

As jy wel besluit om dit te doen, lees dan asb. die onderstaande gebed hardop saam en aanvaar Christus Jesus as jou verlosser en Saligmaker. Wanneer jy klaar is maak dan asb. kontak met ons gebed vriende by Tygerberg 104fm en sê vir hulle wat jy besluit het om te doen sodat hulle jou verder kan help en raad gee.

Die nommer is 0861 104 104.

Kom ons bid. Hemelse Vader, vandag weet ek dat ek, soos alle mense wat gebore word op hierdie aarde, oppad is hel toe. Al lewe ek hoe goed, tensy ek by ’n punt kom waar ek besef dat ek ’n Verlosser nodig het, kan ek nooit uit my eie goeie dade of lewe die Ewigheid in U teenwoordigheid deurbring nie.

Dankie dat U Jesus, vir my sondes gesterf het, begrawe is en op die derde dag weer opgestaan het en opgevaar het na die hemel waar U aan die regterhand van God sit en my Voorspraak is. Ek bely vandag dat U die Seun van God is en dat U my verlossing duur gekoop het.

Dankie Heilige Gees dat U daagliks my metgesel is en dat U my leer en lei in die waarheid. Vandag aanvaar ek Jesus Christus as my Verlosser en Saligmaker en weet ek dat ek in U alles het wat ek nodig het om die Ewige Lewe te kry, volgens Joh. 17: 3

Ek dank U dat ek nou in ’n lewende verhouding met U kan wees en dat ek in U ’n Vriend en daaglikse Trooster en metgesel het. Amen