Friday 28 November 2014

Eerste liefde - deur Anton Brink

Onthou jy nog die eerste keer toe jy jou hart op iemand verloor het? Onthou jy daardie opwinding wat gemaak het dat jy amper aan niks anders kan dink behalwe aan dié wat jou hart gesteel het.











Onthou jy nog hoeveel ure julle net bymekaar gesit het, dalk sonder om eens te praat en hoedat net om bymekaar te wees meer as genoeg was vir julle? Dit voel mos asof jy vir die res van jou lewe met net brood, water en liefde oor die weg sal kan kom.

Om niks terug te hou nie.

Wanneer jy iemand só hartstogtelik lief het, is 'n mens ook baie keer bereid om absoluut álles vir daardie spesiale persoon op te offer, maak nie saak wat dit is of hoe duur dit jou kos nie.

Hierdie is wonderlike oomblikke wat 'n mens graag vir die res van jou lewe wil hê en as 'n mens die voorreg het om so 'n liefde in jou lewe te hê is dit werklikwaar iets fantasties. So 'n liefde moet gekoester en gevoed word dat dit kan groei en later in iets nóg beter sal verander.

Ons liefdesverhouding met die Here is op 'n manier ook so. Aan die begin kan ons behoorlik nie wag om in Sy teenwoordigheid te wees nie en is die opwinding wat daarmee gepaardgaan amper onuithoudbaar. Ons lees graag Sy woord en wil graag tyd by Hom spandeer.

Net soos in die geval van 'n liefdesverhouding met 'n mens moet hierdie verhouding met die Here Jesus óók so gekoester word sodat dit sal groei tot iets nóg mooier en nóg beter en nóg sterker as wat ons aan die begin het.

Soos die tyd aanstap kom daar ook in ons verhouding met die Here sommige uitdagings net soos in 'n gewone menslike verhouding, dinge wat gebeur wat ons ontstel of teleurstel en wat ons dalk glad nie verstaan nie, al probeer ons ook hoe hard. Dit word dan soms vir ons moeilik om aan te gaan en begin ons partykeer erg in God se getrouheid, Sy liefde of ons begin selfs later in Sy vermoë te twyfel.

Wees gerus, jy is nie alleen nie. Daar is baie mense wat al deur presies dieselfde is as jy en die Bybel is ook vol van voorbeelde daarvan.

Kyk maar net na Job. Hy het God werklik geken en liefgehad maar hy sit daar op die ashoop nadat hy alles verloor het besig om te krap aan die sere op sy lyf met 'n stukkende potskerf. Selfs sy vriende het hom aangemoedig om God te vloek en dan te sterf, maar hy het nie. Hy het geweier om sy eerste liefde prys te gee en dit is nét daar waar die verskil in kom.

God wil nie net jou eerste liefde wees aan die begin, Hy wil jou eerste bly nou en vir altyd en wanneer dit met ons moeilik gaan moet ons kies dat Hy steeds ons eerste liefde is, maak nie saak wat nie.

Ons gee gou moed op en ons vergeet dat Jesus self en andere soos Job, Moses, Paulus, Stephanus, Dawid en nog vele meer het ook deur vreeslike persoonlike uitdagings en teleurstellings gegaan wat hulle in die gesig moes staar maar dat hulle ten spyte daarvan (op die moeilikste oomblikke van hulle lewens) gekies het om by God te staan en nie van hulle eerste liefde vir Hom afstand te doen nie.

Net soos in ons eerste liefdes verhouding met 'n man of vrou waar ons bereid is om alles vir daardie een te gee net so verwag God dit van ons. Onthou wat staan in Lukas 14: 33 – 35 geskryf, “Weet julle, so gaan dit ook met elkeen van julle wat agter My wil aankom. As julle nie bereid is om julle geld en julle besittings weg te gee aan ander mense wat swaarkry nie, kan julle nie my volgelinge wees nie. Julle wat my volgelinge is, is soos sout. Julle moet smaak gee aan hierdie smaaklose wêreld, maar wat help dit as julle self smaakloos is? Dan beteken julle niks meer vir My nie. Dan moet julle weggegooi word, presies net soos 'n mens maak met sout wat sy smaak verloor het. Julle moet mooi luister na wat Ek vir julle sê en dit ook gaan doen.”

As jy miskien iemand is wie se eerste liefde vir God vervaag en verflou het, dink dan aan die feit dat ten spyte daarvan nooi God jou steeds om tot Hom te nader en dat wanneer jy dit doen sal Hy dan weer op Sy beurt tot jou sal nader.

In Jakobus 4: 8 – 10 staan daar geskryf, “Gee net vir God plek in julle lewe. Wees hartseer oor alles wat julle verkeerd gedoen het. Moenie dink julle verkeerde lewe is sommer niks nie. Dit is iets waaroor julle baie sleg moet voel. Julle behoort daaroor te huil. Vee die glimlag van selftevredenheid van julle gesig af en wys hoe jammer julle oor julle sondes is. Inplaas van die lag van vrolikheid moet daar die traan van skuld en rou wees. Buig baie laag voor die Here. Sê dat jy jou hele lewe net vir Hom wil leef. God sal jou optel, daar waar jy in oorgawe voor Hom buig en jou op 'n ereplek regop, kop omhoog, langs Hom laat staan.”

Doen dit vandag. Erken voor God dat jou liefde vir Hom is nie meer eerste nie en dat al die ou nare dinge van die wêreld het die plek daarvan kom inneem. Hy sál jou vergewe, optel en herstel.

Kom ons bid. Vader ek verklaar vandag weer dat U wel my eerste liefde is. Ek is jammer dat ek vir 'n tyd daardie opregte liefde vir U laat verflou het maar ek wil hê dat my verhouding met U weer sterk moet wees en warm moet brand. Kom neem asb. weer vandag opnuut beheer oor my lewe, oor my siel, gees en liggaam en nader asb. tot my omdat ek van dag tot U nader. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.



No comments:

Post a Comment