Monday 20 October 2014

Die ark staan oop - deur Anton Brink

Mense wat my goed ken sal kan getuig daarvan dat ek graag so nou en dan die term gebruik, “Die ark staan oop”.

Ek sê dit gewoonlik sommer grappenderwys wanneer ek vir iemand iets aanbied en dié persoon dan nie kan besluit of hy van my aanbod wil gebruik maak nie, sodat hulle kan besef dat hierdie aanbod van my gaan nie vir ewig bly staan nie.

Nou nou die dag bv. hoor ek hoe sê iemand dat sy so haastig is want sy moet nog Parow Centre toe ook stap en die dag is al amper om. Ek haak toe af van doer ander kant en sê, “Moet ek jou 'n “lift” gee, ek gaan in elk geval nou-nou ry dan ry ek sommer daai kant om en laai jou voor die sentrum af”. Dié ene “Uhm Uhm” toe nog so 'n paar keer en ek sê vinnig, “Toe toe toe, besluit nou, die ark staan oop.” M.a.w. ek gaan beslis nie heeldag rond staan en wag tot jý nou eendag besluit het nie, as ek ry dan ry ek en dan moet jy maar sélf sien kom klaar.

Sy’t toe maar net gelag en gesê, “Ja ja, wag ek kry net gou my handsak dan kom ek.” So hoef sy toe darem op die ou einde nie die lang pad af winkels toe te voet aan te gedurf het nie.

Die ark staan nogsteeds oop.

Daar is 'n ander spreekwoordelike ark wat ook oopstaan en dit is die verlossing en kwytskelding wat daar in Jesus Christus is. God se genade tyd vir ons is nog nie verby nie en jy het vandag nóg die geleentheid om 'n besluite vir Hom te maak.

Aanvaar die Here Jesus as jou verlosser.

God beloof vir ons dat as ons sou kies om die Here Jesus as persoonlike verlosser en Saligmaker te aanvaar dan sál Hy ons ons sonde vergewe en ons red ongeag van wat ons al ooit in hierdie lewe aangevang het en selfs méér nog, vir die sondes wat ons ook nog gáán doen.

Wil jy nie vandag die onderstaande gebed asb. saam hardop bid en Jesus Christus ook jou verlosser maak nie? Onthou, die “ark” staan wel op hierdie stadium nog oop máár daar sal ongelukkig 'n dag kom dat ook hierdie ark se deur gesluit gaan word.

Maak jou besluit asb. gouer eerder as later. As jy wel kies om Christus as verlosser te bely maak dan asb. met ons gebed vriende by Tygerberg 104fm kontak op 0861 104 104 en sê vir hulle wat jy vandag gekies het sodat hulle verder kan raad gee oor wat jou nou te doen staan.

Sterkte!

Kom ons bid. Hemelse Vader, vandag weet ek dat ek, soos alle mense wat gebore word op hierdie aarde, oppad is hel toe. Al lewe ek hoe goed, tensy ek by ’n punt kom waar ek besef dat ek ’n Verlosser nodig het, kan ek nooit uit my eie goeie dade of lewe die Ewigheid in U teenwoordigheid deurbring nie.

Dankie dat U Jesus, vir my sondes gesterf het, begrawe is en op die derde dag weer opgestaan het en opgevaar het na die hemel waar U aan die regterhand van God sit en my Voorspraak is. Ek bely vandag dat U die Seun van God is en dat U my verlossing duur gekoop het.

Dankie Heilige Gees dat U daagliks my metgesel is en dat U my leer en lei in die waarheid. Vandag aanvaar ek Jesus Christus as my Verlosser en Saligmaker en weet ek dat ek in U alles het wat ek nodig het om die Ewige Lewe te kry, volgens Joh. 17: 3

Ek dank U dat ek nou in ’n lewende verhouding met U kan wees en dat ek in U ’n Vriend en daaglikse Trooster en metgesel het. Amen


No comments:

Post a Comment