Thursday 23 October 2014

He loves me, He loves me not - deur Anton Brink

Toe ons kinders was en jy is verlief op 'n meisie máár jy weet nie of sy dieselfde oor jou voel nie, gebruik jy dan mos maar die enigste logiese en absoluut onfeilbare metode om uit te probeer uitvind. Jy gaan pluk 'n mooi spierwit Daisy in die veld en trek die blaartjies een vir een af terwyl jy sê, “She loves me, she loves me not, she loves me, she loves me not...”


Hopelik eindig die laaste blaar met, “She loves me” en dan is jou kop mos deur, of hoe? Anders gaan jy maar terug veld toe en pluk jy sommer 'n paar blommetjies totdat jy op die blaar met die regte antwoord eindig.

Jy hoef nie te wonder of die Here lief is vir jou nie.

Daar is baie van ons wat 'n wanbegrip of wanpersepsie van God het. Ek self sukkel nog partykeer daarmee. Ek onthou dat (veral) toe ek jonger was, het ek baie keer aan God gedink as hierdie knorrige ou oom wat my om elke hoek en draai wou straf vir alles wat ek verkeerd doen.

Gelukkig tog vir ons almal is die teendeel eintlik die waarheid.

Ons is maar geneig om (meeste van die tyd) ons eie ondervindings in die lewe as maatstaf te gebruik om te bepaal hoe ons oor iets voel. Jy het byvoorbeeld dalk al seergekry in die kerk en nou wil jy nooit weer 'n diens bywoon nie of dalk het jou eerste man jou miskien verneuk en wil jy nou nooit weer iets van 'n verhouding met iemand of van trou af weet nie.

So ook projekteer ons baie maklik die slegte ervarings wat ons by ons aardse Pa’s gehad het op God en veral wanneer God aan ons beskryf word as ons “Pa” of “Vader” voel ons soms ongemaklik met dié idee. As jy bv. 'n wreedaard vir 'n Pa gehad het, gaan daardie gevoelens wat jy teenoor jou aardse Pa gehad het waarskynlik taamlik maklik by jou posvat wanneer God aan jou as 'n Vaderfiguur voorgehou word.

Kies om nié die leun te glo nie.

Om God as 'n liefdevolle, versorgende omgee Pa te aanvaar is nie iets wat maklik kom vir iemand wat 'n baie slegte ondervinding met sy biologiese Pa gehad het nie. Dit is 'n doelbewuste keuse wat jy elke dag sal móét uitoefen om te glo dat Hy jou nie leed wil aandoen nie.

Dit is belangrik dat jy nie in jou gees verlam sal word a.g.v. die verkeerde assosiasie wat jy oor God maak of die persepsie wat jy van Hom het nie. God is nié 'n monster nie, Hy het géén begeerte om jou seer te maak of te verneder nie. Hy sal jou veel eerder beskerm en vergewe.

In 1 Petrus 4: 8 staan daar geskryf dat die liefde bedek baie sondes. Dit sê die volgende: “Daar is niks so belangrik as dat julle mekaar lief het asof julle eie lewe daarvan afhang nie. Die liefde sien ander se foute oor en gaan nie daaroor te kere nie.”

Hierdie liefde wat jou sondes bedek beteken nie dat Hy jou sonde onder die mat in vee nie, ek en jy kyk mos ook nie ons kinders se foute mis nie. Ons as ouers is maar net tóg te bewus van ons kleingoed en tieners se foute, maar wanneer hulle met hartseer in hulle ogies kom ekskuus sê, kan ons ook maar nie anders as om hulle innig jammer te kry, vas te druk en gou-gou sommer 'n klomp liefde (en dalk ook sommer 'n paar lekkertjies vir hulle daarby) vir hulle te gee nie.

God is ook so. Hy wil ons seën en veel eerder Sy genade aan my en jou bewys as enige iets anders.

Kom ons bid. Vader, ek het 'n verkeerde begrip van wie U is omdat ek deur my aardse Pa teleur gestel is. Help my dat ek van nou af sal kies om U te leer ken as 'n Vader vol liefde en genade. 'n Pa wat my veel eerder wil seën en reg leer as een wat my wil straf of teleurstel. Ek bid dit in die naam van Jesus Christus. Amen.

No comments:

Post a Comment