Monday 8 December 2014

Die Heiland is gebore - deur Anton Brink

Ek let die afgelope tyd op dat daar baie gesprekke of debatte die wêreld heen gevoer word oor Jesus Christus as God.

Daar is dié mense wat hulle beywer daarvoor om die publiek te probeer oortuig dat Jesus nooit regtig gekruisig was nie en dat Hy, volgens hulle, vrygelaat is of dalk ontsnap het.

Dan is daar weer ’n ander groep wat argumenteer dat die Here Jesus in die eerste plek nooit regtig bestaan het nie, dat so ’n persoon nooit gebore was om mee te begin nie en dat die Evangelie is eintlik maar net ’n tipe van sprokie wat deur miljoene mense as die waarheid geglo word.

Ek wil my nie vreeslik oor hierdie dinge uitlaat nie en ek dink in elk geval dit is ’n mors van tyd om daarna te sit en luister. Dit is baie moeilik om sulke intellektuele mense met allerhande argumente van God se waarheid te probeer oortuig. Ek glo op die ou end is dit maar net die Heilige Gees wat werklik met sulkes kan werk om ’n verandering in hulle harte te weeg te bring.

Ons moet die Here vertrou om met hulle bemoeienis te maak sodat hulle Hom sal ontmoet en leer ken as Saligmaker.

Wat vir my belangrik is, is dat jy wat vandag hierdie stukkie lees seker is van jou saak en dat jy sal verstaan dat wanneer jy die Here Jesus as verlosser aanvaar ís jy verlos en beërwe jy Sy ewige lewe. Hy wil jou genadig wees en vryspreek maar dit kan net gebeur wanneer jy die Here Jesus as jou persoonlike verlosser aanvaar.

As jy nog nie het nie maar wil graag, lees dan die onderstaande gebed en gee jou lewe vir Hom. Wanneer jy dit gedoen het kontak as die gebed vriende by Tygerberg 104fm op 0861 104 104 sodat hulle vir jou verder kan raad gee oor wat jy nou moet doen.

Kom ons bid. Hemelse Vader, vandag weet ek dat ek, soos alle mense wat gebore word op hierdie aarde, oppad is hel toe. Al lewe ek hoe goed, tensy ek by ’n punt kom waar ek besef dat ek ’n Verlosser nodig het, kan ek nooit uit my eie goeie dade of lewe die Ewigheid in U teenwoordigheid deurbring nie.

Dankie dat U Jesus, vir my sondes gesterf het, begrawe is en op die derde dag weer opgestaan het en opgevaar het na die hemel waar U aan die regterhand van God sit en my Voorspraak is. Ek bely vandag dat U die Seun van God is en dat U my verlossing duur gekoop het.

Dankie Heilige Gees dat U daagliks my metgesel is en dat U my leer en lei in die waarheid. Vandag aanvaar ek Jesus Christus as my Verlosser en Saligmaker en weet ek dat ek in U alles het wat ek nodig het om die Ewige Lewe te kry, volgens Joh. 3: 17

Ek dank U dat ek nou in ’n lewende verhouding met U kan wees en dat ek in U ’n Vriend en daaglikse Trooster en metgesel het. Amen

No comments:

Post a Comment