Friday 29 August 2014

Run fat boy, run! - deur Anton Brink


 Ek het verlede naweek 'n fliek gekyk wat my baie lekker laat lag het. Die fliek se naam is, “Run fat boy, run” en dis 'n komedie met Simon Pegg in die hoofrol. Dit speel af in Londen, Engeland.



In hierdie fliek vertolk hy (Simon Pegg) die rol van 'n man met die naam Dennis wat op trou staan maar dan nét voor die huwelikseremonie begin, besluit hy om weg te hardloop en hy los sy verloofde nét so daar alleen voor die kansel.

Sy is natuurlik woedend vir hom en gil agterna soos wat hy in die straat af laat spaander.

Die fliek self is nou nie éintlik waaroor ek in vandag se stukkie met jou wil gesels nie, waaroor ek wél wil praat is oor die marathon waaraan hierdie Dennis karakter op die ou einde in die fliek deelneem in 'n poging om aan sy ex-verloofde te bewys dat hy kán goed genoeg wees as hy regtig wil en ook om vir haar te laat verstaan net hoe jammer hy is oor alles wat hy aan haar gedoen het.

Wanneer hy dan uiteindelik (na baie geoefen en sweet) vir die marathon opdaag gaan die skoot af en begin hy baie goed te hardloop. Daar is dan 'n ander man wat óók meeding, nie net vir die medalje in die marathon nie maar óók net soos Dennis vir dieselfde vrou se hart. Hierdie ander man se taktieke is ongelukkig alles behalwe eerbaar en hy pootjie dan vir Dennis en laat hom karplaks net daar neerslaan in die middel van die wedloop op die harde pad.

Dennis kruip in pyn na die kant van die pad met 'n geskeurde ligament terwyl derduisende hardlopers oor hom spring en om hom hardloop soos hulle steeds voortgaan met die marathon.

Hy (Dennis) sit dan vir 'n ruk lank hartseer en moedeloos teen die sypaadjie en kry hom self vreeslik jammer en dit lyk selfs asof alles verby is en hy die spreekwoordelike handdoek gaan ingooi, maar nee. Uiteindelik (kies) Dennis om op te staan en ten spyte van sy stukkende knieë en geskeerde ligament aan te hou, al voel dit vir hom asof hy nie kan nie en skree alles binne-in hom om maar liewer tou op te gooi.

Dit laat my so dink aan die skrifgedeelte in Galasiërs 5: 7 – 8 (uit Die Boodskap Bybel) waar Paulus 'n brief aan die Galasiërs skryf en sê, “Tot dusvêr het julle baie goed gevorder op die pad van die geloof. Soos goeie atlete het julle voluit gehardloop. Wie het nou vir julle kom sê om anders te lewe? Beslis nie God nie.” In een van die Engelse vertalings sê dit, “You ran the race so well, who hindered you to follow the truth?”

Paulus het hierdie brief geskryf aan die Galasiërs omdat daar iets gebeur het tussen die gemeentes in Galasië wat veroorsaak het dat hulle die pad byster geraak het. Paulus wil toe by hulle weet hoekom hulle dit toegelaat het. Hy roep hulle as’t ware tot verantwoording met die woorde, “Julle het baie goed gevorder op die pad van geloof” en dan in die volgende vers, “Wie het nou vir julle kom sê om anders te lewe?”

Ons almal wat die Here Jesus dien en in Hom glo neem deel aan 'n wedloop. Wanneer ons Christus as verlosser aanvaar dan “klap die skoot” en ons spring weg met volle vaart, gretig om dié marathon klaar te maak en ook die prys aan die einde te ontvang.

Maar, soos die lewe maar is, word ons ook maar soms gepootjie en skuur ons behoorlik oor die klippe soos ons neerslaan. Ons kruip ook dalk moedeloos eenkant toe en lek miskien in stilte en met groot hartseer ons wonde en ons wonder of ons nie maar dalk liewer hierdie uitdaging moes uitgesit het nie of ons bevraagteken selfs hoekom ons in die eerste plek besluit het om daaraan deel te neem.

Jy is nie alleen nie. Daar is só baie gelowiges wat vir jou kan vertel hoe hulle ook al elkeen hard geval het, máár toe besluit het om ten spyte van groot persoonlike hartseer, twyfel en vrae op te staan en aan te hou hardloop al was dit nie lekker nie.

In die fliek is Dennis op die ou einde nie net heel laaste nie, maar is hy ook die enigste persoon wat nog hardloop. Al die derduisende ander mense is alreeds huis toe omdat die marathon al ure van te vore al klaargemaak het en almal hulle goed opgepak het en vort is.

Vir Dennis gaan dit egter nie daaroor nie, hy het nooit belang gestel daarin om te wén nie, hy het net belang gestel daarin om klaar te maak.

In hierdie lewe sal jy nog baie uitdagings hê. Van tyd tot tyd slaan ons neer en kry ons seer, dan kruip ons eenkant toe, lek ons wonde en probeer dit wat gebeur het verwerk.

Onthou dat ons pad saam met die Here is nie 'n kompetisie nie. Dit maak nie saak hoeveelste jy oor die wenstreep is nie en dit maak ook nie saak of jy dit soms maar hinke-pink hardloop nie. Wat saak maak is dat jy klaarmaak, dat jy enduit volhou, dat jy nie tou opgooi en langs die pad gaan sit en verlore raak nie.

Kom ons bid. Vader baie dankie dat ek die voorreg het om aan hierdie wedloop te deel te neem en dankie dat ek kan wéét dat selfs al val ek partykeer baie hard sal U altyd daar wees om my weer op te help. Maak my asb. sterk Vader, gee my die krag om aan te hou hardloop en klaar te maak tot U eer. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen


Thursday 28 August 2014

Wanneer God laat is, is Hy steeds betyds - deur Anton Brink

Ek sit gister so en dink aan net hoe vreeslik tydgebonde die mensdom is. Al die beplanning wat ons doen vir werk, vakansie, ons toekoms ens. gaan maar altyd hand aan hand met hoeveel tyd ons tot ons beskikking het.

Ons is miskien tydgebonde maar God is gelukkig glád nie.




In 2 Petrus 3: 8 staan daar geskryf, “Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag.”

Tyd bestaan nie vir God soos wat dit vir jou en my bestaan nie en word Hy dus ook glad nie daardeur gebind of beperk soos in ons geval nie. Wanneer ons dus bv. bid en ons versoeke aan God rig moet ons (so in ons agterkop) onthou dat Hy het géén beperkings nie, nie eens tyd self nie.

Dink maar aan die verhaal van Lasarus waarvan ons lees in Johannes 11. Dit is ook die hoofstuk waar ons lees dat Jesus in vers 25 sê , "Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook." Ons lees in hierdie skrifgedeelte (hoofstuk 11 van Johannes) die storie van Lasarus se twee susters, Marta en Maria wat vir Jesus laat weet het dat hulle broer (en Jesus se goeie vriend Lasarus) baie siek is en dat Hy asb. moet kom, maar Hy het nie.

Intussen, soos die tyd verby gegaan het, het Lasarus toe al gesterf en hulle het hom selfs al lankal begrawe voor Jesus uiteindelik eers Sy opwagting maak. Toe Maria by Jesus se voete buig in vers 32 het sy vir Hom gesê, “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie.”

Later in vers 34 lees ons dan dat Jesus hulle vra om vir Hom te wys waar hulle vir Lasarus begrawe het en in vers 39 sê Hy dan dat hulle die klip moet wegrol en ook wat Marta se reaksie daarop is. Daar staan geskryf, “Jesus sê toe: “Rol die klip weg.” Maar Marta, die suster van die oorledene, sê vir Hom: “Here, hy ruik al, want dit is al die vierde dag.”

Ons ken die storie. Jesus het voor die graf gaan staan en met 'n harde stem geroep en gesê, “Lasarus, kom uit” en hy (Lasarus) het uit die graf gekom. Sy hande en voete was nog toegebind met grafdoeke en sy gesig was toegebind met 'n kopdoek.

Kan jy sien dat selfs toe God vier dae laat was, was Hy steeds betyds?

Watter krisis beleef jy nou op hierdie oomblik in jou lewe, dalk by jou werk of in jou huwelik en het jy óók al (soos Lasarus se suster) 'n boodskap (in gebed) na Jesus gestuur om Hom te laat weet dat Hy moet nou gou kom, Hy moet kom help want jou “Lasarus” lê op sterwe?

Dalk is jy al moedeloos gebid of miskien het jy al opgehou hoop dat Jesus óóit vir jou gaan deurkom in jou situasie of erger nog, dalk is dit ook al vir jou te laat en is jou “Lasarus” ook al dood en begrawe. Miskien wil jy ook vandag (hartseer) by Jesus se voete gaan buig en soos Marta sê , "Jesus, as U maar net hier was, as U my maar net betyds kom help het sou dinge anders uitgewerk het." Dalk het jy al klaar jou werk verloor of is jou skei saak klaar afgehandel en die papiere is geteken. God wil jou krisis uit die dood laat opstaan, jy moet net glo dat Hy kan.

Vertrou die Here vandag vir jou wonderwerk al lyk álles vir jou hopeloos. God belowe tog immers in die boek Deuteronomium dat Hy sal jou nóóit begewe of verlaat nie en in Romeine 8: 28 bemoedig Hy ons en sê dat "alles sal ten goede meewerk vir die wie die Here lief het."

Sterkte!

Kom ons bid. Here ek is so hartseer, stukkend en moeg gebaklei. Ek het nodig om 'n wonderwerk van U af te ontvang want my situasie lyk hopeloos en ek is bekommerd. Vader sal U asb. vandag as dit U wil is ook my Lasarus uit die dood laat opstaan. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


Wednesday 27 August 2014

Vroumense - deur Anton Brink

(Neem asb. kennis dat vandag se boodskap is dalk nie vir almal nie. Daar is ’n moontlikheid dat die geveinsdes onder ons kan aanstoot neem. Ek vat ook miskien heeltemal mis met vandag se stukkie, so help my maar reg as jy dink ek is verkeerd.)


Ek het nou die dag so ’n bietjie van ’n “oomblik” gehad toe daar ’n spontane gedagte by my opkom terwyl ek besig was om te bestuur. Ek onthou dat ek het deur Kuilsrivier gery toe ek skielik, in my geestesoog, my vrou (Arlene) voor my “sien” en ek die woorde hoor wat sê, “Vrouens is gemaak om te ontvang”.

Nog vir ’n rukkie na ek hierdie ervaring gehad het, het ek bly dink aan dit wat ek gesien en gehoor het en hoe meer ek daaraan gedink het hoe meer het dit vir my sin gemaak.

God het vrouens gemaak om te ontvang en mans op hulle beurt is weer gemaak om te gee. Wanneer hierdie twee dinge nie toegepas word soos God dit gemaak het en bedoel het om te wees nie, veroorsaak dit hartseer en pyn.

Ons lewe ongelukkig in ’n gebroke wêreld en dus is dit “normaal” vir ons om nié God se orde te volg nie. Ons staan dan boonop verbaas met groot beskuldigende oë en kyk na die Here en wil vir Hóm die skuld gee wanneer (bv.) ons huwelike nie wil uitwerk nie, terwyl die probleem in die eerste plek begin het by ons en omdat ons nie God se standaard en Sy orde in ons lewens wou toepas nie.

God het baie reëls en wette daargestel (in alle fasette van die lewe) van die huwelik tot finansies, kinders, werk, toekoms en alles tussenin én boonop is dit alles vir ons eie beskerming, maar ons pas dit nie toe nie en dan maak ons ’n gemors van alles en wil dan vir Hom die skuld gee.

’n Predikant het dit eenkeer lank gelede so mooi gestel. Hy het gesê, “Man, gee vir jou vrou kruideniersware en sý gee vir jou ’n bord met lekker kos. Man, gee vir jou vrou ’n huis en sý gee vir jou ’n tuiste. Man, gee vir jou vrou saad en sý gee vir jou kinders, m.a.w. ’n nageslag...”

In Efesiërs 5: 25 staan daar geskryf, “Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en Sy lewe daarvoor afgelê het.”

Onthou dat die “kerk” wat hier van gepraat word verwys na alle gelowiges. God beskryf my en jou as Sy bruid (vroulik) en Hy is die bruidegom (manlik) so m.a.w. kan ons nie dan redeneer dat elkeen van ons is ook gemaak om by God te ontvang as Sy bruid nie?

Ons ontvang Sy liefde, Sy genade, Sy vergifnis, Sy genesing, Sy voorsiening en ook Sy saad van geloof binne-in ons elkeen om vir ander daarvan te vertel sodat nog meer mense van Hom sal hoor en as bruidegom sal aanvaar...

Kan jy sien dat selfs ’n vrou se liggaam is gemaak om te ontvang en ’n man sin om te gee, hoe kan ons dan nog wil stry met God se orde vir ons?

Kom laat ons ons self as mans en vrouens aan mekaar se behoeftes onderwerp sodat ons sodoende gelukkige huwelike, kinders en huisgesinne kan hê wat weer God se orde soek en nastreef en nié die wêreld sin nie.

Kom ons bid. Hemelse God en Vader vergewe my asb. dat ek nie U orde vir my lewe en my huwelik nagestreef het nie en dat ek daarom nou die slegte vrugte daar van moet pluk. Help my asb. om nou van hierdie oomblik af alles in my lewe te doen soos wat U dit al lank vooraf bepaal het sodat ek in elke opsig van my lewe in oorvloed kan leef. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.



Tuesday 26 August 2014

Wees versigtig vir goedkoop namaaksels - deur Anton Brink

Dit is só vreeslik belangrik om die Bybel te ken, máár om die een te ken wat dit geskryf het en wat daagliks vir jou goeie inspraak in jou lewe wil gee is amper nóg belangriker want sonder daardie persoonlike verhouding met Hom kan jy dalk mislei word.


'n Mens sien baie keer op TV of hoor op radio dat (wanneer iets geadverteer word) hulle die woorde gebruik, “Wees versigtig vir goedkoop namaaksels”. Die vervaardiger van die betrokke produk probeer dus met hierdie stelling die publiek waarsku om op die uitkyk te wees vir, en liefs aan te dring op die spreek woordelike “ware Jacob”.

Die vervaardiger wil met hierdie waarskuwing die publiek help om nie 'n bloutjie te loop en dalk teleurgestel word of hulle geld mors op 'n goedkoop namaaksel nie.

Interessant dat ons mense altyd so vinnig is om aan te dring op die regte en nét die beste wanneer dit kom by 'n produk of diens waarvoor ons betaal, máár as dit kom by die Here se dinge is ons minder kieskeurig.

Ons dink soms nie eens twee keer om sommer net enige ding te aanvaar as die waarheid nie. Net omdat iemand na jou toe kom met 'n “woord” en dan vir jou vertel dat hy of sy het hierdie of daardie “boodskap” nou by die Here gehoor en hy móét dit nou vir jou gee, beteken nie dat dit wél van die Here af is nie.

Dit is jóú verantwoordelikheid as gelowige om sulke vorme van “inspraak” eers self by die Here te gaan toets en dan by Hom te hoor of dit wel korrek is en of dit wel iets is wat van Hom af kom of nie.

So het dit toe ook nou die dag met my gebeur. Net 'n paar weke gelede het ek een aand by my huis aan tafel gesit en 'n spontane gedagte of boodskap oor iemand (met wie ek eintlik baie min te doen het) het skielik by my posgevat.

Dit was 'n gedagte wat ek nie werklikwaar op daardie oomblik kon eien nie. M.a.w. ek was nie seker of hierdie gedagte of boodskap werklikwaar uit God se hart gebore was en of dit sommer net iets was wat uit my self uit gekom het nie.

Ek het so vir 'n rukkie stil daaroor gesit en dink terwyl ek probeer agterkom het of dit nou wel iets is waaroor God met my praat of nie en of ek die boodskap moet oordra of nie. Na 'n tydjie het ek toe besluit dat ek wél hierdie “woord” aan die betrokke persoon sou gee maar dat ek ook daarmee saam dit aan haar sal duidelik maak dat sy maar self by die Here moet gaan hoor of dit wel in die kol is of nie.

Die volgende oggend kry ek die dame se telefoonnommer in die hande en ek bel haar toe ook sommer dadelik en ek sê vir haar wat ek die vorige aand ervaar het en dat ek graag vir haar daarvan wil vertel omdat ek vermoed dit mag dalk iets wees wat die Here alreeds met haar oor praat en dalk alreeds in haar hart mee werk.

Nog voordat ek vir haar kon sê dat sy dit asb. self by die Here moet gaan toets om te hoor of dit wel van Hom af kom, sê sy vir my (soos dit 'n goeie en verantwoordelike gelowige betaam) die volgende woorde, “Baie dankie, dit is 'n wonderlike woord en as dit wel van God af kom, sal ek baie bly wees máár ek gaan dit eers self na Hom toe neem en met Hom daaroor praat en hoor of dit wél van Hom af is.”

Ek het uit die aard van die saak volmondig met haar saamgestem.

In 1 Tessalonisense 5: 21 in die Boodskap Bybel staan daar geskryf, “Wees versigtig. Onthou, nie elkeen wat in die naam van die Here met julle praat, is noodwendig Sy boodskapper nie. Stel vas of dit wat mense in die Naam van die Here vir julle sê, regtig van Hom af kom.”

Moenie sommer net enige iets of iemand as “van die Here af” aanvaar nie, verál nie as dit wat daardie persoon vir jou sê nié met die Woord van God strook nie. 'n “Woord” wat van God af kom, sal nooit maar absoluut nooit teenstrydig met die Bybel wees nie. As dit wél die geval is dat dit nie in lyn is met die Woord van God nie, kan jy maar sommer uit die staanspoor alreeds weet dat daardie boodskap nie van God af kom nie!

Die “Vervaardiger” wil dus ook vir jou en my sê, “Wees asb. versigtig vir goedkoop namaaksels.”

Sterkte!

Kom ons bid. Vader U moet asb. vir my help om altyd wakker te wees en ook versigtig te wees om nie sommer net enige iets te aanvaar as 'n woord of inspraak van U af nie, maar dat ek altyd sal onthou om dit wat vir my gesê word heel eerste na U toe te neem en dit daar by U te gaan toets om te hoor of dit reg is of nie. Heilige Gees gee my asb. wysheid om reg te kan onderskei. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.



Monday 25 August 2014

Hy het daarom ís ons - deur Anton Brink

Ek onthou nog so goed hoedat ’n baie vriendelike jong man een keer lank gelede homself aan my wou kom voorstel het en sommer net ’n bietjie wou gesels terwyl ek een middag in die ateljee besig was om uit te saai.




Moet my nie nou vra wat sy naam was nie, want dít kan ek wraggies nie meer onthou, maar wat hy vir my gesê het, sal my seker vir altyd bybly.

Net nadat hy my hand geskud het, het hy glimlaggend so bietjie na al die toerusting in die ateljee gestaan en kyk en my (amper kinderlik opgewonde) uitgevra oor al die knoppies en rekenaars en dinge en wou hy ook weet hoeveel mense na ons radiostasie luister.

Nadat ek al sy vra gretig beantwoord het, het hy my so vir ’n paar oomblikke stil en stip in die oë gestaan en kyk terwyl hy sy kop goedkeurend knik en toe sê hy die volgende woord wat my tot vandag toe nog bybly, hy het gesê, “Ek gaan óók nog eendag die Here dien... ek wil net eers ophou rook.”

Hy het my heel onkant gevang!

M.a.w. wat hierdie jong man eintlik vir my probeer sê het is dat sodra hy “goed genoeg” is, dán sal die Here hom aanvaar en kan hy dán eers die Here begin dien, maar solank as wat hy hierdie slegte gewoonte of sonde in sy lewe het, is hy nié goed genoeg nie en sal die Here hom dus nié aanvaar nie en kan hy dan tot tyd en wyl hy sy ongeregtigheid eers laat staan nie die Here dien nie.

Ek moes lag vir sy onkunde want wat hy gesê het, is presiés hoe ek ook op ’n tyd oor God gevoel, gedink en geredeneer het. Ek was ook oortuig daarvan dat God se liefde en aanvaarding vir my afhang van my eie persoonlike prestasies en dat hoe beter en “heiliger” ék leef hoe meer sal ek Sy goedkeuring kry en dat ek dus dan op ’n manier die reg verdien om Hom te mág dien sodat Hy my op Sy beurt dan weer sal kan red.

Gelukkig tog het ek al baie lank gelede besef en verstaan dat God se liefde en genade vir my het geen voorwaardes nie. Hy het my lief nét soos wat ek is, máár gelukkig tog het Hy my ook net té lief om vir my (of enige iemand anders) te los soos wat ek is.

Ek kon dié jong man gelukkig darem toe vinnig reghelp en het ek vir hom verduidelik dat dit is omdat die Here Jesus vir ons almal aan die Kruis gesterf het dat ons elkeen kinders van God genoem kan word en vir géén ander rede nie.

Dit is net so goed my agt jarige seun of ses jarige dogtertjie kom sê vir my, “Pappa, ek gaan nog een of ander tyd in jou arm kom lê terwyl ons “Toy Story” kyk maar ek wil net eers ophou stout wees.” Verstaan jy wat ek bedoel? Ek het my kinders hartstogtelik lief ten spyte van die feit dat hulle soms stout is en kan hulle altyd en enige tyd in my arm kom lê, hulle hoef nie éérs soet te wees of te presteer nie. Ek is vir hulle lief nét soos wat hulle is maar juis omdat ek vir hulle lief is, gaan ek hulle mos grootmaak en leer tot die beste van my vermoë en gaan ek hulle dus nie nou net so los soos wat hulle is nie. Hulle moet mos by my en by hulle Ma goeie maniere ens. leer.

In Johannes 3: 16 staan daar geskryf, “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie, wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.”

Het jy gelees wat daar geskryf staan en verstaan jy dit? Dit sê God het die wêreld so (lief) gehad. Begryp jy wat daardie sin eintlik beteken? Hy het vir my en jou so baie omgegee dat Hy gesê het Ek kan onmoontlik nie toelaat dat my kinders verlore gaan nie, ek het hulle net té lief en gee vir hulle net té veel om, Ek sal iets móét doen om seker te maak hulle is veilig al kos dit ook wat. Ek sal al hulle skuld op myself neem en ek sal hierdie swaar las namens hulle dra en dit ook sommer ten volle betaal.

Hy hét, daarom ís ons...

As jy iemand is wat nog nie die Here Jesus as verlosser aanvaar het nie dalk omdat jy nog altyd gedink het jy is nie goed genoeg nie, dan wil ek jou vra om vandag te besef en te verstaan dat jy deur die bloed van die lam van God geregverdig kan word. Nie omdat jý goed genoeg is nie maar omdat Hy goed genoeg is.

Wil jy nie asb. vandag hierdie onderstaande gebed saam hardop bid nie en dan ook jou hart en lewe vir die Here Jesus gee nie? As jy wél besluit om dit te doen, doen dan asb. ook moeite om met ons beraders en gebed vriende by Tygerberg 104fm in kontak te kom sodat hulle jou kan help en raad gee oor waar jy kan inskakel ens. Die kontak nommer is 0861 104 104.

Kom ons bid. Hemelse Vader, vandag weet ek dat ek, soos alle mense wat gebore word op hierdie aarde, op pad is hel toe. Al lewe ek hoe goed, tensy ek by ’n punt kom waar ek besef dat ek ’n Verlosser nodig het, kan ek nooit uit my eie goeie dade of lewe die Ewigheid in U teenwoordigheid deurbring nie.

Dankie dat U Jesus, vir my sondes gesterf het, begrawe is en op die derde dag weer opgestaan het en opgevaar het na die hemel waar U aan die regterhand van God sit en my Voorspraak is. Ek bely vandag dat U die Seun van God is en dat U my verlossing duur gekoop het.

Dankie Heilige Gees dat U daagliks my metgesel is en dat U my leer en lei in die waarheid. Vandag aanvaar ek Jesus Christus as my Verlosser en Saligmaker en weet ek dat ek in U alles het wat ek nodig het om die Ewige Lewe te kry, volgens Joh17:3

Ek dank U dat ek nou in ’n lewende verhouding met U kan wees en dat ek in U ’n Vriend en daaglikse Trooster en metgesel het. Amen