Tuesday 21 October 2014

Dood waar is jou angel? - deur Anton Brink

Jare gelede, ek praat nou van 1993, het ek baie goed bevriend geraak met 'n man en sy vrou (Izak en Celesté) wat in Loevenstein hier in die Kaap gewoon het.
Hulle het hulle oor my ontferm omdat ek daai tyd pas Kaap toe getrek het en ek nog nie regtig my voete kon vind of rigting kon kry nie.

Dit was eintlik amper 'n vreemde tipe vriendskap aangesien hulle in die omgewing van so 30 jaar ouer as ek was maar snaaks genoeg ten spyte van ons baie groot ouderdom verskil het ons tóg ten minste drie keer per week lekker saam gekuier so om 'n warm beker koffie en Celesté se tuisgemaakte beskuit.

Om die waarheid te sê hulle was baie vir my soos 'n Ma en 'n Pa terwyl ek vêr weg van my eie ouers af hier in die Kaap gewoon het.

Ek het baie by hulle geleer en het aande by hulle omgesit terwyl hulle vir my raad gee oor besluite wat ek moet maak ens. en hulle het male sonder tal vir my gebid en uit God se woord geleer en gehelp om 'n klomp dinge beter te verstaan.

Toe 'n meisie my hart gebreek het, was Izak en Celesté die mense op wie se skouers ek gaan huil het en het hulle vir my meer beteken as wat ek hier sal kan verduidelik.

(Neem kennis, wanneer iemand wat baie jonger is as jy, jóú waardig ag om inspraak in sy of haar lewe te gee moet dit dan asb. nié gering ag nie. Jongmense het goeie Goddelike inspraak bitter baie nodig en jy is dalk net die een vir wie die Here wil gebruik, so wees asb. geduldig met die jongmense wat jou raad nodig het.)

'n Paar jaar gelede het hulle toe egter weggetrek en hulle self op Danabaai net duskant Mosselbaai gaan vestig en van toe af het ek hulle eintlik bitter min gesien maar ons het steeds kontak behou.

'n Paar weke gelede hoor ek toe by Celesté dat dokters 'n breingewas by Izak ontdek het en dat die prognose lyk baie sleg.

Gisteroggend 09:13 vm. het Celesté my gebel en gesê dat Izak agt uur die oggend oorlede is, haar woorde aan my was, “Anton, I’m phoning to let you know that Zac went to be with Jesus at eight o’clock this morning.”

Dood waar is jou angel?

In 1 Korintiërs 15: 53 – 55 staan daar geskryf: “Hierdie liggaam wat ons nou het, gaan agter uit en is op pad na die dood toe. Die nuwe liggaam wat ons gaan kry, sal nie agteruitgaan nie en sal ook nooit doodgaan nie. Wanneer dit alles gebeur, sal dit presies wees soos die Skrif gesê het dit gaan wees: Die dood het nie meer enige krag of invloed nie. God het al die krag as oorwinnaar.”

In die ’83 vertaling in vers 55 sê dit, “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?”

Het 'n goeie vriend of familielid, dalk jou man, vrou of kind onlangs gesterf? Skep dan goeie moed. As hulle die Here Jesus as verlosser geken het, is daardie een vir wie jy omgegee het nié dood nie maar het nou 'n nuwe liggaam en is by God in die Hemel.

Daar sal 'n dag kom dat julle weer herenig sal word.

Kom ons bid. Here die seer is baie erg en ek verlang so vreeslik baie, maar ek weet en ek glo dat ek kort voor lank weer met al my geliefdes wat in Christus is herenig sal word en dat daar 'n ewigheid van vreugde saam met U op ons elkeen wag. Help my intussen om koers te hou, te treur wanneer ek moet maar om dan ook weer op te staan en aan te gaan met my lewe. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


No comments:

Post a Comment