Thursday 9 October 2014

Verdra mekaar - deur Anton Brink

Nie almal sien die lewe soos ek of jy nie, opinies verskil.


Dis een van die redes waarom daar so baie verskillende kerke is, mense sien en verstaan dinge op verskillende maniere en elke mens is oortuig dat nét hy of sy die enigste een is wat reg is. Dan voel ons mos ook boonop dat as ander mense nie dinge sien soos ék dit sien nie dan vat ek eenvoudig net my goed en loop en begin ek maar sommer my eie groepie iewers anders.

Om dinge nog erger te maak, wil hierdie verskillende groepies (in baie gevalle) wil dan ook sommer niks met mekaar te doen hê nie, want julle doen dinge mos só en ons doen dit só en elkeen sit op sy eie ou klein hopie en kraai koning.

Kyk wat lees ons in die Bybel. In Efesiërs 4: 1 – 5 staan daar geskryf: “Ek sit hier in die tronk omdat ek vir die Here werk. Dit wys hoe ernstig ek oor hierdie dinge is en juis daarom vra ek julle mooi: leef so dat God trots kan wees dat Hy julle na Hom toe geroep het. Moenie voorop die was wees nie en behandel ander mense so dat dit vir hulle lekker is om by julle te wees. As iemand jou kwaad maak of irriteer, beheers jouself deur steeds mooi teenoor hom op te tree. Laat (liefde) julle lojaal teenoor mekaar hou , ook wanneer julle voel julle het nou vir eers genoeg van mekaar gehad. Die Heilige Gees het van ons een hegte span vir God gemaak. Hierdie “een-wees” en “saam-wees” moet ons tot elke prys bewaar. Ons moet nie toelaat dat enigiets tussen ons kom wat die goeie verhouding tussen ons bederf nie. God is nie verdeel nie. Daar is net een liggaam van Christus, waarvan ons deel is en net een Heilige Gees. Ons almal se hoop is ook een en dieselfde.”

Kom dat elkeen van ons nooit vergeet net hoe belangrik eenheid vir God is nie. Moenie lelik en neerhalend krities met ander weergebore kinders van die Here wees net omdat hulle lyk en praat soos jy nie, kom dat ek en jy moeite doen om ander gelowiges lief te hê en te respekteer. Sorg dat eerder dat jou eie saak met die Here reg is voor jy 'n vinger na ander kinders van die Here wil begin wys .

Kom ons bid. Vader God, help my om eerder eenheid in die liggaam van Christus aan te moedig as wat ek verdeeldheid saai. Help my om nooit te vergeet net hoe belangrik eenheid vir U is nie en dat ek dit sal nastreef. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


No comments:

Post a Comment