Wednesday 22 October 2014

Dis nog beter as faktor 50 - deur Anton Brink

Dit was gister 'n lekker dag en so besluit my kinders en hulle maatjie wat kom speel het opslag hulle wíl nou swem.

Nie lank nie of hulle storm almal uit die kamer elkeen met 'n swembroek aan en Pappa moet behoorlik bontstaan om sonbrand olie aan te smeer. Die laaste ding wat enige ouer tog wil hê is kinders wat vanaand nie kan bad of slaap nie omdat hulle in die son verbrand het nie.

Soos 'n klomp stap soldaatjies laat ek hulle toe in 'n ry voor my staan en smeer ek hulle elkeen van kop tot tone met faktor 50 sonbrand olie dat hulle lyfies en gesiggies eintlik so blink in die son en ek sit opblaas swem armpies aan die twee kleintjies wat nog nie so goed kan swem nie.

Hulle spring toe in die swembad en vir 'n paar ure het hulle toe tog so lekker geswem, gelag en gespeel soos wat net klein kindertjies kan.

Terwyl ek so rustig in die skaduwee oor hulle sit en wag hou kon ek nie help om te dink aan die Here Jesus en ook aan die bloed wat Hy vir my en jou aan die Kruis gestort het nie.

Jesus hou wag oor jou.

My kinders en hulle maatjie kon heerlik sorgeloos speel en baljaar in die water omdat hulle wéét daar is 'n man wat oor hulle die wag hou. Nie vir een oomblik sou ek toelaat dat enige een van hulle onder die water verdwyn en verdrink nie, ek was elke oomblik gereed om in te spring en hulle uit te red sou ek moes omdat ek vir hulle lief is en omgee.

Dit herinner my aan wat in Mattheus 10: 29 – 30 geskryf staan: “Wat dink julle sal iemand vir 'n mossie wil betaal? 'n Paar sent miskien, of hoe? Al is hulle vir ons so min werd, gee God tog baie vir hulle om. Kyk net hoe sorg Hy vir hulle. Nou nog 'n vraag: Wat dink julle, vir wie gee God die meeste om, vir mossies of vir julle? Ek hoef eintlik nie eens hierop te antwoord nie. God gee natuurlik duisend maal meer vir julle om. Van kop tot tone is julle vir Hom belangrik.”

Sy bloed beskerm jou.

Al het die son warm op dié drie kindertjies se velletjies gebrand het dit hulle glad nie seergemaak nie. Die maximum sterkte sonbrand olie (faktor 50) wat ek vir hulle aangesmeer het, was meer as genoeg om hulle teen die skerp strale van die son te beskerm. Jesus se bloed is beslis baie beter as faktor 50 sonbrand olie maar ek kan tog 'n vergelyking tref tussen die twee. Dit (die bloed) was al ons sonde weg en al kom die sterk aanklagte van die Satan teen ons in en kla hy ons daagliks by God aan kan dit ons geen skade aandoen nie, want ons is reeds vrygespreek.

In Lukas 20: 22 staan daar geskryf: “Toe almal klaar geët het, vat Jesus weer die beker wyn en sê: “Hierdie beker is die teken en die bewys dat God 'n splinternuwe ooreenkoms met julle maak. My bloed wat binnekort gaan vloei, sal al julle sondes wegwas. Dit sal maak dat julle in 'n nuwe verhouding met God staan.”

Die bloed van Jesus het jou sondes weggewas, God het daarvan (jou sonde) vergeet en Hy hou dit nie teen jou nie. Al doen die duiwel ook wat, sy skerp aanslae teen jou sál misluk, God stel as’t ware nie eens belang in wat hy (die duiwel) oor jou te sê het nie. Verder, onthou vandag dat Jesus hou die wag oor jou en dat Hy het self belowe dat hy jou nooit sal begewe of verlaat nie.

Skep dus goeie moed, jou verlosser leef en Hy gee intens om oor jou.

Kom ons bid. Here Jesus ek aanbid en bring lof aan U omdat U God is, daar is niemand wat met U kan vergelyk nie. Dankie, dat U elke dag oor my die wag hou en baie dankie vir U bloed wat gevloei het sodat ek vergewe kan word. Dankie, Here dat U my vryspreek het en dat die Satan se aanslae teen my misluk omdat ek in Christus is. Bly asb. naby my Here, ek wil elke dag van U teenwoordigheid bewus wees. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


No comments:

Post a Comment