Monday 6 October 2014

Daar is 'n rede waarom ons Hom die goeie Herder noem! - deur Anton Brink

Voel dit vir jou ook soms asof dit die Here self is wat jou verbrysel, asof dit Hy self is wat jou weerstaan en dit maak nie saak hoe baie jy skop, spartel en pleit by Hom nie, dit verander net mooi niks aan jou omstandighede nie?


Soms laat die Here toe dat dinge vir ons 'n bietjie onaangenaam raak juis sodat ons kan groei.

Ordentlike vrug kom nie uit 'n boom of wingerdstok sonder 'n bietjie snoei werk nie. So nou en dan raak dinge vir ons gelowiges ook maar 'n bietjie onaangenaam.

Glo dit of nie maar partykeer laat die Here toe dat ons harte gebreek word. Beslis nie omdat Hy Hom daarin verlekker nie, maar sodat ons sterker en (hopelik) wyser kan word uit ons ervaring.

Onlangs moes ek my kinders neem vir swemlesse. My seun het vinnig geleer en ook minder gekla oor dié swem tannie wat so kwaai was. My dogtertjie aan die ander kant was weer 'n heel ander storie. Sy het die swemlesse as iets heel anders ervaar. Vir haar was dit onaangenaam (amper traumaties) om die minste te sê.

Terwyl ek daar langs die swembad sit en kyk hoe my dogtertjie huil en spartel het sy herhaaldelik na my toe gekyk en uitgeroep na my dat ek haar moet kom haal en dat ek haar uit haar omstandighede moes kom verlos. Ek het nie. Ek móés haar daar los sodat sy kon leer om te swem anders kan sy dalk verdrink by ons of 'n maatjie se huis.

Ek kon nie help om op te let dat dit presies dieselfde met ons is nie. Party van ons, soos my seun, kla min en leer vinnig. Net vier lesse later en hy kan swem. My dogter nie. Sy baklei so hard teen die swemlesse dat ek nie 'n ander keuse het as om haar herhaaldelik terug te neem totdat sy geleer het om te swem en kop bo water te hou nie.

Wanneer sy huilend en angstig na my kyk terwyl ek langs die swembad sit ervaar sy sekerlik 'n gevoel van hopeloosheid en verstaan sy nie hoekom haar Pappa (wat so lief is vir haar) haar dan nie kom uit haal nie. Dit breek my hart, maar vir my kind se eie beswil moet ek 'n keuse doen om haar daar te los.

Ervaar jy dit so, voel dit vir jou asof die Here self besig is (om toe te laat) dat jou hart gebreek word oor iets? Moenie bekommerd wees nie, Hy is nie weg nie. Net soos ek sit Hy ook daar langs die “swembad” van jou situasie. Hou eerder op met kla en spartel en leer liewer vinnig sodat dit nie vir die Here sal nodig wees om jou terug te stuur vir nog lesse nie.

Onthou wat staan in Johannes 10 vanaf vers 11, “Ek is vir Christene wat 'n herder vir sy skape is. Wat Ek bedoel, is dit: die herder is bereid om alles te gee ter wille van sy skape, ook sy lewe. Hy sal liewers self doodgaan as dat hy sal toelaat dat sy skape iets oorkom. Iemand wat gehuur word om die skape op te pas, tree nie soos 'n herder op nie. Die skape behoort mos nie aan hom nie. Daarom gee hy nie regtig om vir die skape nie. As 'n leeu byvoorbeeld op die skape afstorm, sal die gehuurde man net maak dat hy so vinnig moontlik wegkom. Hy sal nie eens probeer om die skape te help nie. Die leeu sal al die tyd in die wêreld hê om onder die skape te baljaar. Wat met die skape gebeur, maak nie eintlik vir die gehuurde man saak nie.”

God het nie van jou vergeet nie. Hy is die goeie herder nie die slegte herder nie en Hy is bereid om Sy lewe vir jou af te lê. Hy wil net hê dat jy moet leer hoe om te swem.

Kom ons bid. Vader, dankie dat U my nooit alleen los nie. Dankie, dat U oor my die waghou en dat ek kan weet dat U nie sal toelaat dat ek verdrink nie. Help my Here om vinnig te leer en op te ou spartel sodat ek U altyd in enige situasie sal kan vertrou. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


No comments:

Post a Comment