Wednesday 8 October 2014

Jy is vry - deur Anton Brink

Lewe jy nog asof jy in 'n tronk vasgevang is waar jy heeldag 'n klomp godsdienstige reëls en regulasies moet nakom en as jy dit nie nakom nie voel jy skuldig en begin dan wonder of jy dalk jou redding as gevolg daarvan verloor het?



Kyk wat staan in Johannes 3: 17 – 18: “God het nie die Seun na hierdie wêreld toe gestuur om net vir almal te kom sê hoe sleg hulle is nie. Nee, Hy het Hom gestuur sodat mense wat sleg was weer by God kon uitkom. Dit is soos 'n hofsaak. Elkeen wat dus in geloof vir Hom “ja” sê, is deur God vrygespreek. Aan die ander kant weerklink die oordeel woorde nou reeds oor dié wat die Seun nie gelowig aanvaar nie: “Julle is skuldig, want julle draai julle rug vir die unieke Seun van God!”

God se plan was vir Jesus om die verlossings werk NAMENS ons te kom doen, om ons (die gevangenes) vry te laat, die kettings te breek en sodoende (nie net) vir ons lewe te gee nie, maar lewe in oorvloed.

Die hartseer is dat 'n baie groot deel van gelowiges nóú nog nie die ware implikasies van Jesus se offer begryp nie. Hulle dink (meestal onbewustelik) dat die Kruis nie genoeg was nie. Hulle glo dat dit die Kruis (plus) hulle goeie werke en godsdienstige rituele is wat hulle red. Rituele (gewoontes) soos om elke Sondag kerk toe gaan, drie ure per dag te bid, tiendes en offerandes te betaal en wat nog alles, die lys kan aangaan en aangaan.

Ons moet begryp dat al hierdie goed is die GEVOLG van jou redding, dit is nie die rede waarom jy gered word nie! Jy gaan dus nie hemel toe omdat jy met elke diens voor in die kerk sit, elke dag bid en bydraes maak nie. Jy gaan hemel toe omdat jy Jesus Christus as jou verlosser aanvaar en bely en God jou dan deur Sy genade kom red. Mooi en goeie werke kom a.g.v. jou verhouding met God. Die Bybel sê dat ek en jy is gered TOT goeie werke nie AS GEVOLG VAN goeie werke nie.

Jy moet verstaan dat al probeer jy hoe hard, terwyl jy op hierdie aarde in jou vleeslike liggaam woon, sál jy altyd vatbaar wees vir sonde. Om dit nie te (wil) glo nie is soos om te sê dat jy nooit 'n verkoue sal kry nie. Niemand wil verkoue hê nie en jy gaan soek beslis ook nie daarvoor nie maar op een of ander stadium kry elkeen van ons tog maar verkoue.

Jy hoef jou self dus nie vir dae, maande en jare lank aanhoudend “pak” te gee omdat jy destyds iets verkeerd gedoen het of dalk nogsteeds doen nie. Ten spyte van jou sonde sê God vir elkeen van ons in 2 Korintiërs 12: 9 “My genade is vir jou genoeg”.

God sê m.a.w. vir ons dat Hy verseker nie Sy toestemming gee dat ons maar mag sonde doen nie, maar as dit (sonde) wel gebeur sal daar nog altyd vir elkeen van ons volop genade wees om Sy vergifnis te ontvang en aan te gaan met ons lewens.

Kom ons bid. Vader ek loof en prys U vir U oneindige groot genade en die feit dat ek daagliks daarvan kan kom skep. Dankie, Here dat U my nie red omdat ek goeie en mooi dinge doen nie maar omdat ek gered is, daarom WIL ek graag vir U en tot U eer hierdie goeie en mooi dinge aanpak. Help my Vader om nooit soos 'n slaaf te leef nie maar dat ek sal raaksien en besef dat ek 'n kind is in my Vader se huis met al die voorregte wat daarmee gepaard gaan. Ek vra dit in Jesus se naam. Amen.


No comments:

Post a Comment