Friday 10 October 2014

Die vurige gebed van elke gelowige - deur Anton Brink

Onlangs het ek die baie groot voorreg gehad om vir 'n vriend van my se ouers in gebed in te tree.



Ek weet dit val miskien vir jou effe vreemd op die oor wanneer ek dit so stel en sê dat ek het die voorreg gehad om vir my vriend se ouers te bid maar laat my toe om te verduidelik wat ek bedoel.

Ons bid baie keer vir ander mense, veral vir die vir wie ons goed ken. Dis tog niks snaaks nie, as gelowiges kom ons so elke nou en dan bymekaar by die kerk of by jou selgroep en dan luister ons na mekaar se behoeftes en probleme en dan bid ons en vra die Here om iets aan dié medegelowige se situasie te doen.

As die diens of die selgroep verby is beweeg ons weer aan en vergeet amper daarvan dat ons gebid het. Eers later by die volgende geleentheid (amper per ongeluk) val dit ons by dat ons het mos laasweek 'n probleem of behoefte in gebed na die Here toe gevat en vra ons dan dalk so bietjie uit daarna om te hoor of daar toe iets van gekom het.

Die Bybel leer vir ons dat die vurige (opregte en aanhoudende) gebed van 'n gelowige dra groot krag.

Kyk wat staan geskryf in Jacobus 5: 16 – 18, “Daarom moet julle vir mekaar sê dat julle jammer is oor julle sondes. Julle moet ook vir mekaar bid sodat julle gesond kan word. Wanneer iemand doen wat die Here wil hê en hy bid, dan sal sy gebed help dat groot dinge gebeur. Elia was ’n mens soos ons. Hy het baie ernstig gebid dat dit nie moet reën nie, en dit het drie jaar en ses maande lank nie gereën op die aarde nie. Toe het Elia weer gebid, en die reën het uit die lug gekom, en die aarde het sy plante laat groei.”

In die Amplified Bybel sê dit: “Confess to one another therefore your faults (your slips, your false steps, your offenses, your sins) and pray [also] for one another, that you may be healed and restored [to a spiritual tone of mind and heart]. The earnest (heartfelt, continued) prayer of a righteous man makes tremendous power available [dynamic in its working]. Elijah was a human being with a nature such as we have [with feelings, affections, and a constitution like ours]; and he prayed earnestly for it not to rain, and no rain fell on the earth for three years and six months. And [then] he prayed again and the heavens supplied rain and the land produced its crops [as usual].”

Hoekom ek vroeër gesê het dat dit vir my 'n voorreg was om vir my vriend se ouers te kon bid is omdat die hele situasie op so 'n mooi spontane en Goddelike manier gebeur het en ek het die voorreg gehad om 'n aandeel aan daardie verandering te kon hê. Ek glo die feit dat ek vir hulle (my vriend se ouers) in gebed ingetree het, was deur en deur Gees geïnspireerd en dat dit was nie iets wat uit my self gekom het nie.

Wat het gebeur?

Wel, 'n hele paar maande gelede het ek en my vrou 'n paartjie vir wie ons graag beter wou leer ken oorgenooi om een aand by ons te kom eet. Ons het regtig lekker gekuier en saam gesit en gesels rondom die eetkamertafel tot laat die aand. Ons het oor allerhande dinge gesels en na 'n rukkie begin ons toe te praat oor dié man se ouers.

Dit was nie lank nie of ek kon sien dat daar verskriklik baie pyn en hartseer vir hom in daardie onderwerp was en dat dit was vir hom moeilik om daaroor te praat. Die rede is dat sy ouers wou nie eintlik enige iets met hom, sy vrou of selfs sy kinders te doen hê nie en hulle het ook nie veel belang gestel daarin om hulle verhouding te probeer restoureer nie, ten spyte daarvan dat hy op vele kere so mooi probeer het.

Ek het hom innig jammer gekry en het magteloos gevoel om te probeer help om hom en sy ouers se verhouding beter te maak en hulle te herenig. Om die waarheid te sê, ek kén nie eens sy Ma en Pa nie en ek het hulle ook nog nooit in my hele lewe ontmoet nie so wat op aarde kan ék nou aan die situasie doen?!

Na hulle al weg is kon ek steeds nie ophou om aan sy hartseer storie te dink nie en ook aan net hoeveel die duiwel by hom en sy ouers kom steel het nie. Na 'n rukkie het ek besef dat ek 'n baie swaar gebed las, nie net vir my vriend nie maar ook vir sy Ma en Pa ervaar al ken ek hulle nie eens nie.

Ek het die volgende oggend 03:45 in die hartjie van die koue winter opgestaan, dit was moeilik maar in gehoorsaamheid aan die Here het ek (gekies) om dit te doen en het ek vurig vir my vriend en veral vir sy ouers gebid dat die Here hulle gebroke verhouding sal herstel.

Ek het dit stiptelik elke oggend vir drie maande gedoen.

Dit is vandag altesaam ses maande later vanaf die eerste dag af dat ek begin bid het en wat gebeur het, kan as niks anders as 'n wonderwerk beskryf word nie. Sy ouers het net ewe skielik en spontaan met hom en sy vrou begin kontak maak en dit lyk op hierdie stadium asof hulle verhouding goed op pad is om heeltemal te herstel.

Ek was só bly toe ek dit hoor en om net te dink dat God het dit goedgedink om my gebed so presies te verhoor, dis wonderlik.

Die Here hou daarvan wanneer ons vir mekaar onselfsugtige moeite doen. Kyk maar na Job, eers toe hy vir sy vriende begin bid het God sy situasie positief begin verander. Daar was vir my geen wins of voordeel daarin om vir my vriend en sy ouers te bid nie. Vir drie maande lank het ek sy situasie getrou namens hom na die Here toe geneem en God het dit geëer.

As jy ook so doen glo ek met my hele hart sal jy ook sien hoe God se hand nie net in die mense vir wie jy bid nie maar ook in jou eie lewe begin beweeg.

Kom ons bid. Vader gee vir my daardie gebed las vir ander mense sodat ek vurig vir hulle kan bid in opregtheid omdat ek waarlik omgee en deur U Heilige Gees gelei word. Ek wil graag sien hoe U in my lewe en die lewe vir die mense vir wie ek bid beweeg. Ek vra dit in in die naam van Jesus Christus. Amen.


No comments:

Post a Comment