Friday 5 December 2014

Kan ék dit maar vir jou betaal? - deur Anton Brink

Die Here is darem lief daarvoor om 'n mens partykeer sommerso hééltemal onverwags uit jou gemaksone uit te neem.


So staan ek mos eendag in die ry by Shoe City daar anderkant in Northumberland straat, Bellville om vir 'n paar skoene wat ek wou koop te betaal.

Daar was niks snaaks nie.

Dit was 'n doodgewone somerdag soos enige ander en ek het beslis nie verwag dat die Here van plan was om my in 'n skoene winkel van alle plekke gaan vra om iets vir Hom te doen nie.

Skielik en sonder enige waarskuwing fokus my aandag op die man voor my in die ry en hoor ek hoe die Here vir my sê om hom te vra of ek maar vir sy skoene kan betaal.

Ek het my absolute bes gedoen om dié opdrag van die Here te probeer ignoreer maar nee, die oortuiging was knaend en uiteindelik toe ons so nét duskant die betaalpunt was tik ek hom sag op die skouer.

Toe hy omdraai sê ek toe ek dat ek jammer is om hom te pla maar ek wou net weet of hy sal omgee as ek miskien vir sy skoene betaal.

Glo my gerus.

Daar was niks aan hierdie man wat vir my die indruk gegee het dat hy nie self vir dié paar skoene kon betaal nie. Hy was 'n normale, skoon en op die oog af goed versorgde individu wat nié vir my gelyk soos iemand wat 'n ander man se geld nodig het om vir sy skoene te betaal nie.

So gesê so gedaan.

Na ek hom gevra het, het hy my vir 'n kort oomblik stil gestaan en aankyk en het hy toe sy kop so stadig instemmend geknik en sag gesê dat dit reg so met hom is as ek die skoene vir hom wil betaal.

By die kasregister het ek toe twee aparte transaksies laat oplui, een vir my en een vir hom sodat hy sy eie kwitansie kon kry vir as jy dit dalk later weer sou nodig hê of iets.

Groot was my verbasing.

Toe ek en hy saam-saam by die winkel uitstap draai die man na my en sê vir my: “Weet jy wat, ek het vandag na hierdie winkel toe gekom om vir my skoene te koop al het ek nie die geld daarvoor nie. Ek het op pad hierheen vir die Here gesê dat ek my vertroue in Hom sit om vir my te voorsien en dat ek in geloof 'n paar skoene sal kies wat ek nodig het en dat ek ook in geloof tot by die kasregister sal stap. Ek het my voorgeneem dat as die Here nie voor ek moet betaal vir my die geld voorsien nie sal ek maar net die skoene neersit en uitstap. Toe kom jy nét voor ek wou uitloop en vra of jy my skoene vir my kan betaal, die Here het jou vandag gebruik om my gebed te beantwoord, jy was vandag Sy wonderwerk vir my.”

Om vir my te bewys dat hy die waarheid praat dop hy toe sy broeksakke net daar uit en wys vir my dat daar nie soveel as selfs net een sent daarin is nie.

Ek was sprakeloos.

My hart het behoorlik in my keel geklop toe hy dit vir my vertel én toe boonop sy leë sakke vir my wys, ek was baie aangedaan. Om te dink dat die Koning van die Konings het iets so klein soos 'n man se behoefte na 'n nuwe paar skoene raakgesien en tweedens dat Hy dit goedgedink het om vir my van alle mense te gebruik om die antwoord op hierdie man se versoek te wees.

Asemrowend.

Dit is die heel beste en amper onbeskryflikste gevoel in die hele wêreld om deur so iets te gaan te weet dat dit God self was wat binne-in daardie situasie bemoeienis met jou en almal betrokke te maak. Hy is waardig om geprys te word.

In 1 Samuel 15: 22 – 23 lees ons die verhaal van die gesprek tussen Samuel en Saul. Daar staan geskryf: “Toe sê Samuel: Hou die Here meer van allerhande offers as van gehoorsaamheid? Nee, om gehoorsaam te wees is beter as om offerdiere te slag en om te luister is beter as om die vet van ramme te verbrand. Om jou teen die Here te verset en jou eie kop te volg is net so erg as om na 'n waarsêer of afgodspriester te luister. Omdat jy die Here se woorde eenkant toe gestoot het, gaan die Here jou as koning eenkant toe stoot.”

Wanneer jy ervaar dat die Here met jou praat en vir jou vra om iets te gaan doen, doen dit dan dadelik. Moenie huiwer nie, jy is dalk net die antwoord op iemand anders se gebed, jy is dalk net vandag daardie persoon se wonderwerk van die Here af.

Sterkte!

Kom ons bid. Vader God ek is baie dankbaar dat U met my bemoeienis maak. Ek is net 'n mens en ek maak foute maar nie U nie en wanneer U my gebruik weet ek dat U nie 'n fout sal maak nie. Ek wil graag hê dat U dit sal doen, gebruik my in ander mense se lewens, gebruik my Here om hulle lewens beter te maak en dat hulle so sal sien dat U met hulle deur my moeite doen en hulle gebede en versoeke deur my beantwoord. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


No comments:

Post a Comment