Sondagmiddag het ek en my vrou so entjie gaan stap terwyl die kinders
so al om ons en voor ons uit 'n bietjie op hulle fietse rondry.
Ons kom toe tot by 'n klein kafeetjie daar naby en ek en sy besluit toe
om vir ons elkeen daar 'n lekker “bar one” te koop en om dit dan sommer
oorkant op die gras onder 'n boom te gaan sit en eet terwyl ons kyk hoe
die kinders op hulle fietse kerjakker.
Skaars het ek kans
gekry om 'n happie van bar one te vat of my dogtertjie (6) kom op haar
fietsie met die “training wheels” aan na my toe aangery.
Soos
sy nader kom sien sy my sjokolade en ek vra toe vir haar of sy 'n
happie daarvan wil hê. Natuurlik knik sy toe dadelik instemmend ja en
neem dié sjokolade uit my hand.
Net soos wat sy die happie van
hierdie lekkerny wil vat stop sy skielik en kyk stip na my met daardie
groot sagte bruin oë van haar. Met 'n koppie wat so effens skeef na
links hang en met 'n skaam glimlag om haar mondhoeke vra sy, “Pappa, kan
ek maar asb. alles kry?”
Drup drup voel ek hoe smelt my hart
hier binne-in my bors en sonder veel aarseling of teëpratery sê ek vir
haar, “Natuurlik my skat, jy kán maar enige tyd alles kry.”
Ons wil mos maar almal graag vir ons kinders gee wat hulle vra, al is
dit dan nou ook net 'n lekker sjokolade so nou en dan, of hoe?
Hierdie oomblik met my kind het my baie laat dink aan hoe God ook oor my
en jou voel en ek kon nie help om te dink wat in die Bybel geskryf
staan nie.
Dit staan in Lukas 11 vanaf vers 11 – 13 geskryf:
“Wie van julle wat 'n pa is, sal vir julle kind 'n slang gee as hy julle
'n stukkie vis vra om te eet? As hy vir 'n eier vra, gee julle hom mos
nie iets boos soos 'n skerpioen nie. Nou ja, God maak ook nie so met
Sy kinders nie. As julle klomp slegte mense net goeie dinge vir julle
eie kinders gee, hoeveel te meer sal julle Hemelse Vader dit dan nie
doen nie? Ek verseker julle: Hy sal selfs die Heilige Gees met Sy
groot krag gee aan almal wat ernstig tot Hom bid.”
Ongelukkig
het baie van ons 'n bedelaar of slaaf mentaliteit as dit by God kom en
vergeet ons dat Hy noem ons sy eie kinders a.g.v. wat Jesus Christus vir
elke gelowige aan die Kruis kom doen het. Ons is nie slawe nie en ook
nie bedelaars nie, ons is Sy kinders!
Hou dus vandag op om na
God toe te gaan met 'n slaaf of bedelaar ingesteldheid wanneer jy in
gebed na Hom toe gaan om vir Hom vir iets te vra. Glo net eenvoudig dat
omdat jy Sy kind is sal Hy nie net vir jou dit gee wat jy nodig het nie
maar sommer ook nog 'n paar lekker “sjokolade” bederfies daarby.
Kom ons bid. Here ek vra in die naam van Jesus Christus dat U my asb.
sal seën met alles wat ek nodig het én sommer nog meer as dit sodat ek
sal kan uitdeel aan ander daar waar ek behoefte sien. Wys vir my U
Vaderhart vir my sodat ek as 'n Pa sal ervaar en nie 'n moeilike en
ongenaakbare wreedaard nie. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus.
Amen.
No comments:
Post a Comment