Monday 15 September 2014

Al was jy ook die enigste een - deur Anton Brink

Elke liewe mens, elkeen van ons is vir God baie spesiaal en Hy het elke liewe een van ons ook hartstogtelik lief en jy moet besluit om nooit maar nooit aan hierdie waarheid te twyfel nie!



Al was jý ook die enigste mens op hierdie aarde, dan sou Hy steeds nét vir jou aan die Kruis gesterf het. Is dit nie 'n wonderlike gedagte nie, God het jou só lief dat Hy bereid sou wees om nét vir jou aan die Kruis te hang as dit moes?

Sekerlik ken ons almal die Bybel goed genoeg om te weet wat staan in Johannes 3: 16 – 18 geskryf?

Dit sê in die Boodskap vertaling, “God het bewys hoe lief Hy die wêreld het. Hy het Sy unieke Seun na die wêreld toe gestuur sodat elkeen wat in hierdie Seun glo, nie verlore sal gaan nie, maar vir altyd saam met God kan leef. God het nie die Seun na hierdie wêreld toe gestuur om net vir almal te kom sê hoe sleg hulle is nie. Nee, Hy het Hom gestuur sodat mense wat sleg was weer by God kon uitkom. Dit is soos 'n hofsaak. Elkeen wat dus in geloof vir Hom “ja” sê, is deur God vrygespreek. Aan die ander kant weerklink die oordeel woorde nou reeds oor dié wat die Seun nie gelowig aanvaar nie: “Julle is skuldig, want julle draai julle rug vir die unieke Seun van God!”

Wil jy nie ook vandag vrygespreek word nie?

Al wat jy hoef te doen, is om die Here Jesus Christus as jou persoonlike verlosser en Saligmaker te aanvaar en om Hom met jou mond as sodanig te bely. God belowe dan dat wanneer jy besluit om dit te doen was Hy jou sondes weg.

In Jesaja 1: 18 in die Boodskap vertaling staan daar geskryf, “Kom ons handel dié saak nou af, sê die Here. Dit maak nie saak hoe diep die vlekke van julle sonde is nie, Ek kan dit skoonmaak. Al was julle bloedrooi gevlek van die sonde, kan Ek dit wegwas en julle so wit laat word soos sneeu wat nou net geval het. Selfs al is die vlekke van julle sonde purperrooi, sal Ek julle skoonmaak sodat julle so wit soos splinternuwe wol sal lyk.”

Kom nou, sal jy asb. die onderstaande gebed hardop lees en saam bid. Neem vandag die Here Jesus Christus aan as jou persoonlike Saligmaker aan en word soos baie ander mense in die wêreld ook vrygespreek van jou sondes.

Kom ons bid. Hemelse Vader, vandag weet ek dat ek, soos alle mense wat gebore word op hierdie aarde, oppad is hel toe. Al lewe ek hoe goed, tensy ek by ’n punt kom waar ek besef dat ek ’n Verlosser nodig het, kan ek nooit uit my eie goeie dade of lewe die Ewigheid in U teenwoordigheid deurbring nie.

Dankie dat U Jesus, vir my sondes gesterf het, begrawe is en op die derde dag weer opgestaan het en opgevaar het na die hemel waar U aan die regterhand van God sit en my Voorspraak is. Ek bely vandag dat U die Seun van God is en dat U my verlossing duur gekoop het.

Dankie Heilige Gees dat U daagliks my metgesel is en dat U my leer en lei in die waarheid. Vandag aanvaar ek Jesus Christus as my Verlosser en Saligmaker en weet ek dat ek in U alles het wat ek nodig het om die Ewige Lewe te kry, volgens Joh17:3

Ek dank U dat ek nou in ’n lewende verhouding met U kan wees en dat ek in U ’n Vriend en daaglikse Trooster en metgesel het. Amen


No comments:

Post a Comment