Friday 12 September 2014

Oscar Pistorius - deur Anton Brink

Soos baie ander Suid-Afrikaners het ek ook die Oscar Pistorius moord verhoor gevolg omdat ek ook graag op hoogte wil bly van wat gebeur met die saak, die uitspraak ens.




Oor die afgelope ses maande kon ons almal daagliks op televisie na die hofverrigtinge kyk en ek dink daar is heelwat mense wie se lewens omtrent tot stilstand gekom het soos hulle daagliks voor die kassie vasgenael gesit en kyk het na wat alles gebeur.

So het ek ook 'n paar maande eendag na die hofverrigtinge gesit en kyk en ek kon nie help om op te let hoe Oscar se Advokaat (Barry Roux) sy kliënt (Oscar) altyd so vurig en met passie verdedig nie. Om elke hoek en draai en en met alles wat teen Oscar gesê word, het Barry 'n paar goed geplaasde opmerkings van sy eie om Oscar se onskuld te probeer bewys.

Of jý dink Oscar is skuldig of nie is nie nou hier ter sprake nie. Wat ek graag vandag by ons elkeen wil tuisbring is dat net soos met hierdie hofsaak van Oscar waar hy iemand het wat hom verteenwoordig, het ek en jy ook 'n Advokaat wat namens ons optree en daagliks ons saak voor die grootste regter van almal, God, stel.

1 Johannes 2: 1 sê, “Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie. En as een van ons sondig – ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader.”

Jesus is elke dag besig om namens my en jou voor God in die hofsaal van die hemele te verskyn om ons saak daar te stel. Nét so is die vyand óók daar om my en jou weer daagliks voor die Here aan te kla. Die goeie nuus is egter dat in hierdie geval weet almal betrokke reeds vóór die tyd wat die regter se uitspraak op die ou einde gaan wees...

“Onskuldig, omdat die boete reeds deur Jesus Christus betaal is! Die hof kan verdaag.”

Het jy enige idee en kan jy jouself hoegenaamd indink aan daardie groot dag wanneer ons elkeen voor God se troon gaan staan en Hy daardie woorde met 'n harde stem uiter ten gunste van dié wie vir Hom lief was. “Onskuldig, Jesus het klaar betaal. Die hof kan verdaag.” Ek kry skoon hoendervleis.

So, volgende keer wanneer jy weer so bietjie angstig raak en wonder oor wat jy gaan sê oor al jou vreeslike manewales wanneer jy voor God staan onthou dan, jy het 'n Advokaat wat namens jou praat en ek verseker jou, Hy is selfs nóg beter as Barry Roux.

Moenie bekommerd wees nie.

Kom ons bid. Here God ek is 'n sondige mens en ek weet ek verdien eintlik om gestraf te word. Dankie, dat ek kan weet dat U my nogsteeds lief het al doen ek verkeerd en dankie dat Jesus daagliks namens my inspraak maak en my ook vurig verdedig wanneer Hy my saak daar voor U stel. Ek is jammer vir my foute en tekortkominge en ek vra dat U my asb. sal vergewe en help om nie sonde te doen nie. Ek bid dit in die naam van Jesus Christus. Amen.

 

No comments:

Post a Comment