Thursday 18 December 2014

Here help ons! - deur Anton Brink

Die Bybel waarsku ons daar wag ellende op die mense wat dít wat verkeerd is reg noem en wat reg is verkeerd.

 
Jesaja.

Hierdie skrifgedeelte kry ons in Jesaja 5: 20. Daar staan geskryf: “Ellende wag vir dié wat sleg goed noem en goed sleg, wat van duisternis lig maak en van lig duisternis, wat bitter soet noem en soet bitter.”

By 'n parade.

Ek kyk eenkeer na selfoon beeldmateriaal op die internet van 'n insident wat in Amerika plaasgevind het, dit is afgeneem tydens 'n optog. Op dié beeldmateriaal kan jy sien dat daar 'n hele paar honderd bymekaar is en dat hulle deur die strate loop met baniere.

Hulle het dié optog gehou om fokus te plaas op die pleidooi van die gay gemeenskap in daardie stad en hulle vra dat die gemeenskap in die breë meer verdraagsaam moet wees teenoor mense wat homoseksueel is en dat daar nie teen hulle gediskrimineer moet word nie.

Straat predikante.

Op die video kan jy sien dat eenkant, op hulle eie, staan daar twee jong mans ook met baniere. Hulle het stil-stil probeer aandag trek na dít waarin hulle weer op hulle beurt glo.

Die een banier het net gesê “bekeer julle” en die ander een “die wie sterf sonder Christus kan nie die ewige lewe beërwe nie.” Hulle het m.a.w. die duidelike en ondubbelsinnige waarheid van die Evangelie verkondig.

Vuiste klap.

Skielik kan jy op hierdie video sien hoe 'n man én 'n vrou op hierdie twee Christene afstorm en hulle begin vloek, skel en dreig. Uiteindelik toe hulle sien dat hierdie twee jong mans nie van plan is om weg te gaan nie het hulle gewelddadig geword en hulle aangerand beslis met die doel om hulle ernstig te beseer.

Dubbele standaarde.

Selfs toe dié twee weerlose gelowiges al op die grond lê, het hulle aangehou om hulle te skop en te slaan. Dít alles gebeur by 'n optog waar mense deur dié einste optoggangers gevra word om verdraagsaam te wees, hoe maak dit sin?

Dit gebeur al vir duisende jare.

Moenie verbaas wees as jy deur die wêreld vir hierdie dinge veroordeel word nie. Dit was dieselfde met Jesus se dissipels gewees, van hulle het gereeld in die tronk geslaap en dit nét omdat hulle die waarheid gepraat en verkondig het.

Staan sterk en moenie bang wees nie. God sal jou nié verlaat nie.

Sterkte!

Kom ons bid. Here Jesus help my om altyd U nie veroordelende liefde met ’n verloregaande wêreld te deel. Help my Vader om altyd U ondubbelsinnige waarheid te praat maar om dit nooit maar nooit op ’n liefdelose manier te doen nie. Ek wil hê álle mense moet U leer ken as hulle verlosser maak nie saak wie of wat hulle is of wat hulle gedoen het nie. Mag dit so wees Here. Beskerm my en elke ander gelowige wat standpunt inneem vir U waarheid. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


Wednesday 17 December 2014

Die vark in die verhaal - deur Anton Brink

Jy onthou seker die verhaal van die drie varkies wat ons as kinders so graag na geluister het en hoe elkeen van hulle 'n huis gebou het om in te woon?


Boumateriaal.

Die eerste een se huis was van strooi gebou, die tweede een sin van hout en die derde en laaste varkie se huis van bakstene met 'n goeie en sterk dak en ook ’n stewige fondasie. Jy onthou mos darem seker wat in die verhaal gebeur?

Hy kan probeer so hard hy wil.

Die wolf kom en blaas die eerste twee varkies se huise sommer net so onderstebo máár wanneer hy by die derde vark se ordentlik geboude en stewige baksteenhuis aankom kan hy daar net mooi níks regkry nie.

Alles oor.

Uiteindelik probeer hy (die wolf) dan op die dak van dié baksteenhuis klim sodat hy sommer deur die skoorsteen kan kruip en sodoende dan by die varkies kan uit kom om hulle op te eet. Dié varkies is egter slaggereed vir hom en die wolf beland dan in 'n pot kokende warm water en so kom hy dan aan sy einde.

Dis met ons ook so.

Op 'n manier lewe elkeen van ons elke dag hierdie verhaal van die drie varkies uit en afhangende van hoe stewig jóú geestelike huis is, sal dit bepalend wees van of die “wolf” dit gaan regkry om by jóú uit te kom en of hy jóú ook gaan vang en opeet.

Wees sterk in die Here.

Onthou dat die “wolf”, of in ons geval die duiwel, kan regtig eintlik nie veel meer aan jou en my doen as om net te hoes en te proes nie. Dit is slegs wanneer ons geestelike lewens nie is waar dit veronderstel is om te wees nie en ons sodoende as’t ware ’n oop of swak mure in ons lewens het dat hy (die duiwel) by ons kan uitkom en ons verskeur.

Wees op jou hoede.

Hoe maak jy seker dat jy veilig is? Wel, om mee te begin móét jy 'n lewende en opregte verhouding met God hê deur die Here Jesus as verlosser te ken en Hom met jou mond as jou Saligmaker te bely.

Jy kan nie daarsonder nie.

Hierdie lewende, opregte en intieme verhouding met God gaan jy net bereik wanneer jy kwaliteit tyd in gebed by die Here spandeer, daarsonder woon jy eintlik maar in 'n geestelike huis van strooi wat maklik deur die vyand omgeblaas kan word. 'n Sterk gebed lewe is krities belangrik.

Weerstaan die duiwel.

Tweedens. Jy moet moeite doen daarmee om te sorg dat jy géén doelbewuste sonde in jou lewe het nie, onthou, God soek een honderd persent van jou, Hy wil alles van jou hê nie net ’n bietjie nie. Moenie vir Hom 99 % gee nie. As jy wel iemand is wat tans doelbewuste sonde in jou lewe het onthou asb. net dat God sal nou nie verwerp a.g.v. daarvan nie. Hy is lief vir ons nét soos wat ons is máár Hy is gelukkig tog té lief vir ons om ons te los soos wat ons is.

Enige iets in jou lewe, gewoontesonde ens. wat vir jou belangriker is as God noem Hy 'n afgod en verstaan mooi, Hy is nie bereid om jou te deel nie, nie nou nie, nie ooit nie. As jy 'n redelik toegewyde gelowige is maar nog altyd meestal jou eie kop volg en wat steeds ook nie kan of wil breek met sonde in jou lewe nie, ten spyte daarvan dat jy wéét God praat met jou daaroor, is jy soos die varkie in die hout huis.

Jy staan wel 'n bietjie stewiger a.g.v. van jou redelik toegewyde verhouding met die Here maar met net so 'n klein bietjie meer “effort” sal die wolf jou plekkie uiteindelik óók omblaas.

Doelbewuste sonde laat ongelukkig ’n oop deur in jou lewe vir die vyand en gee dit hom eintlik wettige grondgebied in jou lewe waardeur hy jou kan aanval en seermaak. Laat dus liewer toe dat die Here jou van daardie sonde help vrymaak. Dit gaan ongelukkig nie gebeur as jy nie eers gewilliglik daartoe instem nie so maak daai keuse vandag

Derdens. Dis die huis van bakstene met die sterk dak en fondasies. Jy is veilig geanker in jou verhouding met God deur gebed, aanbidding en die woord van die Here wat jy daagliks inneem om jou gees mee te voed. Jy maak moeite om te bid en by die Here se voete te gaan sit en jy het gebreek met jou doelbewuste sonde in jou lewe en jy streef daarna om, en doen ook, elke dag die wil van God soos jy ervaar Hy jou deur die Heilige Gees lei en leer.

Jy het jou offers van die vlees gebring en dit (jou vlees) gekruisig en begeer om meer van die Here in jou lewe te hê. By hierdie huis sal die duiwel dit baie moeilik vind om in te kom, eintlik amper onmoontlik maar dit gaan hom beslis nie keer om nog steeds te probeer nie. Hy sal enige iets uitdink en ook enige mense of enige situasie gebruik om jou te probeer vernietig.

Dit is wanneer ons gereed moet wees met 'n plan. Ek sê altyd, die woord van God leer vir ons dat as enige een van ons wysheid kortkom moet ons dit van God bid en dan sál Hy dit vir ons gee. Wanneer jy dus ervaar dat die duiwel wel besig is om deur jou stewige huis se skoorsteen te probeer glip vra dan God vir daardie wysheid om te weet hoe jy moet optree of wat jy moet doen sodat dié duiwel in jou lewe ook in daai pot kokende warm water sal beland en so aan sy einde sal kom.

Ander mense word daardeur geraak.

'n Laaste ding wat vir my uitstaan omtrent die derde varkie is die feit dat die ander twee onverantwoordelike varkies sáám met die derde een op die ou end in dié (die verantwoordelike varkie) se huis was. M.a.w. my en jou gehoorsaamheid aan God kan 'n beskutting, 'n veilige hawe ook vir ander mense beteken. Net so kan ons ongehoorsaamheid ongelukkig ook die teenoorgestelde effek hê en ander mense se seer en ondergang beteken.

’n Voorbeeld.

'n Pa wat elke oggend vroeg opstaan en bid vir sy vrou en kinders en wat nie toelaat dat sonde deel van sy lewe is nie skep beslis daardie veilige huis vir sy gesin en die seën en beskerming van God rus gevolglik nie net op hom nie maar ook op sy gesin. Hulle is dus veilig omdat hulle Pa verantwoordelik en gehoorsaam is.

In Matheus 7: 24 – 27 staan daar geskryf, “Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met 'n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots. En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met 'n dwaas wat sy huis op sand gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes.”

Bou van vandag af jou geestelike huis op ’n vaste fondasie en met daardie stewige mure en dak sodat die vyand jou nie sal kan verwoes nie.

Sterkte!
Kom ons bid. Here help my om meer te bid, help my om meer tyd by U te spandeer sodat ek ook in 'n geestelike sterk huis sal kan woon en ook aan my familie en vriende die veilige hawe kan bid wat hulle verdien. Here gee asb. vir my wysheid om die aanslae van die vyand raak te sien en effektief teen te staan. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.



Monday 15 December 2014

13 Per dag - deur Anton Brink

Vrydagoggend het ons almal wat by Tygerberg 104fm betrokke is oudergewoonte in die kafeteria bymekaargekom.
Soos gewoonlik kon ons luister na ’n getuienis, het ons saam gesing en ook saam gebid. Die bekende kunstenaar Neville D was hierdie keer daar en dit was besonders lekker om te hoor waar hy vandaan kom en hoe die Here hom gebring het tot waar hy vandag is.

Na alles verby is en ons al amper op die punt gestaan het om af te sluit het ons hoof uitvoerende beampte, Hardus Zevenster, ook eers met ons gesels. Hy het gepraat oor die vakansietyd wat voorlê en het gesê dat ons almal ’n welverdiende ruskans verdien en dat ons die af tyd saam met ons geliefdes baie moet geniet.

Hy het ook gepraat oor die afgelope jaar wat verby is en met trots verwys na al die dinge wat ons as ’n span kon regkry en hoe hierdie dinge werklik ’n groot impak ten goede op die gemeenskap in die Kaap maak.

Hy noem toe ook ’n paar interessante statistieke oor Tygerberg 104fm vir die afgelope 12 maande wat my behoorlik stom geslaan het net om dit by ons tuis te bring wat dié radiostasie eintlik vir mense beteken.

Wat vir my die kosbaarste was, was die feit dat Hardus vir ons vertel het dat ons oor die afgelope jaar gemiddeld 13 oorgawes per dag by Tygerberg 104fm gehad het. M.a.w. elke dag van die afgelope jaar wat verby is, was daar dertien mense wat hulle harte vir die eerste keer vir die Here Jesus gegee het en sodoende dus tot bekering gekom het. Is dit nie wonderlik nie?!

Behalwe die oorgawes het ons beraders en gebedsvriende ook gemiddeld 48 gebedsversoeke elke dag hanteer. Dit is interessant om op te let dat die meeste van daardie versoeke gehandel het oor verhoudings of huwelike wat verbrokkel en finansies. Elkeen van hierdie gebedsversoeke is hanteer en aan die Here opgedra.

Ek en al die ander mense wat by Tygerberg 104fm betrokke is kon net weer vir die Here dankie sê dat ons by hierdie wonderlike werk kon betrokke wees, dit is inderdaad ’n voorreg.

Behalwe hierdie wonderlike statistieke wat ek met jou wil deel vandag wil ek ook graag ’n uitnodiging aan jou rig.

As jy iemand is wat nog nie die Here Jesus leer ken het as jou eie persoonlike Saligmaker nie dan gee ek jou nou vandag hier die kans. Jy sal sien aan die onderkant van hierdie boodskap is daar ’n gebed. Ek nooi jou om dit hardop saam te bid terwyl jy dit lees en maak vandag vir Jesus die Koning van jou hart en lewe.

As jy dit klaar gedoen het gee ons asb. ’n luitjie by Tygerberg 104fm. Vra om met een van ons beraders te praat en vertel vir hulle dat jy ’n besluit geneem het om die Here Jesus as verlosser te aanvaar. Hulle sal vir jou verder hulp en raad gee.

Sterkte!

Kom ons bid. Hemelse Vader, vandag weet ek dat ek, soos alle mense wat gebore word op hierdie aarde, oppad is hel toe. Al lewe ek hoe goed, tensy ek by ’n punt kom waar ek besef dat ek ’n Verlosser nodig het, kan ek nooit uit my eie goeie dade of lewe die Ewigheid in U teenwoordigheid deurbring nie.

Dankie dat U Jesus, vir my sondes gesterf het, begrawe is en op die derde dag weer opgestaan het en opgevaar het na die hemel waar U aan die regterhand van God sit en my Voorspraak is. Ek bely vandag dat U die Seun van God is en dat U my verlossing duur gekoop het.

Dankie Heilige Gees dat U daagliks my metgesel is en dat U my leer en lei in die waarheid. Vandag aanvaar ek Jesus Christus as my Verlosser en Saligmaker en weet ek dat ek in U alles het wat ek nodig het om die Ewige Lewe te kry, volgens Joh. 3: 17

Ek dank U dat ek nou in ’n lewende verhouding met U kan wees en dat ek in U ’n Vriend en daaglikse Trooster en metgesel het. Amen



Friday 12 December 2014

Op julle merke - deur Anton Brink

In Efesiërs 6: 12 staan daar geskryf: “Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.”



Wanneer ons na hierdie skrif kyk verstaan ons en word dit baie duidelik dat daar nie 'n wapen op hierdie aarde bestaan wat weerstand kan bied teen die vyand wat ons elke dag aanval nie.

Neem kennis.

Daar is net een wáre oorlog wat saak maak en daardie oorlog woed daagliks rondom ons. Ongelukkig is dit ook so dat dié stryd vir baie mense ongesiens verbygaan. Die stryd of oorlog waarna ek verwys is natuurlik 'n geestelike een, die stryd tussen die duisternis en die lig.

Moenie moed verloor nie.

Vir my en jou is die oorlog eintlik al klaar gewen. Jesus het dit aan die Kruis kom doen. Wanneer ons die Here Jesus as persoonlike verlosser en Saligmaker aanvaar en ons erken en bely Hom as sodanig kan ons gerus wees daarin dat ons ís gered en ons ís Sy kinders.

Dit beteken egter nie dat ons nou maar ongeërg oor ons geestelike lewens kan wees nie. Om die waarheid te sê moet ons nou juis oplet loop vir aanvalle van die duiwel.

Ek kyk graag (wanneer ek tyd het) na programme op TV oor insidente wat in die regte lewe gebeur het. Insidente wat bv. op kringtelevisie kameras vasgevang is waar misdadigers uitgevang en vasgevat is deur gewone mense of dalk deur die polisie.

Hy kom om te steel.

So kyk ek nou die dag na beeldmateriaal wat op einste so 'n kringtelevisie kamera vasgevang is. Dit is afgeneem in 'n tipe van superette. Op die kamera kan jy duidelik sien hoe 'n jong man agter die toonbank by die kasregister staan.

Hy is besig om op sy selfoon te praat. Die volgende oomblik en soos blits storm 'n ander jong man by dié winkel se deur in met 'n pistool in sy hand gereed om die winkel te beroof.

’n Skoot klap.

Die skurk was nog nie eens by die toonbank waar die kasregister staan nie of 'n skoot gaan af en tref hom reg in die kakebeen. Hy sak net daar in mekaar en lê op die grond terwyl hy krul van die pyn. Nie lank daarna nie ís hy toe darem hospitaal toe geneem en het volkome herstel. Hy is later 'n baie swaar vonnis in 'n kriminele hof voor ’n regter opgelê.

Vinnige reaksie.

Die rede waarom die jong man wat in die winkel werk so vreeslik vinnig kon reageer op die rower se aanval was omdat hy 100 % daarop voorbereid was. Agter die toonbank net links van die kasregister het hy sy eie vuurwapen gehad wat daar gelê het, gereed vir ingeval iets soos dié dalk sou gebeur.

Toe die winkel se voordeur dus oopgaan en hy die dief met die geweer in die hand sien instap was hy blitsvinnig om sy eie wapen te gryp en die skelm net daar in sy spore te stuit.

Ons moet reg wees, nes daai winkelklerk.

Ek en jy wat in Jesus glo moet ook elke dag op ons hoede wees. Ons moet geestelik fiks en flink wees om die aanvalle van die vyand vinnig raak te sien en ons teen hom teen te sit.

Ons moet as’t ware soos atlete wees wat elke dag in ons blokke sak, gereed vir die wedloop of die stryd wat voorlê. Wanneer die ou lewe dan langs die kantlyn skree op julle merke, gereed, weg, dan moet ons dadelik kan reageer.

Wat van jou?

Hoe lyk jou geestelike gereedheid, sal jy gereed wees vir wanneer die vyand skielik by die voordeur van jou lewe inbars of gaan hy jou onkant betrap en dit regkry om jou te besteel?

Die skrifgedeelte in Efesiërs 6 wat ons vroeër gelees het verwys ook ’n paar verse verder na die wapenrusting van God wat elke gelowige daagliks moet aantrek. As jy jouself nie daarmee gaan beklee nie gaan dit vir die duiwel baie maklik wees om 'n slagoffer van jou te maak.

Bly biddend en soek God Sy aangesig soveel as moontlik. Vra dat die Heilige Gees daagliks jou metgesel sal wees en maak seker dat jy vir die Here vra om vir jou wysheid te gee. Hy sal.

Sterkte!

Kom ons bid. Vader God ek trek vandag die borswapen aan as vryspraak, ek omgord my heupe met die waarheid, ek neem as skoene aan my voete die bereidheid om die Evangelie van Jesus Christus te verkondig, ek plaas die helm van verlossing om my hoof en ek neem die swaard van die gees dis die kennis van die Bybel en die skild van geloof op om my teen die vurige aanvalle van die duiwel te beskerm. Here help my om wakker en gereed te wees vir wanneer die duiwel my aanval sodat hy nie by my sal kán steel en my lewe sal kan verwoes nie. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.



Thursday 11 December 2014

Een-twee-drie - deur Anton Brink


As jy nooit weer 'n dag in jou lewe wil werk nie doen dan dit waarvoor jy lief is, dié dinge wat vir jou spontaan (waarskynlik al van kleins af) kom.



 
Sy is deur.

Net gisteroggend sit ek met iemand en gesels. Sy het pas gehoor dat haar kind graad 11 geslaag het. Sy en haar man is met reg baie trots daarop. Volgende jaar is dit matriek en dan lê die grootmens wêreld vir hulle dogter voor.

Ek vra toe vir haar of hulle al gedink het aan 'n loopbaan keuse vir haar. Sy sê toe dat hulle hét maar dat hulle glad nie seker is oor wat die beste vir haar sal wees nie.

Haar Wiskunde punte is ook nie so goed as wat hulle dit graag sou wou hê nie en dit bekommer haar omdat dit hulle opsies verminder wanneer dit kom by die kursusse waaruit gekies kan word en dan ook natuurlik die loopbaan waarvoor sy haar self kan beywer beïnvloed.

Dit is tóé dat ons begin gesels oor die talente wat God vir elke mens gee.

Ek vra toe vir haar of sy kan dink aan iets waarin dié dogter van haar goed is. Ek wou weet of daar iets is wat die kind dalk al van kleintyd af doen wat vir haar sonder moeite gekom het, iets wat sy gedoen het wat dit laat lyk het asof sy gebore is daarvoor.

Ja.

Om te sing en musiek te maak, dít was haar antwoord. Hierdie 17 jarige meisiekind is gek na musiek en sy het al selfs die hoogste verering gekry vir die instrumente wat sy bespeel in die musiekskool waar sy betrokke is.

Natuurlik was my volgende vraag toe gewees hoekom hulle dan nie vir haar help met 'n loopbaan in musiek en sang nie. Sou dit dan nie die logies keuse wees nie aangesien dit duidelik is wat die Here vir haar as talent gegee het?

Onseker.

Sy sê toe dat hulle hét dit al vir hulle dogter voorgestel maar dat dié nie wil nie omdat iemand vir haar gesê het dat daar nie juis 'n toekoms daarin is nie omdat kunstenaars in meeste gevalle vir baie jare vreeslik sukkel om suksesvol te wees en dat hulle baie keer maar met min geld moet klaarkom.

God se plan.

Al wat ek vir haar kon sê is dat wanneer dit God is wat vir jou die opdrag gee, sal Hy ook dit voorsien wat jy nodig het. As hulle dus saam met hulle dogter dié se toekoms na die Here toe neem en hulle is oortuig dat dit die Here is wat haar gelei het om 'n liefde vir musiek en sang te hê én dat dit wel Sy plan vir haar is, kan hulle maar gerus wees en weet dat Hy die res vir haar ook sal byvoeg.

In Mattheus 25: 14 – 19 staan daar geskryf: “Verder gaan dit soos met 'n man wat op reis wou gaan. Hy het sy slawe bymekaargeroep en sy besittings aan hulle toevertrou. Vir een het hy vyf goue muntstukke gegee, vir 'n ander twee, en vir 'n derde een. Hy het aan elkeen volgens sy bekwaamheid gegee en toe op reis gegaan. Die een wat vyf goue muntstukke ontvang het, het dadelik daarmee gaan werk en 'n wins gemaak van nog vyf. So ook die een wat twee gekry het: hy het 'n wins gemaak van nog twee. Maar die slaaf wat een gekry het, het 'n gat in die grond gaan grawe en sy eienaar se geld daarin weggesteek. Na 'n lang tyd het die eienaar van daardie slawe teruggekom en van hulle rekenskap gevra.”

Hy wil hê ons moet.

God verwag van ons om met ons talente te woeker selfs al het jy nét een gekry. Hierdie talente wat Hy aan ons toevertrou is eerstens om eer aan Hom te bring, om Hom daarmee te verheerlik máár God is ook baie prakties wat dit aanbetref.

Hy gee vir ons talente sodat ons 'n lewe, 'n bestaan daaruit kan maak. M.a.w. om geld daaruit te verdien sodat ons daardie nodige inkomste sal hê om aan ons alle daagse behoeftes te voorsien en dit dan te bevredig.

Wat het jy?
Het jy iets waarin jy weet jy goed is, iets wat jy al van kindsbeen af doen, iets wat spontaan vir jou kom en wat jy regtig baie geniet om te doen? Die kanse is baie waarskynlik dat dit die talent is wat die Here aan jou gegee het en wat Hy wil jy moet gebruik.

Jy kan nog.

Dit is nog nie te laat nie. Al werk jy al jare in 'n ander rigting as dit wat jy eintlik wóú doen vra dan die Here om vir jou die deure oop te maak sodat jy dit kan begin doen. Ek is seker Hy sal jou versoek eer.

Sterkte!

Kom ons bid. Hemelse God en Vader ek bring vandag weer aan U al die lof en aanbidding wat U toekom. Ek wil graag 'n sukses van my lewe maak en ek wil weet dat dit wat ek doen was U keuse vir my. Wys my asb. en gee asb. vir my geleenthede om dit te begin doen en help my om asb. 'n groot sukses daarvan te maak. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.

Wednesday 10 December 2014

Kul jou hier kul jou daar - deur Anton Brink

Lank gelede was daar 'n kulkunstenaar wat gereeld op Suid-Afrikaanse televisie te siene was. Sy naam was Mario en hy kon altyd met die allervreemdste dinge vorendag kom om goed sommerso voor mense se oë te laat verskyn of verdwyn.
Die arme man by die padstal.

Ek sal nooit vergeet hoe hy (Mario) eenkeer in een van Leon Schuster se flieks gespeel het nie. In dié spesifieke toneel het Mario 'n padstal besoek en het hy toe vir hom daar 'n lekker sappige spanspek gekoop om te eet.

Vir die doel van hierdie kulkuns toertjie en om die nodige aandag van die padstal eienaar te trek, sny hy toe sy spanspek sommer net daar oop. Terwyl die kameras rol, en duidelik vir die padstal eienaar om te sien, ontdek Mario dan kamstig 'n opgevoude R20-noot reg in die middel van dié einste spanspek wat hy oop gesny het.

Mario is vreeslik verbaas en jy kan sien die padstal eienaar is omtrent stom. Mario gryp dan nog 'n spanspek en dan nóg een en nóg een en elke keer is daar geld in.

Skielik.

Die padstal eienaar kyk dan na res van die spanspekke wat nog net so op die rak lê en die volgende oomblik raak hy hewig omgekrap en beduie dan met groot gebare aan Mario dat geen spanspekke verder te koop is nie.

Hy gaan mos darem nie geld groeiende spanspekke sommer net so onder sy neus laat uitverkoop nie, my wêreld.

Kom kyk.

Die manr roep dan haastig sy vrou nader en vertel vir haar wat gebeur het. Een vir een begin hulle die spanspekke oopsny op soek na die geld daar binne-in maar, natuurlik, kry hulle niks. Elke spanspek is net vol pitte en lekker soet spanspek vleis.

Uiteindelik.

Na 'n tydjie en met 'n padstal eienaar wat erg omgekrap is kom Mario dan weer op die toneel en verduidelik vir hom dat hulle eintlik besig is om 'n fliek te maak waarin hulle mense uitvang en dat hy een van die mense is van wie hulle nou 'n lekker gek gemaak het.

Op die ou einde lag hulle lekker saam vir dié lawwigheid.

In 2 Korintiërs 11 vers 14 staan daar geskryf: “En geen wonder nie! Satan self doen hom voor as 'n engel van die lig.”

Die duiwel sal homself altyd aan jou voorhou as een wat eintlik goed is en die dinge wat hy bereid is om vir jou te gee of te doen lyk baie keer wonderlik en reg maar eintlik is hy besig om jou ’n rat voor die oë te draai.

Is jy dalk iemand met wie dit al gebeur het? Geleenthede wat vir jou net te goed lyk om waar te wees het hulle skielik voorgedoen en jy wou graag in jou hart glo dat hierdie kans wat jy kry is van die Here af omdat dit so fantasies lyk?

Nie alles wat skitter is goud nie.

Kyk weer na daardie skrifgedeelte. Dit sê dat die duiwel doen hom self voor as 'n engel van die lig. M.a.w. hy het ten doel om jou te kul om en om jou te laat dink dat wat hy vir jou aanbied is die ware Jacob terwyl dit eintlik glad nie is nie.

Moenie elke geleentheid wat jou pad langs kom sommer net gryp nie. Hoor eers by die Here of dit werklik van Hom af is en of dit Sy plan vir jou is.

Al wat jou gaan help om te onderskei is om elke dag die wapenrusting van God aan te trek en om seker te maak dat jou kennis en veral jou insig van God se Woord groei. Spandeer ook tyd by die Here sodat jou verhouding met Hom sterk word en sal bly sodat jy nie om elke hoek en draai om die bos gelei en verkul word nie.

Sterkte!

Kom ons bid. Vader ek wil nie gekul word deur die duiwel nie. Gee my asb. wysheid, kennis en insig uit U Woord en maak my geestelik sterk om te onderskei tussen die nagemaakte engel van die lig en die ware God van lig. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.



Tuesday 9 December 2014

Haas das se nuus kas - deur Anton Brink

Hier 'n bietjie daar 'n bietjie.
 
 .













Dís hoe dit vir my voel as dit by ons elektrisiteit en die standhoudende voorsiening daarvan kom. 'n Mens moet deesdae so mooi beplan as dit by alledaagse dinge van die lewe kom, dinge wat vroeër baie eenvoudig was.

Deesdae, net om nie koue of rou kos te hê vir middag of aandete nie moet jy eers die Eskom skedule gaan raadpleeg om te sien of jy darem ten minste krag in die huis gaan hê voordat jy dit begin voorberei. Om net 'n koppie tee of koffie te maak is skielik nie meer so eenvoudig nie.

Hulle moet hulle sokkies optrek.

Ons hét rede om te kla en kla sál ons kla. Ons is immers belastingbetalers en ons dra almal baie geld by vir ’n ordentlike diens om aan ons gelewer te word so as ’n verbruiker is dit nie net ons reg nie maar ons plig om ons stemme dik te maak.

Vandag se stukkie gaan egter nie daaroor (om te kla) nie.

Daar kan vele dae verbygaan terwyl ons aanhoudend oor hierdie dinge praat en ons onsself al meer daaroor opwerk maar op die ou end kan nie ek of jy nóú op hierdie oomblik veel aan dié onaangename situasie doen behalwe om maar liewer net te probeer om die beste van 'n slegte saak te probeer maak nie.

So sit ek toe mos oor die naweek rustig by die huis. My kinders ís maar daar in die omtrek voor die TV en in die kamer en my vrou is besig in die kombuis. Skielik gaan die krag af en vir 'n oomblik daal daar 'n doodse stilte in ons huis neer.

Oomblikke van te vore het die TV nog geblêr en het die klitser in die kombuis lawaai gemaak maar nou is daar niks. Dis asof die hele wêreld net skielik tot stilstand gekom het.

Wat nou?

Dit was vir my interessant om op te let na wat net na die krag afgegaan het gebeur het. Behalwe die heerlike kalmte wat daar was, het die kinders se belangstelling amper oombliklik van die televisie af na ander (beter) dinge verskuif.

Speel-speel in en om die huis.

Hulle het mekaar sommer so spontaan begin rondjaag en het lekker begin speel. My vrou moes dadelik (op aandrang van dié twee) hulle maatjies se Mamma’s bel om te hoor of hulle kan kom kuier om te swem, puzzle te bou en bord speletjies te speel.

Later.

Selfs nadat die krag lankal weer aangegaan het, het die kinders steeds gespeel dat die sweet hulle behoorlik afgetap het. Op 'n manier het ek so stil-stil by myself gewens dat dit eintlik maar elke dag so kon wees.

Ek onthou immers nog hoe dit was toe ek ’n kind was. Ons was behoorlik huilerig as dit begin donker word en dit tyd was om huis toe te gaan.

Daardie dae was daar nie iets soos TV deur die dag kyk nie. Jy moes maar wag vir half ses die aand en dan was dit in elk geval ook net omtrent vir “Haas das se nuus kas” wat op die kassie was. Die res van die tyd het jy maar fietsgery, kleilat gegooi, op jou Ma se senuwees gewerk of albaster gespeel.

Lekker tye.

Wanneer die krag so afgaan dan onthou mens en waardeer jy weer die waarde van vriende en familie. Daar is min dinge so rustig, gesellig en intiem soos om by kerslig of buite om 'n braaivleis vuur saam met mense vir wie jy lief is en omgee te kuier en tyd te spandeer.

Ons vergeet so gou hoe belangrik dit is om soms al die geraas soos die TV, rekenaar en selfoon af te skakel en om dan weer ’n slag op mekaar te fokus eerder as op al die klomp dinge rondom ons wat elke dag ons aandag so maklik kan aftrek.

So, volgende keer as die krag weer afgaan kyk dan ’n bietjie rondom jou. Wié is daar wat jy weer ’n slag kan kontak, lekker mee saamspeel en lag of sommer net lang geselsies maak. Probeer vergeet van die werk wat jy nog moet klaarmaak of die kos wat jy moet voorberei en probeer om liewer die beste van ’n slegte saak te maak.

Laat ons doen wat in Kolossense 3: 15 – 16 geskryf staan: “Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in 'n goddelose tyd. Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen.”

Sterkte!

Kom ons bid. Vader help my asb. om die beste van elke slegte situasie in my lewe te maak sodat selfs die slegte dinge op die ou end U naam verheerlik. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


Monday 8 December 2014

Die Heiland is gebore - deur Anton Brink

Ek let die afgelope tyd op dat daar baie gesprekke of debatte die wêreld heen gevoer word oor Jesus Christus as God.

Daar is dié mense wat hulle beywer daarvoor om die publiek te probeer oortuig dat Jesus nooit regtig gekruisig was nie en dat Hy, volgens hulle, vrygelaat is of dalk ontsnap het.

Dan is daar weer ’n ander groep wat argumenteer dat die Here Jesus in die eerste plek nooit regtig bestaan het nie, dat so ’n persoon nooit gebore was om mee te begin nie en dat die Evangelie is eintlik maar net ’n tipe van sprokie wat deur miljoene mense as die waarheid geglo word.

Ek wil my nie vreeslik oor hierdie dinge uitlaat nie en ek dink in elk geval dit is ’n mors van tyd om daarna te sit en luister. Dit is baie moeilik om sulke intellektuele mense met allerhande argumente van God se waarheid te probeer oortuig. Ek glo op die ou end is dit maar net die Heilige Gees wat werklik met sulkes kan werk om ’n verandering in hulle harte te weeg te bring.

Ons moet die Here vertrou om met hulle bemoeienis te maak sodat hulle Hom sal ontmoet en leer ken as Saligmaker.

Wat vir my belangrik is, is dat jy wat vandag hierdie stukkie lees seker is van jou saak en dat jy sal verstaan dat wanneer jy die Here Jesus as verlosser aanvaar ís jy verlos en beërwe jy Sy ewige lewe. Hy wil jou genadig wees en vryspreek maar dit kan net gebeur wanneer jy die Here Jesus as jou persoonlike verlosser aanvaar.

As jy nog nie het nie maar wil graag, lees dan die onderstaande gebed en gee jou lewe vir Hom. Wanneer jy dit gedoen het kontak as die gebed vriende by Tygerberg 104fm op 0861 104 104 sodat hulle vir jou verder kan raad gee oor wat jy nou moet doen.

Kom ons bid. Hemelse Vader, vandag weet ek dat ek, soos alle mense wat gebore word op hierdie aarde, oppad is hel toe. Al lewe ek hoe goed, tensy ek by ’n punt kom waar ek besef dat ek ’n Verlosser nodig het, kan ek nooit uit my eie goeie dade of lewe die Ewigheid in U teenwoordigheid deurbring nie.

Dankie dat U Jesus, vir my sondes gesterf het, begrawe is en op die derde dag weer opgestaan het en opgevaar het na die hemel waar U aan die regterhand van God sit en my Voorspraak is. Ek bely vandag dat U die Seun van God is en dat U my verlossing duur gekoop het.

Dankie Heilige Gees dat U daagliks my metgesel is en dat U my leer en lei in die waarheid. Vandag aanvaar ek Jesus Christus as my Verlosser en Saligmaker en weet ek dat ek in U alles het wat ek nodig het om die Ewige Lewe te kry, volgens Joh. 3: 17

Ek dank U dat ek nou in ’n lewende verhouding met U kan wees en dat ek in U ’n Vriend en daaglikse Trooster en metgesel het. Amen

Friday 5 December 2014

Kan ék dit maar vir jou betaal? - deur Anton Brink

Die Here is darem lief daarvoor om 'n mens partykeer sommerso hééltemal onverwags uit jou gemaksone uit te neem.


So staan ek mos eendag in die ry by Shoe City daar anderkant in Northumberland straat, Bellville om vir 'n paar skoene wat ek wou koop te betaal.

Daar was niks snaaks nie.

Dit was 'n doodgewone somerdag soos enige ander en ek het beslis nie verwag dat die Here van plan was om my in 'n skoene winkel van alle plekke gaan vra om iets vir Hom te doen nie.

Skielik en sonder enige waarskuwing fokus my aandag op die man voor my in die ry en hoor ek hoe die Here vir my sê om hom te vra of ek maar vir sy skoene kan betaal.

Ek het my absolute bes gedoen om dié opdrag van die Here te probeer ignoreer maar nee, die oortuiging was knaend en uiteindelik toe ons so nét duskant die betaalpunt was tik ek hom sag op die skouer.

Toe hy omdraai sê ek toe ek dat ek jammer is om hom te pla maar ek wou net weet of hy sal omgee as ek miskien vir sy skoene betaal.

Glo my gerus.

Daar was niks aan hierdie man wat vir my die indruk gegee het dat hy nie self vir dié paar skoene kon betaal nie. Hy was 'n normale, skoon en op die oog af goed versorgde individu wat nié vir my gelyk soos iemand wat 'n ander man se geld nodig het om vir sy skoene te betaal nie.

So gesê so gedaan.

Na ek hom gevra het, het hy my vir 'n kort oomblik stil gestaan en aankyk en het hy toe sy kop so stadig instemmend geknik en sag gesê dat dit reg so met hom is as ek die skoene vir hom wil betaal.

By die kasregister het ek toe twee aparte transaksies laat oplui, een vir my en een vir hom sodat hy sy eie kwitansie kon kry vir as jy dit dalk later weer sou nodig hê of iets.

Groot was my verbasing.

Toe ek en hy saam-saam by die winkel uitstap draai die man na my en sê vir my: “Weet jy wat, ek het vandag na hierdie winkel toe gekom om vir my skoene te koop al het ek nie die geld daarvoor nie. Ek het op pad hierheen vir die Here gesê dat ek my vertroue in Hom sit om vir my te voorsien en dat ek in geloof 'n paar skoene sal kies wat ek nodig het en dat ek ook in geloof tot by die kasregister sal stap. Ek het my voorgeneem dat as die Here nie voor ek moet betaal vir my die geld voorsien nie sal ek maar net die skoene neersit en uitstap. Toe kom jy nét voor ek wou uitloop en vra of jy my skoene vir my kan betaal, die Here het jou vandag gebruik om my gebed te beantwoord, jy was vandag Sy wonderwerk vir my.”

Om vir my te bewys dat hy die waarheid praat dop hy toe sy broeksakke net daar uit en wys vir my dat daar nie soveel as selfs net een sent daarin is nie.

Ek was sprakeloos.

My hart het behoorlik in my keel geklop toe hy dit vir my vertel én toe boonop sy leë sakke vir my wys, ek was baie aangedaan. Om te dink dat die Koning van die Konings het iets so klein soos 'n man se behoefte na 'n nuwe paar skoene raakgesien en tweedens dat Hy dit goedgedink het om vir my van alle mense te gebruik om die antwoord op hierdie man se versoek te wees.

Asemrowend.

Dit is die heel beste en amper onbeskryflikste gevoel in die hele wêreld om deur so iets te gaan te weet dat dit God self was wat binne-in daardie situasie bemoeienis met jou en almal betrokke te maak. Hy is waardig om geprys te word.

In 1 Samuel 15: 22 – 23 lees ons die verhaal van die gesprek tussen Samuel en Saul. Daar staan geskryf: “Toe sê Samuel: Hou die Here meer van allerhande offers as van gehoorsaamheid? Nee, om gehoorsaam te wees is beter as om offerdiere te slag en om te luister is beter as om die vet van ramme te verbrand. Om jou teen die Here te verset en jou eie kop te volg is net so erg as om na 'n waarsêer of afgodspriester te luister. Omdat jy die Here se woorde eenkant toe gestoot het, gaan die Here jou as koning eenkant toe stoot.”

Wanneer jy ervaar dat die Here met jou praat en vir jou vra om iets te gaan doen, doen dit dan dadelik. Moenie huiwer nie, jy is dalk net die antwoord op iemand anders se gebed, jy is dalk net vandag daardie persoon se wonderwerk van die Here af.

Sterkte!

Kom ons bid. Vader God ek is baie dankbaar dat U met my bemoeienis maak. Ek is net 'n mens en ek maak foute maar nie U nie en wanneer U my gebruik weet ek dat U nie 'n fout sal maak nie. Ek wil graag hê dat U dit sal doen, gebruik my in ander mense se lewens, gebruik my Here om hulle lewens beter te maak en dat hulle so sal sien dat U met hulle deur my moeite doen en hulle gebede en versoeke deur my beantwoord. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


Thursday 4 December 2014

Sal jy met my trou? - deur Anton Brink

Ek sit gister en kyk na 'n hartroerende stukkie beeldmateriaal van 'n jong man wat nie minder nie as 17 maande lank beplan het daaraan om sy meisie te vra om met hom te trou.


Glo my as ek jou sê dit was skouspelagtig. Hierdie jong man het geen moeite ontsien om vir hierdie meisie te wys net hoe lief hy haar het nie. Van lang slap limousines tot 'n salon pamperlang saam met al haar beste vriendinne en boonop ook 'n uithaal ontbyt in die geselskap van almal vir wie sy lief is om maar net ’n paar goed te noem.

Reg deur die dag was daar groot bederf en op die ou end het hy haar teruggeneem na die plek waar hulle mekaar vier jaar vantevore die eerste keer ontmoet het en het hy haar toe ook net daar gevra om sy vrou te word, sy het ja gesê.

Tweeduisend jaar gelede het Jesus aan die Kruis ook ’n huweliksaanbod gemaak, ’n huweliksaanbod aan jou en my en ons het ja gesê, kom laat ons dan optree soos mense wat op die punt staan om in die huwelik te tree.

Die Bybel verwys na ons wat in die Here glo as die bruid van Christus. In Openbaring 19: 7 – 8 staan geskryf: “Laat ons vrolik feesvier. Laat ons uitbundig van vreugde oorloop. Laat ons vir almal vertel hoe groot en belangrik God is. Ons het goeie rede. Die troudag van die Lam is hier! Sy bruid het haar pragtig reggemaak. God het vir haar die mooiste wit rok gegee om aan te trek. Dit is van die fynste, kosbaarste, witste materiaal gemaak wat jy jou maar kan voorstel. Hierdie kosbare materiaal is eintlik gemaak van al die regte en goeie dinge wat God se mense gedoen het.”

Ek weet nie wat jóú indruk is van iemand wat op trou staan nie maar myne is dat so 'n meisie haar reeds lank voor die tyd begin voorberei op daardie groot, mooi en belangrike dag.

Sy kyk dat haar hare mooi groei in die styl wat by haar pas, sy let op na haar figuur en probeer dalk selfs haar bes om reg te eet en miskien te oefen, sy sien om na haar vel en vertroetel haarself moontlik met vogroom. Dit alles sodat sy op haar beste kan lyk op die dag wanneer sy haar bruidegom voor in die kerk ontmoet.

Om reg te wees vir wanneer jou bruidegom jou kom haal is krities belangrik.

Jy het opgelet dat die gedeelte in Openbaring wat ons vroeër aangehaal het, het verwys na die rok wat die bruid aan het en wat gemaak is van die mooiste en kosbaarste materiaal en dat daardie materiaal eintlik gemaak is van die regte en goeie dinge wat God se kinders gedoen het.

Ons moet onthou dat om 'n gelowige te wees en dus gevolglik die bruid van Christus te wees beteken dat ons mooi en goeie dinge móét doen wat strook met ons verhouding en ons geloof in die Here wat natuurlik tot eer van ons Bruidegom sal wees.

Dit laat ons mooi lyk vir Hom.

Jou mooi en goeie dade sal jou nooit red nie maar dit lyk mooi en God hou daarvan. Moet dus nie 'n geleentheid laat verbygaan om uit jou hart uit mooi dinge vir ander mense te doen as jy wel die vermoë het om so te doen nie.

Kom laat ek en jy vandag en elke dag streef daarna om ons self mooi te maak vir ons bruidegom wat op pad is met die mooi en goeie dinge wat ons vir Hom doen sodat Hy ’n welbehae daarin sal vind en dat ons vir Hom mooi sal vertoon.

Sterkte!

Kom ons bid. Vader God, help my om nie selfsugtig te wees met my verhouding en geloof in U nie. Help my om dit uit te leef na die mense rondom my met goeie dade en mooi werke sodat ek vir U mooi sal lyk. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


Wednesday 3 December 2014

Weet jou kinders hiervan? - deur Anton Brink

Wanneer kinders nie van kleintyd af reg geleer en ordentlik grootgemaak word nie word hulle ongelukkig groot en het hulle later hulle eie kinders wat dan dieselfde slegte maniere as hulle het.


So verander dit dan in ’n bose kringloop van mense wat vir geslagte lank nie weet hoe om reg te leef of hoe om reg op te tree nie. Een van die eerste dinge wat gewoonlik in die slag bly is ongelukkig respek.

Respek vir mense wat ouer as jy is, respek vir mense wat bo jou aangestel is, respek vir jou medemens en respek vir die samelewing oor die algemeen soos bv. vir die gesag van staatsorgane wat (veronderstel is om) wet en orde te handhaaf.

Dis erg.

Ek gesels eenkeer met ’n jong vrou saam met wie ek gewerk het oor haar wedervaringe in Londen, Engeland. Sy het vir ’n paar jaar daar gewoon en werk. Sy het soos baie ander mense ook maar altyd die bus of die ondergrondse trein gebruik om haar van plek tot plek te kry.

Raserige jong manne.

Eendag terwyl sy op die bus sit op pad werk toe kom daar ’n groep jong seuns en klim ook op. Hulle was in hulle tiener jare en baie luidrugtig. Hulle het kliphard allerlei ongeskikte aanmerkings gemaak oor die mense wat op die bus gesit het en het ook graag kru taal gebruik.

Toe praat die ou oom hulle aan.

Toe die een bejaarde man wat ook op die bus was en seker alreeds meer as tagtig jaar oud was dit toe durf waag om hierdie gespuis aan te praat oor hulle onopgevoede en ongeskikte optrede het hierdie tiener seuns vir geen oomblik geskroom om dié arme ou man nét daar en dan en ten aanskoue van al die passasiers te gryp, aan te rand en van die bus af te gooi dat hy hard op die sypaadjie land nie.

Die meisie wat vir my die storie vertel het, het gesê dat sy net vreeslik gehuil het oor dit wat hulle gedoen het, sy het die ou oom só jammer gekry. Sy het gehuil omdat haar Ma en Pa haar ordentlik grootgemaak het anders sou sy haar waarskynlik nie veel daaraan gesteur het nie.

In Spreuke 22: 6 staan daar geskryf: “Gee leiding aan 'n jongmens oor hoe hy moet leef, en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie.”

Die mensdom het ’n sondige natuur.

Om te dink dat ’n mens uit sy eie uit reg sal optree, die regte besluite sal maak en liewer die regte ding as die verkeerde ding sal doen in ongelukkig vêrgesog. ’n Mens se natuur is van so ’n aard dat om verkeerd te doen meer spontaan kom as om reg te doen.

Kyk maar na ’n kind. As jy vir ’n kind ’n halwe kans gee gáán hy aanjaag, veral as dit ’n seuntjie is. Om verkeerd te doen, is dus baie meer natuurlik of spontaan as om gehoorsaam te wees.

As kinders dus nie van kleintyd af goeie leiding ontvang nie dra hulle daardie wangedrag oor na hulle tiener en uiteindelik hulle volwasse jare en kry jy mettertyd ’n scenario waar verkeerd dan reg genoem word omdat dit is hoe hulle gewoond is om op te tree.

Ons moet dus, nie net terwille van ons self en ons kinders nie maar ook vir die geslagte wat lank na ons gaan kom seker maak dat ons kinders goeie maniere aanleer, goeie opvoeding en raad by ons kry en dat hulle weet hoe om reg en mooi op te tree.

Glo my, dit begin by iets so eenvoudig soos om hulle te leer om asseblief en dankie te sê en om hulle te leer om op te staan as grootmense by die vertrek instap en dat hulle dan dié grootmense ordentlik groet.

Sterkte!

Kom ons bid. Hemelse Vader ek is baie lief vir my kinders en ek wil nie sien dat hulle verlore gaan nie. Sal U my asb. help om hulle van kleins af te leer om reg op te tree, om goeie maniere te hê en om respek te hê vir ouer mense sowel as mense in gesagsposisies. Help my ook Here om hulle te leer om reg van verkeerd te onderskei sodat hulle sal weet wanneer so ’n iemand sy posisie oor hulle misbruik en dat hulle dan ook dienooreenkomstig sal optree. Ek wil hê my kinders moet floreer en grootword om honderd persent mense te wees wat bydra tot ’n beter en gesonder samelewing. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.



Tuesday 2 December 2014

Toe kry ek my kind se plakkie in 'n ander vrou se handsak - deur Anton Brink

Ek moes eendag lekker lag vir die chaos wat 'n ou klein frats brandertjie op die strand by Blouberg kom saai het.

Dit was 'n lekker warm Sondagmiddag en ek, my vrou en ons twee kinders sit af see toe met ons strandsambreel, swem handdoeke en sonbrandolie om die dag by die see deur te bring.

Die kinders het dit natuurlik baie geniet en het mekaar op die sand rond gejaag terwyl ek en vroulief lekker in die skaduwee van die sambreel (wat ek diep in die sand geanker het) gesit en hulle dopgehou het.

Daar waar ons 'n plekkie op die strand gekry het, was die sand effe nat en het ek toe sommer al ons waardevolle items soos my vrou se handsak met die selfone en kamera in boaan die sonsambreel gehak sodat dit hoog en droog uit almal se pad kon hang en nie op die natterige sand hoef te staan nie.

Die res van ons goed soos die handdoeke, plakkies ens. het maar so rond en bont onder die sambreel gelê en pla mos in elk geval vir niemand nie.

Sonder waarskuwing.

Ewe skielik so uit die bloute hoor ek vrouens en kinders gil asof hulle lewens daarvan afhang en toe ek opkyk sien ek net 'n klomp water wat reguit op ons afpyl.

'n Groot golf het met baie krag op die strand gebreek en sy water het vêr teen die sand en tussendeur al die mense wat daar lê opgespoel.

Almal het verwoed rondgehardloop om te probeer gryp en red wat te red is. Ek was nét betyds om ons handdoeke en my plakkies op te tel maar die pak tjips was daarmee heen.

My dogtertjie se een skoen was heeltemal weg maar ons sou dit toe darem later (amper per ongeluk) in 'n wildvreemde vrou wat vêr agter ons gesit het se handsak kry.

Toe alles bedaar en die water weer teruggetrek het die see-in het ek gestaan en rondkyk na dié deurmekaar toneel wat hom voor my afspeel. Jy kon sien dat baie mense het waardevolle items verloor omdat hulle dit op die sand binne-in hulle hemde toegedraai het en dit toe nat geword het of heeltemal weggespoel het.

In die middel van al hierdie chaos het óns sonsambreel egter nog net so pen orent bly staan met die sak waarin ons waardevolle items was wat nog net so hoog en droog daaraan hang soos toe ek dit daaraan vasgesit het.

Wanneer die storms kom.

Ons sien nie altyd die frats branders in ons lewens aankom nie. Baie keer is dit heeltemal onverwags en kom dit so vinnig op ons afgepyl dat ons min of geen tyd het om te probeer red wat daar te red is nie. Voor ons weer sien spoel dit die dinge wat vir ons die kosbaarste is weg en kry ons dit dalk nooit weer terug nie.

Een ding is seker.

Die sonsambreel daardie dag was soos om geloof in God as ons Vader te hê en die sak met ons waardevolle items wat ek daaraan gehak het, is soos die kosbare dinge ons lewens.

Wanneer ons daardie kosbare dinge, ons huwelik, ons kinders, werk, toekoms ens. aan ons vaste geloof in God haak kan dit nie anders as om ook as’t ware hoog en droog te bly nie en kan die vyand dit nie sommer beetkry nie.

As jy dalk in so 'n situasie sit waar so 'n frats brander jou dalk onkant betrap het onthou dan dat God staan Sy kinders by in enige situasie en dat Hy jou altyd sal uitred as jy Hom daarvoor vra.

In Psalm 121: 1 – 2 staan daar geskryf: “Ek soek oral rondom my na iemand om my te help. Ek wonder dan: “Wie sal my nou regtig help?” Die Here sal my help. Hy het alles in die wêreld gemaak. Jy sal niks oorkom nie. God pas jou op.”

Skep moed. Haak dit wat vir jou waardevol is vas aan jou geloof in God sodat dit daar hoog en droog kan bly hang waar die vyand dit nie kan bykom nie.

Sterkte!

Kom ons bid. Hemelse Vader ek bring vandag alles wat vir my kosbaar is, my huwelik, my werk, my kinders en elkeen se toekoms en ek kom gee dit vir U, ek haak dit aan by my geloof en my vertroue in U en ek wil hê dat U dit asb. vir my sal bewaar en weghou uit die kloue van die vyand wat kom om te vernietig. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


Monday 1 December 2014

Ek sien jou aan die ander kant - deur Anton Brink

Mense wat die Here Jesus nie ken as verlosser en Saligmaker nie sal nie verstaan watter geweldige gemoedsrus daar in is wanneer jy met persoonlike oortuig die woorde kan sê: “Ek sien jou aan die ander kant.”


Daar is ’n vrede wat met redding gepaardgaan wat alle ander dinge in die lewe oortref. Ja, ons het ook maar ons alledaagse uitdagings soos enige mens op hierdie aarde maar daar is ’n wete, ’n rustigheid wat hier binne-in jou met jou praat en sê dat jy hoef jou nie oor jou ewige bestemming te bekommer nie omdat Christus het dit klaar deur die Kruis vir jou gereserveer.

As jy nog nie met daardie oortuiging kan sê dat jy weet waarheen jy op pad is nie, dat jy weet waar jy die ewigheid gaan deurbring nie dan is hier vandag vir jou ’n geleentheid om seker te maak.

Jou word van ganser harte genooi om die onderstaande gebed hardop te lees en saam te bid om dan sodoende jou hart en lewe aan die Here Jesus Christus te gee tot ewige verlossing van jou siel.

Soos altyd nooi ek dan weer diegene wat vandag wel vandag hierdie keuse doen om met ons beraders en gebed vriende by Tygerberg 104fm in kontak te kom sodat hulle jou vêrder van hulp kan wees. Die kontak nommer is 0861 104 104.

Kom ons bid. Hemelse Vader, vandag weet ek dat ek, soos alle mense wat gebore word op hierdie aarde, oppad is hel toe. Al lewe ek hoe goed, tensy ek by ’n punt kom waar ek besef dat ek ’n Verlosser nodig het, kan ek nooit uit my eie goeie dade of lewe die Ewigheid in U teenwoordigheid deurbring nie.

Dankie dat U Jesus, vir my sondes gesterf het, begrawe is en op die derde dag weer opgestaan het en opgevaar het na die hemel waar U aan die regterhand van God sit en my Voorspraak is. Ek bely vandag dat U die Seun van God is en dat U my verlossing duur gekoop het.

Dankie Heilige Gees dat U daagliks my metgesel is en dat U my leer en lei in die waarheid. Vandag aanvaar ek Jesus Christus as my Verlosser en Saligmaker en weet ek dat ek in U alles het wat ek nodig het om die Ewige Lewe te kry, volgens Joh. 3: 17

Ek dank U dat ek nou in ’n lewende verhouding met U kan wees en dat ek in U ’n Vriend en daaglikse Trooster en metgesel het. Amen


Friday 28 November 2014

Eerste liefde - deur Anton Brink

Onthou jy nog die eerste keer toe jy jou hart op iemand verloor het? Onthou jy daardie opwinding wat gemaak het dat jy amper aan niks anders kan dink behalwe aan dié wat jou hart gesteel het.











Onthou jy nog hoeveel ure julle net bymekaar gesit het, dalk sonder om eens te praat en hoedat net om bymekaar te wees meer as genoeg was vir julle? Dit voel mos asof jy vir die res van jou lewe met net brood, water en liefde oor die weg sal kan kom.

Om niks terug te hou nie.

Wanneer jy iemand só hartstogtelik lief het, is 'n mens ook baie keer bereid om absoluut álles vir daardie spesiale persoon op te offer, maak nie saak wat dit is of hoe duur dit jou kos nie.

Hierdie is wonderlike oomblikke wat 'n mens graag vir die res van jou lewe wil hê en as 'n mens die voorreg het om so 'n liefde in jou lewe te hê is dit werklikwaar iets fantasties. So 'n liefde moet gekoester en gevoed word dat dit kan groei en later in iets nóg beter sal verander.

Ons liefdesverhouding met die Here is op 'n manier ook so. Aan die begin kan ons behoorlik nie wag om in Sy teenwoordigheid te wees nie en is die opwinding wat daarmee gepaardgaan amper onuithoudbaar. Ons lees graag Sy woord en wil graag tyd by Hom spandeer.

Net soos in die geval van 'n liefdesverhouding met 'n mens moet hierdie verhouding met die Here Jesus óók so gekoester word sodat dit sal groei tot iets nóg mooier en nóg beter en nóg sterker as wat ons aan die begin het.

Soos die tyd aanstap kom daar ook in ons verhouding met die Here sommige uitdagings net soos in 'n gewone menslike verhouding, dinge wat gebeur wat ons ontstel of teleurstel en wat ons dalk glad nie verstaan nie, al probeer ons ook hoe hard. Dit word dan soms vir ons moeilik om aan te gaan en begin ons partykeer erg in God se getrouheid, Sy liefde of ons begin selfs later in Sy vermoë te twyfel.

Wees gerus, jy is nie alleen nie. Daar is baie mense wat al deur presies dieselfde is as jy en die Bybel is ook vol van voorbeelde daarvan.

Kyk maar net na Job. Hy het God werklik geken en liefgehad maar hy sit daar op die ashoop nadat hy alles verloor het besig om te krap aan die sere op sy lyf met 'n stukkende potskerf. Selfs sy vriende het hom aangemoedig om God te vloek en dan te sterf, maar hy het nie. Hy het geweier om sy eerste liefde prys te gee en dit is nét daar waar die verskil in kom.

God wil nie net jou eerste liefde wees aan die begin, Hy wil jou eerste bly nou en vir altyd en wanneer dit met ons moeilik gaan moet ons kies dat Hy steeds ons eerste liefde is, maak nie saak wat nie.

Ons gee gou moed op en ons vergeet dat Jesus self en andere soos Job, Moses, Paulus, Stephanus, Dawid en nog vele meer het ook deur vreeslike persoonlike uitdagings en teleurstellings gegaan wat hulle in die gesig moes staar maar dat hulle ten spyte daarvan (op die moeilikste oomblikke van hulle lewens) gekies het om by God te staan en nie van hulle eerste liefde vir Hom afstand te doen nie.

Net soos in ons eerste liefdes verhouding met 'n man of vrou waar ons bereid is om alles vir daardie een te gee net so verwag God dit van ons. Onthou wat staan in Lukas 14: 33 – 35 geskryf, “Weet julle, so gaan dit ook met elkeen van julle wat agter My wil aankom. As julle nie bereid is om julle geld en julle besittings weg te gee aan ander mense wat swaarkry nie, kan julle nie my volgelinge wees nie. Julle wat my volgelinge is, is soos sout. Julle moet smaak gee aan hierdie smaaklose wêreld, maar wat help dit as julle self smaakloos is? Dan beteken julle niks meer vir My nie. Dan moet julle weggegooi word, presies net soos 'n mens maak met sout wat sy smaak verloor het. Julle moet mooi luister na wat Ek vir julle sê en dit ook gaan doen.”

As jy miskien iemand is wie se eerste liefde vir God vervaag en verflou het, dink dan aan die feit dat ten spyte daarvan nooi God jou steeds om tot Hom te nader en dat wanneer jy dit doen sal Hy dan weer op Sy beurt tot jou sal nader.

In Jakobus 4: 8 – 10 staan daar geskryf, “Gee net vir God plek in julle lewe. Wees hartseer oor alles wat julle verkeerd gedoen het. Moenie dink julle verkeerde lewe is sommer niks nie. Dit is iets waaroor julle baie sleg moet voel. Julle behoort daaroor te huil. Vee die glimlag van selftevredenheid van julle gesig af en wys hoe jammer julle oor julle sondes is. Inplaas van die lag van vrolikheid moet daar die traan van skuld en rou wees. Buig baie laag voor die Here. Sê dat jy jou hele lewe net vir Hom wil leef. God sal jou optel, daar waar jy in oorgawe voor Hom buig en jou op 'n ereplek regop, kop omhoog, langs Hom laat staan.”

Doen dit vandag. Erken voor God dat jou liefde vir Hom is nie meer eerste nie en dat al die ou nare dinge van die wêreld het die plek daarvan kom inneem. Hy sál jou vergewe, optel en herstel.

Kom ons bid. Vader ek verklaar vandag weer dat U wel my eerste liefde is. Ek is jammer dat ek vir 'n tyd daardie opregte liefde vir U laat verflou het maar ek wil hê dat my verhouding met U weer sterk moet wees en warm moet brand. Kom neem asb. weer vandag opnuut beheer oor my lewe, oor my siel, gees en liggaam en nader asb. tot my omdat ek van dag tot U nader. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.



Thursday 27 November 2014

Die vrugteslaai - deur Anton Brink

Nou Dinsdag wat verby is, is ek genooi om 'n jaareindfunksie by te woon by 'n pragtige en welbekende “up market” restaurant in Kaapstad.


Ons was nie vreeslik baie mense bymekaar nie, net agt om die waarheid te sê en een tafel was genoeg vir ons om almal gemaklik by te sit. Dit was só 'n lekker aand dat ons besluit het om te vra dat ons sommer by die tafels buite dié eetplek met aandete bedien word.

Gesellig.

Ons het vreeslik lekker gekuier. Om die waarheid te sê ons het só gelag dat ek op 'n stadium grappenderwys gesê het dat ons sal moet rustiger raak anders gaan die mense by die ander tafels ons dalk kom stilmaak.

Verskeie soorte.

Ons was 'n lekker groepie bymekaar uit verskillende ras en kulturele agtergronde soos Engels, Afrikaans, Xhosa, wit, bruin, swart. Ten spyte daarvan dat ons so wyd uiteenlopend was en eintlik baie rede gehad het om nié vriendelik en gesellig te wees nie, het ons steeds lekker gekuier.

Wat kies jy?

Hoe ervaar jy die mense saam met wie jy woon of die gemeenskap waarin jy bly, is dit vir jou soos daardie kookpot of soos 'n vrugteslaai? Dit is presies waaraan ek gesit en dink het terwyl ek daar aan tafel was saam met hierdie sewe ander mense waarvan net een my taal en kultuur deel.

'n Kookpot bestaan meestal uit verskillende bestanddele of voedselsoorte maar so ook 'n vrugteslaai en tussen ons het ons beslis die potensiaal gehad om soos daardie kookpot te wees. Tóg, omdat daar wedersydse agting en respek onder mekaar was, was dit vir elkeen van ons eerder soos om deel te wees van 'n vrugteslaai, vars en lekker.

Besluit self.

Hoe jy die wêreld om jou en die mense daarin ervaar hang in 'n baie groot mate maar net van jou self af. As jy kies om ongeduldig en ongeskik teenoor hulle te wees dan sál die wêreld vir jou soos daardie kookpot raak. As jy egter kies om onvoorwaardelike liefde en respek aan andere te betoon sal jy sien dat daardie selfde mense jóú ook heel waarskynlik op dienooreenkomstige wyse sal behandel.

Jou ingesteldheid of gesindheid bepaal dus in 'n groot mate jou eie persoonlike ervaring op die ou einde van die dag. Daar is 'n Engelse spreekwoord wat lui: “Your attitude will determine jou altitude.” Ek verseker jou hierdie sêding is baie waar.

In Filippense 1: 27 staan daar geskryf: “Gedra julle altyd so dat julle 'n advertensie vir Christus is. Daarmee moet julle regtig moeite doen. Ek wil net goeie dinge van julle hoor, of ek nou ja julle toe kom of nie. Ek wil hoor dat julle soos een man saamstaan en alles doen om ander mense te oortuig dat die goeie boodskap regtig goed is.”

Besluit dus om van vandag af nie mense op hulle baadjie te takseer en hulle dan daarvolgens te hanteer nie. Ek moes toevallig presies dít doen met een van die dames wat saam met my by daardie tafel gesit het.

Ek het haar in die destyds altyd ervaar as iemand wat nors, saaklik en eintlik bietjie onvriendelik is. Toe ek haar egter met tyd beter leer ken het ek agtergekom dat dit glad nie is soos wat sy is nie en dat dit maar net haar manier is hoe sy mense hanteer wie sy nie goed ken nie.

Sy doen dit nie aspris nie, dis maar net haar manier en as ek haar op haar baadjie takseer het, sou ons nie Dinsdagaand so lekker saam kon lag en gesels nie.

Wees jy ook vandag deel van daai vrugteslaai en kies teen 'n kookpot mentaliteit.

Sterkte!

Kom ons bid. Here help my om asb. my houding teenoor mense te verander en om hulle eerder lief te hê en te respekteer voor ek hulle wil beoordeel sodat hulle my dan ook so sal behandel. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


Wednesday 26 November 2014

Hiervan kan jy seker wees - deur Anton Brink

Daar is 'n baie ou Engelse gesegde wat die sê: “There are only two things certain in life, death and taxes.”



Ek wil egter 'n derde een hierby voeg en dit is die feit dat behalwe dood en belasting sál jy ook van dag tot dag allerlei probleme of uitdagings hê. Net omdat jy 'n gelowige is beteken dit nie dat jy van lewens storms gevrywaar is nie.

Die Here Jesus maak egter 'n baie belangrike stelling in die Bybel rakende hierdie kwessie wanneer Hy in Johannes 6: 33 die volgende punt aanraak: “Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê, maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”

God wil hê dat ek en jy rustig moet wees wanneer onvermydelike probleme, frustrasies en uitdagings opduik en dat ons eintlik maar op 'n manier moet aanvaar dat dit gáán kom of ons dit soek of nie.

Wanneer moeilikheid dan wel ons padlangs kom, moet ons nie angstig raak en verward rondkyk nie maar liewer ons self herinner dat Jesus dié stelling gemaak het en dat ons maar gerus vrede in Hom kan hê a.g.v. daarvan want Hy is in beheer en daar is niks wat Hom onkant kan betrap nie.

Ek weet dit is moeilik en 'n mens voel meeste van die tyd nie asof jy daardie vrede van God ervaar nie maar probeer ten minste begin met 'n keuse. 'n Keuse wat jy maak om te kies en te glo dat jy is in veilige hande.

Hoe bery jy jou self voor op moeilikheid en teenkanting? Deur naby aan die Here te bly in jou verhouding met Hom en in jou hart werklik te glo dat Sy beloftes waar is wanneer Hy sê dat Hy jou nooit sal begewe of verlaat nie, al gebeur wat ook al.

As jy dus iemand is wat vandag so bietjie sukkel met 'n probleem wat jou moedeloos of angstig maak onthou dan dat as jy 'n gelowige is dan ís God naby aan jou en Hy sal jou veilig deurdra tot aan die ander kant.

Onthou dat die Here sê ons kan moed hou want Hy het hierdie wêreld klaar oorwin. Ek hoop dat jy vandag daardie moed sal kan skep soos Hy van jou vra.

Sterkte!

Kom ons bid. Vader help my om anders na situasies te kyk. Help my om te sien soos U sien en om nie net in my probleme en teenkanting vas te kyk nie maar om te onthou dat U het dit klaar oorwin. Help my om deur te druk en om met 'n verwagting te kyk na die deurbrake wat U gaan bring. Ek vra dit in Jesus se naam. Amen.


Tuesday 25 November 2014

Glo is sien! - deur Anton Brink

Toe ons kinders was, het ons altyd vir mekaar gesê, “tóé, wys... sien is glo”.



Dit laat my eintlik lekker lag as ek nou weer daaraan terugdink. Min het ons geweet dat die teenoorgestelde eintlik die waarheid is, om te gló is om te sien.

In Hebreërs 11: 6 lees ons, “As 'n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.”

Let op dat die bogenoemde skrifgedeelte sê dit is onmoontlik om te doen wat God wil as jy nie glo nie. Daar is dus geen ruimte wat vir twyfel gelaat word nie.

Gelowiges moet begryp hoe belangrik dit is om waarlik te glo, om waarlik in jou hart oortuig te wees dat God sál doen wat Hy gesê het Hy sal, selfs al is presies die teenoorgestelde besig om te gebeur of al lyk iets ook vir jou hóé onmoontlik. As die Here gesê het dit sal wees dan sál dit wees kom wat wou.

Ek kan aan 'n keer of twee dink waar ek in geloof amper hardkoppig voet by stuk moes hou oor wat ek geglo het die Here vir my belowe het. Een keer spesifiek staan vir my uit. Dit was toe ek vir 'n werk aansoek gedoen het. Ek het geglo dat die Here het vir my belowe dat die posisie myne sou wees en ek het verwag dat die enigste korrespondensie van dié betrokke maatskappy sou 'n brief of telefoonoproep wees wat sê dat ek aangestel is.

Groot was my verbasing.

Toe ek my oë uitvee kry iemand anders die werk. Kan jy glo, dié einste posisie waarvoor ek aansoek gedoen het en wat ek geglo het die Here gesê het myne sal wees gaan staan en gee hulle toe vir iemand anders?! Ek het vir 'n paar oomblikke erg verward gestaan en wonder of ek dalk verkeerd gehoor het.

Wat gaan aan?

Ek het so bietjie angstig geraak en vir die Here gevra om vir my te verduidelik wat besig was om te gebeur en om seker te maak dat ek wel reg gehoor het. Sag en getrou soos altyd antwoord Hy toe en sê dat ek maar rustig kan wees, dit ís my werk, selfs al het iemand anders dit gekry.

Ek verstaan nie maar ons gaan maar aan.

Ek het gekies om dit wat God vir my sê onvoorwaardelik te glo en het ek besluit om my by Sy antwoord vir my te berus. Ek het nog 'n stappie verder gegaan en het as bewys van my geloof in God en my vertroue in Sy belofte aan my het ek glad nie vir enige ander poste aansoek gedoen nie. Ek het net rustig op Hom gewag.

Is jy nog beskikbaar?

Daar het seker so drie weke verbygegaan en toe, een oggend vroeg, kry ek 'n telefoonoproep. Ek antwoord en hoor ek toe die bekende stem van dieselfde man wat vantevore die onderhoud met my gevoer het tydens my aansoek by die betrokke maatskappy. “Stel jy nog belang in die werk?” vra hy my, “Ja, beslis” antwoord ek en, “Wanneer kan jy begin?” is sy volgende vraag.

God het gedoen wat Hy gesê het Hy sal selfs toe dit onmoontlik lyk en selfs toe presies die teenoorgestelde gebeur van ek geglo het Hy gesê het, sal.

Ek sou later uitvind dat hulle my eintlik reg van die begin af wóú aanstel máár dat daar het 'n ander man vir dieselfde pos aansoek gedoen en sy omstandighede was van so 'n aard dat hulle hom jammer gekry het en gevoel het dat hy het die werk meer nodig as ek. Na drie weke het hulle egter besef dat hulle 'n groot fout gemaak het.

As ek nie vas bly staan en bly glo het aan God se belofte vir my nie sou ek heel moontlik Sy plan en belofte vir my lewe gemis het. Gelukkig hét ek toe nie getwyfel nie en kon ek 'n fantastiese wonderwerk sien gebeur. Dis 'n baie lekker gevoel van versekering wat 'n mens kry wanneer jy God se hand so in jou lewe sien beweeg.

Dit stel 'n mens gerus dat al Sy ander beloftes in die Bybel óók waar is.

Is daar iets wat God aan jou beloof het en omdat jy dit nie gesien gebeur het, het jy kwaad of gefrustreerd geword en jou rug op Hom gedraai en toe op die ou einde net eenvoudig jou eie ding begin doen?

Moontlik is vandag jou geleentheid om dit voor die Here te erken en te vra dat Hy jou vir jou ongehoorsaamheid sal vergewe. Vertrou God se beloftes vir jou met jou hele hart en jy sal sien dat Hy hy jou nie sal teleurstel nie.

Kom ons bid. Vader ek is jammer dat ek begin twyfel het. Ek is jammer dat ek kwaad geword het en opgehou glo het. Vergewe my asb. Here en herstel my om weer 100 % binne U wil te leef. Help my om met my geestelike oë en ore te sien en daarmee te hoor eerder as met my fisiese oë en ore. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.



Monday 24 November 2014

Die polisieman, die handsak en die Pa - deur Anton Brink

'n Paar weke gelede moes ek en my vrou 'n saak van diefstal by die Polisie gaan aanmeld.

Dit was niks vreeslik ernstigs nie, ons het net ons motor by 'n plek laat was en een van die personeellede daar het toe gevoel dat die pak vol kinder DVD’s wat agter onder die sitplek gelê het eintlik aan haar behoort en toe vat sy dit.

Versekering.

Vir ons om 'n eis in te sit om te probeer om die waarde van die DVD’s terug te kry met 'n versekering uitbetaling moes ons noodgedwonge 'n klag by die polisie gaan lê sodat ons 'n saak nommer kon kry. Op die ou einde het die versekering toe ook nie eens uitbetaal nie maar dit is nie nou die onderwerp hier ter sprake nie.

Versigtig met haar woorde.

Terwyl ek en my vrou by die polisiebeampte sit en 'n verklaring gee van wat presies gebeur het sien ek hoe beantwoord 'n ander beampte 'n telefoonoproep. Ek kon duidelik hoor wat sy alles sê omdat sy net 'n klein entjie weg van my gesit het. Ek kon agterkom dat sy oomblikke later met hierdie telefoniese gesprek haar woorde behoorlik begin tel en dat sy nie té veel wou sê nie.

Na 'n rukkie het sy vir die persoon wat gebel het verduidelik dat sy nie oor die telefoon verder kón praat nie en dat hy maar liewer moet inkom na die polisiekantoor sodat hulle daar van aangesig tot aangesig dinge kan bespreek.

'n Groterige vaal handsak.

Toe die polisiebeampte die telefoon neersit draai sy na haar kollega en sê vir haar dat dié man wat nou gebel het, wou 'n jong vrou as vermis aangee. Toe sy egter mooi na die beskrywing van die meisie, die klere wat sy aangehad het asook die groot vaal kleurige handsak wat sy saam met haar gedra het luister, het sy besef dat dit presiés dieselfde beskrywing is van 'n jong vrou wat net die vorige aand van 'n brug afgespring het tot op die snelweg en sodoende haar eie lewe geneem het.

Dit was haar Pa.

Protokol by SAPS vereis dat sulke tragiese nuus nie sommer oor 'n telefoon met 'n naasbestaande gedeel moet word nie en dit is waarom sy die man wat gebel het (die meisie se Pa) toe gevra het om liefs na die polisiekantoor toe te kom sodat hulle in persoon die nuus kon oordra.

Na 'n rukkie.

Nie vreeslik lank daarna nie het 'n man en vrou, beide seker in hulle vyftigs, amper versigtig by die polisiekantoor ingestap. Ek kon sien dat hulle verwag die ergste en dit was ook so.

Die polisiebeampte het die handsak wat hulle in die kluis gehad het uitgehaal en aan die man en vrou gewys. Hulle het bevestig dat dit wel hulle dogter sin was waarna die diens offisier hulle toe na 'n kantoor iewers anders in die gebou vergesel het om die nuus met hulle te deel dat hulle dogter dood is.

Dis erg.

Ek kon my nie en wóú my eintlik nie indink hoe vreeslik erg dit vir daardie Pa en Ma moes wees om sulke nuus te moes hoor nie. Ek het hulle jammer gekry en sag by my self gebid dat die Here vir hulle sal onderneem.

Op pad huis toe.

Ek het daardie man en vrou nie weer gesien nie. Later toe ek en my vrou huis toe ry het ons weer daaroor gepraat en kon ek nie help om hardop te dink en te sê dat ek wonder of hierdie jong meisie wat selfmoord gepleeg het, en maar nét 19 jaar oud was, se saak met die Here reg was nie. Die feit is dat as sy die Here Jesus nie as verlosser en Saligmaker geken het nie sal sy nie die ewige lewe saam met Hom beërwe nie.

Ek weet daar is mense wat negatiewe kommentaar sal lewer en sal sê dat 'n gelowige sou in die eerste plek nie selfmoord gepleeg het nie en dat daardie meisie dus nie een kón wees nie maar dit is ongelukkig nie die realiteit nie. Daar is baie gelowiges wat so 'n drastiese stap oorweeg of selfs al probeer het. Die antwoord en reaksie daarop is dus nie so eenvoudig nie.

Dit eers daargelaat.

Of gelowiges so iets sou doen of nie maak nie nou saak nie. Wat ek wel by jou wil weet is of ken jy die Here Jesus Christus as verlosser en het die verlossing en vryspraak by die Kuis al aanvaar? Indien nie, moedig ek jou aan om vandag jou besluit te maak en sekerheid te kry oor waarheen jy op pad is.

Lees asb. die onderstaande gebed hardop saam en gee jou hart en lewe aan Jesus. Asb. wanneer jy dit dan gedoen het maak met ons kontak by Tygerberg 104fm en praat met ons beraders en gebed vriende sodat hulle jou kan help en raad gee. Ons nommer is 0861 104 104.

Kom ons bid. Hemelse Vader, vandag weet ek dat ek, soos alle mense wat gebore word op hierdie aarde, oppad is hel toe. Al lewe ek hoe goed, tensy ek by ’n punt kom waar ek besef dat ek ’n Verlosser nodig het, kan ek nooit uit my eie goeie dade of lewe die Ewigheid in U teenwoordigheid deurbring nie.

Dankie dat U Jesus, vir my sondes gesterf het, begrawe is en op die derde dag weer opgestaan het en opgevaar het na die hemel waar U aan die regterhand van God sit en my Voorspraak is. Ek bely vandag dat U die Seun van God is en dat U my verlossing duur gekoop het.

Dankie Heilige Gees dat U daagliks my metgesel is en dat U my leer en lei in die waarheid. Vandag aanvaar ek Jesus Christus as my Verlosser en Saligmaker en weet ek dat ek in U alles het wat ek nodig het om die Ewige Lewe te kry, volgens Joh. 17: 3

Ek dank U dat ek nou in ’n lewende verhouding met U kan wees en dat ek in U ’n Vriend en daaglikse Trooster en metgesel het. Amen


Friday 21 November 2014

Mnr. Smit - deur Anton Brink

Ek het 'n tyd gelede 'n baie mooi beskrywende verhaal gelees wat handel oor 'n silwer Smit, miskien ken jy dit?

Dit gaan oor 'n man wat 'n stuk silwer oor en oor in 'n baie warm oond druk. Die uniekheid van hierdie verhaal is die feit dat, vir die doeleindes van hierdie storie en die beginsel daar agter, kan hierdie stuk silwer praat asof dit lewe.

Meeste van ons weet seker dat om 'n edel metaal soos silwer 100 % skoon en suiwer te kry, moet jy dit smelt in 'n vreeslike warm oond. Om silwer ordentlik te smelt het jy 'n temperatuur van so net 'n rapsie onder 1 000 grade Celsius nodig.

Wanneer die silwer Smit dan aanhoudend dié pratende edelmetaal weer en weer in die warm oond druk, roep dit (die silwer) uit en vra die man hoekom hy dit doen. Die oond is tog so vreeslik warm en dit is glad nie lekker om daar in te wees nie.

Hoe lank nog?

Op 'n stadium roep die silwer uit in pure frustrasie en moedeloosheid en vra vir die Smit hoe lank die warm oond en smelt proses dan nog gaan aanhou waarop die man dan antwoord en sê: “Tot ek my eie refleksie in jou kan sien.”

Hoe werk dit?

Dit is regtig so, die beste manier om te sien of silwer, goud ens. heeltemal skoon en suiwer is en of al die vuiligheid daar uit gebrand is, is wanneer die een wat die smeltwerk doen sy eie beeld of refleksie daar in kan sien. Slegs dán is dié edel metaal gereed om gebruik te word en in 'n pragtige juwelier stuk soos 'n ring of 'n halssnoer gegiet te word.

Benoud en angstig.

Die vraag is, is jy iemand wat kan getuig daarvan dat dit op die oomblik vir jou voel asof jý in daardie oond is. Ervaar jy die benoudheid, angs en spanning van 'n situasie wat vir jou só moeilik is dat jy twyfel of jy dit sal kan hanteer en wonder jy ook en wil jy ook vir die silwer Smit vra hoekom, waarom en wanneer hou dit op?

Hou goeie moed. Die silwer Smit, die Here is besig met jou. Hy sal jou nie vernietig nie. Hy is net besig om al daardie onsuiwerhede uit jou te haal sodat Hy en die wêreld vir Hom binne-in jou kan sien.

In Jakobus 1: 2 – 4 staan daar geskryf: “My liewe mede Christene, wees opgewonde as julle geloof by elke geleentheid getoets word. Julle weet mos hoe goed dit vir julle geestelike lewe kan wees. Die slegte dinge wat met julle gebeur, toets of julle werklik die Here vertrou. As dit met julle sleg gaan, leer julle juis om nader aan die Here te leef. Julle moet die Here toelaat om julle deur hierdie dinge te leer wat dit beteken om altyd net op Hom te vertrou, kom wat wil. So sal julle geestelike grootmense word wat weet hoe om in elke situasie re op te tree.”

Sterkte!

Kom ons bid. Hemelse Vader gee my asb. die krag en wysheid om die beproewinge in my lewe deur te staan. Beskerm my asb. in hierdie tyd Here dat ek sal aanhou en uithou totdat U en die mense rondom my vir U binne-in my kan sien en sodat U my sal kan gebruik tot U eer. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen



Thursday 20 November 2014

Deur dik en dun - deur Anton Brink

God is nie 'n mens nie en dus redeneer Hy ook nie soos ene nie, gelukkig tog dáárvoor!


Die Here maak nie besluite wat op wispelturige emosies gebaseer is nie. As dit so was, sou ek en jy regtig groot probleme gehad het. Kan jy jou indink hoe dit sou wees as God die een oomblik van plan is om jou by te staan om dan die volgende oomblik skielik van plan te verander net omdat Hy kwaad is vir jou?

Nee, God se manier van dink en besluite neem hang nie af van hoe Hy op enige gegewe oomblik voel nie maar eerder van wat Hy gekies het om te doen of nie te doen nie.

God ervaar emosie.

Moenie dink dat God nie emosie ervaar nie, dit is nie die waarheid nie. Hy ervaar gevoel of emosie net soos ons. Ons lees in Genesis 1: 27 dat ons is na Sy beeld geskape. Ons kan dus aanvaar dat ons emosies ervaar omdat Hy dit ervaar, die verskil is dat anders as ons, Hy nie deur Sy emosies gelei word nie.

God kan kwaad word.

Kwaad word, dis is 'n emosie, en as daar nou een iemand vir wie jy nié wil kwaad maak nie dan is dit nou God. Ons lees van God se toorn in die Bybel en ons weet ook dat daar sal 'n dag kom wanneer Sy genadetyd oor hierdie wêreld en elke mens wat Hom verwerp gaan uitloop.

Wanneer daardie dag kom, sal Sy oordeel of toorn op elke mens val wat Hom nie wou ken nie. Om maar net één gedeelte uit die Bybel te sien wat praat oor God wat kwaad word gaan lees Romeine 1: 18.

God kan hartseer word.

Ons lees in Efesiërs 4: 30 dat ons aangemoedig word om nie die Heilige Gees te bedroef nie, m.a.w. om Hom nie hartseer te maak nie. Ons kán deur ons sonde en ongehoorsaamheid vir God, die skepper van die hemel en die aarde hartseer maak. Sy hart breek oor my en jou ongeregtigheid.

God hou van lag en blydskap.

Jy kan net iets vir iemand gee as jy dit self het. In Job 8: 21 staan daar geskryf: “Job, Hy sal jou weer laat lag en uitroep van blydskap.” Dit is God wat lag en blydskap vir Job sal gee.

Ons kan vir ure aangaan.

Emosies is volop en ons kan nog heeldag daaroor gesels en vir ure aaneen daaroor praat. Die feit is God ervaar emosie net soos ons máár met dié verskil, dit bepaal nie sy doen en late nie. Dit bepaal nie of Hy by jou gaan bly of nie, of Hy aan jou getrou gaan wees of nie.

As jy aan Hom behoort bly Hy by jou deur dik en dun, maak nie saak wat nie. Sy emosies bepaal nie Sy getrouheid nie, Hy kies om dit te doen, daarom doen Hy dit wat Hy gesê het Hy sal.

In Eksodus 20: 6 staan daar geskryf: “Ek bly getrou en my liefde bly altyd staan vir duisende geslagte lank vir almal wat lief is vir My en aan My gehoorsaam is.”

Jy sal oplet dat daardie skrifgedeelte nié lees: “Ek bly getrou wanneer ek 'n lekker dag het, goed voel en Ek lus is daarvoor en My liefde bly altyd staan vir solank Ek so voel vir duisende geslagte lank vir almal wat lief is vir My en aan My gehoorsaam is.” Hy bly getrou al voel Hy hartseer, kwaad of teleurgesteld. Dankie tog!

Vir gelowiges.

Onthou dat hierdie voorreg waar God belowe om jou nooit te begewe en nooit te verlaat nie is op gelowiges van toepassing. God bly aan my en jou getrou omdat ons aan Hom behoort, dit geld nié vir ongelowiges nie. Om die waarheid te sê God beloof in Sy woord dat Hy met hulle (ongelowiges) gaan afreken en dit klink vir mý maar baie onaangenaam.

So, as jy iemand is wat die Here Jesus ken as verlosser wees dan vandag gerus en weet verseker dat God jou nooit maar nooit sal los, vergeet, verstoot of alleen los om self aan te sukkel of uit die moeilikheid uit te kom nie.

Hy sal by jou bly staan, deur dik en dun.

Kom ons bid. Here ek is so ongelooflik dankbaar dat U aan my getrou bly selfs al is ek nie. Dankie, Vader dat ek vandag kan wéét staan by my deur dik en dun al gebeur wat ook al. Sal U my asb. altyd herinner dat U by en saam met my is elke dag en in elke situasie. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.