Tuesday 28 October 2014

Een plus een is gelyk aan tweehonderd - deur Anton Brink

(1 + 1 = 200)














Die wêreld se ekonomie en God se ekonomie verskil hemelsbreed van mekaar. Wat vir die wêreld sin maak as dit bv. by geld kom is nie noodwendig wat vir God sin maak nie.

Die wêreld se ekonomie sê bv. dat jy moet vashou aan wat jy het en wanneer jy wel gee, moet dit wees omdat jy iets (wins) daaruit maak. God se ekonomie aan die ander kant sê weer dat hoe meer jy onvoorwaardelik en in gehoorsaamheid gee hoe meer sal jy ontvang en hoe ryker sal jy word.

’n Mens gee nie altyd uit jou oorvloed nie.

Kyk maar bv. na die weduwee waarvan jy lees in 1 Konings 17: 10 – 15. Wanneer jy dit lees sal jy sien dat toe sy (die weduwee) gehoor gegee het aan die versoek van die profeet Elia om vir hom water te bring en ook sommer ’n stukkie brood, het die wonderwerk gebeur.

Toe Elia vir haar brood vra het sy hartseer aan hom verduidelik dat sy nou oppad was om haar laaste olie en meel te gebruik om vir oulaas brood te bak. Elia het ten spyte daarvan stééds vir haar gesê om vir hom van daardie einste brood te bring en toe sy dit in gehoorsaamheid doen, tóé eers het haar meel en olie vermeerder en nie opgeraak totdat God weer reën gestuur het nie.

Kan jy sien dat eers toe die weduwee in (geloof) haar laaste meel en olie gee, toe eers kom God en doen vir haar ’n wonderwerk. God het nie éérs die meel en olie meer gemaak nie, sy moes (eers) in geloof gee voordat God haar met genoeg kon seën en omdat sy gehoorsaam was, het sy en haar kind toe op die ou einde genoeg gehad om vir hulle deur die hele droogte deur van brood te voorsien.

Wat sou jy gedoen het as jy vandag daardie weduwee was?

Onthou dat dit is nog presies dieselfde God wie vandag nog vir my en jou ook sorg. Dit is Hy, presies dieselfde God wat destyds na daardie weduwee omgesien het wat vandag nog na jou en my ook wil en kan omsien, baie dinge mag dalk intussen al verander het maar een ding is seker en dit is dat God het beslis nié! Hy is nog net soveel in staat om jóú meel en olie ook meer te maak soos vir daardie vrou en haar kind destyds in Sarfat.

Hou op vasklou.

Lees wat staan in Spreuke 11: 24 – 26, dit sê die volgende: “Wie baie vir ander gee, word al hoe ryker. Wie suinig is, word al hoe armer. Wie ander help om beter te lewe is self voorspoedig. Wie ander se nood raaksien, is ’n gelukkige mens. Wie nie respek vir die gemeenskap se belange het nie, word verstoot. Wie die nood van die gemeenskap raaksien, word deur almal geëer.”

Wees van nou af daardie man of vrou.

Ek praat uit ondervinding uit wanneer ek vir jou sê dat om uit jou tekort te gee is alles behalwe maklik, ek het ook al daai paadjie gestap, maar onthou jy dien en is in ’n verhouding met ’n liefdevolle, voorsienende en beskermende Vader God wat jou belowe dat hy jou nooit sal begewe of verlaat nie. Hy sal vir jou baie meer terug gee as die bietjie wat jy kan saai.

“You can never out give God”

Kom ons bid. Here God vandag kom staan ek ook voor U net soos daardie weduwee in Sarfat destyds voor Elia gedoen het en wil ek ook nou vir U sê dat my meel en olie is min. Dit is heeltemal te min om vir my en my gesin genoeg te wees vir die dae en maande wat voorlê. Ek pleit by U Vader om ook nou met my te praat en om ook nou vir my te sê wat ek in gehoorsaamheid moet doen sodat ek ook U seën en oorvloed kan ontvang. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


No comments:

Post a Comment