Thursday 16 October 2014

Mind The Gap - deur Anton Brink

Gister het ons so 'n effense “ligter” oomblik beleef in die ateljee toe ek op die lug by Tygerberg 104fm die gek geskeer het met ons verkeersman, Richard de Villiers.



Hy (Richard) het verlede week grappende wys gesê dat hy sal vir my en Rouchelle elkeen 'n “Cappuccino” bring een oggend en jy weet mos wat hulle sê, beloftes maak skuld.

Ek het hom toe sommerso op 'n humoristiese manier 'n lekker harde tyd gegee oor die feit dat dit nou al 'n hele week later is maar stééds is daar geen Cappuccino in sig nie en ek haal toe vir hom die skrifgedeelte aan uit Lukas 16:10 wat praat oor om getrou te wees in die klein goedjies.

Arme ou Richard het geen verweer gehad nie, dit was baie snaaks.

Dit was nie lank na dié pallawa op die lug nie of een van Richard se vriende, 'n man met die naam “J.C.” stuur toe 'n boodskap na ons ateljee SMS lyn en vra of hy maar asb. namens sy goeie ou vriend Richard de Villiers twee Cappuccino’s vir ons by die ateljee kan kom aflewer aangesien Richard nie kan nie.

J.C. het vir Richard in die “gap” gestaan of anders gestel, hy het vir Richard ingetree of in die bres getree. M.a.w. toe Richard nie self kon doen wat hy wou of moes nie het iemand anders dit namens hom gedoen.

God verwag van ons om vir mekaar in te tree.

Ons lees van so 'n verhaal waar iemand veronderstel was om in te tree maar in daardie geval nié het nie ook in die Bybel wanneer ons kyk na Ezekiel 22: 30 waar God praat en sê: “Ek het gesoek na iemand in die stad wat goed sal doen, iemand wat 'n muur om die stad sal bou sodat die stad teen sy vyande beskerm kon word. So iemand moet goed doen, maar Ek het nie so iemand in die stad gekry nie. Niemand sal die stad beskerm nie.”

As óns nie intree nie wie sal dit dan doen?

Ek glo dit is omdat mense (veral) gelowiges nie vir mekaar intree nie dat die wêreld lyk soos dit lyk. As meer van ons net die moeite wil doen om fisies in die “gap” te staan vir andere, kan jy net dink hoeveel beter hierdie wêreld sou wees.

'n Paar bekende Bybelse voorbeelde van mense wat in die bres getree het vir andere is, om maar net 'n paar te noem, Moses, Daniel, Abraham, Job en natuurlik die grootste een van hulle almal, Jesus Christus wat namens my en jou in die “gap” gestaan het deur al ons skuld op Hom te neem en die prys daarvoor aan die Kruis te betaal.

Ongelukkig is om in te tree vir ander mense of soos ek dit hier noem om vir hulle in die “gap” te staan 'n karaktereienskap wat meeste mense nie het nie, dit is nie iets wat spontaan en natuurlik vir ons kom nie omdat. A.g.v. ons sondige natuur neig die mensdom mos maar om liewer selfsugtig te wees en wanneer ons opofferings moet maak vir ander mense soos wat hier bespreek word skram ons eerder daarvan af weg.

Begin by die mense vir wie jy omgee.

Wanneer jy regtig vir iemand omgee, is dit baie makliker om jou vleeslike selfsug te verloën en opreg vir daardie persoon in te tree. Onthou dat om in te tree vereis iets van jou en dit gaan amper altyd gepaard met een of ander tipe van opoffering, al is dit dan ook nét om vroeg op te staan en met die Here oor 'n saak te praat. Wanneer dit vir iemand is vir wie jy lief is en omgee is dit sommer al klaar baie makliker om te doen.

Moenie uitstel nie. Ek is seker daarvan dat selfs nou terwyl jy aandagtig hierdie boodskap lees kan jy sekerlik dink aan “issues” waarmee van jou goeie vriende of familie sukkel wat jy sommer self namens hulle na die Here toe in gebed kan neem.

Doen dit nou. Die Here wag dalk nét vir jou om in te tree voordat Hy kan begin beweeg.

Kom ons bid. Here God daar is so baie behoefte in hierdie wêreld en so baie mense wat smag na U. Wys my vir wie om in te tree en ook hoe om dit te doen. Help my om vandag iemand anders se antwoord op gebed te wees. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


No comments:

Post a Comment