Tuesday 2 September 2014

“Your attitude wil determine your altitude” - deur Anton Brink

Dit is nou maar eenmaal 'n feit, as jy 'n mislike houding het, sal jy in amper alle areas van jou lewe (werk, sosiaal en selfs familie) stadig maar seker begin agter uit gaan en ongelukkig uiteindelik net wegkwyn.


So kyk ek nét nou die dag na 'n man wat ek agtergekom het die afgelope tyd so bietjie van 'n “attitude” begin ontwikkel het en kon ek ook nie help om op te let na net hoe hy (met sy houding) besig is om vir hom self die lewe eintlik baie moeilik te maak en ook baie “brûe” tussen hom en ander mense te verbrand nie.

Ek is beslis nie 'n kenner van menslike gedrag nie en ek gee ook nie voor om te wees nie maar ek moet sê dat ek kán nogal partykeer mense en situasies vinnig en akkuraat opsom en ek het 'n vermoede dat ek weet hoekom hierdie man die afgelope jaar of twee so anders begin optree het.

Spreuke 18: 12, “Op selfverheffing volg ineenstorting, op nederigheid eer.”

Ek dink hierdie man het op 'n punt in sy lewe gekom waar hy (op 'n manier) aanstoot geneem het en het hy hom self oortuig dat hy veronderstel is om meer of hoër geag behoort te word deur ander mense. Hy het as’t ware 'n “chip” op sy skouer begin ontwikkel en dit het stelselmatig sy hele manier van optree begin beïnvloed en het dit soos 'n kanker sy hele persoonlikheid ten slegte begin verander en verteer.

Daar is ook 'n ander skrifgedeelte in Spreuke wat sê, “ 'n Man wat aanstoot geneem het is meer onwrikbare as 'n sterk stad en sy twis is soos die grendel van 'n paleis.”

Ek kan dit nie genoeg beklemtoon nie! Dit is verskriklik en ongelooflik belangrik dat jy nie sal toelaat dat 'n gevoel van aanstoot in jou hart posvat nie. Op die ou einde sál dit jou verteer en verander en jou in 'n ongeskikte, selfsugtige en genadelose wreedaard verander.

As jy nie sélf iets daaraan doen nie sal dit ook ongelukkig al hoe erger raak soos die jare aanstap en wanneer jy uiteindelik eendag terugkyk sal jy sien hoedat jy 'n klomp séér gemaakte mense in jou spoor agterlaat en sal jy waarskynlik eensaam en alleen op eindig.

Is dit wie jy wil wees, wil jy iemand wees wat mettertyd alleen, hartseer en ongelukkig op eindig, of wil jy liewer vergewe, restoureer en in Goddelike nederigheid die pad sáám met jou vriende, familie en kollegas stap tot aan die einde?

Kom ons bid. Vader God ek is so vreeslik jammer dat ek aanstoot en selfverheffing in my hart toegelaat het, sal U my asb. daarvoor vergewe. Ek wil ook hê dat U my nou sal help en ook nou vir my die geleenthede sal gee dat ek kan gaan regmaak waar ek verkeerd gedoen het en ander mense dalk seergemaak het. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.

No comments:

Post a Comment