Thursday 4 December 2014

Sal jy met my trou? - deur Anton Brink

Ek sit gister en kyk na 'n hartroerende stukkie beeldmateriaal van 'n jong man wat nie minder nie as 17 maande lank beplan het daaraan om sy meisie te vra om met hom te trou.


Glo my as ek jou sê dit was skouspelagtig. Hierdie jong man het geen moeite ontsien om vir hierdie meisie te wys net hoe lief hy haar het nie. Van lang slap limousines tot 'n salon pamperlang saam met al haar beste vriendinne en boonop ook 'n uithaal ontbyt in die geselskap van almal vir wie sy lief is om maar net ’n paar goed te noem.

Reg deur die dag was daar groot bederf en op die ou end het hy haar teruggeneem na die plek waar hulle mekaar vier jaar vantevore die eerste keer ontmoet het en het hy haar toe ook net daar gevra om sy vrou te word, sy het ja gesê.

Tweeduisend jaar gelede het Jesus aan die Kruis ook ’n huweliksaanbod gemaak, ’n huweliksaanbod aan jou en my en ons het ja gesê, kom laat ons dan optree soos mense wat op die punt staan om in die huwelik te tree.

Die Bybel verwys na ons wat in die Here glo as die bruid van Christus. In Openbaring 19: 7 – 8 staan geskryf: “Laat ons vrolik feesvier. Laat ons uitbundig van vreugde oorloop. Laat ons vir almal vertel hoe groot en belangrik God is. Ons het goeie rede. Die troudag van die Lam is hier! Sy bruid het haar pragtig reggemaak. God het vir haar die mooiste wit rok gegee om aan te trek. Dit is van die fynste, kosbaarste, witste materiaal gemaak wat jy jou maar kan voorstel. Hierdie kosbare materiaal is eintlik gemaak van al die regte en goeie dinge wat God se mense gedoen het.”

Ek weet nie wat jóú indruk is van iemand wat op trou staan nie maar myne is dat so 'n meisie haar reeds lank voor die tyd begin voorberei op daardie groot, mooi en belangrike dag.

Sy kyk dat haar hare mooi groei in die styl wat by haar pas, sy let op na haar figuur en probeer dalk selfs haar bes om reg te eet en miskien te oefen, sy sien om na haar vel en vertroetel haarself moontlik met vogroom. Dit alles sodat sy op haar beste kan lyk op die dag wanneer sy haar bruidegom voor in die kerk ontmoet.

Om reg te wees vir wanneer jou bruidegom jou kom haal is krities belangrik.

Jy het opgelet dat die gedeelte in Openbaring wat ons vroeër aangehaal het, het verwys na die rok wat die bruid aan het en wat gemaak is van die mooiste en kosbaarste materiaal en dat daardie materiaal eintlik gemaak is van die regte en goeie dinge wat God se kinders gedoen het.

Ons moet onthou dat om 'n gelowige te wees en dus gevolglik die bruid van Christus te wees beteken dat ons mooi en goeie dinge móét doen wat strook met ons verhouding en ons geloof in die Here wat natuurlik tot eer van ons Bruidegom sal wees.

Dit laat ons mooi lyk vir Hom.

Jou mooi en goeie dade sal jou nooit red nie maar dit lyk mooi en God hou daarvan. Moet dus nie 'n geleentheid laat verbygaan om uit jou hart uit mooi dinge vir ander mense te doen as jy wel die vermoë het om so te doen nie.

Kom laat ek en jy vandag en elke dag streef daarna om ons self mooi te maak vir ons bruidegom wat op pad is met die mooi en goeie dinge wat ons vir Hom doen sodat Hy ’n welbehae daarin sal vind en dat ons vir Hom mooi sal vertoon.

Sterkte!

Kom ons bid. Vader God, help my om nie selfsugtig te wees met my verhouding en geloof in U nie. Help my om dit uit te leef na die mense rondom my met goeie dade en mooi werke sodat ek vir U mooi sal lyk. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


No comments:

Post a Comment