Wednesday 29 October 2014

Drie jaar of 90 000 km - deur Anton Brink

Deesdae, as jy bevoorreg is en kan bekostig om darem ’n redelik ordentlike ryding te koop, sal jy sien dat hulle kom gewoonlik met een of ander diensplan uit en afhangende van hoe baie jy kan of bereid is om te betaal hoe beter is daardie diensplan.



Wanneer die tyd dan kom op tien of vyftien duisend kilometer maak jy net ’n afspraak en gaan laai die voertuig by die werkswinkel af, hulle diens hom vir jou en later die middag gaan laai jy dit weer op sonder om daarvoor te betaal omdat daardie diensvoordeel mos by die koopprys ingesluit is.

Meeste dinge in die lewe móét maar op een of ander stadium in stand gehou word anders breek dit of werk dit dalk later nie meer 100 % soos die vervaardiger dit ontwerp en gebou het om te wees nie.

Ek en jy het ook elke nou en dan ’n goeie diens nodig en die prys vir daardie voorreg om in God se teenwoordigheid in te gaan en deur die Heilige Gees gerestoureer en vernuwe te word is reeds tydens die kooptransaksie van my en jou siel op die Kruis betaal.

God verwag nie van jou en my om elke dag tot in lengte van dae maar net op ons eie reg te kom en dan boonop altyd optimaal te funksioneer asof daar net geen einde aan ons geestelike stamina en energie is nie. Elke mens moet homself tyd gun om rustig te raak en as’t ware deur God se Heilige Gees “gediens” word.

Soos dit Sy gewoonte was.

Jesus het gereeld tyd by die Vader spandeer. Ons lees in Lukas 22: 39 – 42 die volgende: “Toe die ete klaar was, het Jesus opgestaan en (oudergewoonte) weer na die Olyfberg toe gestap. So ook Sy dissipels. Daar aangekom, sê Hy vir hulle: “Julle moet ernstig bid dat julle nie in die versoeking beland en teen God sondig nie.” Jesus het toe ’n ent van hulle af weggestap, omtrent so vêr as wat ’n mens met ’n klip kan gooi. Daar het Hy op Sy knieë neergeval en begin bid...”

Jesus het ’n punt daarvan gemaak om gereeld te bid, hoeveel te meer moet ek en jy dit nie ook doen nie? As ons nie die moeite doen om so elke nou en dan by die Here se voete in gebed te gaan sit nie kan ons verwag dat ons later nie meer geestelik optimaal gaan funksioneer nie en dat sonde ook baie makliker ’n houvas op ons lewens sal kry.

Daardie tyd saam met God is nodig en ons moet dit nie ligtelik ag nie. Sal jy nie ook, net soos dit die Here Jesus se gewoonte was, van vandag af ’n punt daarvan maak om kwaliteit tyd saam met die Here te spandeer nie en hou op om om jou geestelike lewe op “skiet” gebedjies te laat probeer oorleef.

Kom ons bid. Here ek smag na meer van U en die enigste manier hoe ek dit gaan kry is om ordentlik tyd saam met U te spandeer. Sal U my asb. help om iewers op ’n stil plek so gereeld as moontlik met U intiem te verkeer sodat ek ook geestelik optimaal sal kan funksioneer. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


No comments:

Post a Comment