Thursday 11 December 2014

Een-twee-drie - deur Anton Brink


As jy nooit weer 'n dag in jou lewe wil werk nie doen dan dit waarvoor jy lief is, dié dinge wat vir jou spontaan (waarskynlik al van kleins af) kom.



 
Sy is deur.

Net gisteroggend sit ek met iemand en gesels. Sy het pas gehoor dat haar kind graad 11 geslaag het. Sy en haar man is met reg baie trots daarop. Volgende jaar is dit matriek en dan lê die grootmens wêreld vir hulle dogter voor.

Ek vra toe vir haar of hulle al gedink het aan 'n loopbaan keuse vir haar. Sy sê toe dat hulle hét maar dat hulle glad nie seker is oor wat die beste vir haar sal wees nie.

Haar Wiskunde punte is ook nie so goed as wat hulle dit graag sou wou hê nie en dit bekommer haar omdat dit hulle opsies verminder wanneer dit kom by die kursusse waaruit gekies kan word en dan ook natuurlik die loopbaan waarvoor sy haar self kan beywer beïnvloed.

Dit is tóé dat ons begin gesels oor die talente wat God vir elke mens gee.

Ek vra toe vir haar of sy kan dink aan iets waarin dié dogter van haar goed is. Ek wou weet of daar iets is wat die kind dalk al van kleintyd af doen wat vir haar sonder moeite gekom het, iets wat sy gedoen het wat dit laat lyk het asof sy gebore is daarvoor.

Ja.

Om te sing en musiek te maak, dít was haar antwoord. Hierdie 17 jarige meisiekind is gek na musiek en sy het al selfs die hoogste verering gekry vir die instrumente wat sy bespeel in die musiekskool waar sy betrokke is.

Natuurlik was my volgende vraag toe gewees hoekom hulle dan nie vir haar help met 'n loopbaan in musiek en sang nie. Sou dit dan nie die logies keuse wees nie aangesien dit duidelik is wat die Here vir haar as talent gegee het?

Onseker.

Sy sê toe dat hulle hét dit al vir hulle dogter voorgestel maar dat dié nie wil nie omdat iemand vir haar gesê het dat daar nie juis 'n toekoms daarin is nie omdat kunstenaars in meeste gevalle vir baie jare vreeslik sukkel om suksesvol te wees en dat hulle baie keer maar met min geld moet klaarkom.

God se plan.

Al wat ek vir haar kon sê is dat wanneer dit God is wat vir jou die opdrag gee, sal Hy ook dit voorsien wat jy nodig het. As hulle dus saam met hulle dogter dié se toekoms na die Here toe neem en hulle is oortuig dat dit die Here is wat haar gelei het om 'n liefde vir musiek en sang te hê én dat dit wel Sy plan vir haar is, kan hulle maar gerus wees en weet dat Hy die res vir haar ook sal byvoeg.

In Mattheus 25: 14 – 19 staan daar geskryf: “Verder gaan dit soos met 'n man wat op reis wou gaan. Hy het sy slawe bymekaargeroep en sy besittings aan hulle toevertrou. Vir een het hy vyf goue muntstukke gegee, vir 'n ander twee, en vir 'n derde een. Hy het aan elkeen volgens sy bekwaamheid gegee en toe op reis gegaan. Die een wat vyf goue muntstukke ontvang het, het dadelik daarmee gaan werk en 'n wins gemaak van nog vyf. So ook die een wat twee gekry het: hy het 'n wins gemaak van nog twee. Maar die slaaf wat een gekry het, het 'n gat in die grond gaan grawe en sy eienaar se geld daarin weggesteek. Na 'n lang tyd het die eienaar van daardie slawe teruggekom en van hulle rekenskap gevra.”

Hy wil hê ons moet.

God verwag van ons om met ons talente te woeker selfs al het jy nét een gekry. Hierdie talente wat Hy aan ons toevertrou is eerstens om eer aan Hom te bring, om Hom daarmee te verheerlik máár God is ook baie prakties wat dit aanbetref.

Hy gee vir ons talente sodat ons 'n lewe, 'n bestaan daaruit kan maak. M.a.w. om geld daaruit te verdien sodat ons daardie nodige inkomste sal hê om aan ons alle daagse behoeftes te voorsien en dit dan te bevredig.

Wat het jy?
Het jy iets waarin jy weet jy goed is, iets wat jy al van kindsbeen af doen, iets wat spontaan vir jou kom en wat jy regtig baie geniet om te doen? Die kanse is baie waarskynlik dat dit die talent is wat die Here aan jou gegee het en wat Hy wil jy moet gebruik.

Jy kan nog.

Dit is nog nie te laat nie. Al werk jy al jare in 'n ander rigting as dit wat jy eintlik wóú doen vra dan die Here om vir jou die deure oop te maak sodat jy dit kan begin doen. Ek is seker Hy sal jou versoek eer.

Sterkte!

Kom ons bid. Hemelse God en Vader ek bring vandag weer aan U al die lof en aanbidding wat U toekom. Ek wil graag 'n sukses van my lewe maak en ek wil weet dat dit wat ek doen was U keuse vir my. Wys my asb. en gee asb. vir my geleenthede om dit te begin doen en help my om asb. 'n groot sukses daarvan te maak. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.

No comments:

Post a Comment