Friday 17 October 2014

Wees lig - deur Anton Brink

Jy weet nè, as gelowiges nie rigting in hierdie wêreld kan gee en lig daarvoor kan wees nie dan weet ek regtig nie wat sal van ons word nie.


Ons moet elke liewe dag van ons lewe God se standaard uitleef in ál ons doen en late en ons moenie skaam wees daaroor nie, mense moet kan wéét dat jy Jesus ken al sê jy nie eens een woord nie

Christene is veronderstel om ooglopende voorbeelde te wees van mense wat 'n onuitblusbare hoop het en wie daagliks in oorwinning lewe. Daarmee bedoel ek glad en hoegenaamd nie dat ons elke dag hoef te huppel en spring of van die oggend tot die aand 'n glimlag op ons gesigte moet hê asof niks ons pla en asof niks ooit skeefloop nie.

Nee, wat ek wél sê is dat ek en jy moet voorbeelde wees van mense wat 'n pad saam met die Here loop en wie (ten spyte) van moeilike en uitdagende tye na die tyd kan getuig van die oorwinning of uitkoms wat God die Vader vir ons gegee het.

Verkondig die Evangelie van Jesus Christus en as dit nodig is gebruik selfs woorde.

As mense nie kan sien dat jy 'n gelowige is nie dan is jou geloof in God net lippetaal. Onthou dat die Bybel leer vir ons dat geloof sonder werke is dood en ook dat ons elkeen gered is (tot) goeie dade.

Kyk wat staan in Jakobus 2: 14 waar dit sê: “Liewe broers en susters, dink julle dit gaan help as iemand oral rondvertel dat hy glo, maar glad nie soos 'n gelowige optree nie? Die blote gepratery oor geloof is tog nie genoeg om so 'n mens se saak met God reg te maak nie.”

Voeg vandag daad by die woord en kies om iemand te wees wie se dade strook met sy woorde. Sodoende sal ander mense sien dat jy die Here Jesus ken en dat jy in 'n geregverdigde verhouding met God staan en sal hulle ook (hopelik) wil hê wat jy het.

Kom ons bid. Vader gee my asb. die moed om daad by die woord te voeg en om dit wat ek met my mond as gelowige sê en graag by die kerk of selgroep oor praat prakties te begin uitleef. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


No comments:

Post a Comment