Thursday 30 October 2014

Veilig by die Here - deur Anton Brink


Ons het maar almal ons deel van bekommernisse in hierdie wêreld, selfs die gelowiges is nie daarvan gevrywaar nie.
 


 
 
 
 
 
 
 
 
Die probleem is net dat ons kyk al te graag na situasies met ons fisiese oë in plaas van om daarna te kyk met ons geestelike oë. Dit is wanneer ons met ons fisiese oë kyk en liefs dáárop staatmaak dat ons broeke begin bewe en ons sommer al die stryd verloor het nog voor dit begin het.

Daar is by herhaling skrifgedeeltes in die Woord wat vir ons belowe dat God ons altyd sal beskerm en behalwe dié skrifgedeeltes oor beskerming is daar ook dosyne voorbeelde van Gods manne én vroue wat ons kan gaan lees om te sien hoe God altyd vir hulle deurgekom en hulle bewaar het.

Kyk maar bv. na Dawid toe hy die reus Goliat moes verslaan en ook die profeet Elia toe die koningin hom wou laat doodmaak omdat hy die Baal profete om die lewe laat bring het, om maar net ’n paar te noem. Albei hierdie is voorbeelde van amper onmoontlike situasies waar dit gelyk het asof ’n goddelose oormag die oorhand oor gelowige mense gaan kry net om hulle dan in ’n lewende en Almagtige God vas te loop.

Niks is anders as toe nie.

Ons moenie vergeet dat net omdat die Bybel baie lank gelede al geskryf is, beteken dit nie dat God nou om een of ander rede intussen van plan verander het of besluit het om anders teenoor ons op te tree nie. Dit is nog presies en identies dieselfde God van wie ons in die Bybel lees wat vandag nog bereid is om ons elkeen veilig te hou, selfs reg in die middel van jou grootste krisis.

In Psalm 91: 13 – 16 staan daar geskryf: “Van een ding kan jy baie seker wees: as jy op die Here vertrou en elke dag op Sy hulp staatmaak, sal nie eens die grootste gevare in die lewe jou ooit onderkry nie. Met die Here se hulp sal jy elke moeilikheid wat jou oorkom te bowe kom. Jy sal bo dit alles uittroon. Die Here se self: “Iemand wat My lief het, sal Ek uit enige gevaar bevry. Ek sal hom beskerm omdat hy My vertrou. Wanneer hy My om hulp vra, sal Ek hom help, Ek sal hom in enige krisis bystaan. In sy nood sal Ek hom help. So sal Ek eer aan Hom bewys. Ek sal sy lewe vol maak met goeie dinge. Hy sal gelukkig wees, want hy weet dat Ek graag help.”

Besef dat die Here presies dít doen wat daar geskryf staan, Hy help graag en jý is nie die uitsondering op die reël nie.

Skuil vandag so ’n bietjie in Sy arms en vra Hom om jou veilig te hou en uit ou nood te red.

Kom ons bid. Here ek staar elke dag baie probleme en uitdagings in die gesig en partykeer voel dit vir my asof dit my gaan verswelg. Help my asb. om vandag my rus in U arms te vind en te weet dat U my daar sal bewaar en beskerm teen die aanslae van die vyand wat my wil verwoes en besteel. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.
 
 
 

No comments:

Post a Comment