Friday 3 October 2014

Van uitstel kom afstel - deur Anton Brink

In Spreuke 20: 4 staan daar geskryf, “Lui mense gaan ook in die môre werk toe. Daar doen hulle net mooi niks, maar aan die einde van die maand wil hulle geld hê.”

Ons ken almal daardie ou Engelse gesegde, “If you want something done then ask a busy person.”

Mens kan nie anders as om respek te hê vir iemand wat graag hard werk nie. Sulke mense is doelgerig en hulle kry ook soos die gesegde sê gewoonlik dinge goed en klaar gedoen. Aan die ander kant weer, mense wat nooit gewillig is nie en die hele dag net wil sit dra by tot erge frustrasie vir dié wat met hulle moet saamleef of met hulle moet saam werk. So 'n mens moenie dink dat hy dieselfde loon by sy werkgewer of in die lewe oor die algemeen sal ontvang as die een wat sy of haar deel graag doen nie.

Van uitstel kom afstel.

Ek hoor nou nog wanneer ek terugdink aan my kinderjare my Ma se woorde, “My kind, van uitstel kom afstel.” Dit is so vreeslik eenvoudig maar tog ook terselfdertyd so vreeslik waar. As ek darem net dink aan al die dinge wat ek al in my lewe eintlik al moes gedoen het net om later dan heeltemal daarvan te vergeet omdat ek dit bly uitstel het.

Ek en jy moet as gelowiges 'n goeie werk etiek hê. Dit pas nie by 'n toegewyde Christen om 'n lui en slap houding te hê nie. Kyk wat staan in Kolossense 3 vanaf vers 22 tot 23, dit sê die volgende: “Nou kom ek by julle wat vir base werk. Doen wat julle aardse base van julle vra. Moenie skynheilig wees en net werk as hulle vir julle kyk nie. Wees eerlik en werk hard omdat die Here altyd vir julle kyk. Julle wil tog die Here tevrede stel en nie mense nie. Laat mense dit ook sien aan die oorgawe waarmee julle julle werk doen.”

Doen jou werk goed en reg en as jy 'n werk doen waar jou werkgewer of kollegas jou dalk nie genoegsaam waardeer of selfs raaksien nie, doen dan daardie werk asof dit God self is wat jou werkgewer is en asof dit Hy is wat jou salaris betaal en stel Hom dan tevrede met jou goeie werk.

Sterkte!

Kom ons bid. Vader help my om asb. om alles in my lewe altyd net tot U eer te doen selfs al word ek nie raakgesien of waardeer deur mense nie. Herinner my Here dat ek elke dag my werk moet doen asof dit net vir U is en vir niemand anders nie en dat U my sal beloon en bevorder op die regte tyd. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


No comments:

Post a Comment