Thursday 27 November 2014

Die vrugteslaai - deur Anton Brink

Nou Dinsdag wat verby is, is ek genooi om 'n jaareindfunksie by te woon by 'n pragtige en welbekende “up market” restaurant in Kaapstad.


Ons was nie vreeslik baie mense bymekaar nie, net agt om die waarheid te sê en een tafel was genoeg vir ons om almal gemaklik by te sit. Dit was só 'n lekker aand dat ons besluit het om te vra dat ons sommer by die tafels buite dié eetplek met aandete bedien word.

Gesellig.

Ons het vreeslik lekker gekuier. Om die waarheid te sê ons het só gelag dat ek op 'n stadium grappenderwys gesê het dat ons sal moet rustiger raak anders gaan die mense by die ander tafels ons dalk kom stilmaak.

Verskeie soorte.

Ons was 'n lekker groepie bymekaar uit verskillende ras en kulturele agtergronde soos Engels, Afrikaans, Xhosa, wit, bruin, swart. Ten spyte daarvan dat ons so wyd uiteenlopend was en eintlik baie rede gehad het om nié vriendelik en gesellig te wees nie, het ons steeds lekker gekuier.

Wat kies jy?

Hoe ervaar jy die mense saam met wie jy woon of die gemeenskap waarin jy bly, is dit vir jou soos daardie kookpot of soos 'n vrugteslaai? Dit is presies waaraan ek gesit en dink het terwyl ek daar aan tafel was saam met hierdie sewe ander mense waarvan net een my taal en kultuur deel.

'n Kookpot bestaan meestal uit verskillende bestanddele of voedselsoorte maar so ook 'n vrugteslaai en tussen ons het ons beslis die potensiaal gehad om soos daardie kookpot te wees. Tóg, omdat daar wedersydse agting en respek onder mekaar was, was dit vir elkeen van ons eerder soos om deel te wees van 'n vrugteslaai, vars en lekker.

Besluit self.

Hoe jy die wêreld om jou en die mense daarin ervaar hang in 'n baie groot mate maar net van jou self af. As jy kies om ongeduldig en ongeskik teenoor hulle te wees dan sál die wêreld vir jou soos daardie kookpot raak. As jy egter kies om onvoorwaardelike liefde en respek aan andere te betoon sal jy sien dat daardie selfde mense jóú ook heel waarskynlik op dienooreenkomstige wyse sal behandel.

Jou ingesteldheid of gesindheid bepaal dus in 'n groot mate jou eie persoonlike ervaring op die ou einde van die dag. Daar is 'n Engelse spreekwoord wat lui: “Your attitude will determine jou altitude.” Ek verseker jou hierdie sêding is baie waar.

In Filippense 1: 27 staan daar geskryf: “Gedra julle altyd so dat julle 'n advertensie vir Christus is. Daarmee moet julle regtig moeite doen. Ek wil net goeie dinge van julle hoor, of ek nou ja julle toe kom of nie. Ek wil hoor dat julle soos een man saamstaan en alles doen om ander mense te oortuig dat die goeie boodskap regtig goed is.”

Besluit dus om van vandag af nie mense op hulle baadjie te takseer en hulle dan daarvolgens te hanteer nie. Ek moes toevallig presies dít doen met een van die dames wat saam met my by daardie tafel gesit het.

Ek het haar in die destyds altyd ervaar as iemand wat nors, saaklik en eintlik bietjie onvriendelik is. Toe ek haar egter met tyd beter leer ken het ek agtergekom dat dit glad nie is soos wat sy is nie en dat dit maar net haar manier is hoe sy mense hanteer wie sy nie goed ken nie.

Sy doen dit nie aspris nie, dis maar net haar manier en as ek haar op haar baadjie takseer het, sou ons nie Dinsdagaand so lekker saam kon lag en gesels nie.

Wees jy ook vandag deel van daai vrugteslaai en kies teen 'n kookpot mentaliteit.

Sterkte!

Kom ons bid. Here help my om asb. my houding teenoor mense te verander en om hulle eerder lief te hê en te respekteer voor ek hulle wil beoordeel sodat hulle my dan ook so sal behandel. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


No comments:

Post a Comment