Friday 31 October 2014

Wegkruipertjie - deur Anton Brink


Toe ons kinders was, was een van dié lekkerste dinge om te doen sekerlik om saam met ons maats wegkruipertjie te speel.
 


 
 
 
 
 
 
 
 
Die beste was natuurlik om dié een te wees wat gesoek moes word. Jy hardloop weg en kry ’n lekker skuilplek, terwyl jou maat tot by vyftig of honderd moet tel en wanneer hy jou begin soek is dit mos met die duidelike aankondiging van, “Hier kom ek!”

Dit was lekker tye daardie máár om weg te kruip was natuurlik nie altyd nét beperk tot die speletjie nie, want wanneer ons stout was en ’n bietjie kattekwaad aangevang het en Pa of Ma het daarvan uitgevind, was die eerste ding om te doen om so gou as moontlik jouself uit die voete te maak en te gaan wegkruip.

Sou jy dan wel deur Pa of Ma uit jou skuilplek verlos word, was die volgende ding om te doen om vinnig te dink aan ’n verskoning, of ’n rede vir jou wangedrag of beter nog, as jy nie alleen was in jou manewales nie het jy ’n manier gekry om jou boetie, sussie of maatjie vir dié wandaad te blameer.

Ai ai, die goeie ou dae van ons kinderlewe.

Tog het nie veel verander oor die jare nie en as volwassenes speel ons nou nog soms wegkruipertjie, net op ’n ander manier.

Ons lees ’n goeie voorbeeld hiervan in Genesis 3: 8 – 9 waar daar geskryf staan: “Teen sononder se kant was die Here God in die tuin. Toe hulle Hom hoor, het hulle bang geword en tussen die bome vir Hom gaan wegkruip. die Here God moes toe na die mens roep en sê: “Waar is jy?”

Toe Adam en Eva besef dat hulle verkeerd gedoen het, was hulle eerste reaksie om hulle self uit die voete te maak en hulle self iewers te gaan wegsteek.

Dit is interessant om op te let dat toe dit alles gebeur was dit op die ou einde nie Adam en Eva wat na God begin soek het nie, máár dit was eerder God wat na húlle gaan soek het.

Onthou dat die plek waar Adam en Eva weggekruip het, nie verbloem was vir God nie. Dit is nie asof Hy nie presiés geweet het wat aangaan, wat hulle gedoen het en waar hulle was nie.

Inteendeel, Hy het hét geweet maar Hy wou hê dat Adam en Eva uit hulle eie uit na Hom toe mos kom, Hy wou hulle nie forseer nie, om iemand te forseer impliseer dwang en God soek nie slawe nie, Hy soek kinders.

Sonde bring nie skeiding nie.

Daar is baie mense wat graag vir jou sal vertel dat wanneer jy sonde doen bring dit skeiding tussen jou en God. Ek glo egter nie dat hierdie stelling 100 % akkuraat is nie. Verstaan egter wat ek sê, solank as wat ek leef sal ek sonde nooit goedpraat of as ligtelik afmaak nie. Wat verkeerd is, is verkeerd en wanneer God sê dat Hy haat sonde glo ek dat Hy is ernstig daaroor. Ons kan dus nie doelbewus sonde doen en dink dat alles is maar net in die haak nie.

Sonde het baie beslis ’n vernietigende uitwerking op ons en ook op ons verhouding met die Here, maar kom ek neem jou terug na die tuin van Eden net nadat Adam en Eva gaan wegkruip het. Kan jy onthou wat daar gebeur het?

God het na Adam en Evan gaan soek.

God het teen skemeraand na Sy kinders in die tuin gaan soek. Hy het na hulle verlang en wou hulle naby Hom hê. Enige “skeiding” wat daar dus tussen hulle en God was, was omdat húlle dit gekies het/skaam was en nié omdat God dit so wou hê nie.

Dit is tog jammer dat ons selfs nou nog dieselfde doen as wat Adam en Eva destyds gedoen het. Ons hardloop weg van die Here wanneer ons sonde gedoen het en probeer Hom vermy terwyl Hy eintlik heeltyd na ons loop en roep en vra, “Waar is jy?”

In Romeine 8: 31 – 33 en ook vers 35 staan daar geskryf: Wat is ons gevolgtrekking oor alles, wat ons tot nou toe gesê het? Dít: God is aan ons kant. Wie sou dit dan nog waag om teen ons te wees? God gee so baie vir ons omdat Hy nie eens sy eie Seun se lewe gespaar het nie. God het Hom in ons plek laat doodgaan. As Hy bereid was om so vêr vir ons te gaan, sal Hy mos enigiets vir ons doen dit. Wie kan dit nou nog waag om ’n aanklag teen ons in te bring? Niemand nie! Ons is immers deur God self as Sy kinders uitgekies. Boonop het Hy ons van al ons sondes vrygespreek. (Vers 35) Wat kan ons nog skei van Christus se liefde vir ons?

Is jy miskien besig om weg te kruip van God omdat jy sonde gedoen het of dalk besig is om sonde te doen. Onthou, God roep na jou en vra, “Waar is jy?” Hy wil nie hê daar moet afstand tussen jou en Hom wees nie en Hy wil jou ook nie seermaak of vernietig nie maar eerder vergewe, help en restoureer.

Kom vandag daar van agter jou skuilplek af uit en stap die Here en Sy genade vir jou tegemoet en vertel vir Hom wat aangaan sodat Hy jou kan help.

Kom ons bid. Here ek kruip nou al lank weg vir U omdat ek skaam en bang is. Ek is jammer dat ek sonde gedoen het en ek vra dat U my asb. daarvoor sal vergewe asb. Herstel my asb. Vader, restoureer my om weer in ’n verhouding met U te staan. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.
 
 

No comments:

Post a Comment