Friday 29 August 2014

Run fat boy, run! - deur Anton Brink


 Ek het verlede naweek 'n fliek gekyk wat my baie lekker laat lag het. Die fliek se naam is, “Run fat boy, run” en dis 'n komedie met Simon Pegg in die hoofrol. Dit speel af in Londen, Engeland.



In hierdie fliek vertolk hy (Simon Pegg) die rol van 'n man met die naam Dennis wat op trou staan maar dan nét voor die huwelikseremonie begin, besluit hy om weg te hardloop en hy los sy verloofde nét so daar alleen voor die kansel.

Sy is natuurlik woedend vir hom en gil agterna soos wat hy in die straat af laat spaander.

Die fliek self is nou nie éintlik waaroor ek in vandag se stukkie met jou wil gesels nie, waaroor ek wél wil praat is oor die marathon waaraan hierdie Dennis karakter op die ou einde in die fliek deelneem in 'n poging om aan sy ex-verloofde te bewys dat hy kán goed genoeg wees as hy regtig wil en ook om vir haar te laat verstaan net hoe jammer hy is oor alles wat hy aan haar gedoen het.

Wanneer hy dan uiteindelik (na baie geoefen en sweet) vir die marathon opdaag gaan die skoot af en begin hy baie goed te hardloop. Daar is dan 'n ander man wat óók meeding, nie net vir die medalje in die marathon nie maar óók net soos Dennis vir dieselfde vrou se hart. Hierdie ander man se taktieke is ongelukkig alles behalwe eerbaar en hy pootjie dan vir Dennis en laat hom karplaks net daar neerslaan in die middel van die wedloop op die harde pad.

Dennis kruip in pyn na die kant van die pad met 'n geskeurde ligament terwyl derduisende hardlopers oor hom spring en om hom hardloop soos hulle steeds voortgaan met die marathon.

Hy (Dennis) sit dan vir 'n ruk lank hartseer en moedeloos teen die sypaadjie en kry hom self vreeslik jammer en dit lyk selfs asof alles verby is en hy die spreekwoordelike handdoek gaan ingooi, maar nee. Uiteindelik (kies) Dennis om op te staan en ten spyte van sy stukkende knieë en geskeerde ligament aan te hou, al voel dit vir hom asof hy nie kan nie en skree alles binne-in hom om maar liewer tou op te gooi.

Dit laat my so dink aan die skrifgedeelte in Galasiërs 5: 7 – 8 (uit Die Boodskap Bybel) waar Paulus 'n brief aan die Galasiërs skryf en sê, “Tot dusvêr het julle baie goed gevorder op die pad van die geloof. Soos goeie atlete het julle voluit gehardloop. Wie het nou vir julle kom sê om anders te lewe? Beslis nie God nie.” In een van die Engelse vertalings sê dit, “You ran the race so well, who hindered you to follow the truth?”

Paulus het hierdie brief geskryf aan die Galasiërs omdat daar iets gebeur het tussen die gemeentes in Galasië wat veroorsaak het dat hulle die pad byster geraak het. Paulus wil toe by hulle weet hoekom hulle dit toegelaat het. Hy roep hulle as’t ware tot verantwoording met die woorde, “Julle het baie goed gevorder op die pad van geloof” en dan in die volgende vers, “Wie het nou vir julle kom sê om anders te lewe?”

Ons almal wat die Here Jesus dien en in Hom glo neem deel aan 'n wedloop. Wanneer ons Christus as verlosser aanvaar dan “klap die skoot” en ons spring weg met volle vaart, gretig om dié marathon klaar te maak en ook die prys aan die einde te ontvang.

Maar, soos die lewe maar is, word ons ook maar soms gepootjie en skuur ons behoorlik oor die klippe soos ons neerslaan. Ons kruip ook dalk moedeloos eenkant toe en lek miskien in stilte en met groot hartseer ons wonde en ons wonder of ons nie maar dalk liewer hierdie uitdaging moes uitgesit het nie of ons bevraagteken selfs hoekom ons in die eerste plek besluit het om daaraan deel te neem.

Jy is nie alleen nie. Daar is só baie gelowiges wat vir jou kan vertel hoe hulle ook al elkeen hard geval het, máár toe besluit het om ten spyte van groot persoonlike hartseer, twyfel en vrae op te staan en aan te hou hardloop al was dit nie lekker nie.

In die fliek is Dennis op die ou einde nie net heel laaste nie, maar is hy ook die enigste persoon wat nog hardloop. Al die derduisende ander mense is alreeds huis toe omdat die marathon al ure van te vore al klaargemaak het en almal hulle goed opgepak het en vort is.

Vir Dennis gaan dit egter nie daaroor nie, hy het nooit belang gestel daarin om te wén nie, hy het net belang gestel daarin om klaar te maak.

In hierdie lewe sal jy nog baie uitdagings hê. Van tyd tot tyd slaan ons neer en kry ons seer, dan kruip ons eenkant toe, lek ons wonde en probeer dit wat gebeur het verwerk.

Onthou dat ons pad saam met die Here is nie 'n kompetisie nie. Dit maak nie saak hoeveelste jy oor die wenstreep is nie en dit maak ook nie saak of jy dit soms maar hinke-pink hardloop nie. Wat saak maak is dat jy klaarmaak, dat jy enduit volhou, dat jy nie tou opgooi en langs die pad gaan sit en verlore raak nie.

Kom ons bid. Vader baie dankie dat ek die voorreg het om aan hierdie wedloop te deel te neem en dankie dat ek kan wéét dat selfs al val ek partykeer baie hard sal U altyd daar wees om my weer op te help. Maak my asb. sterk Vader, gee my die krag om aan te hou hardloop en klaar te maak tot U eer. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen


No comments:

Post a Comment