Monday 2 February 2015

Niemand maar niemand: - deur Anton Brink

Die Bybel is baie duidelik oor die feit dat niemand tot die Vader kan kom en die ewige lewe kan beërwe behalwe deur die Here Jesus as persoonlike verlosser te aanvaar nie.



In Johannes 14: 6 staan daar geskryf: “Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.”

Verlossing en vryspraak van sonde is eksklusief gereserveer vir dié wat aanvaar het wat Christus vir hom of haar aan die Kruis gedoen het en niemand anders nie.

Ek nooi jou dus om vandag die onderstaande gebed te doen en jou hart en lewe vir God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees te gee. Bely hardop met jou mond dat jy glo Jesus het die prys namens jou betaal het aan die Kruis van Golgota en dan sál Hy jou red.

As jy dit klaar gedoen het, kontak dan asb. ons gebed vriende by Tygerberg 104fm en sê vir hulle wat jy besluit het en laat toe dat hulle jou verder leiding gee omtrent wat jou nou te doen staan.

Sterkte!

Kom ons bid. Hemelse Vader, vandag weet ek dat ek, soos alle mense wat gebore word op hierdie aarde, oppad is hel toe. Al lewe ek hoe goed, tensy ek by ’n punt kom waar ek besef dat ek ’n Verlosser nodig het, kan ek nooit uit my eie goeie dade of lewe die Ewigheid in U teenwoordigheid deurbring nie.

Dankie dat U Jesus, vir my sondes gesterf het, begrawe is en op die derde dag weer opgestaan het en opgevaar het na die hemel waar U aan die regterhand van God sit en my Voorspraak is. Ek bely vandag dat U die Seun van God is en dat U my verlossing duur gekoop het.

Dankie Heilige Gees dat U daagliks my metgesel is en dat U my leer en lei in die waarheid. Vandag aanvaar ek Jesus Christus as my Verlosser en Saligmaker en weet ek dat ek in U alles het wat ek nodig het om die Ewige Lewe te kry, volgens Joh. 3: 17

Ek dank U dat ek nou in ’n lewende verhouding met U kan wees en dat ek in U ’n Vriend en daaglikse Trooster en metgesel het. Amen


Friday 30 January 2015

'n Bruinbrood en 2L Melk - deur Anton Brink

Eergister namiddag vra my vrou my om asb. gou na die winkel toe te gaan om 'n bruinbrood en melk te gaan koop. Die kafee is nie vêr nie, net af in die straat van my huis om die waarheid te sê en ek stap gewoonlik sommer daarheen eerder as om te ry.


My 6 jarige dogtertjie is baie lief daarvoor om saam te loop en toe ek die voordeur oopmaak hoor ek hoe roep sy agter my aan en vra dat ek asb. vir haar moet wag want sy wil ook winkeltjie toe gaan vir 'n lekkertjie.

So gesê so gedaan en ek en sy sit toe hand aan hand af na die kafee toe.

Ons het seker net so 'n 100 meter vêr geloop toe ek oplet dat vier mans wat net 'n entjie weg van ons af in die straat in 'n wit dubbelkajuit bakkie by die vier rigting stop oor die kruising ry skielik in die middel van die pad stop. Hulle het vir my baie verdag gelyk.

Al vier van hulle kyk op in die straat na my en my kind wat aangestap kom. Stadig “reverse” die bestuurder die voertuig en draai na regs, reguit in ons rigting en kom aangery.

Ek het dadelik agterdogtig begin raak en allerhande dinge het deur my kop gegaan. Dinge soos dalk wil hulle my kind gryp en ontvoer of miskien will hulle my beroof, ek het nie geweet wat om te verwag nie.

Die volgende oomblik soos hulle aangery kom gaan die voorste passasiers venster oop en kom die bakkie al hoe nader tot hy uiteindelik reg langs my stop. Al waaraan ek kon dink was my kind se veiligheid en ek het my reggemaak om vir haar te sê om te hardloop so vinnig as wat haar beentjies haar kon dra.

Die uiteinde was dat dié vier mans verdwaal het en hulle het rigting aanwysings by my gevra oor hoe om by 'n sekere plek uit te kom. Ek was baie verlig maar dit het my tog laat dink aan hoe die wêreld oor die afgelope jare verander het.

Dat 'n mens nou al tot bang en versigtig moet wees net om na die winkeltjie op die hoek van jou straat toe te stap, dis bitter hartseer. Ek kan nie onthou dat dit vroeër so was nie?

Tog, ten spyte van al hierdie dinge moet ek en jy wat die Here ken nie angstig raak nie. God het nie van ons vergeet nie. Hy het ons tog eintlik lank gelede alreeds gewaarsku dat daar baie bose dinge in die laaste dae sal gebeur en dat dit óns verantwoordelikheid is om daarteen te waak en bid.

Laat ons dus moed skep in die wete dat ons verlosser leef en dat Hy is naby aan elkeen van ons wat glo en dat Hy ons altyd en in alles sal bystaan.

In Psalm 121: 5 – 8 staan daar geskrywe: “Die Here beskerm jou, die Here bewaar jou van alle gevare. Bedags sal die son jou nie steek nie en snags sal die maan jou nie kwaad doen nie. Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar, jou lewe sal Hy beskerm. Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan, nou en vir altyd.”

Neem hierdie skrifgedeelte vandag saam met jou en bêre dit in jou hart vir wanneer jy dalk angstig voel.

Sterkte!

Kom ons bid. Vader beskerm my en my gesin asb. vandag. Hou ons veilig Here en gee asb. U engele opdrag aangaande ons om ons te bewaar maak nie saak waar ons reis, werk of studeer nie. Hou die bose asb. van elkeen van ons af weg. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


Thursday 29 January 2015

Wie dink jy is jy? - deur Anton Brink


Ek besef dat party mense dink sekerlik hopeloos te veel van hulle self maar die feit van die saak is dat 'n baie groter persentasie van mense dink weer hopeloos te min van hulle self!
 
As ons almal dit tog maar net kon regkry om 'n goeie, gesonde en gebalanseerde dink van ons self te kon hê dan sou daar veel minder probleme in hierdie wêreld gewees het en ek vermoed dat die arme sielkundiges en psigiaters sou dalk seker amper sonder werk gesit het omdat almal okei is.

Ek wil jou graag vandag 'n paar voorbeelde uit die Bybel gee van karakters wat volgens ons menslike standaarde ook eintlik nie goed genoeg is nie:

1. Noag was dronk
2. Abraham en sy vrou was te oud
3. Isak was amper vermoor en geoffer deur sy eie Pa
4. Jacob was 'n leuenaar
5. Leah was nie baie mooi nie
6. Joseph is deur sy eie broers mishandel
7. Moses het gehakkel
8. Gideon was bang
9. Simson se hare was lank
10. Jeremiah en Timoteus was albei te jonk
11. Dawid het 'n buit egtelike verhouding gehad én hy was 'n moordenaar
12. Elia wou liewer dood gaan
13. Jesaja was sonder klere
14. Jona het van God af weggehardloop
15. Naomi was 'n weduwee
16. Job was bankrot
17. Petrus het gesê dat hy Jesus nie ken nie
18. Die dissipels het aan die slaap geraak toe hulle eintlik moes bid
19. Martha was oor alles bekommerd
20. Die Samaritaanse vrou was al van meer as een man geskei
21. Saggeüs was te kort
22. Paulus het eers Christene vervolg en laat stenig
23. En Lazarus... wel, hy was dood

Elkeen van hierdie mense het swakhede gehad net soos ek en jy. Onthou wat staan geskryf in 2 Korintiërs 12: 9: “Toe sê die Here uiteindelik vir my, “My goedheid is vir jou genoeg. Dit is al wat jy nodig het. My groot krag word sigbaar in jou lewe wanneer jy swak en hulpeloos is.”

Ons kan elkeen allerlei verskoning gebruik om te probeer bewys en om ander mense en God te oortuig waarom ons nie iets in die lewe kan regkry of vir God iets kan beteken nie. Die Here kom egter en Hy gebruik daardie einste tekortkominge van jou om dan daarmee Sy eie naam te verheerlik en ander mense van Sy goedheid en genade te vertel.

Watter verskonings gee ek en jy daagliks wat ons miskien al vir jare lank gebruik om nie ons volle Godgegewe potensiaal uit te leef nie? Miskien was of is jy ook bankrot, dalk was of word jy mishandel, miskien is jy baie siek of dalk het jy geen heenkome nie. God kan en sal selfs jou grootste vernedering of tekortkoming gebruik tot jou eie voordeel en tot Sy eie verheerliking as jy Hom net toelaat om so te doen.

Kom ons bid. Vader, U noem my kind en erfgenaam. U woord sê dat ek is duur gekoop en kosbaar vir U en dat U my vergewe en met oop arms ontvang. U beskryf my as die kroon van U skepping. Tog Vader voel ek die meeste van die tyd nie so nie. Maak asb. my geestelike oë oop om te verstaan en te aanvaar hoe U oor my dink en voel sodat ek ook my volle Godgegewe potensiaal kan besef en uitleef tot U verheerliking. Help my om oor my self te dink en voel soos wat U oor my dink en voel. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.
 
 
 

Wednesday 28 January 2015

Niks soene vir jou nie - deur Anton Brink

Ek weet mense sê altyd vir jou dat kinders word so gou groot maar jy verstaan dit nie regtig voor jy dit nie self ervaar nie.
Gister was só 'n dag vir my vrou gewees. Sy het een van daardie “my kind word nou vinnig groot” oomblikke met ons seuntjie Léhan (8) beleef toe sy hom by die skool gaan aflaai het.

Toe sy die motor stop sien hy dat daar van die meisies wat in sy graad 3 klassie is op die sypaadjie langs die kar staan en gesels. Hy vat sy tas en lê so oor na sy Ma se kant toe om vir haar 'n drukkie te gee en sê toe vir haar baai net voor hy begin uitklim.

My vrou vra toe vir hom waar haar soentjie dan vanoggend is. Die kyk wat hy haar gegee het, was genoeg om haar te laat verstaan dat sy maar liewer nie nou verder met hom daaroor moet praat nie en dat hy maar net sy tas moet vat om by die skool in te gaan.

Haar hart was so-effe seer maar gelukkig weet sy darem dat hierdie tipe ding is mos maar deel van die lewe.

Dit was destyds dieselfde met my ook. Ek weet nie of dit met seuns meer die geval is as met dogtertjies nie maar ek onthou goed hoe ek ook op 'n sekere ouderdom gekom het en toe net niks meer daarvan gehou het as my Ma voor my maats vir my 'n drukkie of 'n soen wou gee nie.

Om een of ander rede begin kinders net op 'n stadium skaam voel vir hulle ouers. Ma en Pa is net skielik nie meer “cool” nie...

Hierdie hele oulike en snaakse petalje met ons seun het my so baie laat dink aan ons as Christene en die feit dat daar nog gelowiges is wie hulle skaam oor die Evangelie van Jesus Christus terwyl ons glad nie enigsins skaam hoef te wees daaroor nie.

In Romeine 1: 16 staan daar geskrywe: “Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is 'n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood.”

God het ons kom red deur toe te laat dat Sy seun Jesus Christus aan die Kruis names ons vir ons sondes sterf, of hoef ons nie te skaam daaroor nie, inteendeel, ons moet bly wees en die goeie nuus deel waar en wanneer ons kan.

Jesus wil ook nie hê dat ons moet skaam wees nie.

In Lukas 9: 26 staan daar geskrywe: “Elkeen wat hom vir My en my woorde skaam, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom, beklee met sy heerlikheid en die heerlikheid van die Vader en van die heilige engele.”

Ek weet nie van jou nie maar ek wil beslis nie hê die Here Jesus moet eendag rede hê om skaam te wees oor my omdat ek nie bereid was om Hom as my verlosser te erken nie.

Ek het dit eenkeer beleef.

Ek het verby 'n motorhawe gestap en 'n groep mans wat so in hulle laat twintigs was gesien wat met mekaar gestaan en gesels het. Ek het dadelik die een herken as iemand wat 'n paar jaar vantevore by dieselfde gemeente as ek betrokke was.

Ek stap toe nader om hom te groet en vra hom toe na watter kerk toe hy nou gaan. Die ander ouens het vir hom begin lag en het spottend vir hom gevra van wanneer af gaan hy dan kerk toe. Ek kon in sy gesig sien hoe skaam hy kry dat hulle dit moes hoor.

Toe skielik maak hy asof hy nie weet waarvan ek praat nie en sê vir my dat ek misgis hom seker met iemand anders. Ek het dadelik besef dat hy hom skaam vir die Here Jesus en vir die Evangelie omdat hy bang was vir wat sy “pelle” van hom sou dink. Ek het hom nie verder daaroor uitgevra nie.

Wat van jou, wat sal jou antwoord wees as jou vriende of dalk vreemde mense vir jou vra of jy 'n gelowige is, sal jy openlik en eerlik ja antwoord of sal jy dit wegsteek of ontken?

Ek hoop dat jy nie daaroor skaam sal wees nie!

Sterkte!

Kom ons bid. Vader help my om altyd openlik en vrylik te erken dat ek verlos is deur die bloed van Jesus Christus. Gee my die krag en oortuiging om my verhouding met U so uit te leef dat mense dit sommer sal kan sien nog voor ek daaroor praat. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.



Monday 26 January 2015

Oestyd - deur Anton Brink

Dit is weer Maandag. 'n Nuwe dag, 'n nuwe week. Ek hoop dat jy 'n aangename naweek agter die rug het en dat die week wat voorlê vir ’n jou wonderlike een sal wees.

Vandag wil ek jou herinner aan wat in Mattheus 9: 37 geskryf staan: “Hy sê toe vir sy dissipels: “Die oes is groot, maar die arbeiders min.”

Daar is baie mense wat nog nie ’n persoonlike verhouding met die Here Jesus het nie en wat op hierdie oomblik op pad is hel toe. Ons wat reeds glo moet ons bes doen om aan sulkes te vertel wat Jesus vir ons aan die Kruis kom doen het, nie noodwendig met ’n gepreek nie maar dalk met die onvoorwaardelike liefde wat jy bewys in jou dade en optrede teenoor hulle.

Wie weet, dalk is jy een van hulle wat vandag nie met sekerheid kan sê waar jy die ewigheid eendag gaan deurbring nie.

Indien dit wel die geval is nooi ek jou om asb. nou die onderstaande gebed hardop te bid en die Here Jesus met jou mond as persoonlike verlosser en Saligmaker te bely.

Wanneer jy klaar is, moet jy asb. so gou moontlik met ons beraders by Tygerberg 104fm in kontak kom sodat hulle vir jou verder raad en leiding kan gee. Ons kontak nommer is 0861 104 104. Skakel ook by ander gelowiges in sodat jy deel van die liggaam van Christus kan wees en groei in jou geloof en jou verhouding met God.

Kom ons bid. Hemelse Vader, vandag weet ek dat ek, soos alle mense wat gebore word op hierdie aarde, oppad is hel toe. Al lewe ek hoe goed, tensy ek by ’n punt kom waar ek besef dat ek ’n Verlosser nodig het, kan ek nooit uit my eie goeie dade of lewe die Ewigheid in U teenwoordigheid deurbring nie.

Dankie dat U Jesus, vir my sondes gesterf het, begrawe is en op die derde dag weer opgestaan het en opgevaar het na die hemel waar U aan die regterhand van God sit en my Voorspraak is. Ek bely vandag dat U die Seun van God is en dat U my verlossing duur gekoop het.

Dankie Heilige Gees dat U daagliks my metgesel is en dat U my leer en lei in die waarheid. Vandag aanvaar ek Jesus Christus as my Verlosser en Saligmaker en weet ek dat ek in U alles het wat ek nodig het om die Ewige Lewe te kry, volgens Joh. 3: 17

Ek dank U dat ek nou in ’n lewende verhouding met U kan wees en dat ek in U ’n Vriend en daaglikse Trooster en metgesel het. Amen


Friday 23 January 2015

Gee vir Hans 'n kans - deur Anton Brink

Woensdagoggend was die paaie rondom die skole iets verskrikliks.

Daar was hordes mense wat almal graag hulle kindertjies by die skool wou gaan afsien op hulle eerste dag en al wat ’n Ma en Pa, Ouma en Oupa is was daar om foto’s te neem van die kleingoed sodat hulle almal eendag kan Oooo en Ahhh oor daardie mooi herinneringe.

Natuurlik na alles verby is en die drukkies en soene klaar uitgedeel is, is almal terug na hulle motors om die dag se werk te begin en tóé begin die chaos éérs.

Almal wil op eenslag ry en niemand wil vir iemand ’n kans gee nie.

So staan ek toe ook en wag vir ’n beurt om in die pad in te draai. Die een motor na die ander een kruip teen ’n stadig slakke pas, buffer teen buffer voor my verby en niemand wil vir my ’n geleentheid gee om voor hom of haar in te draai sodat ek tog net ook ’n beurt kan kry om in die stadig vloeiende verkeer te kan inkom nie.

Almal ignoreer my. Ek kan sommer sien hoe die klomp verskillende motoriste doelbewus nié in my rigting wil kyk nie net sodat hulle die situasie kan probeer vermy waar hulle vir my moet stop sodat ek kan inkom.

Na ’n vreeslike lang gewag het een vriendelike Pa met so ’n rooi City Gholf toe darem glimlaggend vriendelik gestop en vir my beduie dat ek maar kan ry. As dit nie vir hom was nie het ek seker nog ’n halfuur daar gestaan.

So is dit maar in die lewe. Meeste van ons het van kleintyd af daardie elke man vir hom self tipe mentaliteit en dit is beslis ’n jammerte. Ons sal waarskynlik meer in die lewe gedoen kry as ons mekaar net so nou en dan ’n bietjie wil help en bystaan.

Daar is ’n goeie voorbeeld uit God se Woord wat pragtig beskrywend is van hoe twee mans iemand anders se behoefte raakgesien het en toe hulle hom help het hulle nie net vir hom en hulle self nie maar ook ’n hele volk help red.

Ons lees dit in Eksodus 17 vanaf vers tien tot dertien. Daar staan geskrywe: “Josua het toe gedoen wat Moses vir hom gesê het en hy het teen die Amalekiete gaan veg. Moses, Aäron en Hur het tot op die top van die heuwel uitgeklim.

Solank Moses sy hand opgehou het, was Israel die sterkste, en wanneer sy hand gesak het, die Amalekiete. Maar Moses se arms het begin moeg word. Hulle het toe 'n klip gevat en dit agter hom neergesit sodat hy daarop kon gaan sit.

Aäron en Hur het sy arms van weerskante af ondersteun sodat sy arms regop gebly het tot sononder. Josua het die Amalekiete heeltemal verslaan.”

Wat dink jy sou gebeur het as Aäron en Hur doelbewus weggekyk het en ook net diep gesug het en sag by hulle self gedink het dat hulle nie lus is om heeldag dáár te moet staan om vir Moses se arms in die lug te hou nie?

Onthou dit was waarskynlik ook nie vir hulle maklik om heeldag daar in die warm son te moes staan nie maar hulle het. Die antwoord is eenvoudig, die Amalekiete sou hulle almal verslaan en doodgemaak het.

Daar is ’n belangrike les om in hierdie verhaal te leer.

Ons moet in ’n gewoonte kom waar ons bereid is om ander mense se hande sterk te maak. Elkeen van ons kom op een of ander stadium op ’n plek waar ons te swak en uitgeput voel (net soos Moses daar op die heuwel) om aan te hou. Wanneer dit met jou gebeur hoop ek regtig daar is mense langs jou wat jou ook sal bystaan en sal help om enduit aan te hou.

Dis interessant om op te let - Moses was ’n man van God. Dit wat hy daardie dag daar op die heuwel gedoen het, was in opdrag van God en tog ten spyte daarvan kon hy dit nie regkry om tot die son sak sy arms omhoog te hou sonder die hulp van ander nie. Hy was net ’n mens.

Is jy so iemand, het die Here vir jou dalk ’n roeping of ’n opdrag gegee maar jy het moeg en oorweldig geword sodat jy later nie meer kon aanhou nie? Dit is waarskynlik omdat jy dit alleen probeer doen het terwyl jy eintlik veronderstel was om andere toe te laat om jou by te staan.

Kyk om jou rond. Sien ander mense se behoeftes raak en help waar jy kan.

Sterkte!

Kom ons bid. Here ek is jammer dat ek meer geneig is om selfsugtig te wees en eerder net na my eie behoeftes om te sien as wat ek bereid is om ander mense by te staan. Vergewe my asb. daarvoor maar help my ook om te verander en van nou af ten spyte daarvan dat dit soms ongerieflik kan wees ander mense te help soos en waar ek kan. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen


Thursday 22 January 2015

Bewaar jou hart - deur Anton Brink

Meeste dinge in die lewe wat die moeite werd is, is gewoonlik ook nie maklik om te doen of in die hande te kry nie.
Dit vat soms maar redelike “effort” om die dinge wat jy as waardevol ag te bekom. Dit is dalk ook goed dat dit so is want ons ken mos darem die spreekwoord wat sê “easy come, easy go”. M.a.w. as jy dinge té maklik kry dan waardeer jy dit nie noodwendig altyd nie en doen jy ook nie moeite om dit be behou nie.

Die voorbeelde wat genoem kan word oor dinge waarvoor mense bereid is om te baklei is sekerlik eindeloos maar daar is een ding wat ek vandag wil uitlig as een van die belangrikstes en dit word so maklik agterweë gelaat. Dit is om te baklei vir jou eie hart en wat jy toelaat om daar binne-in aan te gaan.

Nee, hierdie is darem nou nie 'n vinnige mediese gesondheids wenk oor hoe baie jy moet draf en hoe gesond jy moet eet nie, maar dit is eerder 'n geestelike gesondheids wenk oor hoe om dit wat binne-in jou hart aangaan gesond te hou.

Ons mensdom is ongelukkig gebore met 'n sondige natuur en a.g.v. hiervan is ons geneig om veel makliker die verkeerde as die regte dinge te doen. Daar is natuurlik verskeie sulke voorbeelde van verkeerde dinge of keuses wat ons doen waaroor 'n mens kan gesels soos immoraliteit, oneerlikheid ens. wat alles uit jou hart vloei, maar die een wat sekerlik die mees negatiewe gevolge vir ons het is om onvergewensgesind te wees.

Ons almal kry maar op een of ander tyd van ons lewe daarmee te doen. Wanneer ons seerkry, teleurgestel of te nagekom word, is die eerste ding wat baie keer by ons opkom om te vergeld en om ons self te laat geld.

Dit gebeur en niemand is van sulke negatiewe gevoelens of gedagtes gevrywaar nie. Die probleem is net dat sou jy vergelding en onvergewensgesindheid aanhoudend koester sal jy uiteindelik in 'n baie bitter en haatdraende persoon verander en sal die wêreld vir jou baie onaangenaam raak.

Op die ou einde sal daardie gif van vergelding en onvergewensgesindheid nie net jou eie lewe ontsuur en stadig doodmaak nie maar sal dit ook al hoe moeiliker vir jou word om gesonde verhoudings met die mense in jou huis of by die werk te hê.

Die negatiewe gevolg van jou besluit om nie te vergewe nie en bitter te wees word uiteindelik soos daardie sneeubal wat net aanhou rol, groter word en alles in sy pad verswelg.

Is dit hoe hoe jy wil wees, wil jy regtig so leef, bitter, knorrig en moeilik, of wil jy eerder vry wees? Om vry te kom begin by ’n keuse wat jy moet maak, niemand kan dit vír of namens jou doen nie, net jy kan.

Onthou, jy mag eerlik met die Here wees oor wat met jou gebeur het, gaan kla gerus by Hom as jy voel dat jy verontreg of te nagekom is, stort jou hart voor Hom uit soos wat koning Dawid so graag gedoen het.
Hy sal wel weet wat om daarmee te maak. Wanneer jy dit klaar gedoen het sê dan met jou mond dat jy die betrokkenes vergewe en vryspreek en los dit daar by God om met jou petisie te doen soos Hy goeddink, selfs al is die uitkoms nie wat jy gedink of gehoop het dit sal wees nie.

In Matheus 6: 14 – 15 staan geskryf: “As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”

Die besluit om vry te wees is joune en net joune alleen.

Sterkte!

Kom ons bid. Vader ek wil vergewe maar dit is vir my baie moeilik en dit voel of ek vasgevang is in lelike en haatdraende gedagtes waarvan ek nie kan loskom nie. Kom maak my asb. vandag waarlik vry om weg te stap, te vergewe en vry te spreek al voel dit vir my ek kan nie. Help my asb. Heilige Gees om nou daardie keuse te maak en dit te doen wat ek weet ek moet. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.