Monday 27 October 2014

Hier is jou kans nou - deur Anton Brink

Die woord van God leer vir ons die volgende in Hebreërs 9:27 – 28: Net soos 'n mens maar een maal sterf en dan voor God moet gaan staan om sy oordeel aan te hoor, so het Jesus net een maal gesterf. Sy sterwe was soos 'n offer waarmee Hy gesorg het dat God al die verkeerde dinge oorsien wat baie mense gedoen het.”

Niemand gaan vir ewig op hierdie aarde lewe nie, nie een van ons verlaat hierdie plek lewendig nie, jy ook nie. Dus nooi ek jou nou om 'n keuse te maak vir die Here voordat Hebreërs 9: 27 – 28 ook vir jou 'n realiteit word en jy dalk daar voor God se regterstoel moet gaan staan met geen verweer of 'n Verlosser wat aan jou kant is nie.

God wil jou sonde óók oorsien maar die enigste manier hoe dit kan gebeur is as jy Sy seun, Jesus Christus as verlosser aanvaar en vandag het jy die kans om dit te doen.

Lees asb. die onderstaande gebed hardop saam en gee jou hart en lewe vir God deur Sy seun Jesus en Sy offer aan die Kruis te aanvaar as jou persoonlike saligmaking.

Sal jy dit asb. doen?

Indien jou antwoord ja is en jy lees die onderstaande gebed hardop saam kontak ons gebedsvriende by Tygerberg 104fm dan en sê vir hulle dat jy besluit het om Christus Jesus te aanvaar sodat hulle jou verder kan help en leiding gee.

Die nommer is: 0861 104 104.

Kom ons bid. Hemelse Vader, vandag weet ek dat ek, soos alle mense wat gebore word op hierdie aarde, oppad is hel toe. Al lewe ek hoe goed, tensy ek by ’n punt kom waar ek besef dat ek ’n Verlosser nodig het, kan ek nooit uit my eie goeie dade of lewe die Ewigheid in U teenwoordigheid deurbring nie.

Dankie dat U Jesus, vir my sondes gesterf het, begrawe is en op die derde dag weer opgestaan het en opgevaar het na die hemel waar U aan die regterhand van God sit en my Voorspraak is. Ek bely vandag dat U die Seun van God is en dat U my verlossing duur gekoop het.

Dankie Heilige Gees dat U daagliks my metgesel is en dat U my leer en lei in die waarheid. Vandag aanvaar ek Jesus Christus as my Verlosser en Saligmaker en weet ek dat ek in U alles het wat ek nodig het om die Ewige Lewe te kry, volgens Joh. 17: 3

Ek dank U dat ek nou in ’n lewende verhouding met U kan wees en dat ek in U ’n Vriend en daaglikse Trooster en metgesel het. Amen


No comments:

Post a Comment