Friday 24 October 2014

En toe het God nee gesê - deur Anton Brink

Kyk wat staan in 2 Korintiërs 12: 8 – 9 geskryf: “Nie minder nie as drie keer het ek die Here gevra om hierdie struikelblok uit my lewe weg te vat. “Laat al my swaarkry en lyding asseblief tog net ophou!” het ek Hom gesmeek. Toe sê die Here uiteindelik vir my: “My goedheid is vir jou genoeg. Dit is al wat jy nodig het. My groot krag word sigbaar in jou lewe wanneer jy swak en hulpeloos is.”

In die Amplified Bybel staan dit so geskryf: “8 Three times I called upon the Lord and besought [Him] about this and begged that it might depart from me; 9 But He said to me, My grace (My favor and loving-kindness and mercy) is enough for you [sufficient against any danger and enables you to bear the trouble manfully]; for My strength and power are made perfect (fulfilled and completed) and [a]show themselves most effective in [your] weakness. Therefore, I will all the more gladly glory in my weaknesses and infirmities, that the strength and power of Christ (the Messiah) may rest (yes, may [b]pitch a tent over and dwell) upon me!

Krag is net sigbaar waar daar swakheid is, genade is net sigbaar waar daar sonde is en lig is net sigbaar waar dit donker is.

Jy moet Hom toelaat om Sy tent oor jou op te slaan.

Ek het 'n vrou geken wat 'n verskriklike uitdaging gehad het vir baie jare. Haar man was 'n wreedaard wat haar meer as een keer in die middel van die nag uit die bed uitgeruk het terwyl sy slaap en hy storm dronk was en het haar dan met 'n geweer teen die kop gedreig het net om haar dan net so in haar nagklere daai tyd van die aand by die voordeur van hulle huis uit te gooi.

Sy is 'n diep gelowige vrou en het die Here lief met haar hele hart, sy het al dosyne mense na die Here Jesus toe gelei, ook vir my. Vir jare het sy by God gepleit om haar te verlos, het sy by Hom gepleit vir toestemming om maar van hierdie man te mág skei.

God het nee gesê.

Ek onthou dit nog goed toe sy my die dag vertel wat God se antwoord op haar smeekgebed was, sy het my stip in die oë gekyk en gesê: “Die Here sê ek moet bly, ek mag nie gaan nie.” Ek en al die ander mense wat vir haar lief was en wat so baie vir haar omgegee het was woedend en ons wóú dit nie verstaan nie. Ons het haar probeer oortuig dat sy dalk 'n fout maak maar sy wou niks weet nie en het voet by stuk gehou dat sy sal kies om aan God getrou en gehoorsaam te bly selfs al beteken dit dat sy deur hel moes gaan om dit te doen.

Dit het nog jare so aangegaan.

Haar verlossing uit hierdie omstandighede het nie gou gekom nie. Eers omtrent 15 jaar later het haar man se hart sag geword en is hy toe ook kort daarna (in vrede met haar en God) oorlede. Dit sou nie gebeur het as sy nie daar gebly het nie. Ek glo haar beloning hiervoor sal bitter baie groot wees. In daardie 15 jaar kan ek jou verseker het God Sy tent van krag en sterkte oor haar opgeslaan en het sy daagliks in Sy teenwoordigheid, beskerming en genade gewandel.

Staar jy 'n geweldige uitdaging in die gesig wat dit vir jou laat voel asof die lewe vir jou ondraaglik raak? Stort dan jou frustrasie voor God in gebed uit en hou op dink dat jy dit alleen moet hanteer.

Selfs al sou Sy antwoord vir jou ook nee wees wéét dan dat Hy Sy tent oor jou sal opslaan as jy Hom toelaat.

Kom ons bid. Vader U weet waarmee ek sukkel, my uitdaging is groot maar so ook is U genade. Slaan asb. U tent oor my op. Hou my asb. veilig en maak my sterk om dit deur te gaan tot my uitkoms kom. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


No comments:

Post a Comment